Die Kat, ons kat, DEKAT
Photography
De Kat se blad of se balkon, waar lê die waarheid? DAN SLEIGH gaan krap die waarheid oop.
’n Onaangename mengsel van onkunde, leuen en vooroordeel, amper so onverwoesbaar soos die kat in die liedjie, is ’n verskynsel hierlangs bekend as die Kaapse mite. Neem byvoorbeeld die naam “suidooster” vir ’n seisoenale wind wat uit die suidweste en suide oor die Kaapse Skiereiland waai, en net in die Tafelvallei uit die suidooste kom. Of die sogenaamde “Van Riebeeck-heining”, die liefling van politici en “the original racial divider of the 1650s” (sic) van ’n onkundige en miskien misleide onderwyser.[1] Hoe oorreed jy hulle dat so ’n heining nooit bestaan het nie? Daar is nog meer sulke versinsels, soos die “Ou Kaapse Weg” wat ook nie bestaan het nie, dat slawe name gegee is soos Maart, April of Mei volgens die maand van hul aankoms.[2] Die “Donker Gat” in die Kasteel, en die unieke pui wat daagliks “die katbalkon” en selfs “die kat” genoem word.
Bogenoemde voorbeelde weerspieël waarskynlik die kwaliteit van ons onderwys, van universiteitsvlak af tot laerskool. Jy kan hulle die reine waarheid vertel, maar dit help nie. Ek het in 2002 ’n artikel oor dieselfde pui in ’n Kaapse weekblad geskryf en dit het geen verskil gemaak nie.[3]
Die kat kom maar net weer.
En hulle het die ding steeds aan die stert beet. Die pui is nie en was nooit ’n “kat” nie. Dit is ook geen balkon nie; ’n balkon is ’n uitgeboude platform met balustrade op pilare al dan nie, op ’n hoogte teen ’n verdiepinghuis. In die Kaapse VOC-terminologie was die “kat” ’n regeringsetel. Selfs die raadskamer van die drostdy op Stellenbosch waar die landdros en heemrade vergader het, is “de kat” genoem. In die geval van die Kasteel word drie verskillende strukture met mekaar verwar.
Die pui is ’n sierlike, oordekte stoep in Kasteel de Goede Hoop se voorhof. Alles daaraan is perfek simmetries. Agter die pui is twee groot houtdeure met ysterbeslag en koper kloppers; dit is die ingang tot die raadsaal of “kat”. Van die grond tot die kroonlys is die pui ongeveer ses meters hoog, die stoep is meer as ’n meter hoog en die hele struktuur is ongeveer 12 meters breed. Die indruk van hoogte word deur ses groot pleisterkruike op die kroonlys versterk. ’n Stel van sewe trappe, van yster handrelings voorsien, gaan aan albei kante op.
Die trappe en die pui se vloer is met blou Robbeneiland-lei bedek. Die dak is van leisteen op swaar kiaatbalke; die dak se voorste deel rus op vier Ioniese suile van kiaathout, ongeveer vier meters hoog, en die agterste deel op twee halfsuile van sement en pleister. Voor, in die middel van die kroonlys is ’n skild met die State-Generaal van Nederland se leeu met pyle, omring deur ’n gordel met die leuse Concordia res parvae crescunt (samewerking laat klein sake groei). Dit is gepas, want in die raadsaal agter die pui is die VOC se oktrooi, waarmee die State-Generaal in 1602 die eerste keer en daarna herhaaldelik, staatsregtelike magte aan die VOC toegeken het, in die praktyk toegepas. Die skild word aan albei kante gestut deur ’n putto en enkele militêre simbole.
In watter jaar die pui gebou is, is onbekend. Wanneer daar soms sonder goedkeuring van die VOC se Direkteure gebou is, vind jy geen verwysing na die werk in die Kompanjie se dokumente nie. Voorbeelde hiervan is verbouings aan die poshuise by die buiteposte Klapmuts en ’t Nieuwland.[4] Die pui se ontwerp word toegeskryf aan L.M. Thibault, die bouwerk aan Hermann Schutte en die beeldhouwerk aan Anton Anreith; die waarskynlike tydperk van oorsprong is dus die laaste dekade en ’n half (1780-1795) van die Kompanjie se bestuur, wat inderdaad ’n tyd van intensiewe besparing, die sluiting van buiteposte en dienste en die afdank van honderde personeellede was. Die geheel is ’n meesterlike vermenging van die drie kunstenaars se talente, dit is hoogs aanskoulik en vergroot die Kasteel se waarde as argitektoniese erfenis. As ’n toeristiese juweel is dit ’n seëning vir Kaapstad. Onder die VOC se oorblywende argitektuur wat wêreldwyd as internasionale erfgoed beskou, bewaar en bestuur word, is die pui se elegansie en statigheid ongeëwenaar.
