Food & travelHoofartikels

Die Wêreld Wink

Na verwagting gaan Suid-Afrika sy eerste vroulike wynmeester (Master of Wine) van kleur binne die volgende die volgende paar jaar oplewer…en die kanse is goed dat ’n Stellenbosser met dié eer gaan wegstap:

Dr Erna Blancquaeart – die eerste vrou van kleur op die Afrika-vasteland wat ’n Taylor’s Port Golden Vines Diversity-beurs ontvang het – is oorgehaal om deel te word in die Instituut van Masters of Wine (Instituut) in Brittanje se internasionale wynmeestersprogram en die gesogte Master of Wine-kwalifikasie te behaal.

Blancquaert, wat verbonde is aan die Departement van Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Druif- en Wynnavorsing, was vroeër dié maand een van net twee ontvangers wêreldwyd van die Instituut se BAME- (Black, Asian and minority ethnic) en BIPOC- (Black, Indigenous and other persons of colour) toekenning.  Dié beurs van sowat 55 000 Britse pond, stel die wenners in staat om vir bogenoemde wynkwalifikasie enige plek ter wêreld te studeer en so lid van ’n uitgelese groep te word.

Dr Erna Blancquaert (Foto: Dave Benett/Getty Images for Gerard Basset Foundation)

“Een van my prioriteite is dus om die Master of Wyn-kwalifikasie te verwerf. Dit bied mens toegang tot ’n unieke wyngemeenskap: Wynmeesters word hoog geag, onder meer as proeërs wat gereeld genader word om as beoordelaars by wêreldwye wynkompetisies en leiers by proegeleenthede op te tree, om wynlesings te gee en kursusse aan te bied en van die wêreld se beste private kelders te takseer,” verduidelik sy.

“Die kwalifikasie is ook tot voordeel van my daaglikse werk waarby my studente (voor- en nagraadse opleiding) baat kan vind. Ek wil ook ander diversiteitskandidate motiveer om die ‘road less travelled’ as loopbaan te kies en om hulle te verseker dat mens méér leer as jy buite jou gemaksone is. Op persoonlike vlak wil ek graag my 6-jarige seun saam op die sensoriese ontdekkingsreis neem – hy geniet dit om standaarde met my te ruik en die aromas te identifiseer. Verder hoop ek om nog meer reise saam met my man en seun in wynwêreld mee te maak,” wei sy uit.

Om ’n Master of Wine-kwalifikasie agter jou naam te kan skryf, moet jy jou storie kén! Die eksamen behels drie dele: twee ‘toe boek’-seksies van vyf teorie-vraestelle, ’n proe-eksamen van drie vraestelle en ’n ‘oop boek’-seksie van ‘n navorsingsreferaat. Die kandidaat kan drie keer binne vier jaar probeer om die ‘toe boek’ eksamens te slaag en dan’n verdere twee pogings binne drie jaar om die ander te slaag. Sodra die ‘toe boek’-vraestelle suksesvol voltooi is, word die kandidaat toegelaat om voort te gaan met die ‘oop boek’-gedeelte. Dié wat dit nie maak nie, moet helaas die program groet. Net ’n paar kandidate slaag al drie afdelings binne drie jaar; die gemiddelde tyd wat dit kos om die volle kwalifikasie te verwerf, is vyf jaar, verduidelik Blanquaert.

Mentor

Aan haar sy om haar as mentor op hierdie driejarige studiereis te begelei, is Cathy van Zyl, die eerste persoon in Suid-Afrika wat ’n Master of Wine geword het, en mede-redakteur van Platter’s South African Wine Guide.

Cathy van Zyl

“Weens Suid-Afrika se afgeleë geografiese ligging (weg van die res van die wynwêreld), is Cathy se rol deurslaggewend in die proses. Behalwe dat sy ’n pionier op die gebied is, is sy ook baie geesdriftig oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Daarbenewens het sy ʼn groot internasionale ‘voetspoor’ en is sy internasionaal geliefd. Suid-Afrika se wynbedryf is bevoorreg om iemand met soveel uitnemendheid in sy midde te hê.  Boonop is sy ʼn lewendige entjie mens, ’n ‘go-getter’ in die ware sin van die woord; ek het lanklaas iemand met haar werketiek gesien,” wei Blancquaert geesdriftig uit.

