dekat-span
Elzilda Becker
REDAKTEUR
Elzilda het die afgelope 34 jaar in die media deurgebring. Van haar begin by Rapport in 1985 verhuis sy na Rooi Rose waar sy die bemarkingsafdeling bestuur het. Na haar 4 jaar by Rooi Rose het sy bemarkingsbestuurder vir RNA-verspreiders geword voordat sy haar eie PR-agentskap begin het. Sy is sedert 1996 by DEKAT betrokke en het die titel in 2002 gekoop en dit na nuwe hoogtes geneem as ‘n TV-program en ‘n luukse handelsmerk.
ALAN SAMUELS
STRATEGIST
Alan is betrokke by die ontwikkeling en bekendstelling van nuwe DEKAT-aanbiedinge wat strook met veranderende markneigings. Hierdie nuwe dienste en aanbiedinge verseker dat ons volgelinge op innoverende en diverse maniere toegang tot al ons kreatiewe DEKAT-inhoud kan kry.
MERWELENE VAN DER MERWE
FOTOGRAAF
Merwelene is ‘n bo-heemse talentvolle, ongewone en eksentrieke fotograaf. Sy woon omring van die natuur en haar tribe in Kya Sands op ‘n plasie.
WILMA DE BRUIN
REDAKTEUR: SAKE
Al donkiejare in die joernalistiek, geniet Wilma dit om oor alles en nog wat te skryf: van maatskappy- en sakeprofiele, gesondheidsorg en media en reklame, tot interessante mense, persoonlike finansies en reis. Sy lewer gereeld bydraes vir koerante, tydskrifte en skakelmaatskappye. Gedurende haar loopbaan was sy ook redakteur van verskeie bedryfspublikasies. Ook op haar voorkeurlys is haar twee kleinkinders, lees, stap, tennis en kuier.
MIMI GREYLING
EIND-REDAKTEUR
Mimi het in biblioteke begin werk onder meer by die Navorsingsinstituut vir Plantkunde, Kampsbaai se biblioteek, die Johannesburgse Kunsmuseum en toe Beeld in 1974 begin het, eers daar in die biblioteek en toe as verslaggewer en subredakteur. Sy is die afgelope sowat 10 jaar verantwoordelik vir DEKAT se taalversorging.
HEINZ BABWA
UITLEG
Heinz is betrokke by die grafiese ontwerp van DEKAT Luuks. Hy is al vir baie jare deel van die DEKAT-span. Hy is ook betrokke as bladontwerper by jag- en motortydskrifte. Sy obsessie met ’n goeie koppie koffie soggens is die inspirasie wat lei tot goeie konsepte vir sy uitsonderlike bladontwerpe.
DANIEL VAN DER MERWE
WEBREDAKTEUR: ARGITEKTUUR & ONTWERP
Daniel is ’n praktiserende argitek sedert 1992 en is die stigterslid van Leaf Architects – ’n praktyk wat spesialiseer in residensiële argitektuur. Aan die Universiteit van Johannesburg was hy betrokke by die Sement- en Betoninstituut en hoof van die argitektoniese betonfokusarea. By PPC was hy deel van die Innovation-span en direkteur van die PPC Imaginarium-platform. Hy het die Architecture ZA-platform in 2010 geïnisieer namens die SA Instituut van Argitekte en het sedertdien as sameroeper van die konferensies opgetree. Daniel was ‘n beoordelaar vir verskeie streekstoekennings vir argitektuur en die Fulton-toekennings vir Uitnemendheid in Beton. Daniel dien tans ‘n tweede termyn as Direksiedirekteur van die Uilhuisstigting.
