Argiewe

Dooie duikers deel nie

Hierdie artikel her oorspronklik in die 2002 Lente uitgawe van DEKAT verskyn.

Met ’n gegrom kom die enjin van die African Bounty tot stilstand. Dis nie net die naam van die verwese vaartuig wat op die Atlantiese Oseaan aan die Namibiese kus dryf en jou aan ’n seerower laat dink nie.

Donker silhoeëtte hang rond – mans met grys stoppelbaarde en pette. Die reuk van alkohol en tabak hang in die lug. Rowwe vloekwoorde en ’n rasende gelag vergesel die boot tydens die voorbereiding vir die volgende skattejag. Daar is geen twyfel dat dié skip die see verkrag op soek na diamante nie – maar tog is die African Bounty nie ’n seerowerskip nie, al het hy meer edelgesteentes gesien as die vroue van talle miljoenêrs.

Die boot is die amptelike lisensiehouer tot fortuine, ’n lisensie wat deur die Namibiese regering en die diamantkonsortium Namdeb uitgereik word. Die skip akkommodeer vier diamantduikers, wat weer vandag hul geluk toets in die koue, donker waters van die Atlantiese Oseaan.

Skielik daal ‘n stilte oor die bemanning neer. ’n Vermomde figuur gaan aan boord – ’n diamantduiker. Die reus van byna 2 m lyk soos ‘n kruising tussen ’n onlustepolisieman, ’n myner en ’n wetenskapsfiksie-figuur. ’n Magdom kabels en pype steek uit sy duikmasker – dit is vir suurstof, ’n mikrofoonverbinding, vir ‘n lig en vir data vanaf die dieptemeter. Die man lyk nie net soos Darth Vader van Star Wars nie, hy haal ook so hard asem soos dié skurk. Sy naam is Derek Mills en vandag is hy die eerste duiker wat dié donker wêreld van onderwatershoop betree, ’n wêreld waar die suiwerste diamante skuil, een wat groot mans na die blouste dieptes lok.

Die anker word laat sak en Derek asem vir die laaste keer diep in voordat hy in die water spring. Die swaar loodgewigte op sy rug trek hom vinnig die donker onbekende in. Vandag lê die beloofde rykdomme van die oseaanbodem op ’n diepte van 25 m.

Op dié diepte is die druk van die water enorm. Derek se spesiale duikpak absorbeer uitermatige druk en koue. Maar tog is die stres groot. Op die bodem van die Atlantiese Oseaan sal net ervare duikers sukses behaal.

“’n Oorgewig duiker is useless,” het Howard Head, diamant- veteraan van Lüderitz, altyd gesê.

In die vroeë dae van 1987 het Lüderitz se diamantstormloop verskeie pioniers uitgedaag om hul geluk te kom beproef – dikwels met katastrofiese gevolge. In die hoop op kitsrykdom het die groentjies hul lewe gewaag in ’n spel van onderwater-roulette en baie het met hul lewe geboet. In die donker see is vele jong avonturiers deur rollende rotse vasgepen en het hulle verdrink voordat hulp hulle kon bereik. Die vashou van die groot suigpype is ’n kuns en baie onervare duikers se helm en kop is vergruis wanneer die pype buite beheer begin rondswaai het. En dan is daar natuurlik die opperste nagmerrie vir alle duikers: borrelsiekte. Duikers wat gretig is om hul vondste te besigtig, kom dikwels te vinnig na die wateroppervlak. Weens die verskil in drukking begin die bloed in hul liggaam kook. Die gevolg is ’n beroerte en pleks van kitsrykdom, is ’n kitsdood hul lot.

Derek Mills is bewus van dié gevare. Op dié diepte beperk die ekstreme toestande en mediese regulasies hom tot net 40 minute se werktyd. Op die oseaanbodem skakel hy sy koplig aan en begin rotse verwyder sodat hy ’n pad kan baan van waar die diamantdraende gruis opgesuig kan word.

“Skoongemaak. Laat sak die pyp.” Die stem kraak oor die luidspreker. Weens die drukking en die geraas van die suurstoftoevoer klink Derek se stem soos dié van Mickey Mouse.

Die wye rooi pyp word laat sak. Die duiker vat die pyp stewig vas en dui aan dat die operateur die pompe moet aanskakel. Asof met ’n reuse stofsuier, suig Derek stelselmatig die oseaanbodem skoon. Kilogram ná kilogram gruis word na die African Bounty gesuig. Uit sy kajuit hou die kaptein, Gideon Uermeuhen, die situasie dop. Hy wag. Ná vele jare in die bedryf is dié man met sy grys baard baie vertroud met die situasie. Die gewag is egter steeds, ná soveel jare, senutergend. Niemand weet of die duiker met leë hande of met die boerpot na die oppervlak sal kom nie.

“Ná ’n dekade van off shore-diamantontginning in die Lüderitz-gebied het diamantryke spots ’n rariteit geword,” kla die kaptein. Spots verwys in diamantterme na die gebiede wat diamantdraende gruis bevat. Dié spots is dikwels so klein soos ’n muntstuk. Onakkuraatheid van ’n paar meter kan veroorsaak dat niks gekry word nie. “Eers neem ons klein monsters om vas te stel of diamante teenwoordig is. Dit is besonder tydrowend en duur,” sê Uermeuhen.

