Deur die oë van Stella
Photography
Stella Olivier neem waar hoe kuns geskep word. Sy karteer die verloop van die kreatiewe proses van kunstenaars en deur die observasie vas te lê skep sy self kuns. LIELA MAGNUS het met haar gesels.
Wanneer sy praat oor kuns en haar werk as fotograaf, kunstenaar en as die observeerder van kunstenaars, tree sy na die voorgrond en eis die kollig.
Die dualisme, van observeerder van ander en ster van haar eie lewe, gee haar ’n unieke insig.
“Ek stel belang in die versteekte werking wat net onder die drumpel van bewustelikheid aktief is.”
Dis wat sy vasvang wanneer sy die voorreg kry om kunstenaars in hulle ateljees af te neem terwyl hulle werk. ’n Spasie wat kunstenaars gewoonlik sien as heilig.
Olivier se nuuskierigheid oor kunstenaars en hul omgewing het begin lank voordat sy geweet het presies wat sy met haar lewe wil doen.
“ Ek onthou, ’n klomp van ons wat saamdrom, selfs toring oor ’n klein skermpie van Jackson Pollock se ateljee. Dit was ’n grainy swart-en-wit-foto van Pollock wat wieg oor ’n skilderdoek op die vloer. Sy stewels het verfspatsels op gehad. ’n Sigaret het uit die hoek van sy mond gehang. Ons het in gefokus, verby die kunstenaar, en gemik na die boekrak agter hom. Ons was baie meer geïnteresseerd in die emmers vol verf, die verfkwaste en die boeke.”
Olivier se fassinasie met kunstenaars se ateljees het hierna vlam gevat. En sy het besef sy is nie alleen nie.
“Baie tydgenote, aanhangers en medekunstenaars van bekende kunstenaars het ’n nuuskierige oog gehad vir die kunstenaars se spasies wat gewoonlik baie privaat is.”
Sy het die foto’s van kunstenaar se ateljees herken as ’n seldsame blik op hulle binnewêrelde.
“Ek sien ’n ateljee as ’n tipe monastieke spasie, waar deure gesluit kan word en skilder, skryf, refleksie en konseptualisering kan plaasvind op die “monnik” se voorwaardes. Dit is daar waar die buitewêreld die binnewêreld ontmoet. En die binnewêreld ’n saadjie los wat in die buitewêreld ontkiem.”
Olivier se foto’s is oorwegend swart-en-wit omdat sy meen dit die atmosfeer van ’n ateljee of oomblik beter weerspieël.
“Swart-en-wit bring die siel van ’n foto uit. Kleure trek ’n mens se aandag af van wat voor jou afspeel. Ek hou van die tonal values en highlights.”
Sebastião Salgado, Roger Ballen en William Klein is fotograwe wat haar inspireer. Hulle swart-en-wit foto’s vang nie net ’n oomblik in tyd vas nie, maar ook die atmosfeer en emosie.
Olivier volg dié voorbeeld. Haar foto’s wys besonderhede van kunstenaars en hul ateljees wat moontlik misgekyk kan word omdat dit nie altyd op die voorgrond is nie. Sy volg nie vaste reëls nie, volg haar instink en lees ’n situasie wanneer sy foto’s neem. Dit het egter tyd geneem om haarself as ’n fotograaf te sien.
“Dit het ’n ruk geneem voordat ek geglo het ek neem betekenisvolle foto’s. Toe ek net begin foto’s neem het, het verskeie mense vir my gesê ek vang iets anders vas in my foto’s.”
Sy het nie formele fotografie opleiding nie en het haarself die tegniese aspekte van fotografie en kameras geleer.
“Ek sit my oog teen die viewfinder en kyk daardeur na wat voor my gebeur en die konneksie tussen mense en probeer dit vasvang.”
Haar foto’s is die permanente bewyse van oomblikke wat vlugtig kom en gaan.
In 2009 het Olivier die geleentheid gekry om saam met haar man, Louis, na William Kentridge se ateljee genooi te word. Sy het twee dae voor die afspraak haar eerste kamera gekoop, met geld wat sy oor ’n lang tydperk gespaar het van skilderye wat sy verkoop het.
“Ek het gedink dit is die enigste geleentheid wat ek sou kry om William te ontmoet.”
Kentridge het haar toegelaat om foto’s te neem terwyl hulle werk.
“Die foto’s was lomp, geel en blown out. Kort daarna het William my gevra om hom te help met agtergrondsketse vir Refusal of Time. Ek het charcoal sketse gemaak, maar elke oomblik wat ek gehad het foto’s geneem. Die ateljee was ’n maalkolk van kreatiewe mense, redakteurs, kostuumontwerpers, akteurs en Kentridge. Ek het die heeltyd gedink as mense net kan sien wat ek sien. Die hoeveelheid werk wat ’n produksie behels, die besonderhede van die kostuums, die skoonheid en die samewerking. Ek het besef dit moet gedokumenteer word vir die argiewe.”
