BoekeFotografieReis

Die stories onderkant die vlerke

Terwyl die Jabiru J430-vliegtuig laag oor die landskap swiep, loer Jay Roode se Canon 5D lens eenoog deur die venstertjie langs haar. Sy sit reg agter haar wederhelfte Jan, vanwaar haar opdrag kom om so ’n klein bietjie links te beweeg sodat die perfekte prentjie die raampie kan vul.

“Kyk net links,” maan Jan laggend, want teen die tyd weet hy sy vrou verloor dikwels tred met die werklikheid hier om hulle wanneer sy so prentjies maak deur haar kameralens. Wanneer sy wel om haar kyk, besef sy vir die eerste keer hoe naby hulle werklik aan die berg hier neffens hulle vlieg.

Jan en Jay Roode het onlangs hul baie unieke koffietafelboek Aerial Art (deur HPH Publishing) bekendgestel en hierin word menige storie vertel van die paartjie se unieke reise deur Afrika. Hulle eie verhaal is ’n storie waarvan mens maklik ’n fliek kan maak – die twee avonturiers van Johannesburg wat op ’n dag hul standvastige loopbane net so gelos het om hul droom as ewige reisigers na te jaag. Die plan was om fotosafari’s te onderneem en die idee van ’n koffietafelboek het later eers ontstaan.

So ’n bietjie meer as tien jaar gelede nog was Jan ’n suksesvolle eiendomsontwikkelaar, maar Jan en Jay het hul belang in die JSE-genoteerde behuisingsgroep Calgro M# verkoop. Jan het vlieglesse begin neem en so 60 vliegure later is die twee fort op hul eerste avontuur in Afrika.

Saam het hulle al deur 70 verskillende lande gereis en reeds 200 000 seemyle gevlieg om van Afrika se mooiste natuurtonele met ’n kamera vas te vang.

“Lugfotografie daag die manier uit hoe ons na ons planeet kyk. Dit gee jou die geleentheid om die skoonheid van die natuur op ’n totaal ander manier raak te sien,” sê Jay. “Mens kry ’n totaal ander perspektief wanneer jy die hele ekosisteem as ’n geheelbeeld kan sien.”

Die boek Aerial Art gee vir ons wat hier op land vertoef ’n kykie na hoe anders en misterieus ons wêreld vanuit die lug lyk. Dit is ’n versameling van meer as 60 dubbelblad-lugfoto’s ryk aan kleur en tekstuur wat Jay geneem het tydens hul vlugte oor Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Mosambiek en Suid-Angola se skouspelagtigste natuurgebiede.

Op een foto staan ’n seekoei-familie onder in die water van die Okavango-delta in Botswana en daar is heelparty flaminke en pelikane in Walvisbaai. As jy vinnig kyk, lyk die verweerde wrak van die Eduard Bohlen aan die Namibiese kus met die son wat so val asof die skip se skadubeeld weer heel lyk. ’n Troppie olifante loop in gelid in Damaraland.

“Ons het al deur die hele wêreld gereis – en tog bly Afrika ons gunstelingkontinent. Ons eie land het soveel skoonheid en diversiteit om te bied en veral in hierdie tyd is dit die gulde geleentheid om weer ons land te ontdek en te waardeer,” sê Jan.

“Moenie vir een oomblik dink dis net altyd maanskyn en rose daar bo nie,” skerm Jay. Tydens die eerste vlug het die vliegtuig se enjin bo die Johannesburgse middestad gevrek. Die tweede vlug het geëindig met ’n harde landing op die lughawe buite Parys en Jan het die skroef van die vliegtuig afgeskryf. Die derde het hulle met ’n gebarste band in ’n mielieland geëindig.

“In die Okavango-delta moes ons vinnig opstyg toe ’n seekoei ons gejaag het en ’n ander keer was ons vir vier uur in die vliegtuig vasgekeer toe ’n trop wildehonde ons omring het,” onthou Jan.

Soms het hulle op verlate vliegvelde, soutpanne en grondpaaie geland, waar hulle moes wag dat iemand verbykom en ’n geleentheid na die naaste gehuggie gee om hul voorrade aan te vul. In donkiekarre en skedonke.

Op die klein eilandjie Matemo in die Quirimbas-argipel in die see langs Noord-Mosambiek was hulle in ’n ernstige ongeluk en moes hulle ’n noodlanding maak weens ’n brandstoflekkasie.

“Die vliegtuig se vlerk het ’n bos geraak en ons het van die aanloopbaan af die enigste boom daar naby getref. Die regtervlerk was morsaf en alles was vol brandstof,” sê Jan.

’n Vriend en medevlieënier het kom help en plaaslike vissermanne is ingespan om dit wat oor was van die vlerke te verwyder. Hulle het die wrak strand toe gedra, waar dit op ’n houtboot (dau) gelaai is en na Pemba toe vervoer is. Van daar af is dit 4 000 km per vragmotor na George waar hulle dit ’n jaar later teruggekry het.

“Tog bly Jan die heel beste vlieënier wat ek ken en daar is niemand wat ek meer in ’n krisissituasie sal vertrou nie. Hy bly kalm en vreesloos en weet presies hoe om ons uit die moeilikheid te kry,” sê Jay.

Hulle het 26 jaar gelede ontmoet toe Jay ekstra Afrikaanse klasse by Jan se ma gekry het en het 12 jaar gelede die knoop deurgehaak. Sedert 2016 vlieg hulle kruis en dwars oor Afrika onder die vaandel van hul besigheid Skyhawk Photography. Hulle het nie kinders nie, maar vyf honde en ’n kat.

Tydens die bekendstelling van Aerial Art by die vyfster private wildreservaat Kapama in Hoedspruit, neem Jan ons een oggend vroeg op ’n vlug oor die reservaat en onmiddellik verstaan ’n mens waarom hulle verlief geraak het op hierdie vorm van reis en kuns.

Hy wys ons ’n troppie renosters daar onder en omdat die vliegtuig se enjin sag loop, wei hulle ongestoord voort. Doer in die hartjie van die veld troon ’n jakarandaboom tussen die res van die grasgroen landskap uit. Dis werklik asof ’n mens afstand kry van al die probleme daaronder wanneer jy daar bo vlieg.

“Ja, dit was ’n groot finansiële stap om die besigheid te verkoop en ons geld in ons droom te belê en baie van my vriende het reguit vir ons gesê ons is dom. Maar dit was die slimste ding wat ek en Jay ooit vir onsself kon doen. Soms moet mens net iets doen sonder om te hard daaroor te dink en te tob wat jou kompas in ’n totaal ander rigting in sal laat wys. Ons is eintlik nou baie ryker as wat ons ooit in ons lewe was,” sê Jan.

Aerial Art word uitgegee deur HPH Publishing en kos R995. Koop jou eksemplaar by www.hphpublishing.co.za

Deur Teresa Coetzee

About author

Articles

Short bio on DEKAT here...
Related posts
BoekeSkrywers

Inspiration for life and business

A new book entitled Sheep Will Never Rule the World, which launched this year, will teach you how to…
Read more
Bon VivantFood & travelReisSport

THE VALUE OF SPORT SUPPORTING SAILING EXCELLENCE – PAST, PRESENT AND FUTURE

SUPPORTING SAILING EXCELLENCE – PAST, PRESENT AND FUTURE The continuing viability of any sport…
Read more
Reis

THE PERFECT GETAWAY

Tsala Treetop Lodge & Villas Amidst the treetops of an age-old indigenous forest, Tsala…
Read more
Newsletter
Become a Trendsetter

Sign up for DEKAT's newsletter and get the best of DEKAT, tailored for you.