DIGKUNS UIT HOUT
Met vaardige vakmanskap maak die Suid-Afrikaner Alber Bekker viole van internasionale standaard. MARTIE SWANEPOEL het by hom in sy ateljee in Linden gaan kuier.
DIGKUNS UIT HOUT
Photography
Met vaardige vakmanskap maak die Suid-Afrikaner Alber Bekker viole van internasionale standaard. MARTIE SWANEPOEL het by hom in sy ateljee in Linden gaan kuier.
Die ontwerp word dan op papier uitgedruk en oorgedra op ’n dun plaat aluminium om sjablone van te maak. Daarvandaan word ’n interne vorm gemaak uit laaghout. Die viool word dan om die interne vorm gebou.
Hy is nie ’n tydsame vakman nie. Omdat hy vir lank met baie beperkte tyd viole moes maak, bestee hy nou min tyd om te wonder oor wat om te doen, en sal baie eerder doen en later jammer wees dat hy nie meer gedink het voor die tyd nie.
“Dit is maar ’n stadige proses wat baie keer nie in een sitting gedoen kan word nie. Gom of vernis moet eers droog word. Maar soos wat die viool klaar kom, is daar definitief ’n bietjie koors betrokke.”
Terwyl hy werk, hoor hy reeds die “musiek” van die instrument.
“Omdat die meeste werk met handgereedskap gedoen word, is die klank wat die hout maak as die gesny of geskaaf word baie kenmerkend en insiggewend. Soos wat die hout dunner word, word die klank amper musikaal en baie makers gebruik dit as ’n belangrike aanwyser van hoe dik die plate moet wees.”
Hy raak nie emosioneel as hy moet afskeid neem van een van sy viole nie.
“ ’n Viool word gebou om musiek mee te maak en ek kan net op een op ’n slag speel.”
Hy hy raak wel emosioneel oor musiek.
Hy het lank vir ’n amateurorkes viool gespeel en een van die staatmakermusikante het kanker gekry. Hy was later sterwend en hy het versoek dat die groep Beethoven se Pastorale Simfonie vir hom speel. “Hy het toe een van die laaste repetisies bygewoon en ons het dit net vir hom gespeel met die hele orkes in trane.”
Hy is sy ouers se laatlam (hy het ’n ouer broer en suster wat vaardige pianiste is), en sy ma, Annetjie, het hoofsaaklik die liefde vir musiek by hom tuisgebring. Sy het vir jare in die operakoor van TRUK (die vroeëre Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) gesing en hy het al die vertonings en sommige repetisies as ’n kind bygewoon. “Ek onthou dat veral die groot kontrabasse in die orkesput my gefassineer het.”
Sy pa, die digter en skrywer Pirow Bekker, was nie regtig ’n vakman nie, alhoewel hy ook altyd ’n naweekboer was. “Hy is meer kunstig op ’n serebrale vlak en ek meer met handwerk en visuele kuns.”
Bekker se gesin is die heel belangrikste in sy lewe.
“Emma is ’n begaafde skrywer en digter, maar ook die mens met die hoogste emosionele intelligensie van enigiemand wat ek nog ontmoet het. Ons was jong ouers en Emma sê altyd dat ons kinders gekry het soos die wildebeeste van die Masai Mara – hulle word so in die hardloop gebore en hulle vat skaars grond dan moet hulle saam hardloop of agterbly.”
Pirow, hul oudste seun, is ’n genetikus wat toe ’n bierbrouer geword het. Jacob, die middelman, is besig met sy meestergraad in astro-kernfisika en die jongste Emmie is ’n jong ingenieur by Mercedes-Benz in Oos-Londen en ook besig met haar meestersgraad.
Sy pa, en sy vrou se digwerk raak diep aan sy emosie. Van albei is daar kosbare gedigte wat hy met hom saam dra.
“Ons het ’n kankerskrik gehad met Emmie, ons jongste, toe sy 10 was. Emma het hierdie gedig geskryf en dit was eindelik die katalis wat gelei het tot die publisering van haar eerste digbundel. Dit bly vir my een van die treffendste beelde wat ek nog ooit raakgelees het.”
Nagvangs
(Pediatriese onkologiesaal, Donald Gordon, Oktober 2009)
Daardie dag het die water vinnig opgedroog.
Waters waar rus is,
die oase van die moedertong,
met sussende sinne en stories soos skole vis,
het drupsgewys verdamp,
onder skel teaterlig en geskropte vloer.
Daar is, goddank, visse so oud en eerlik
soos die aarde voor die mens,
wat hulself onthef het van die nukke
van volgehoue vog:
daardie nag, droëmond, langs haar ontsmette bed,
het ek knielend kaalhand babers uit ’n kleikombers
gegrou en sop vir my kind gekook.
“My pa het hierdie liefdesgedig geskryf vir my ma en ek dink daar is min mooier in Afrikaans. ’n ‘Weerboom’ is ’n groot paddastoel reënwolk.”
Ek het die wind opgesteek
Ek het die wind opgesteek
om vir jou ’n boom te bring
nie ’n sierboom nie
nie ’n neuteboom nie
geen tuinboom
of ’n parkboom
of ’n laanboom nie
nooit ’n huilboom nie
my boom is ’n weerboom
wat opkom oor jou oopmaak van ’n deur
oor jou groet onder duisend melkweë
my boom het die vermoë
om skielik in die nag
bloeisels op jou dak te laat reën.
Bekker is nie ’n digter soos sy pa of sy vrou nie. Hy skep instrumente wat met melodieë dig. Die Franse skrywer Edmond de Goncourt het juis gesê ’n digter is ’n man wat ’n leer teen ’n ster staanmaak en daarteen opklim terwyl hy viool speel.
KOM BELEEF SY VAKMANSKAP
Albertus Bekker:
Met vaardige vakmanskap vervaardig die Suid-Afrikaner Albertus Bekker viole van internasionale standaard. Piet het by hom in sy ateljee in Linden gaan kuier, soms is iets wat eenvoudig lyk, baie meer kompleks. Kom kyk hoe maak hy dié wonderwerke.