In Afrikaans leef die woord pui in “puin”en “puinhoop”, met die betekenis van bourommel. Koenen en Endepols se verklarende Nederlandse woordeboek van 1960 beskryf “puije” korrek as “voorkant of bordes van een stadhuis waar bekendmakingen worden afgelezen”.[5] Die naam het met die pioniers / koloniste hier gekom en was vroeg in gebruik, lank voor die huidige Kasteel gebou is. In Fort de Goede Hoop (1652) se agterste muur was die vesting van klip met sy woning en vergadersaal, bekend as “de kat”. Kommandeur Wagenaer het byvoorbeeld in 1663 sy toggangers “op de kat off zael” van die Fort toegespreek, in 1672 word goewerneur Goske se woning binne die Fort “d’ Cat” genoem, en in 1685, nadat die Fort gesloop is en die klipvesting alleen bly staan het, is daarna verwys as “ ’s Compagnies woningh van het oude fort, De Kat genaemt”.[6]
Bogenoemde klipvesting se stoep word deurlopend “de puije” genoem. Aankondigings, kennisgewings en vonnisse is van daar af voorgelees aan die publiek wat op die plein voor die pui vergader het. Vryburgers is in September 1660 deur Van Riebeeck van “de puije” af gemaan om die hand aan die ploeg te slaan en op 6 Mei 1662 is Wagenaer “van de puije” in die openbaar as Van Riebeeck se opvolger voorgestel.[7] Europese oorloë het genoodsaak dat die Kaap se verdediging versterk word. Bouwerk aan die nuwe en veel groter Kasteel met sy vyf bastionne het in September 1665 begin; die hoekstene is op 2 Januarie 1666 gelê en die groot trek uit die Fort na voltooide ruimtes binne die nuwe Kasteel het eindelik in Augustus 1674 begin, terwyl die kommandeur nog in die ou vesting bly woon het. Op 21 Augustus 1674 is begin om ’n kommandeurshuis binne die Kasteel te bou; die woning sou weer ’n raadsaal, wat ook as kerk gebruik kon word, bevat. Dit het met sy rug teen die muur tussen bastionne Leerdam en Oranje gestaan en oor die oop plein na die poort en die see gefront.
Hoë kommissaris Van Reede se besoek in 1685 het tot belangrike nuwe bouwerk binne die Kasteel gelei. Hy wou ’n hoë en breë muur hê, van die bastion Catzenellenbogen af tot teen die bestaande kommandeurshuis uit 1674, om die binneplein in ’n voorhof en agterhof te verdeel. Aan weerskante van die muur kon wonings, kantore en pakhuise gebou word. In sy instruksie aan kommandeur Van der Stel verwys Van Reede na dié muur as die “afsnijding”.[8] Bouers was op 22 Januarie 1695 besig om aan die noordekant teen die dwarsmuur “de nieuwe kat” met boverdieping, wat uit ’n goewerneurshuis, raadsaal en kantoor bestaan te bou; daarmee het die term “kat” van die vorige administratiewe blok op die nuwe oorgegaan. Die gewese kommandeurshuis tussen die bastionne Oranje en Leerdam was nou “de oude kat”, soos op E.V. Stade se plan van die Kasteel uit 1710 geskryf staan.[9]
Dié naam het tot aan die einde van die Kompanjietyd in gebruik gebly; in 1744 is burgers nog aangemaan om vir belastingdoeleindes hul besittings “op de oude kat” aan die fiskaal te verklaar en op ’n wintersdag in Augustus 1791 is die kontrak vir die lewering van brandhout op die “Oude Kat” opgeveil.[10]
Ds. F. Valentyn sê in sy beskrywing (1714) van die Kasteel: “Nader hand is de Kat, daar nu de wooning van de Gouverneur is, door den oude heer Van der Stel bebouwt …” Hy vertel ook dat die Kaapse predikante Sondae “op de voorzaal van de Heer Gouverneurs huis, anders de Kat genaamd” preek; hy het self verskeie kere in dié nuwe raadsaal gepreek: “prediken op het voor-zaal, of de Kat, zoo sy ’t noemden”.[11]
