Die wonder van woorde
Sheila Cussons se ryk lewe het neerslag gevind in al haar bundels waarin lesers die intuïtiewe en waargeneemde wêrelde van haar bewuste en onbewuste kan meemaak. ADRIAAN POTGIETER maak die pad oop.
Die wonder van woorde
Photography
Sheila Cussons se ryk lewe het neerslag gevind in al haar bundels waarin lesers die intuïtiewe en waargeneemde wêrelde van haar bewuste en onbewuste kan meemaak. ADRIAAN POTGIETER maak die pad oop.
Agter die toe deur van my studeerkamer het ek gaan sit om te luister na Sheila Cussons. Ná maande se leeswerk was dit die eerste maal dat ek haar stem sou hoor. Klankbane van radioprogramme uit die tagtigerjare: gedigtevoorlesings, besprekings en onderhoude oor en met haar in die later jare van haar lewe. Tussen ’n paar kraakgeluide van die ou SAUK-opnames het ’n sagte vroulike altstem met ’n klein suggestie van effense rookheesheid en versigtig gevormde woorde ’n lewe geword. ’n Sintuig. En ’n aangrypende en heel ander emosie het kom aansluit by my studie tot dusver.
Ek het ure, dae geluister. En ondanks die onnoembare rykdom van hierdie materiaal wat ek die groot voorreg gehad het om te ontdek, het ’n vraag by my begin luier. Of ’n onsekerheid. Hoe pas hierdie stem in by my eie intuïsie, ná dit wat ek sover opgedelf het uit leeswerk en waarneming? En ’n besef het vaag na my gekom, asof daar iewers nog ’n sluier is. Want die stem was meer onbekend as dié van ’n vreemde stem, daar was iets anders. Dit was nie, dit het nie gevoel dat dit sy is wie gaan swem en uitkom waterstralend nie, en vasklou en glad so iets soos ’n Aphrodite wat skuimend vermarmer en deur die helder huis nat loop en sing nie (“IX” – Verf en vlam). En ook nie van die kind met kaal voete oor die agterplaas nie, ook nie die jong skilder in die tekenklasse in die swartgebrande naoorlogse Londen nie, of die model van ’n houtskooltekening van Jean Welz nie. Ek kon die klein blindende koekoek, die kleinstetjie in die land, wat die winter middeldeur klief nie saam hoor nie (“Die wekroep” – Die swart kombuis). Ek moet verder soek na nog iets; ek moet ook na die jong Sheila soek. Verby die Id wat niks verklap nie (“Id” – Die swart kombuis).
Miskien, het ek gedink, kan ek enkele van haar woorde van lank terug soos ’n paar kwashale bymekaar probeer sit. Soos verwikkelde lyne? Sou dit mens nader aan haar bring? Maar kan ’n mens tot ’n kennis kom van iemand nooit in tyd geken nie, direk en bo sintuiglik? (’n Geur – Die A w E is). Kan mens weet hoe die langtandvurke al singend haar neergehurkte liggaam gebou het? (“Die hooimied” – Die asem wat ekstase is).
Op 9 Augustus 1922 is Sheila Cussons onder die Leo-sterreteken op die Morawiese sendingstasie buite Piketberg gebore, die eerste kind van die stasiemeester van die Greatburg-haltetjie daar naby, en begin die swerwersbestaan van haar kinderjare van spoorweg- tot spoorwegstasietjie deur die land, 22 woonplekke, 13 verskillende skole tot sy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria. Dog, sy was ’n gelukkige en kreatiewe kind en toon van vroeg af talent in die beeldende kunste. Haar lewenslange, kleurryke en emosionele meelewing met haar persepsies uit haar kinderjare is orals teenwoordig in haar digwerk en dui op ’n geïntegreerde verbintenis met haar onbewuste van baie vroeg af (selfs gebeure tydens haar moeder se swangerskap met haar beskryf sy). Ná matriek ontvang sy ’n beurs vir studies in die skone kunste aan die Universiteit van Natal, waar sy kwalifiseer, een jaar doseer en dan twee jaar saam met Jean Welz in Worcester werk.
