kyk hoe hurk my hande
in spore wat só andersom neig
asof dit ‘n rekenfout
of onwiskundige eksponent is?

is ‘n eenling se weerkaatsige bestaan
‘n soort hoofstroom-offensief
of bloot die droewige vloek
vir ‘n meerdimensionele kop
wat stukkende motte en duiwe las

kon ek myself maar oopsnik
uit die hoeke waarin ek my so vreeslik vasvers
of uit die voordood van gelapte wêrelde
of uit die gemendse lot van ‘n dromer – sou ek

en sou ek dalk die sugte
van elke bang metafoor se vêraf pleit
soos blare uit my are laat buig ‘t
en my trap meer berekend plant

maar die raaisels van my kop
sit soos wasem teen my vingers
en kyk hoe krom word die tyd in my hande
voor dit sink in grafskrifte en goed

en kyk hoe donker word dit
as die spoke voor die maan gaan staan
en die bloed teen die murg
van ‘n ounag spat

daarom

sal ek spieëls hang voor my ruite
met die blink-kant na buite (soos ‘n malmens maar maak)
want weerkaats het nie ‘n asem nie
en geen iris kan binnetoe breek
in sewejaar-snye nie

fg2019©