DIE VERSKRIKKING WAT VERSWYG WORD
Oorlog beteken dood en verwoesting en chaos, maar die geweld en verkragting wat teenoor vroue gepleeg word, word dikwels toegesmeer soos CHARNÉ KRUGER se soektog daarna in die Anglo-Boereoorlog dit aan die lig bring.
DIE VERSKRIKKING WAT VERSWYG WORD
Photography
Oorlog beteken dood en verwoesting en chaos, maar die geweld en verkragting wat teenoor vroue gepleeg word, word dikwels toegesmeer soos CHARNÉ KRUGER se soektog daarna in die Anglo-Boereoorlog dit aan die lig bring.
Oorlog durf nie in getalle soos gesneuweldes soldate of artillerie ontleed te word nie, dit moet eerder ’n besinning wees oor menslike lyding, sê hy.
Op sy beurt sê prof. André Wessels, senior professor in geskiedenis aan die UV, dat oorlogsgebeure in perspektief gesien moet word. “Die Boere het nie by die konvensionele reëls van oorlog gehou en oorgegee nadat die Britte Bloemfontein op 13 Maart 1900 en Pretoria op 5 Junie 1900 beset het nie. Die Boere se besluit op ’n krygsraadvergadering om die stryd voort te sit, was die begin van die guerilla-fase van die oorlog – iets waarop die Britte aanvanklik nie voorbereid op was nie.
“Vir die Boere was elke plaas ’n bron van inligting en ’n plek waar hulle mediese hulp, kos en voer vir hul perde kon kry. Die Britte se verskroeide aarde-beleid en interneringskampe (konsentrasiekampe) is ook gebruik om die Boere te verswak.
“ ’n Mens kan redeneer dat die verskrikking van die oorlog nie sou gebeur het as die Boere vroeër oorgegee het nie. Lê die morele verantwoordelik by lord Kitchener of die Boere? Verder: Die Boere is net so skuldig aan oorlogsmisdade, soos die summiere teregstelling van swart en bruin persone wat aan Britse kant geveg het, byvoorbeeld soos wat by die Leliefontein-sendingstasie in Namakwaland gebeur het.”
Terwyl oorlogsmisdade veroordeel moet word, moet ’n balans gehandhaaf word en niemand gedemoniseer word nie.
“Die hedendaagse mens moet die gebeure in historiese konteks sien, toe begrippe soos menseregte nie bestaan het nie. Min Britte glo deesdae dat imperialisme wenslik was. Die kern van die probleem is oorlog; dus wanneer geskille nie polities besleg kan word nie. Soos wat onlangs in Afghanistan en vroeër in die Balkanlande en in die twee wêreldoorloë gebeur het met oorlogsmisdade in die afwesigheid van menseregte.
“Gegewe die aard van menswees is die kanse ongelukkig skraal dat blywende wêreldvrede ooit bewerkstellig sal word, maar ons moet bly hoop,” sê Wessels.
+++
Francois Smith maak aanstaltes. Agter hom steek die gedenknaald van die Vrouemonument in die blou lug. In die skaduwee van die bome by die rye gedenkpanele gaan staan hy by ’n granietpaneel. Sy vingers vryf oor uitgekerfde letters van ’n bekende van. Vir ’n wyle hou selfs die voëls hul asem op.
+++
Bronne
Boje, J. (2015 ). Sexual Relations Between British and Boer Women: A Methodological Approach.
Krog, A. (2015). “They Couldn’t Achieve Their Goal With Me”.
Raath, A., & Strydom, H. (12 Oktober 1999). The Hague Conventions and the Anglo Boer War. International Anglo Boer War Centennial Conference. Bloemfontein.
Smith, F. (2014). Kamphoer. Kaapstad, Suid-Afrika: Tafelberg Uitgewers.
Voorvalle van verkragting
Verkragting op plase
In Julie 1900, skaars ’n jaar nadat die Anglo-Boereoorlog (ABO) in Oktober 1899 uitgebreek het, stel Britse opposisiepartye indringende vrae in ’n Britse parlementsitting oor beweerde verkragtings deur Engelse soldate van inwoners in die Natalse kolonie tydens die opmars van Britse magte. Die opposisiepartye wou weet of die regering ondersoek gaan instel en optree.
Mnr. P. O’Brien, destydse parlementslid stel die vrae, gegrond op ’n verklaring deur ’n Amerikaanse bevelvoerder, kapt. John Hassell, wat aan Boere-kant geveg het. Hassell word as geloofwaardig deur mnr. Michael Davitt beskryf, wat die verklaring geneem het. (Davitt het later as Ierse nasionalis en lid van die Britse laerhuis bedank weens sy besware oor die ABO.)
O’Brien verwys na ’n voorval in Dundee waarin ’n Britse infanterie-patrollie van 20 soldate nie net plaashuise verwoes het nie, maar ’n vrou wat alleen tuis was, glo verkrag het. Hassell en Boere-vegters het ’n halfuur ná die voorval op die betrokke plaas aangekom. Die vrou het hulle gesmeek om eerder na die buurplaas van die Bestergesin te gaan waarheen die soldate op pad was. Hier was die boervrou en haar vier dogters alleen tuis. By die plaashuis het Hassell-hulle gesien hoe die soldate teen ’n heuwel af probeer vlug. Hulle het drie van die vermeende verkragters doodgeskiet. Die meeste van die “wreedaards” het weggekom, benewens ’n sterwende gewonde soldaat in ’n Highlands-uniform. Vier vroue (48, 18, 14 en 12) is verkrag en met “afgryslike” geslagsiektes besmet.
