Profiel

Die derde lewe van Lafras Verwey

Vier dekades nadat radioluisteraars die eerste keer Die rebellie van Lafras Verwey in hul voorhuise beleef het, kry ‘n nuwe geslag die kans om dié veelbekroonde drama deur Chris Barnard te beleef. Hierdie keer op die silwerdoek, en met Chris se seun Simon as regisseur en sy bekroonde rolprentmaker-weduwee Katinka Heyns as medevervaardiger. Katinka Heyns het eksklusief met ons gesels.

Net meer as ‘n jaar sedert sy en Simon saam langs Chris se sterfbed gestaan het, vier hulle nou sy lewe met ‘n rolprentweergawe van sy bekroonde drama, Die rebellie van Lafras Verwey.

“Ons wou dit jare terug al doen,” vertel Katinka uit Onrus. En, lag sy, Chris sou jou vertel het dat Lafras Verwey omtrent al was waaroor sy met hom wou praat tydens hul eerste koffie-afspraak. “Ek het honderde vrae gehad oor die stuk. Hy het altyd gespot ek het hulle sommer almal self geantwoord. Jy weet mos hoe lank het Chris gevat voordat hy antwoord – ek het toe nog nie geweet ‘n mens moet Chris eers kans gee om te dink nie.”

Gedurende die 37 jaar dat sy en Chris getroud was, het hulle dikwels gespeel met die idee om Lafras silwerdoek toe te neem, maar daar was altyd een of ander projek wat hulle te besig gehou het.

Toe kom Katinka ‘n paar jaar gelede weer eendag af op die teks terwyl sy regmaak vir ‘n naweekkuier van Simon. “Toe sit ek dit op ‘n strategiese plek in die huis neer om te kyk wat gebeur. Ek het dit baie onderspeel. Mens moet nooit voorsê vir jou kinders nie – maar dis ook nou nie asof my kinders ooit vir my luister nie,” skerts sy.

Simon, destyds nog ‘n grafiese kunsstudent, het begin lees en was heeltemal gefassineerd deur Lafras. “Dit was vir my en Chris baie lekker dat die karakter steeds vir hom werk, al is dit in 1970 reeds geskryf.”

Chris het die idee vir Lafras jare gelede gekry toe hy iewers in Engeland by ‘n eetplek gesit het. “Toe kom daar so ‘n vaal mannetjie op ‘n fiets aangery om ‘n toebroodjie te kom koop. Chris het hom beskryf as ‘n halsstarrige man, maar ook ‘n lafaard. Hy het gevoel daar is iets van daardie man in elkeen van ons, en die drama daarom aanvanklik ‘n Man soos ek genoem.”

‘n Jaar of wat nadat hy die eerste keer die teks gelees het, het Simon ernstig daaraan begin werk om dit ‘n eietydse teks te maak. Maar sy pa het nie aanvanklik gedink dis ‘n goeie idee nie, en dit het gelei tot baie ure se gesprekke tussen pa en seun. “Albei het gesê hulle het mekaar soveel beter leer ken deur Lafras. Simon was 32 toe hy met die verwerking van Lafras begin het – net so oud soos Chris was toe hy dit destyds geskryf het.”

Een van pa en seun se laaste gesprekke was juis oor die rolprent, wat toe al klaar geskiet was. “Ongelukkig het Simon nooit kans gekry om vir sy pa die finale produk te wys nie. Ek kon darem vir Chris die eerste rowwe snit van die rolprent wys voor sy dood.”

Dit fassineer haar steeds om te dink dat dit juis Lafras was wat pa en seun vir oulaas so heg saamgesnoer het. “Dan dink ek aan Chris wat gesê het almal het iets van Lafras in hom. Wat is dit wat Lafras en Chris en Simon in gemeen het?”

“Hulle is dromers. Verbeeldingryke mense wat graag van die wêreld ‘n beter plek wil maak. Chris se roeping is vervul. Hy het die musiek wat hy gehoor het, in woorde omgeskakel. Simon doen dit met beelde. Lafras het helaas verstrengel geraak. Hy is ingesluk deur sy verbeelding. Ek en Chris het baie gepraat oor die alomteenwoordige tema in ‘n skeppende mens se lewe. Dié van kreatiwiteit én destruktiwiteit.”

Dis ook vir haar kosbaar dat Tobie Cronjé die rol van Lafras in die prent vertolk. Nie net omdat hy as jongman ook ‘n rol in die verhoogproduksie gespeel het nie, maar omdat sy en Tobie al so lank vriende is. “Tobie is ‘n fenomenale, sielvolle mens. Ek ken hom al van voor my kinders, Reghard en Simon, se geboorte. Ons eerste projek saam op die verhoog was Babbelkous en bruidegom en daarna het ons saam in Willem gespeel. Dáár het ons vriendskap begin. Ons is sielsgenote wat saam lag én huil en baie dinge deel.