Wie ook al mens vra, almal sê sy was ’n beeldskone en aantreklike jong vrou en ’n besonder talentvolle skilder en digter. Reeds op universiteit het sy verskeie solo-uitstallings gehou en daarna in Kaapstad. In 1947, op 25, vertrek sy na die naoorlogse Londen, waar sy by die BBC werk en skilderklasse by Victor Pasmore aan die Camberwell School of Art neem. Maar sy wou van kinderdae ook met woorde vorm gee, en subtieler as woorde, soos ’n blik of ’n fyn gebaar (“Akwaties” – Die somerjood). Sy vertel van die gestaltes wat woon in alle lewende dinge, selfs in voorwerpe, en sien ’n eenheid van die maan en die oë van haar kinderjare met die swart verwoesting en groen parke en die afgetuimelde aartsengel wat in die reën lê en roes (“Gestaltes”, 1947).
Van Londen vertrek sy in 1948 saam met haar man Stoffel Nienaber, wat by haar aansluit, na Amsterdam en as sy tien jaar later finaal en met groot pyn daar sal afskeid neem, sluit sy ’n episode in haar lewe af wat die res van haar lewe as mens en kunstenaar sou beïnvloed, en waaroor reeds soveel geskryf is. Haar eerste indruk van die stad is soos ’n driedimensionele 17de-eeuse skildery, skryf sy. Sy verbeter haar ets- en sketstegnieke onder leiding van ………… , werk by Radio Hilversum en begin haar meer toespits op poësie. En die kronkelpad van ’n groot liefde tussen haar en NP van Wyk Louw, destyds professor aan die Amsterdamse universiteit, en wie sy reeds in 1947 in Seepunt ontmoet het, begin. Sy skei van Stoffel Nienaber, Van Wyk Louw en sy vrou Truida gaan hul eie paaie, maar leef steeds in dieselfde huis, verskaf deur die universiteit. Sheila en Wyk lees en dig en dans saam. Terwyl DJ Opperman haar adviseer om nog te wag, moedig Louw, haar mentor en minnaar, haar sterk aan om te begin publiseer. Hulle inspireer mekaar; ’n verrykende, kreatiewe, maar ontstellende periode in albei se lewens. In hierdie tyd publiseer Louw Nuwe Verse en Klipwerk, en skryf Tristia – maar wou dit nie uitlaat uit sy binneruim nie, tot eers in 1962. Die weifelende Louw, gedeeltelik vervreem ook van Truida, verlaat en keer verskeie male terug na Sheila in hierdie jare. Dan in 1956 vertrek Sheila skielik na Suid-Afrika vanweë die tragiese dood van haar jong broer André, maar sy besluit om vir 18 maande nie terug te gaan Amsterdam toe nie, ’n genesing sou moes plaasvind. Sy korrespondeer met sowel Wyk en Truida. As Die Held van Louw die eerste maal uitgesaai word, luister Sheila daarna in die SAUK ateljee in Durban. Louw word dieselfde jaar 50 en Germanicus, wat hy dikwels ook met haar bespreek het, word die eerste maal as hoorbeeld uitgesaai, terwyl Sheila weer eens vasgevang luister.