In die vroeë dae het die African Bounty vir tot 21 dae op die see uitgegaan. Dan het hulle ’n skeepsvrag van 40 ton gruis opgesuig sonder dat hulle geweet het of die spot die moeite werd is. Deesdae keer die vaartuig ná vyf dae terug na die kus om die gehalte van die vrag te bepaal. “In die verlede het ons bloot die vrag ondersoek om te sien of dit diamante dra,” sê die ou kaptein met ’n knik in die rigting van die roesverweerde masjien. “Die lang wag het baie duikers senuagtig gemaak,” sê Uermeuhen.

Die hoopvolle verlange, die euforie en die marteling wat veroorsaak is deur die dun lyn tussen armoede en kitsrykdom, het talle hoopvolles se senuwees geknaag. Sodra almal om die sorteringsmasjien bymekaargekom het, het dit noodwendig op rusies uitgeloop. Wanneer die vooruitsig van ’n fortuin bestaan, is daar jaloesie en geharde seelui gedra hulle dan nie soos voorbeeldige skoliere nie.

’n Paar jaar gelede het die gebruik van wapens kop uitgesteek. ’n Vinnige gryp na iets in die gruis, ’n messteek as reaksie – die gevolg was dat alle sorteerdery op die skepe gestaak is. Deesdae word die ondersoek op land gedoen en die bemanning moet noodgedwonge die goeie of slegte nuus afwag. Die diamantkonsortium Namdeb is verantwoordelik vir die evaluering van die skeepsvrag en gee die duikers net 50% van die aandeel – tot hul ontsteltenis. As die boot vier duikers het, neem die eienaar normaalweg 10% en die res word tussen die duikers verdeel. Hoe minder die duikers, hoe hoër is hul aandeel. Die 10% kan enigiets van niks tot R30 000 wees. ’n Boot, die High Jinks, het dit eens reggekry om diamante van R300 000 binne ’n dag bymekaar te kry. Omdat dit deesdae moeilik is om ryk spots te kry, bied sekere booteienaars hul duikers R5 000 aan pleks van ’n aandeel.

 

In ’n normale jaar myn Namdeb diamante van tussen 1,2 en 1,5 miljoen karaat in Namibië. Op die kuslyn van 120 km tussen Lüderitz en Bogenfels werk subkontrakteurs op die strand en in die water tot op ’n diepte van 30 m. Daar word beweer hulle myn tot 100 000 karaat per jaar. Net ’n paar seemyl weg van die konsessiegebied waarin die African Bounty funksioneer, is die kantoorgebou van Namdeb. Ondanks die kort afstand is dit asof die twee ligjare van mekaar verwyder is. Aan die een kant is die diamantontginningskepe met hul vuil, sonverbrande dekke en die songebruinde, atletiese duikers wat ’n lewe maak deur swaar fisieke werk te verrig. Aan die ander kant is die netjiese, lugversorgde kantore waar die bleek Namdebburokrate in wit boordjiehemde sit. Dit is nie verbasend dat die twee partye nie dikwels dieselfde sienings het nie. Namdeb beskou homself as die weldoener. D

it het nag geword oor Lüderitz. Die diamantbote het na die hawe teruggekeer en hul bemannings vergader in die dorpie se kroeë en kafeetjies. Hier drink hulle nie net op die hoop om ’n groot vonds te kry nie, maar dink ook aan die mislukkings van die dag. Geen Namdeb-bestuurder sal dit hier waag nie. Hulle verkies die keurige visrestaurante wat deur toeriste besoek word. In die duikers se restaurante word bier in driekwartliter-bottels verkoop, prostitute sit en wag by die kroeg en die dronk seevaarders speel tot vroegoggend toe poel. The Step’s Inn is so ’n hawe vir die skatkisjagters.

Wanneer die woord Namdeb genoem word, stamp Paul van Gysen sy glas whisky op die houttafel en trek hy ‘n gesig. “Pah – Namdeb – te veel politiek, te min regverdigheid,” mompel hy. Sy gesig is verweer – sy hare is woes en hy het ’n ruwe baard. Namdeb het onlangs dié duikveteraan se lisensie afgeneem – nou verdrink hy sy roep. In 1987 het Van Gysen Port Nolloth verlaat om Namibië toe te kom en het sedertdien rusteloos voortgegaan om na sy fortuin op die bodem van die Atlantiese Oseaan te soek. Hy kon uiteindelik bewys daar is diamante langs die kus van Luderitz. “Dié stukkie inligting is lank reeds deur die here van Namdeb vergeet,” sê hy terwyl hy nog ’n diep teug vat. Hulle wil hom nou uit die besigheid hê. Geen woord word gerep dat dit danksy Van Gysen se deursettingsvermoë was dat daar deesdae van die kus van Luderitz af diamante gemyn word of dat Namdeb baie baat gevind het by die diamante van 250 000 karaat wat Van Gysen op die bodem van die oseaan gemyn het nie.