“Ek het omtrent nie een TV-reeks sonder hom gemaak nie: TJ 7, Die avonture van Joachim Verwey, Onder draai die duiwel rond, Amalia … Dis kosbaar dat Tobie en Simon op hierdie manier saam daaraan kon werk, want Simon het voor hom grootgeword. Albei my seuns is baie lief vir Tobie. Om hierdie fliek saam met hom te kon maak, was ‘n helende ervaring.”

Dit was Simon se idee om die teks aan te pas dat Tobie Lafras kon speel. “Almal wat eers huiwerig was daaroor – insluitende Chris – was almal diep ontroer deur sy spel. As ek ooit weer moet speel, sal dit teenoor Tobie wees. Hy is ‘n meester.”

‘n Nuwe rol

Die veteraanrolprentmaker, wat 20 jaar gelede haar eerste prent vir die silwer-doek vervaardig het, bieg dat sy steeds senuagtig is wanneer ‘n nuwe rolprent bekendgestel word. “Mens bly onseker. Jy weet nooit regtig wat die reaksie gaan wees nie.” Voor sy in 1972 die eerste keer in die regisseurstoel gesit het vir ‘n Rand ‘n droom, ‘n enkeldrama vir die destydse SAUK, was sy ‘n aktrise. “Ek het in 1969 die eerste keer in ‘n Jans Rautenbach-fliek gespeel.” In 1976 het sy haar eerste TV-reeks (Phoenix en Kie.) vir televisie vervaardig.

Katinka het gevoel “die tyd is verby” vir haar om die regisseur te wees vir Lafras. “Ek het deur die jare in ‘n ander rigting gegroei. Dit het ook so lank geneem om geld te vind vir Die wonderwerker dat ek in elk geval bietjie vergeet het van Lafras.” Sy het besluit om medevervaardiger te wees (saam met Genevieve Hofmeyr) en Simon was die eerste keer rolprentregisseur.

“Hy is van kleinsaf baie kreatief, en het mos maar so op rolprentstelle grootgeword,” vertel sy van haar en Chris se enigste kind. (Hulle het albei seuns uit vorige huwelike.) “Hy is baie soos Chris – albei is diep denkers, introverte wat min praat en eerder luister. Simon was nog baie klein toe het Chris al gesê hy is die wysste mens wat hy ken. Hulle het ook dieselfde sin vir humor.”

Nes Chris, is Simon ook een wat eers lank oor iets nadink. “Hy hop nie rond soos ek nie, en terwyl hy nog iets oorweeg en heroorweeg, wil ek al aanbeweeg. En hy is ‘n perfeksionis. Op stel het dit my soms bietjie bekommer, want as mens rolprente maak, is daar min tyd, en tyd is geld.”

Sy vertel dat sy en Simon vooraf met ‘n vriend gaan praat het oor hul onderskeie rolle as vervaardiger en regisseur. “Ek moes weet op watter punt mag ek iets sê, en wanneer om my afstand te hou sodat Simon sy voete kon vind as regisseur. Mens móét kan sê ‘ja, dit werk’ en weet wanneer om aan te beweeg. Dit vra soms moed, maar hou die span ook op hul tone. Almal moet ook weet daar sal nie kompromieë gemaak word nie. Simon moes self ervaar dat ‘n mens in die oomblik moet bly en die momentum behou. Dis ‘n fyn lyn.”

Kon sy hom enige raad gee? “Ek moes hom so bietjie leer om akteurs se energie te spaar. Ek reken dit was my belangrikste rol. As deel van sy rol moes die arme Tobie baie fietsry. Onthou, hy is ook al amper 70. So, mens kan nie daardie tonele oor en oor doen nie.”

Het die regisseur in haar nie soms gebrand om in te meng met tonele nie? “Ja, maar ek het gelukkig gou besef ek moet Simon as regisseur respekteer. Hy het ‘n fantastiese kameraman gehad en hulle en die ontwerper Franz Lewis was vindingryk sonder om in truuks te verval.”

Ma en seun het vooraf besluit om te praat oor goed wanneer hulle nie saamstem nie. “Maar eintlik was ons heeltyd op dieselfde golflengte. Sy benadering was uit die aard van die saak meer manlik as wat myne sou wees, met meer klem op byvoorbeeld oorlogvoeringstegnieke. Dis sy belangstelling, en Chris het gehou van sy moderne aanslag ten opsigte van die voorstelling van die verbeelde soldate. Simon kyk met ‘n grafiese oog en vermy sentimentaliteit. Op ‘n manier is sy benadering meer intellektueel as myne.”