Dit is Truida en Sheila wat nou die rigting sou aangee van die weifelende Louw se persoonlike lewe. Haar verblyf in Suid-Afrika het Sheila laat besluit. In Januarie 1957 keer sy per boot terug na Europa om finaal afskeid te neem van haar Amsterdamse lewe, sonder om Louw of selfs haar Suid-Afrikaanse vriende te laat weet sy is daar. Die afsluiting van hierdie epog wou sy op haar eie deurgaan. Vir ses weke stap sy alleen deur die snerpend koue strate waar hulle saam was, gaan staan voor die Concertgebouw waar sy en Wyk met Paasfees, 1950, die Mattheus Passie bygewoon het, Vondelpark, verby haar woonplek op Stadionplein. Twintig jaar later lees ons van die sneeunag op ’n bank langs ’n blink kanaal, ons voetvalle nánag oor die plein – die leë wind onthou – ’n laaste trem wat na sy skuur toe skreeu – na al die jare waarom dié soet pyn? (“Aandenking” – Verf en vlam). In Februarie vertrek sy van Centraal station per trein na Barcelona. Die tien jaar vervleg met Louw sou altyd die groot liefde en teleurstelling van haar lewe wees. En Louw, ná Tristia en Sheila sou hy nooit weer ’n digbundel publiseer nie.
Plotseling verstar die goudwit wolke tot hout in stowwerige stolp en plotseling lewe ek woes vol vlerke … (“Eksistensie” – Verf en vlam).
Sy is 34 jaar oud, en sy maak die groot sprong in haar lewe, sy was altyd ’n waaghals. Binne drie maande verlaat Sheila die NG Kerk van haar jeug om in Mei gedoop te word in die 14de-eeuse Katolieke katedraal in Barcelona (iets wat sy en Louw besluit het om saam te doen …), sy trou die volgende maand (Junie) met die jong en aantreklike Katalaan, Juan de Saladrigas, wat sy reeds van Amsterdam se dae af geken het en met wie sy vanuit Suid-Afrika gekorrespondeer het. En in haar verjaardagmaand Augustus word sy swanger met haar eerste seuntjie, Jordi. ’n Maand voor sy geboorte skilder die swanger Sheila bo-op ’n trapleer Jordi se kamermure met simbole van die eenoogkind.
Sy ontwerp hulle huis in Barcelona, maak kennis met die surrealis Salvador Dali. Haar tweede seuntjie Jame word in 1960 gebore.
Juliemaand en mure wit om van te knipper en dorpe waar son en klokke in ou torings woon (“Siesta” – Die sagte sprong).
Die aand van 18 Junie 1970 hoor Sheila dat Van Wyk Louw in Johannesburg aan ’n hartaanval gesterf het. Haar lewe is in Spanje. Op 48 is sy steeds ’n pragtige en jeugdige vrou, haar seuns van 10 en 12 jaar oud se vriende dink sy is hulle suster. Mens weet nie wat deur haar gedagtes gegaan het daardie dag nie. Dis 13 jaar sedert sy vertrek het uit Amsterdam, 23 jaar vandat sy hom in Seepunt ontmoet het. Maar nou, nou publiseer sy haar eerste digbundel, Plektrum, reeds geskryf oor meer as 15 jaar. En ons kyk na haar “Winter akwarelle van Amsterdam”, hoe yl is alle vensters asof alleen met God , en ons lees “Heloise” se brief: ek het vergeet wat ons gesê het lief, die tyd het oud geword, nooit weer in die krom van jou lyf my lyf as ek slaap nie. In ’n huis in die wind vroetel sy en vind nie. Vrygelaat soos mens ’n opgesluite voël uit ’n kou laat vlieg, en sy ontvang drie letterkundige pryse hiervoor: die Ingrid Jonker-, die Eugène Marais- en die WA Hofmeyrprys.
’n Tragiese ongeluk in 1974, wanneer ’n gasstoof ontplof terwyl Sheila in die kombuis van hul vakansiehuis besig is, skend haar lewenslank met erge brandwonde aan haar gesig en liggaam, haar een been en verskeie vingers moet geamputeer word, en sy word twee jaar gehospitaliseer voordat sy fisiek erg vermink stadig na haar huis en lewe kan terugkeer. Sy gaan selde uit en trek haar terug in haar huis en met haar gesin. Maar in hierdie tyd ontsluit een van ons grootste digters, en die enigste mistiese digter van formaat in Afrikaans, se talent tot hoogtes nog nie gesien in ons poësie nie. In 1978 publiseer sy Die swart kombuis, die sirkel van die eenoog-kind het gevorm: … en om uit te kom uit Tartarus het ek aan Zeus beloof … die belofte van ’n self wat hy in die woord sal vind. (“Digter II”). In dieselfde jaar publiseer sy ook Verf en vlam en die daaropvolgende jaar twee verdere bundels: Die sagte sprong en Die skitterende wond. Van 1980-84 publiseer sy nog vyf bundels, en ’n verdere vier bundels tussen 1988 en 2000.