Volgens Hassell het Engeland se eie soldate in hul eie kolonie geplunder en burgers aangerand nog voor die oorlog begin het en voordat lord Roberts na Suid-Afrika gestuur is. Vroue, oud en jonk, tussen Dundee en Ladismith is verkrag voordat die Boere hulle verjaag het. Hy het gewonder hoe die Engelse wat op die Boere neersien, kan aanvoer dat hulle die “agterlike Boere” Christelike waardes wil leer.
Mnr. George Wyndham, ’n goeie vriend van Cecil John Rhodes, het in die parlementsitting namens die regering geantwoord. Volgens hom was daar geen inligting oor dié beweerde verkragting in die Dundee-omgewing nie. Die verklaring is van ’n Boere-bevelvoerder geneem. Hy twyfel of dit gepas sal wees om voorvalle te ondersoek wat net op ’n gesprek gegrond is. Dié dade kan die doodstraf inhou indien dit tydens amptelike pligte gepleeg is.
Dr. Wilhelm Vallentin, ’n Duitser wat hom aan die kant van die Boere geskaar het, het ’n boek, Hunnen in Süd-Afrika! – Betrachtungen über englische Politik und Kriegsführung, oor die oorlog gepubliseer waarin hy Fred Lavelle, ’n medeBoerestryder se ervaring van gruweldade aanhaal. Volgens Lavelle het die Engelse vroue en kinders soos diere in die Irene-konsentrasiekamp ingejaag. Hy beweer hulle het ontugtige oogmerke gehad en wou die vroue met geweld en dwang, weerhouding van kos en marteling, meer gewillig maak. Sommige vroue en kinders is brutaal en onmenslik deur Engelse bevelvoerders misbruik. Wanneer hulle nie meer bruikbaar was nie, is hulle met “vars mensvleis” uit die kamp vervang. Alle soldate en bevelvoerders, lord Kitchener ook, was hiervan bewus.
Die voorvalle het sedelike gevolge op die vroue gehad, meen Lavelle. Waar die Engelse plaashuise afgebrand en alle vee en kos vernietig het, was die betrokke vroue op die soldate vir oorlewing aangewese. Hy vertel dat honger ma’s hul jong meisies van tien of 12 jaar oud na die soldatekampe gestuur het om kos te vra, in die hoop dat hul jeugdigheid hulle teen die soldate sou beskerm. Die meisies is dan aangehou onder die voorwendsel dat hulle sonder ’n vrypas betrap is, waarna hulle aangerand is. Baie van hulle het siektes opgedoen, swanger geword en moes boonop die skande daarvan dra, sê Lavelle.
In die konsentrasiekampe
In die reeks Vroueleed: Die lotgevalle van die vroue en kinders buite die konsentrasiekampe, 1899-1902 (Die konsentrasiekamp-gedenkreeks) wat die Oorlogsmuseum van die Boere-Republieke uitgegee het, word immoraliteit in die Bloemfontein-konsentrasiekamp bespreek. Die aangehoudenes was uit verskillende stande van die samelewing, sommige met laer sedelike waardes. Engelse soldate is in die kamp betrap. Die kamphoof het ’n militêre bevel uitgereik wat bevelvoerders en soldate verbied om die kamp te besoek en dat immorele vroue afsonderlik van die respektabele inwoners aangehou word. Die bevel het nie die gewenste uitwerking gehad nie en selfs nadat vrede gesluit is, is probleme ondervind. Tydens die oorlog het mans en enkele vroue binne die kamp ook gemeenskap gehad. Die skrywer meen dat Boervroue te midde van ’n geveg om oorlewing steeds trots, gelowig en heldhaftig was. Hulle is verneder en het ongekende beproewing beleef en het die Engelse in die algemeen verafsku. Net enkele vroue wat “ontroof van selfrespek” was, wat moed en hoop opgegee het, het die prooi van versoeking geword.
Prof. Andries Raath sê die gebeure is teen ’n agtergrond van die verskynsel van Britse imperialisme, ’n eiesoortige en hoogs komplekse verskynsel. “Een van die uitvloeisels daarvan was ’n beleid oor konsentrasiekampe wat rampspoedige afmetings aangeneem het. Die donker kante van Britse imperialisme is vandag so relevant en aktueel as wat dit tydens die Anglo-Boereoorlog was.
“Die motief van militêre opperheerskappy en onderdrukking is sterk deur ’n motief van androgeniteit gedra. Britse imperiale filosofie het geen geheim gemaak van die meerderwaardige manlike chauviniste wie se wil die norm was nie. Die is ’n element van Darwinistiese herinterpretasie, die verheerliking van die oorlewing van die sterkere. Hoër vorme van lewe moet meer beskerm word as laer vorme van lewe.
“Die Anglo-Saksiese Britse ‘civilisation’ word as verhewe bo die ‘agterlike en selfs dierlike Boere en hul vroue’ gestel. Dit is ’n Platonistiese motief dat vroue slegs daar is ter bevrediging van die androgene militêre helde se behoeftes en verwesenliking van verhewe politieke ideale.”