ISABELLA NIEHAUS
WEBREDAKTEUR: KOS & WYN
Isabella woon in Langebaan in ‘n grys huis van beton. Ná jare in die mode- en skoonheidsbedryf by verskeie tydskrifte het sy 10 jaar gelede begin kook. Gewoonlik op ’n Sondagmiddag met vyfgangetes en plaaslike wyne. Haar kookboek Duinhuis het verlede jaar ’n eerste plek op die Internasionale Gourmand-pryse in Parys ontvang as die beste boek in die kategorie: onthaal. Sy het goeie verhoudings met kosredakteurs, sjefs, bloggers, wynmakers en bemarkers wat by haar blad betrek gaan word.
LIZETTE JONKER
WEBREDAKTEUR: DEKOR & TUIN
Lizette kom uit ’n familie van boere en tuiniers en met haar passie vir tuinmaak het sy begin skryf vir onder meer Tuis/Home, en SA Tuin/SA Garden, waar sy oor tuine, selfdoen en dekor geskryf het. Haar weeklikse praatjie oor dekortendense by Radio Kaapse Kansel is sewe jaar lank uitgesaai.
HANNELIE VAN AS
WEBREDAKTEUR: REIS
Sy bly nuuskierig oor plekke, mense en die lewe. Leer en vat die ervarings huis toe – is haar leuse. “Ons leef net een keer soos nou, en die wêreld is ‘n wonderlike plek vol verrassings en mooigeit,” glo sy. Hannelie deel graag haar reise met DeKatters.
MELANIE TAIT
WEBREDAKTEUR: KUNS
Skrywer, regisseur, vervaardiger, visuele storieverteller en kinderboekskrywer (die Magriet-kinderboekreeks, uitgegee deur LAPA Uitgewers). Melanie is al vanaf 2010 deel van die DEKAT-tydskrif en -televisieprogram om kunsstories te vertel. Sy vervaardig ook dokumentêre video’s vir verskeie Suid-Afrikaanse besighede om hulle kunsversamelings te dokumenteer. Haar blitsrolprent, Ligspoor, het ’n Silwerskermfees-wenhoed op.
GERARD SCHOLTZ
REDAKTEUR: BOEKE
Sover terug as wat hy kan onthou, het hy gelees. “My eerste grootmensboek was Johannes van Wyk deur J.H.H. de Waal. Dan was daar tannie Pretorius van die biblioteek in Nylstroom wat later moedeloos was met my en Sewe dae by die Silbersteins wat sy onder die toonbank deur vir my gegee het en niemand mog geweet het nie. Ek was toe in standerd 8 of so.” Vandag is sy huis oorvol met boeke en is dit vir hom swaar om van ’n boek afskeid te neem. Hy skryf al vir jare artikels vir DEKAT en is ook ’n aanbieder op DEKATv.
ANUTA SCHOLTZ
VERTALER
Anuta kom van die Oos-Kaap waar die mense tweetalig is. Sy vertaal vir DEKAT van en na Afrikaans en Engels. Sy en haar man Gerard woon tussen Rooiels waar sy winter en somer elke dag 700 m in die see swem, Sutherland waar sy ’n groot gastehuis besit en ’n klein kothuis in België waar hulle legendariese skoeters, Silwer en Blou, vir hulle wag om deur die hele Europa rond te rits.
FRANCIS GROBLER
DEKATV-AANBIEDER
Francis is ’n digter en skrywer asook ’n liriekskywer vir verskeie musikante. Sy het verskeie digbundels gepubliseer asook woordkuns-en-musiekvideo’s. Sy skryf lirieke vir bekende name in die musiekbedryf en is ook betrokke by die vervaardiging van musiekvideo’s. Francis is tans ’n teksskrywer en aanbieder vir DEKATv. Verder bestuur sy ’n wild-en-safari lodge met internasionale gaste en beklee ’n bestuurrol in ’n kommersiële saai- vee- en wildboerdery.