Die verfilming het net meer as vier weke geduur, en min of meer alles is in Pretoria geskiet. “Pretoria as plek lewer ook belangrike onderliggende visuele kommentaar,” vertel Katinka. “Om plekke soos die Uniegebou as agtergrond vir tonele te gebruik, versterk net weer die idee dat Lafras se verhaal ‘n betoog teen die hele bestel is.” Die werklikheid van Suid-Afrika se onstuimige politiek het ‘n onbeplande interessante agtergrond vir Lafras se verhaal geskep. “Ons het in ‘n woonstel regoor die Uniegebou geskiet in ‘n tyd dat daar by die Uniegebou betoog is teen die Zuma-regering.”

Daar was soms tot 50 mense in die woonstel ingedruk tydens verfilming. “Ek het vir byna ‘n week op die toilet gesit met die filmmonitor op ‘n tafeltjie voor my,” lag sy.

Katinka is vol lof vir Simon se eindproduk. “Dis ‘n onpretensieuse, eerlike rolprent. Vir my lê die krag daarin dat Simon nie op die komiese aspekte van Lafras gefokus het nie. Dit het gemaak dat hy by die diepte uitgekom het wat Chris in gedagte gehad het toe hy dit geskryf het, die veelvlakkigheid. As ek en Tobie dit alleen gemaak het, het ons dalk nooit uitgekom by wie Lafras uiteindelik geword het nie. Dis ‘n nisrolprent en mens weet nooit presies waar jou fliek gaan aanklank vind nie – nooit nie. Daar is nog nie so iets gedoen in Afrikaans nie. Dit het eenvoudig ‘n ander toon.”

Hoe maak ‘n mens ‘n stuk wat 45 jaar gelede die eerste keer opgevoer is, eietyds?

“Mens moet onthou die stuk was oorspronklik as hoorspel klankgedrewe. Die genres verskil en het verskuif van klank na beeld, met die oog daarop om beeld en klank te laat saampraat. Die dialoog is plek-plek verander en die karakters is subtiel aangepas. Die visuele inkleding was ook ‘n vermenging van oud en nuut. Die kamera is ingespan om Lafras se verbeeldingswêreld visueel te verwoord sonder om dit heeltemal uit te spel.”

Dis vir haar uiters bevredigend om te sien Lafras het ‘n derde lewe gekry. “Chris het dit vir die radio geskryf. Toe word dit ‘n verhoogstuk, en nou is dit ‘n rolprent. Cobus Visser is ook in die fliek – hy en Tobie het albei in 1971 in die eerste verhoogproduksie van Lafras gespeel.”

Sy is vol lof vir Neels van Jaarsveld, Albert Pretorius en Chantel Phillipus, wat die hoofrol in Abraham gespeel het. “Hulle bring almal ‘n nuwe energie, ‘n vars aanslag.”

‘n Nuwe hoofstuk

Sy kry stadigaan haar asem terug ná Chris se dood. “Dit bly vir my ‘n genade dat Simon baie tyd in Onrus deurbring. Ons kon aanvanklik glad nie oor Chris praat nie. Ons kry dit nou al reg om te lag oor dinge wat hy gesê het en bespiegel wat sy kommentaar híéroor of dáároor sou gewees het. Ek kook weer kos en Simon wys vir my programme waarvan ek nog nooit gehoor het nie, meestal komedies.”

Hulle het in Desember weer Fiela se bos besoek en Paljas se Toorwater en Pappalap se Meiringspoort en Klaarstroom. “Die ys is gebreek. Op 28 Desember was dit ‘n jaar dat ons saam by Chris se sterfbed gestaan het.”

Waarmee is sy nou besig? “Ek maak tuin. Jy weet, mense wil altyd weet waarmee is ek nou besig. Dan sê ek bloot net ‘ek is’. Ek leef in die oomblik en vertrou die Proses. Vir die eerste keer in my hele lewe is ek nie vasgeknoop aan nog ‘n projek nie. Ek is van geaardheid nogal rusteloos en net die see bring kalmte. Ek swem elke dag en stap met my vier honde op Onrus se paadjie. Ek koester my paar besondere vriendinne, doen joga, luister na die gesus en gesuis van die see en werskaf in my tuin. Ek koop nie blomme nie, en daar is altyd iets om te pluk.”

Sy het wel weer lus om te kyk na projekte wat sy vir die destydse SAUK ontwikkel het voor die geldkrane vir Afrikaans toegedraai is. “Ek het ook ‘n passie vir kinders, en wil iets vir kinders maak. Maar ek wou vir eers niks halsoorkop doen nie.” Sy en Simon wil ook weer hul reeks psigiatriese programme, ‘n Lewe met, laat herleef, hierdie keer in Engels. “Dis op my ouderdom baie bevredigend om iets te doen wat mense kan help. Meer as 165 000 mense het destyds na die reeks gekyk, en dit was ook ‘n fenomenale leerskool vir Simon.”