Om in hierdie kort artikel te poog om selfs die temas van Sheila se digkuns te bespreek sou ’n onreg daaraan doen, ek bly maar by nog enkele kwashale. Ons is bevoorreg om deur al haar bundels ’n diepe blootstelling aan die intuïtiewe en waargeneemde wêrelde van haar bewuste en onbewuste te kan meemaak. Met die fyn detailpersepsie van ’n beeldende kunstenaar neem sy die leser in eenvoudige woorde, simbole en assosiasies van die duwweltjies wat haar kaal springende voetjies van kinderjare steek, deur bergpaadjies van lewe na liefde, wonde, teleurstelling, transisie, berusting. Haar gedigte vloei en vertel soos ’n Eliot, soos die lyne van ’n sensuele tekening en die wonder wat dit ís wat die lyf oorleef (“Verwikkelde lyn” – Verwikkelde lyn). Binne- en buitesintuiglike, emotiewe, psigiese en intellektuele gewaarwordinge giet sy uit met natuurlike gemak en eenvoud, sien sy die hooi op die land en deur die transparantheid van die hooi en die land sien sy die woorde van haar gebed. (“H. Theresa van Avila op ’n sending” – Verf en vlam) Haar diep geloof en sterk verbintenis aan die Katolieke kerk vind beslag in die kosmiese en mistiese essensie en groter eenheid van bestaan, wat deur die are van haar werk loop. Hoe meer ’n mens jou verdiep in die detail van ’n enkele frase en terselfdertyd ook die geheel van al haar werk, hoe meer beland jy in ’n soort non-dimensie wat iets anders is as die intellektuele of emosionele of religieuse. Jou waarneming kring uit na ’n tydlose vlak, en jy besef konsepte soos begin en einde, voor en na beteken al minder, en dra al minder by tot jou begrip van haar werk.
As Jordi maar 25 is en Jame 23, keer Sheila in 1983 op die ouderdom van 61 alleen terug na Suid-Afrika, om die halwe kring wat sy hier gelaat het te voltooi, vir nog 21 jaar. Vanuit haar eenslaapkamerwoonstel wat uitkyk oor die Kompanjiestuin publiseer sy Verwikkelde lyn in dieselfde jaar en ’n verdere vyf bundels tot met haar dood. Hoewel sy verskeie poësieslypskole aanbied by die Universiteite van Stellenbosch en Wes-Kaap, asook radio-onderhoude toestaan, leef sy ’n stil en byna kluisenaarbestaan met haar digwerk. Sheila ontvang ’n totaal van agt literêre pryse, waaronder die Hertzogprys in 1983, en twee eredoktersgrade. Die laaste jare van haar lewe bring sy deur in die Nazareth-klooster in Vredehoek, waar sy in 1995 ’n persoonlike besoek ontvang van Pous Johannes Paulus II. Amanda Botha vertel hoe Sheila met unieke persepsie en sintuiglike detail sou aanhou beskryf wat haar oë sien terwyl Amanda haar soms deur die Boland se berge en wynlande sou rondry. Die eenheid van waarneming, integrasie en terugkaatsing deur haar lewe het haar Self geword. Sy sterf op 25 November 2004 in Kaapstad.
Sy het die laaste strikke om haar losgemaak. Onsigbaar wissel sy van vorm tot vorm … maar agterna kom klein die in- en uitlaat van haar asem asof sy weet hulle swerwe en einde herhaal haar sterwe
(“Slapende meisie” – Naskrif)