Die naam puije vir die stoep voor die nuwe goewerneurshuis is gelyktydig van die oue na die nuwe oorgedra, en het ook so gebly tot die einde van die Kompanjietyd. In 1777 is die soveelste verlenging van die VOC se oktrooi byvoorbeeld in die openbaar “van de puije” af gelees. Kommissarisse Nederburgh en Frijkenius het op 3 Julie 1792 uit die raadsaal, waar hulle met die Politieke Raad vergader het, “op de puije” uitgestap om aan die publiek voorgestel te word. Toe hulle meer as ’n jaar later vertrek, moes die publiek en soldate weer “op het voorste pleijn, voor de puije” aantree, waarna die kommissarisse en raadslede “op de puije” sou verskyn om formeel afskeid te neem. Hulle het kommissaris J.A. Sluysken daar as die nuwe gesaghebber aan die Kapenaars voorgestel, en daarna vertrek in ’n koets getrek deur agt perde, wat “voor de puije” gereed gestaan het.[12]
Daar was dus drie afsonderlike strukture in Kasteel de Goede Hoop, naamlik die dwarsmuur of afsnijdingh, die regeringsetel of kat en die stoep of puije. Bogenoemde drie strukture is aan mekaar gebou, maar is maklik om individueel te identifiseer. Hul funksies en benamings het vergete geraak gedurende die lang tydperk van Engelse regering en is daarna as gevolg van swak navorsing verwar.
Amateurhistorici en swak onderwys is verantwoordelik vir die verwarring. Die staatsargivaris C. Graham Botha skryf in 1926 in sy Collected Works, insake die dwarsmuur “… known as the ‘kat’ or curtain, a military term applied in later years to the balcony facing the entrance”[13] en ongeveer 1930 skryf P.W. Laidler in sy populêre A Tavern of the Ocean van “… the Kat, the wall that divides the Castle court into two portions”.[14] Twee tekeninge van die pui uit die eerste helfte van die 20ste eeu is albei “the Kat Balcon”, getitel; die een is uit J.R. Finch se amptelike handboek van die Kaapse
[1] The Pinelander. (Jaarboek van Pinelands High School, 2014, p. 23.
[2] A. Mountain: An Unsung Heritage. Claremont, 2004. p.45.
[3] D. Sleigh: “De Kat kom weer: VOC-terminologie”. In M. van Bart (red.): KultuurKroniek, 20.7.2002, p. iv.
[4] D. Sleigh : Die Buiteposte. Pretoria, 1993, pp. 209, 250-251.
[5] M. J. Koenen en J. Endepols: Verklarend Handwoordenboek der Nederlandse Taal. Groningen, 1960. p. 882.
[6] A.J. Böeseken (red.): Dagregister en briewe van Zacharias Wagenaer, p.99; Pretoria, 1973; A. Hulshof (red.): H.A. van Reede tot Drakesteijn, Journaal van zijn verblijf aan de Kaap, p.191. Utrecht, 1941.
[7] D.B. Bosman en H.B.Thom (reds.): Daghregister gehouden by…J.A.van Riebeeck, deel III, p.270. Kaapstad, 1957; A.J. Böeseken (red.): Dagregister en briewe van Zacharias Wagenaer, p.1. Pretoria, 1973.
[8] 8. A. Hulshof (red.): H.A. van Reede tot Drakesteijn, Journaal van zijn verblijf aan de Kaap, p.190. Utrecht, 1941.
[9] E.V. Stade: “’t Casteel aan Caap de Goede Hoop”. 19.3.1710. (M1 /1103, Wes-Kaapse Argiefbewaarplek.)
[10] S.D. Naudé: Kaapse Plakkaatboek, deel IV. Kaapstad, 1949. p.52.
[11] F. Valentijn: Beschryvinge van de Kaap der Goede Hoope met de zaaken daar toe behoorende, p.84. VRV 2 deel 1. Kaapstad, 1971; F. Valentyn: Oud en Nieuw Oost Indien, deel V (b), p. 157. Amsterdam, 1726.
[12] C 217 “Resolusies van die Politieke Raad”, 21.8.1793, pp.274-275. Wes-Kaapse Argief.
[13] C.G. Botha (red): Collected Works, vol 1, p.62. Cape Town, 1926.
[14] P.W. Laidler: A Tavern of the Ocean, p.52. Cape Town, n.d.