Dié agting is wedersyds:

“Al ken ek Erna nog nie lank nie, ‘konnekteer’ ons op ’n vlak wat vir my baie belangrik is: ’n nimmereindigende leerkurwe. Ons geniet dit albei om te leer, te studeer, probleme op te los en elke ‘los draad’ vas te knoop. Ons deel ’n gevoel van wedersydse respek en ’n erkenning van onderlinge sterkpunte. Ek gaan haar help om sterk- en swakpunte te identifiseer, werkareas te priotiriseer en haar moeilike vrae te vra wat straks nie altyd op wyn betrekking het nie, maar haar leerbenadering. Ek gaan haar ook help om haar smaaksin internasionaal te maak pleks van Suid-Afrikaans. Ek is ook gek na haar humorsin,” sê Van Zyl.

Prestasies

“Erna se curriculum vitae is méér as indrukwekkend,” vervolg sy. “Die feit dat sy die eerste BIPOC-vrou is wat ’n PhD in Wingerdkunde op die vasteland behaal het, verdof as’t ware as mens alles wat sy al bereik het, in oënskou neem:

“Sy dra by tot die voortgesette inwin van kennis wat die Instituut as een van sy hoekstene propageer, naamlik om uitnemendheid, interaksie en geleerdheid in al die sektore van die internasionale wyngemeenskap te bevorder. Sy is tans dosent op dié gebied, koördineerder van ’n globale netwerk vir die internasionalisering van wingerd- en wynkunde met 17 internasionale universiteite en onderrig-kwaliteitseenhede in die Internationalising Joint Programmes-konsortium (Vita Global) vir die US, mede-redakteur van die tydskrif Plant-Environment-Interactions en oorsigredakteur van die tydskrif Frontiers wat op abiotiese stres by plante toegespits is.

“Bowenal lewe sy elke dag die waardes uit wat die Instituut wil bevorder soos vervat in sy Diversiteitsbeleid, naamlik die bevordering van ’n kultuur van diversiteit, insluitend en volgehoue transformasie.

Vir Van Zyl sal dit een van die verblydendste dae in haar wynloopbaan wees: “As Erna in die Master of Wine-eksamens slaag, kan sy die eerste mens van kleur in die Suid-Afrika wees wat dié prestasie behaal. Maar selfs al sou sy net voor die wenstreep verbygesteek word, sal sy die eerste mens van kleur op die Afrika-vasteland wees wat dié prestasie behaal – voorwaar ’n sonderlinge mylpaal in Suid-Afrika se wyngeskiedenis oor die boodskap wat sy daardeur uitstuur.”

Op die groot verskeidenheid wyn wat in Suid-Afrika vervaardig word en die land se potensiaal as wynprodusent is sy net so trots soos Van Zyl wat glo dat die land tans sy beste wyn óóit maak, in alle prysklasse. “Die woord prysklas is belangrik want Suid-Afrika se wynverbruikers is wyduiteenlopend. Ons produsente is in staat om bekostigbare, ‘vriendelike’ en ‘gemaklike’ wyne te maak vir almal te maak – van dié wat net iets by ’n boekklub of rondom ’n braaivleisvuur wil drink, tot hoëgehalte-wynsoorte vir die ‘geeks’, sommeliers en mense wat na nuwe wynondervindings soek. Hierdie wyne kan op gelyke voet met die beste ter wêreld meeding,” verduidelik Van Zyl.

Suid-Afrika se probleem is egter ‘relevansie’. “Neem byvoorbeeld die Frankryk se gesogte Chateau Margaux met ’n totale produksie van 280 000 bottels (vier wyne) teenoor Suid-Afrika se Sadie-familie s’n van 60 000 (10 wyne). Kortom: Chateau Marguax het amper 5 keer die reikwydte, 5 keer die geleentheid om te sê: Franse se wyn is puik. Ons het wel ‘relevante’ wyn, soos Rupert & Rothschild, maar dis helaas net ’n handjievol vergeleke met Frankryk, Italië,  Spanje en Duitsland wat honderde wyne van ‘relevansie’ het,” beklemtoon Van Zyl.

Lewenspad

Gebore in die Paarl, waar sy haar skooljare by William Lloyd Primêre Skool en Nederburg Sekondêre Skool deurgebring het, was Blancquaert aanvanklik onseker oor wat sy wou studeer. “In matriek het ek baie begin lees  en meer uitgevind oor die kursus BSc Agric (Wingerd- en Wynkunde, tans bekend as BSc Agric Wingerd- en Wynwetenskappe) wat deur Stellenbosch Universiteit aangebied word. Dit het my nuuskierigheid geprikkel en net daar het die skakel tussen wingerd en wyn my gebyt…en die res is geskiedenis.