Die werkverhouding tussen Olivier en Kentridge het gegroei tot so ’n mate dat sy nou gereeld sy ateljee en produksies afneem.
“Die Kentridge-ateljee is een van natuurlike medewerking tussen ’n verskeidenheid mense. Die ateljee verander gereeld en roteer tussen film, beeldhou en ’n plek waar Kentridge alleen skets. William is ’n gefokusde dirigent wat mense aanmoedig. Die energie in die ateljee is baie dinamies.”
Daar is ’n verskeidenheid moontlikhede in Kentridge se ateljee. Daar is sketse en ’n basiese draaiboek. Kentridge het ’n idee waarheen hy die kunswerk wil stuur, maar is oop vir enige gebeurlikheid.
“Jy moet die heeltyd bewus wees om te sien waar iets vandaan kom en waarheen dit gaan om ’n betekenisvolle foto te maak. Jy moet op die uitkyk wees vir iets wat per ongeluk gebeur, op die rand of in die agtergrond van waarop gefokus word.”
Olivier sê Kentridge is ’n vrygewige leermeester met ’n innemende geaardheid en ’n besonderse werketiek.
“Die pas waarteen hy werk, is indrukwekkend. Hy hou veral daarvan om met charcoal te skets omdat mens dit maklik kan afvee, ’n verandering maak of die skets heeltemal kan laat verdwyn. Hy sê hy verkies charcoal
omdat jy so vinnig kan teken soos jy dink. Hy dink nogal vinnig.”
Olivier sê dis vir haar ’n voorreg om Kentridge vir raad te mag vra oor charcoal of prosesse, sy hand is oop.”
Met tyd het sy ander kunstenaars begin afneem, onder andere Dylan Lewis, Wilma Cruise, Diane Victor en Deborah Bell.
“Dylan het my gevra om hom af te neem oor ’n periode van twee jaar vir ’n boek oor sy werk. Sy ateljee is kragtig, vol mag en ’n delikate sensualiteit. Lewis is ’n baie produktiewe beeldhouer wie se beelde gebore word met fokus en volgehoue werketiek.”
’n Interessante insig om te hê van Lewis se proses is dat dit ook buite in die natuur afspeel.
“Lewis se kuns is ‘n wisselwerking tussen die ongetemde natuur en sy ateljee. Deel van sy daaglikse roetine is om tussen sy ateljee en kuslyn te beweeg. Hy is ’n kranige surfer en dit is deel van sy proses en roetine.”
Lewis werk slegs van lewendige modelle. Sy beelde bars ongetem uit die klei, maar wys ook die struweling tussen die mensdom se behoefte om die natuur te tem en die natuur se wil om nie getem te word nie. Asook dieselfde proses in die mens.
Wanneer Lewis werk, is hy ten volle betrokke by die beeld waarmee hy besig is. Die vormbaarheid van die klei gee hom die vryheid om sy emosies dadelik uit te beeld op ’n sigbare manier. Sy ateljee en beelde herinner aan dié van Auguste Rodin.”
Olivier het Lewis in sowel sy huisateljee as in die wildernis afgeneem.
“Wanneer Lewis in die natuur is, is hy ’n force of nature, ongetem. As daar nie mense is wat vir hom kyk, hom prys of kritiseer nie, kom sy egtheid na vore. Dis ’n uitdaging om hom af te neem sonder dat hy voel of hy word geobserveer.”
Lewis se eerlike omgang met sy medium kan gesien word in die ooreenkoms tussen sy beelde se vorm, kleur en tekstuur en dié van sy geliefde kuslyn in die Kaap.
Dit is hierdie ooreenkoms wat Olivier in haar foto’s vasvang.
“Lewis begin sy werksdag soms voor die son opkom, wanneer hy see toe gaan. Dit beteken my werkdag begin dan ook. Dis ’n groot voorreg om hom af te neem in die oggendstrale van die son, wanneer die sagte lig sy wildheid komplementeer en kontrasteer.”
“In teenstelling met Kentridge is Lewis ’n baie private kunstenaar wat selde mense in sy ateljee toelaat – dit maak die geleentheid om hom in sy ateljee af te neem besonders en belangrik, veral omdat hy ’n belangrike rol in Suid-Afrika se kunsgeskiedenis speel.”
In 2015 het Olivier vir Wilma Cruise in haar ateljee in Noordhoek afgeneem.
“Dis opmerklik dat Wilma gewoonlik omring is met diere. Haar beeldhouwerke, honde, kat en perde. Dit maak ook deel uit van haar werklike lewe. Wilma is haar lewe lank betrokke by perde en ry gereeld.”
Olivier sê Cruise vloei tussen die area waar sy teken en haar beeldhou- en keramiekateljee. Die spasie is ontwerp deur Martin Kruger om soos ’n perdestal te voel.
“ ’n Stal gevul met diere en die hitte van ’n droogoond wat alles omring soos ’n groot omhelsing. Mens voel tuis in haar ateljee, dis aards en warm.” sê Olivier.