“Die politieke druk sal veroorsaak dat diamantduik ’n stadige dood sterf,” sê Van Gysen. In die kroeg stem almal met hom saam. Die soektog na die goudpot aan die einde van die reënboog by Luderitz is verby. Die legende van avontuur, vryheid en rykdom is vervang deur die berekende Namdeb-burokrate met hul saai winsstatistieke en verslae oor aandeelwaardes. Tussen duikkonsessies en verkoopkwotas deur word geen ruimte gelaat vir die drome van skatkissoekers nie. Die duikers is almal hiervan bewus en pleks van die raserige partytjies wat in die verlede gehou is wanneer ’n skip met ’n ryk vrag teruggekeer het, word eerder nou kwaai gedrink.

Die skeepseienaar, Coen de Beer, kom sluit hom by Paul aan en plak sy bierbottel neer tussen vyf whiskyglase en ’n oorvol asbak. Hy haal diep asem en trek só die aandag van die ander duikers. “Burokrasie sal die duik na diamante doodmaak,” sê De Beer stoïes terwyl die ander voor hulle uitstaar. Dan herhaal Paul Gysen anekdotes van Port Nolloth – al ken almal dit reeds. Kleinlike jaloesie en burokrasie het ook die avontuur van diamantduik in Port Nolloth vernietig. Toe die stryery begin en die eerste bote in vlamme opgaan, het die duikers begin uitwyk na Lüderitz. “En nou gebeur dieselfde hier,” vloek Van Gysen. “Ek gee dit nog tien jaar en alles hier sal klaar wees.”

Besigheid het reeds verskuif tot dieper waters – nou selfs tot op ‘n diepte van 60 m. Hier is De Beers aan die werk en is subkontrakteurs nie nodig nie. Dit lyk dus of die dae van diamantduik getel is. Die klein, verwese diamantbote moet nou plek maak vir tegnologies gevorderde diepsee-bote – die duikeksperts sal vervang word deur ten volle outomatiese suigpompe. Die ruwe en gespierde ouens in The Step’s Inn trek hartseer gesigte wanneer hulle Van Gysen se woorde hoor. Hulle lyk soos kindertjies wat pas meegedeel is dat Kersvader nie werklik bestaan nie. Tog weet hulle almal dat moderne feëverhale van mense wat skielik ryk word presies dit is: feëverhale. Die gedrink begin weer van voor af en die ouens praat mekaar moed in deur weer ou legendes op te haal.

 

Een so ’n storie is dié van John Hanley wat soppoeier, nougat en skoenpolitoer verkoop het. “Op ’n dag het hy genoeg gehad, sy ou kar gevat en Luderitz toe gery,” vertel Coen de Beer. “Vandag is hy ’n multi-miljoenêr.” Hanley het die jackpot geslaan – ’n ryk onderwater-skatkis wat aan hom 4 000 Britse pond per dag besorg het.

Die nag van die legende het begin – elke duiker vertel sy beste anekdote: die heroïese geveg van Howard Head wat eens diep in die hart van die Atlantiese Oseaan ’n diamant wat hy ontdek het, teen ’n rob moes verdedig. Of die storie van die seerowerskip wat ontsnap het na die kus van Angola, die vragruim tot boordens toe vol. “Sy’s nooit weer gesien nie; het waarskynlik in die hande van die Angolese Unita-rebelle geval,” vertel Errol Watt, ’n reus van ’n man met ’n babagesig. Hy laat sy woorde so hartseer klink dat almal uitbars van die lag.

Aande soos dié is ’n ritueel vir die skattejagters. Met hul anekdotes praat hulle mekaar moed in – daar is nog skatte te vind. Dis wat hulle wil glo. Hulle is bewus daarvan dat hul tyd met elke duik vinnig minder word en ’n groot vonds binnekort net maar ’n legende in die kroeë van Luderitz sal wees. Totdat dit gebeur, sal hulle egter hul bes doen.

Môre is nog ’n dag. Die vrese oor die toekoms word eenkant toe gestoot, die vroeëmôrelug verdryf die babbelas. Die weervoorspelling sluit die suidewind uit wat die water te stormagtig maak om na diamante te soek. Pleks van die suidewind, waai die noordewind, ’n vriend van al die duikers. Hy lok hulle weer na die see en beloof ’n ryk vonds.

About author

Articles

Short bio on DEKAT here...
Related posts
Argiewe

Bittersoet

Hierdie artikel het oorspronklik in die Lente 2002 uitgawe van DEKAT verskyn. KwaZulu-Natal is ’n…
Read more
ArgieweKuns

Art on the move

Artist and lecturer Gordon Froud spent a month at the Ebenezer Estate in Plettenberg Bay as an…
Read more
Argiewe

Chris in colour

July/August 2013 issue. Apart from being a music prodigy, the endlessly creative Chris Chameleon…
Read more
Newsletter
Become a Trendsetter

Sign up for DEKAT's newsletter and get the best of DEKAT, tailored for you.