die dooie see (hulle sê dis die laagste plek op aarde) – francis grobler

om te dink ek’t bykans driehonderd dae

in die maag van ‘n vis gebly

 

en jis – jy’t die skelette van ou gebede op die

bodem van die dooie see gaan haal en my

uitgebrande sonne uit die kroppe van die

kraaie gesny sodat ek vleis kon terugpleit

om die bene

 

hel, tot jou hare was nat en jou hande was

so verskriklik vredig al was die water koud

 

en iewers by babilon se riviere

het jy vir my wyn gebring en

sprokies opgemaak toe ek oor

my sions ween

 

maar ek’t nooit geweet hoe diep

‘n droom kan sak as die reën jou verlaat óf

hoe heilig ‘n braambos kan uitbrand óf

hoe bittersoet heuning uit die karkas

van ‘n leeu kan smaak

 

ek’t ook nie geweet dat reën kan smag na water

en dat die teenkrag van ‘n hart so genadeloos

teen die halfsirkels van ‘n ribbekas sou beur omdat ek

nie weet wat om met die brandplek op my mond te maak

waar jy laas die uithoeke van my verse verken het nie

 

maar ink snak gestorwe goed seker net

só lank tot lewe want ek sien my spore sit

nie meer teen die kuslyn in jou kyk nie

 

dis seker maar hoe die see werk en geen

lyk kan tog ‘n laksman verklik nie

 

maar die vlerke sal draai

om die keel van ‘n kraai

om die krop van ‘n witborskraai

my lam

 

francisgrobler2018©

 

 

By |2018-12-18T13:56:21+02:00December 18th, 2018|Boeke, Kultuur, Skrywers, Taal|