PIET MATIPA
DEKATV-AANBIEDER
Piet is ’n veelbekroonde joernalis en skrywer wat al op verskeie terreine sy stempel afgedruk het. Hy is ook ’n grapjas en was ’n gereelde gas op kykNET se komedieprogram Parlement Parlement. In 2018 het hy hom by DEKATv se span van aanbieders aangesluit. Piet het aanvanklik die kunsinsetsels op DEKATv aangebied, maar deesdae fokus hy ook op insetsels oor verskeie onderwerpe.
JAWAAHIER PETERSEN
DEKATV-AANBIEDER
Jawaahier Petersen is die dogter van Taliep Petersen. Sy is ’n TV-aanbieder en aktrise, maar ook maatskaplike werker waar sy gewerk het in die gespesialiseerde area van adolossente- en gesins-intervensie . Soos haar oorlede pa het sy ook sangtalent en sy en Nedine Blom stig die Afri-Kaapse groep Die Jaloersbokkies en tree op by verskeie kunstefeeste soos die KKNK, Die Woordfees, die Suidoosterfees en Aardklop.
Jawaahier was ook aanbieder van die TV-reeks KLOP!, mede-aanbieder van kykNET se Fiësta en DEKATv. Sy het opgetree in kykNET & Kie se Arendsvlei en in die gewilde sepie Suidooster. Op die musiekverhoog was Jawaahier in musiekspele soos Like Father, Like Son, A Tribute To Taliep Petersen en in die musiekvertoning Die Burger Pops.
REFENTSE MORAKE
DEKATV-AANBIEDER
Die sanger Refentse Morake se unieke talent het in 2015 die kollig gesteel nadat Cecilia Kruger Marchionna, ’n inwoner van sy tuisdorp Vereeniging, hom raakgesien het . Sy het ’n selfoonvideo van hom geneem waar hy uit volle bors, kitaar in die hand, op die straathoek gesing het. Sy treffende weergawes van Koos Kombuis se Lisa Se Klavier en Bok van Blerk se De la Rey het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Drie weke later het die rock-sangeres Karen Zoid, Refentse tydens die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) op Oudtshoorn raakgesien waar hy verbygangers met sy straatoptredes bekoor het. Karen het hom genooi om die volgende dag die verhoog met haar te deel. Omtrent 24 uur later is Refentse ’n platekontrak by Select Musiek aangebied. Die wegholsuksesse van sy eerste twee albums My hart bly in ‘n taal” (2016) en Deur My Venster (2018) het aan hom dubbel-platinum-sukses en ‘n hele rits benoemings en toekennings besorg. Refentse het in 2018 die enkelsnit Liefdesgenerasie bekend gestel en daarna het die enkelsnitte What A Boytjie (2019) en Beauty of Africa (2021) gevolg. In 2017 is Refentse met nie minder as drie Ghoema-trofees vir sy trefferalbum My hart bly in ’n taal bekroon. Hy het weggestap met die pryse vir Album van die jaar, Manlike kunstenaar van die jaar, Digitale album van die jaar en ’n ere-toekenning vir die Beste verkoper van die jaar. My hart bly in ’n taal is ook in 2017 met ’n SAMA-toekenning in die kategorie top-verkoper (album) aangewys. Sy nuutste album Wandel In My Woning is in 2021 vir ’n SAMA-toekenning as beste kontemporêre album benoem. Refentse is die ankeraanbieder van die leefstylprogram DEKATv.
MARLIZA VAN DEN BERG
DEKATV-AANBIEDER EN JOERNALIS
Marliza werk as vryskutjoernalis vir koerante en tydskrifte en ook die afgelope 14 jaar as TV-aanbieder vir DEKATv. Verlede jaar het sy die reeks, Opsoek na Eden, op Via aangebied. George is haar tuisdorp en sy en haar man spandeer baie tyd in die Karoo op hul plaas Langfontein, waar sy ’n gasteopset bedryf. Tuinmaak lê haar na aan die hart. “Dis lekker om te sien hoe goed groei, om vars blomme uit eie bodem te pluk en kos te maak uit my kombuistuin.”