Dylan Lewis. Beelde. Berge. Begrippe.

In die beeldetuin van Dylan Lewis aan die voet van die magtige hange van berge buite Stellenbosch loop ek roetes deur landskappe, metafore, beelde, fragmente en fantasieë en deur die gedagtewêreld van ’n groot kunstenaar. Alles om my raak intenser in die geselskap van die beeldhouer wat my begelei. Hy word ’n sjamaan, ’n spirituele leier met sigbare kragte en met ’n diep geesteswêreld. Deur GERARD SCHOLTZ.

Dylan Lewis. Beelde. Berge. Begrippe.

In die beeldetuin van Dylan Lewis aan die voet van die magtige hange van berge buite Stellenbosch loop ek roetes deur landskappe, metafore, beelde, fragmente en fantasieë en deur die gedagtewêreld van ’n groot kunstenaar. Alles om my raak intenser in die geselskap van die beeldhouer wat my begelei. Hy word ’n sjamaan, ’n spirituele leier met sigbare kragte en met ’n diep geesteswêreld. Deur GERARD SCHOLTZ.

Dylan Lewis. Beelde. Berge. Begrippe.

Photography

 

In die beeldetuin van Dylan Lewis aan die voet van die magtige hange van berge buite Stellenbosch loop ek roetes deur landskappe, metafore, beelde, fragmente en fantasieë en deur die gedagtewêreld van ’n groot kunstenaar. Alles om my raak intenser in die geselskap van die beeldhouer wat my begelei. Hy word ’n sjamaan, ’n spirituele leier met sigbare kragte en met ’n diep geesteswêreld. Deur GERARD SCHOLTZ.

“Die 10 hektaar beeldetuin wat ek hier teen die agtergrond van die indrukwekkende berge geskep het, staan in jukstaposisie met my beelde. Dit was ’n kreatiewe proses op sigself. Ek het die aarde soos ’n kunswerk begin omskep en met groot masjinerie vorms en teksture geskep soos wat ek een van my eie beeldhouwerke intuïtief sou benader. Net op ’n baie groter skaal. Dit was vir my wonderlik om self op en af deur die teksture van die landskap te stap.” Lewis se hande trek my soos ’n magneet wanneer hy praat. Dan asof hy lug gryp en dit vervorm, of dan weer asof hy ’n gedagtebeeld boetseer.

 Lewis beskryf die kreatiwiteitsproses van die tuine as ’n spontane opwelling van kreatiewe kragte. Dit is beslis nie ’n liniêre Westerse tuin wat in ’n landskap afgedruk is nie. Dit is organies-natuurlik. Dit wil voorkom asof niks hier gebeur het nie, dat hier geen werk gedoen is nie, want dit pas in by ’n natuurlike orde. “Ek het ook die beelde só gegroepeer dat dit nie soos ’n bewuste plan moet lyk nie, maar asof dit oor baie jare ontvou het,” sê hy. Die minimalistiese Japanse styl is ook aanvoelbaar in die kurwes, ellipse, die sin vir spiritualiteit en die aanvaarding van die tydelike en verganklike. Die kabbeling van stroompies water wat jy op plat klippe moet oorsteek van een wêreld na ’n ander. Alles in ’n volmaakte rustigheid. Tog bly ek bewus van die ruheid, die wildernis om jou. Sak ek weg en vou my toe in ’n wêreld wat ek nog nooit voorheen verken het nie.

 Die beeldetuin met sy dinamiese heuwels, valleie en waterstrome en damme, raak ’n ekspedisie tussen wêrelde. Daar is die spanning tussen balans en beweging; ’n loskoppeling tussen die primitiewe self en fragmente van die eensame self; wildernis en wildheid wat nie net daar buite is nie, maar ook in die innerlike self, volgens Nietzsche. Soms weersinwekkend, grotesk en brutaal. Of jy kom nader om na die broosheid van ’n beeld en die natuur om jou te kyk en om jouself daarin te vind.

 Lewis skep meer as bloot elegante beelde. Hy skep beelde grootliks teen ’n agtergrond waar vandag se gemeenskappe hul dierlike wortels vergeet het en die wêreld wat hulle gevoed het nou verwerp. “Ons het onsself losgemaak van ons primitiewe bande en ons het psigologies eensame en gefragmenteerde wesens geword,” benadruk Lewis dit.

 Tydens ons gesels is dit duidelik dat die kreatiewe krag van sy verbeelding onlosmaaklik is van sy kindertyd en geografiese herinneringe. Met ’n pa en ouma wat as kunstenaars hom van kleintyd blootgestel het aan die wildernis en wilde diere, en die wêreld van klei en verf, het hy al vroeg die dissipline van detail, proporsies, struktuur en vorm aangeneem. “Dit het my geleer om onder die vel van ’n dier in te klim.”  Wat ’n duidelike stempel op al sy beeldhouwerke geword het. Hy vertel dat hy in ’n streng fundamentalisties godsdienstige huis grootgeword het, wat hom beroof het van spontaniteit. Sy toevlug tot die natuur het vir balans gesorg.

“In my beelde is die kontoere van vlees en been ook ’n weerspieëling van geriffelde rotsskeure en -oorhange van wilde en afgeleë landskappe.”

– Dylan Lewis –

“Om alleen in die wildernis te wees is, is waar ek tuis voel,” sê Lewis en sy blou oë strek verby die landskap. Op na die berge. Dan na die vlaktes met kruipende verstedeliking oor die Kaapse Vlakte.  “Vir die grootste gedeelte van my lewe het ek op ’n gereelde basis skuiling in die natuur gesoek. Hierdie verhouding met die natuur en wildernis hou my vas aan die aarde en herkoppel my met my tydlose binnemens. Ek het nog altyd gewonder hoekom dit so is. Hoekom ek keer op keer terugkeer na die bekende oerplekke wat so deel van my genetiese geheue geword het. As hierdie wildernisse deur stedelike uitbreiding verdwyn, met die onafwendbare verwoesting wat dit meebring, wat gaan van my word?”  