Sal sy ooit weer ‘n rolprent maak? “Daar is een storie van Chris wat smeek om verfilm te word: Boendoe. Maar ek is huiwerig om iets te doen as hy nie die draaiboek skryf nie. Ons was ook altyd bereid om op risiko ‘n projek te ontwikkel. Draaiboekskrywers is so skaars soos hoendertande en dit kos geld. Die eier is nog nie gereed om uit te broei nie. Hier kom meld ‘n storie homself feitlik daagliks aan. Party is soos episodes uit sepies – ‘n mens se mond hang oop.”

Katinka, wat vanjaar 70 word, klink gelukkig. Vervuld ná ‘n vol, kreatiewe lewe. Dis lekker om vir ‘n slag anker te gooi ná die baie jare waarin sy en Chris tussen hul onderskeie hartsplekke oor en weer gekuier het. Katinka het Onrus en die klanke van die see nodig gehad, en Chris het sy geboorteplasie naby Nelspruit verkies. “Hy is ‘n hermiet, ‘n kluisenaarskrap wat die stilte van die plaas nodig het. Die gedruis van die see werk nie vir hom nie, en dit voed weer my siel,” het sy in 2012 in ‘n ander onderhoud vir my verduidelik.

Nou, 32 jaar nadat Chris hul Onrushuis Hier en Daar gedoop het, is dit vir die eerste keer net hiér.

‘n Onverwagse rebel

Lafras Verwey, ‘n dromer en skynbaar ‘n opperste sukkelaar, is al byna 30 jaar lank ‘n klerk in die staatsdiens. Hy is ‘n aardsverlore mens, gedurig in die moeilikheid by sy baas, en die konstante teiken van sy kollegas se genadelose gespot. Lafras, ‘n klassieke buitestaanderfiguur, kon nog nooit daarin slaag om die werklikheid óm hom te aanvaar nie. Hy sit vasgeroes in ‘n onbenullige wêreldjie, maar droom drome van ‘n wonderlike toekoms. Terwyl hy fietsry werk toe, komponeer hy ‘n simfonie in sy kop.

‘n Geheime organisasie werf Lafras om vir hulle te werk. Saans lewer hy vir hulle obskure pakkies af. En ook oor hierdie organisasie begin hy drome bou, drome van ‘n revolusie wat sy vaal bestaan sal verander. Soos hy aan Petra, die jong hawelose swanger vrou wat by hom kom woon, verduidelik: “Ons gaan alles afmaai. Al die grootmenere. Al die ekstra spesiale kokkedore wat die wette gemaak het; al die ringkoppe wat op ons gewone ouens trap en die wêreld se geld onder hulle vet basse muf broei. Terwyl ons ouens wat die vuil werk doen in losieshuise moet bly. En met trapfietse moet kom waar ons wil wees – ons gaan die wêreld weer maak soos hy was – toe elke ou nog ’n kans gehad het.”

Deur Petra se ongebore baba kry die rebellie vir hom nóg groter betekenis. Maar dán, juis die nag waarop die kind gebore word, word die geheime organisasie as gevolg van Lafras se oorywerigheid deur die polisie ontmasker. Lafras se denkbeeldige rebellie ontaard in ‘n fisieke rebellie …

Die rolprent word beskryf as ‘n tragikomedie oor een mens wat kans sien om die onmoontlike aan te durf om sy droom van ‘n beter wêreld vir almal te verwesenlik.

  • Die rebellie van Lafras Verwey, met Tobie Cronje as Lafras, se première is op 9 Maart by die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees. Ook met Chantell Phillipus, Neels van Jaarsveld, Cobus Visser, Lionel Newton en Albert Pretorius. Ster-Kinekor Entertainment reik dit op 7 April 2017 landwyd uit.

About author

Articles

Short bio on DEKAT here...
Related posts
Profiel

Property doyenne revels in her role as International Brand Ambassador

Backed by a deep understanding of the culture, policies and procedures of the esteemed international…
Read more
BoekeJohan LiebenbergKultuurProfielSkrywers

Kobus Geldenhuys - Derde Akademieprys in vier jaar.

Met ’n waaier sterresproei – DEKAT Desember 2017 ‘n Man wat sy woord kan doen, is…
Read more
BoekeKultuurProfielSkrywers

In die nabyheid van bome word vir 'n ATKV Media Veertjie benoem

DEKAT se boekeredakteur, Gerard Scholtz, is vir ‘n ATKV Media Veertjie in die kategorie Beste…
Read more
Newsletter
Become a Trendsetter

Sign up for DEKAT's newsletter and get the best of DEKAT, tailored for you.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *