DIE KOK IN DIE HUIS OP DIE DUIN
ELIZE PARKER het met Isabella Niehaus, eienaar van Duinhuis, gaan gesels nadat sy die gesogte Gourmand-prys gewen het.
DIE KOK IN DIE HUIS OP DIE DUIN
Photography
ELIZE PARKER het met Isabella Niehaus, eienaar van Duinhuis, gaan gesels nadat sy die gesogte Gourmand-prys gewen het.
Die ervarings van haar kleintyd vind tot vandag neerslag in wat sy oor kookkuns glo: “Ek kook om respek te toon aan my gaste én die bestanddele. Ek werk met sagte hande daarmee want kos bring lewe.”
Dis veral wanneer sy met deeg werk, dat sy haar smal hande doelbewus laat ontspan as die groot karamelkleurige keramiekbak op die twee-meter-lange rooigeverfde eilandtafel uitgepak word.
“Deegmaak leer my lesse. Moenie deeg maak as jy kwaad is nie. Jy moet daarmee omgaan soos met ’n klein baba. Met deernis. Nie met ’n harde aanslag nie.”
Haar dag langs die water van die Weskus met sy onbeperkte horisonne vol vragskepe op pad na Saldanha se hawe en vlieërbranderplankryers, begin met ’n ritueel. ‘n Draai op die duinhuis se stoep om die vertes in te tuur met ‘n koppie swart koffie in die hand, terwyl sy spyskaarte met haar geliefde oesters en mossels begin bedink. Sy word nie verniet die koningin van oesters genoem nie!
Daarna begin sy speserye roerbraai. In hierdie kokshuis vol wollerige diere (vier honde en drie katte), skilderye en boeke, sal jy nie gekoopte masala vind nie. Sy werkskaf vir ’n eie produk in die kombuis met komyn en koljander, mosterd en vinkelsade, witkorrelpeper, naeltjie en ’n lourierblaar, terwyl lig deur ’n Oostelike venster kantel. So ontwaak die sinne. Want duinhuiskos is aards en sonder pretensie.
“Dit werk ook vir die blues. As jy eers daai pannetjie op die vlam het en die geure neem oor, dan vergeet jy van alles, veral jou trane. Dan begin jou verbeelding oortyd werk.”
Sulke tye hou vir Niehaus matelose skeppende moontlikhede in. Dit gebeur nie net by die kookpotte nie. Onlangs op die pad van Kalkbaai na haar duinhuis op Langebaan, het sy tydens die reis na ’n gesprek in die bekende Olympia-bakkery besluit om ’n nuwe eie modereeks te begin. Die naam weerspieël eenvoud: LAP. Hier het die oud-moderedakteur van verskeie vrouetydskrifte se reis as ’n mode-entrepreneur begin. Binne twee uur op die Kaapse pad was die ontwerpers en bydraers reeds geskakel, soos haar goeie vriend die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren. LAP het op vier wiele beslag gekry. Nou dra talle vroue al landwyd haar ankerhandelsmerkrok, ’n elegante skepping wat enige kurwe vlei. Die aanpasbaar-na-smaak skepping kan met bykomstighede soos ’n kolleserp uit haar LAP-etiketwinkel gekomplementeer word.
Min mense ken die kuns soos Niehaus om jouself ’n nuwe lewens- en professionele rigting te gee. Om jouself te herverbeel en te herskep. Van joernalis tot mode-redakteur en stilis, en nou ook met internasionale toekennings agter haar naam as kok, skrywer sowel as entrepreneur.
Miskien is deel van haar sukses die feit dat sy glo als wat sy doen moet ’n tikkie andersheid bevat. Sy glo veral as jy kos kook vir dié wat dalk vir ’n derde of vierde keer aan jou tafel sit, moet die ervaring anders wees. “Ek gee nie om oor herhaling nie, solank dit opwinding inhou.”
Haar huis met sy strandtuin vol oesterskulpe en fynbos is ’n seën vir Niehaus. Die seeligging is perfek vir die volle ervaring wat sy aan gaste wil bied. Hier vind jy nie “Weskuskos” nie (en AS daar snoek en soetpatat op die spyskaart is, sal dit heeltemal ‘n nuwe baadjie hê).
Dié vrou pas in elk geval nie in ‘n breë kategorie nie. Sy is uniek en haar kreatiewe geskenke aan die wêreld het ’n besondere stempel van eie afgerondheid.
“Ek maak aardse kos met ’n nugterheid en eerlikheid. Geregte wat mense kan saambind en verbintennise kan versterk. Met elke Langtafel-ete doen ek iets op ’n manier anders.”
Aan die basis van hierdie denkwyse oor kos is die leuse dat ’n liefde vir die lewe lei na ’n liefde vir lekker kook en andersom.Dit is ’n pluimpie vir Niehaus dat sy inderwaarheid met die toekenning ook as ’n skrywer gereken en erken word. Sy was nog altyd gans te nederig om te dink sy kan werklik skryf. Haar vrolike blogs vir Sarie is egter ver en wyd gelees en sy het ’n sosiale media-gevolg wat veral haar reisbydraes getrou navolg en daarop reageer. Uit-die-hart-stories met ’n insig op wat mens se siel voed.
“Ek het nie groot talente nie, maar ‘n hele paar kleintjies. Miskien is dit juis die pakket wat ander gelukkig maak.”
Vir haar is alledaagse besieling die ding wat haar vindingrykheid voed. Omdat sy so ver van die besige stadslewe in Kaapstad woon, is Niehaus dikwels op die pad om bestanddele te koop. Sy kyk dan spesifiek uit vir simbole as sielskos. “Die pad bring ’n outomatiese meditasie vir my mee. Ietsie soos ’n beswyming. Dan sien ek bewustelik raak wat my besiel en oplig. Ek het veral ’n opmerksaamheid wanneer dit by valke kom. Veral as hulle langs die motor vlieg.” Juis hiermee in gedagte lees sy dikwels H is for Hawks, Helen Macdonald se memoires wat ’n blik op genesing van die psige gee deur oplettend te leef. Sy sien ’n alleenboom op ’n horison maklik raak, ook ’n kameelperd wat dikwels by ’n reservaat op die Weskuspad te sien is.
“Daar is energie in simbole waarby jy aanklank vind.”
Hierdie skeppende krag bring sy na haar duinhuiskombuis. Haar cuisine het ’n definitiewe identiteit van heilsame geurigheid gemeng met vars seisoenale bestanddele. Sy steur haar ligweg aan waarheen die wêreld se kosneigings, restaurantgangers, lekkerbekke en fynproewers op pad is, en sy vind aanklank by David Lebovitz se skryfwerk. Hy het onlangs geskryf hoe die kosbedryf terugbeweeg na ware kos wat opreg voorgesit word. So het hy opgemerk dat bistro’s in Frankryk nou weer steak en chips met ’n wonderlike dijon-mosterd sal bedien ná eksotiese kos vir jare op bistrospyskaarte gepryk het.
Niehaus sê sy wil voortbou op die eiesoortige identiteit van haar kookkuns, en om haar huisrestaurantgangers nog meer tuis te laat voel in die huis op die duine waar die lig vloei, so sag soos die vonkelwyn wat sy so graag by oesters skink. En soos Cointreau in sy kommentaar oor Duinhuis bevestig het: Om ook terselfdertyd met ruimhartige gasvryheid die lewe te vier deur die siel te voed.
Vêr op die Weskus, kook Bella haar geliefde dis uit Parys. ‘n Entrecote met ‘n ongelooflike bernaise sous.