“Ná voltooiing van my BSc, het ek besef ek weet nog nie genoeg nie en vir ’n MSc in Wingerdkunde ingeskryf. Onder die studieleiding van dr Victoria Carey (die eerste vrou wat ʼn PhD in Wingerdkunde op Stellenbosch verwerf het), het my MSc op die impak van grondkleur op druifkwaliteit gefokus. Ek is, terloops, in my derde jaar afgeraai  om ʼn wynmaker te word…my geduld is net te min!”

Blancquaert is in Mei 2009 as junior lektor (deel van die Hoopprojek van wyle prof Russel Botman) aangestel. Dié projek was daarop gemik om belowende diversiteitskandidate met die potensiaal om ’n  akademiese loopbaan te volg, te ontwikkel. “In daardie stadium was ek inskryf vir ’n PhD in Wingerdkunde en het ek deeltyds daaraan gewerk. In 2010, moes ek ’n nuwe PhD-onderwerp kry (soos dit maar met ’n PhD gaan) en my doktorsgraad in Desember 2015 verwerf. In Januarie 2016 is ek tot dosent bevorder.

“As dit nie was vir mentors nie, sou ek vandag nie hier gewees het nie. dr Carey, proff Alain Deloire,  Piet Goussard, Evodia Setati en Anne-Maria Botha Oberholster; almal het ’n deurslaggewende rol gespeel. Mentors bring elk iets verskillend na die tafel. Dr Carey en proff Deloire en Goussard het die liefde vir wingerdkunde in my gekweek. Prof Setati  is weer die klankbord met wie ek wetenskaplike idees kan toets en ook ʼn medewerker op baie van my projekte. Prof Botha-Oberholster – een van die top-akademici by Stellenbosch Universiteit – adviseer my hoe om goeie balans te handhaaf.”

In 2008, was Blancquaert ’n uitruilstudent in Angers, Frankryk. “In dié tyd het ek ’n druifsensoriese tegniek aangeleer wat ons in Suid-Afrika toegepas het. Dit het my wêreld van wyn vergroot en ek wou nog méér weet,” vertel sy geesdriftig. In 2018-2019, het  sy ’n African Research Scholar Fulbright-beurs ontvang.

Wat sy veral geniet, is dat haar huidige posisie haar in staat stel om ’n bydrae te lewer in die onderrig van die toekomstige wingerdkundiges en wynmakers in Suid-Afrika, navorsing te doen en bedryfsprobleme aan te pak. “My kantoor en werksaamhede verander tot drie keer in ʼn dag afhangend van die tyd van die jaar.  G’n dag is ooit dieselfde nie: soos die spreekwoord lui, ‘Verandering van spys, gee eetlus’.”

By nadere beskouing, sou sy beslis weer wyn- en wingerdkunde as loopbaan kies…dalk ook ’n bietjie sielkunde wou studeer, veral as dit by verbuikersaspekte van wyne kom.  “Die wynwaardeketting is so groot en omvangryk; daar is plek vir enigiemand met passie vir die bedryf.”

Een ding wat die COVID-19-pandemie haar geleer het, is om elke geleentheid aan te gryp. “My lewensleuse is ‘Jy lewe net een keer’ (YOLO). Dus is my raad vir studente om hul tyd te optimaliseer en soveel inligting moontlik in te samel. Mens weet nie wat môre op jou wag nie.”

En as Suid-Afrikaners saamwerk, kán ons ’n wenland word, glo sy vas. “Ek is trots Suid-Afrikaans en weet dat ons as nasie alles kan oorkom. My wens is dat die gees van Ubuntu; die gees tydens die Wêreldbekerrugby die nasie sal omvou en dat ons sy aan sy aan probleme sal werk. Indien ons kragte saamsnoer, kán ons saam aan ons land bou en Suid-Afrika ʼn beter plek maak vir toekomstige geslagte,” beklemtoon sy.

-EINDE-

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

About author

Articles

DEKAT is an award-winning lifestyle icon that celebrated its 35th birthday in 2020. Enjoyed by modern, free-thinking readers DEKAT is an award-winning lifestyle icon.
Related posts
DEKATvFeatured postHoofartikels

Plesierige ‘Dekat’ begin weer op SABC 2 wys

’n “Eksentrieke mens of ses” wat in elke dorp woon, word in die derde seisoen van die…
Read more
ArgieweHoofartikelsKultuur

Indië rammel in Afrika se antieke geskiedenis

Hierdie artikel het oorspronklik in die 2003 Somer uitgawe van DEKAT verskyn.  Ek het Ethiopië…
Read more
Food & travelKos

Spier shares its signature recipes

Not everyone has the luxury of traveling to Spier wine farm, located just outside of Stellenbosch.
Read more