Die foto’s wat Olivier van Cruise in haar ateljee geneem het, beeld die stille kommunikasie tussen Wilma en haar skeppings uit.
“ ‘n Kunstenaar se werk sê gewoonlik baie oor hulself, en daar is ’n opmerklike verwantskap tussen Wilma en haar uitbeeldings.”
“Cruise se werk ondersoek die interaksie tussen mens en dier en die eksistensiële kondisie van stomheid en die interne konflik in die soeke na die betekenis van die lewe. Dit is hierdie interne gesprek wat ek probeer vaslê op die foto’s.”
Cruise is veral geïnteresseerd in primate en haar beelde van bobbejane is wyd bekend.
Wanneer Olivier ’n kunstenaar se ateljee betree, is sy baie bewus van die voorreg wat sy gegun word.
Sy maak staat op haar intuïsie en begin ’n vertrouensverhouding met die kunstenaar te bou.
“Dit is geweldig belangrik in die proses van dokumentering. Ek is bewus van die weerloosheid wat mense kan voel wanneer hulle afgeneem word. Dit is my verantwoordelikheid as fotograaf om die kunstenaars se waardigheid te beskerm. Ek wil hulle storie vertel, maar met integriteit. Vir my as fotograaf is dit iets heiligs.”
“Cruise is ook welbelese. Sy het ‘n formidabele brein en gawe om te skryf. Sy is besonders uitgeslape op ’n intellektuele vlak en kan haar gedagtes goed artikuleer.”
Toe Deborah Bell haar na haar afgeleë ateljee in Magaliesburg in Noordwes nooi, het haar instinktiewe sin vir komposisie dadelik die klein, fyn kunstenaar in opposisie met haar enorme hond gesit.
“Daar is iets magies in die ateljee. Haar beelde staan soos sentinels en observeer die daaglikse rituele. Die atmosfeer binne die ateljee is vroulik, sag, teenoor die buite area waar die kleibeelde met krag en fisieke inspanning gemaak word.”
Olivier sê dit is indrukwekkend om die kort vroutjie bo-op ’n leer te sien balanseer, hande rooi van die klei en haar hare wit van die stof , terwyl sy met ’n elektriese saag of slypmasjien gestalte aan haar enorme beelde gee.
“Bell maak haar groot beelde self, met min of geen hulp van ’n assistent nie. Mens kan die beelde se teenwoordigheid aanvoel.”
Olivier moes onder die wakende oog van Bell se sentinels die kunstenaar afneem waar sy gestalte gee aan ’n nuwe generasie beelde.
“Wanneer Bell werk, is dit asof die handeling van skep en hoe die beeld uit klei verander, haar ook verander. Dit is die wisselwerking van skep, verander, verander, skep wat ek wou vaslê.”
Bell se kreatiewe proses is om net te begin. Die beeld of skildery onthul homself aan haar soos sy werk. Sy sal ’n gesig oor en oor skep totdat sy tevrede is dat die wese wat in die klei vasgevang is, tot sy reg kom.
“Die spirituele konneksie wat Bell met haar beelde en kunswerke het, is aangrypend om te aanskou. Dit is asof sy haarself oorgee en slegs ’n geleier raak van die wese van die beeld waarmee sy besig is, en om te help dat die wese gebore word.”
Olivier, as fotograaf, is die observeerder van die geboorteproses.
“As fotograaf staan mens meestal buite die gebeure wat voor jou afspeel, maar jy moet die latere kyker van die foto laat deel voel van die gebeure. Bell maak dit maklik omdat sy so emosioneel betrokke is by haar werke. ”
Diane Victor se ateljee is in August House in die hart van Johannesburg is ’n “no frills” werksplek.
“Sketse lê in groepe op die mat. Sy geniet dit om deur die nag te werk en is tevrede met genoeg lig, privaatheid, muur- en vloerspasie.
Daar is slegs een of twee stoele in die ateljee wat Victor gebruik wanneer sy aan haar houtskoolsketse, wat sy teen die mure opsit, werk. Soms lê die kunswerk op die vloer en skuifel sy rondom dit.
“Die paar ure wat ek met haar spandeer het, het my diep geraak. Haar werkproses het ’n aangrypende kwaliteit. Die ateljee is gestroop van enige onnodige administrasie en word uitsluitlik gebruik vir ure se teken.
“Diane kom vir my voor as ’n gefokusde werker. ’n Belangrike aspek van haar proses speel af in ’n printing studio, waar sy etse druk.”
Olivier se ateljee in Rosendal, Oos-Vrystaat, word die Paper Chapel genoem. Dit lyk soos ’n kontemporêre wit kapel, met ’n hoë dak en baie natuurlike lig.
“Ek word soms gevra hoe my werk as fotograaf van kunstenaars my eie kuns beïnvloed. Ek kan nie beslis sê hoe en of dit ’n invloed op my werk het nie. Ek weet ek leer meer van die kunstenaars se metodologie.
Die kunstenaar binne-in my resoneer met die kunstenaar wat ek afneem. Soms.”