dit sal stil word

hoe anker mens ink wat wil opkom vir asem en

hoe verdedig ek die ondraaglike snikke van dig?

hoe breek die gewillige hart en moeë lyf van ‘n

samaritaan twaalf mandjiesvol brood vir ‘n skare?

ag hoe dikwels moes my palms jou miskeer

as jou eie stem teen jou draai en

elke ontbering soos koors teen jou

verhemelte kom sit het

ek weet dat die sout terugsteier in jou keel

soos een wat grate sluk en ek weet dat jy

té lank reeds deurskynend bloei

in die helle van elke halfgemaakte nag

ja ek weet dat jou longe sóveel verdomde stof moet teug

voordat die skikkings van jou gewete jou

tóg na elims sal dra waar die hitte meer draaglik sal wees –

want oral brand dit maar my ding

maar jou stem sal weer klink soos

God se eerste asem en jou oë sal weer

soos fetusse roer in ‘n soort opstanding

van iets wat nooit dood was nie

ek sal jou weer hardop nasê soos ‘n kindergebed en

soos toe jy soos my spore was

ek sal jóú sonder verset pleeg in elke vers en jou

leer dat troebel sonne die helderste skyn

jy sal stil word soos ‘n vlag wat die wind nie ken nie en

jy sal my vlerke van ver af hoor

vóór die aarde se moeg dryf

tot teen jou kraag

en net ons sal weet dat die hemele van ons andersom aard

anders lyk as leeus en lammers en eers dán

sal my strofes oopbreek in gelykenisse en

in sagter dagbreke op jou bors kom lê

francisgrobler©

By |2018-11-08T10:37:36+00:00November 8th, 2018|Kultuur, Skrywers, Taal|