“Herinneringe van dierlike gesante slaap steeds in ons, want hulle word wakker en roer in ons wanneer ons die wildernis ingaan.

– Joseph Campbell –

  Lewis het begin naam maak as beeldhouer van die katfamilie nadat hy vir ses jaar ’n luiperd wat naby sy huis in ’n reservaat vir veiligheid van diere gehou is met sy sketsboek en potlood besoek het en elke houding, strek, sluip en stap noukeurig geskets het. Hoe die luiperd dwarsdeur hom na die verte van  die granietberge agter hom staar, het hom ontsenu, want die luiperd se kragtige verlange om vry te wees het sy eie metafoor geword. Deur sy beeldhouwerk het hy nie net wêreldwye erkenning en roem verwerf nie, maar het hy ook aan hierdie bedreigde spesie ’n nuwe bewusmaking en lewe geskenk. Altyd aan die jag, wagtend, bespiedend op die uitkyk, dophou, gereed wees. Hy het hulle in ’n getekstureerde landskap geplaas waarin hulle wegsmelt. ’n Besoeker aan hierdie tuin word tot in sy binneste geruk deur hierdie sterk, maar kwesbare beelde, wat groots in ’n krimpende habitat staan.

 Ten spyte van die katbeelde het Lewis bewus geword van ’n leemte in sy lewe en werk – die mens se skakel met dit wat wild is. Ook meer bewus begin word van sy eie ongetemde gees. Hy wou met die mens se gesig begin werk.

 “Deur die jare het ek minder geïnteresseerd geraak in die letterlike uitbeelding van die groot katte wat in die wildernis woon – die leeu, luiperd en jagluiperd – en toenemend geïnteresseerd geraak in die emosionele en simboliese impak wat die wildernis op my het. Soos wat ek begin het om my te begeef in hierdie tema in my beelde, het die vorm van die kat beperkend geraak. Ek het dit makliker begin vind om komplekse psigologiese gesteldhede deur die menslike liggaam te verken. My werk, en veral die oppervlakke van my beelde, het oor die jare meer abstrak geword soos wat ek die visuele en emosionele kern van my onderwerp distilleer. Alhoewel die kat nie meer ’n primêre fokus in my werk is nie, bly dit vir my ’n kragtige simbool en keer ek af en toe terug daarheen as onderwerp.” 

– Dylan Lewis –

 Die losbreek van vorige konvensies het gekom deur naakte vrouebeelde, wilde diere met maskers, en sjamanistiese manlike figure. Die eerste vrouebeelde was fyn, gladde, sensuele beelde met ’n maagdelike aura. Dit was byna onmoontlik om hulle met die ruwe en uitgebeitelde dierebeelde te versoen, totdat jy nader staan en hulle teen die agtergrond van die tuine sien, of omring deur ’n sirkel bome asof die beelde in ’n heilige katedraal staan. Maar die ontembaarheid is steeds daar. Die wildheid van die psige steeds sigbaar.

 Die finale en dringende wegbreek en die soeke na antwoorde het hom na die eerste dramatiese sjamanistiese figure met dieremaskers geneem. Sy fokus verskuif na metafore, weg van die voorspelbare. Hy laat die eensame en sku luiperd agter en begin nuwe ruimtes in homself ontwikkel. Alles in hom wat ontembaar en eensaam is, kwesbaar, ongetem en wat vlerke wil kry, begin nuwe uitdrukking vind. Menslike figure verskyn met maskers, horings en kopbene, kloue vir voete, vlerke, gebukkend asof onder ’n groot vrag. Alles in groot jukstaposisie teenoor sy ou getroue beelde. 

“Die erotiese sensualiteit van die vroulike vorm kontrasteer met die arend se dodelike kloue – ’n uitdrukking van die teenstrydige kwaliteit van die natuurlike balans tussen skoonheid en wreedheid.”

– Dylan Lewis –

Die dra van maskers is vir Lewis ’n verandering of ’n verskuiling van identiteit. In poëtiese rituele word maskers gebruik om die ongetemde aspekte van die psige te konfronteer soos gesimboliseer deur spesifieke diere, byvoorbeeld die ram. Die skedel se verband met die dood is hier relevant: as mense nie daartoe in staat is om hierdie ongetemde, vrye, dierlike lewe ’n outentieke deel van hul bewustelike lewens te maak nie, loop hulle die gevaar om in die psigologiese sin te sterf. Meer letterlik beskou, verteenwoordig die dier se skedel die moderne mens se dikwels strydige verhouding met die natuurlike wêreld. 

Daardie aand lê ek geestelik moeg, maar so verryk, in die bed. Al my sintuie is oorlaai. Wanneer ek my oë toemaak, sien ek die ontembare Lewis in sy tuin staan en praat met hande wat ver dinge gaan haal. Uit sy mond kom beelde. Nie net die klein fragmente en maquette nie, nie net die naakte torso’s of ’n engelagtige figuur nie, maar ook die gepynigde, verwronge, monumentale dier wat swewend oor die landskap aankom …

“We long for the eternal,

but we’re destined for the grave.

Everything

we know and love

is in the process

of passing

out of existence

… I think

that making art

is profoundly

and fundamentally

life affirming.

To make art is to give,

to pour yourself into life,

so, you don’t die

with the music inside you.”

– Ran Ortner –

Bronne:

www.dylanlewis.com

https://www.tripadvisor.co.za

Dylan Lewis – An Untamed Force. Fernwood Press

Verskeie artikels in tydskrifte en koerante