DEKAT Borg Nuwe Granietblad vir Oom Paul se Graf

Oudpresident Paul Kruger se graf in die Heldeakker in Pretoria is vandag, 10 Oktober, op sy verjaardag, in ere herstel en DEKAT is die borg van die nuwe granietblad.

Die granietblad wat sedert 1995 ná vandalisme gekraak was, is deur ’n nuwe blad wat deur Elite Tombstones van Parys gesny en gegraveer (presies soos in 1905) is, vervang. Dit is uit Barberton Black-graniet gemaak.

“Dit het kopkrap en dinkwerk geverg om die korrekte graniet en lettertipe vir die granietblad te vind. DEKAT bedank graag Elite Tombstones wat die projek so keurig vir ons hanteer het,” sê Elzilda Becker, redakteur en uitgewer van DEKAT.

 

Toe dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurorganisasies) ná die jongste vlaag van vandalisme in Julie 2018 bekend gemaak het dat die organisasie sal help met die bostuk, het beeldhouer Jacques Müller voorts ’n beeld as geskenk aangebied. Hy het ook aangebied om die beskadigde veselglasborsbeeld gratis te restoureer.

Müller, geïnspireer deur Jan FE Celliers se gedig oor Paul Kruger, Soos ’n berg ongebuk, het ’n maand lank bedags gekap en gebeitel aan die nuwe beeld en saans gewerk aan die ou borsbeeld. Die nuwe beeld se tweedelige onderstuk is uit wit Carrara-marmer gekap om die skouers en lyf voor te stel. Die kop is uit plaaslike graniet.

Müller het, omdat die graf oos kyk, dit só beplan dat die skaduweeval teen die ‘lyf’ die indruk van die presidensiële skouerband (met ʼn watermark-afbeelding van die ZAR-vlag) sal gee. Die eenvoudige epoulette op die skouer dra by tot die status, maar behou die eenvoud en onopgesmuktheid wat hy wil oordra.

Die beeld se onderskeie stukke is met ysterpenne aanmekaar geheg, asook aan die granietsteen.  Die gerestoureerde glasvesel-borsbeeld sal op 26 Oktober tydens die FAK se prestigeaand in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument ingehuldig word en die ou gekraakte grafsteen kry ’n ereplek by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument.

Kruger-monument

Eerder as om die beskadigde borsbeeld bo-op dié graf bloot te restoureer, het Müller uit verskeie foto’s en afbeeldings van Kruger as verwysing met ’n hele nuwe beeld, oftewel ’n nuwe Kruger-monument soos hy dit noem, vorendag gekom.

Müller sê dis nie ’n “klassiek anatomiese afbeelding” van Kruger nie, maar eerder “eenvoudig gestyleerd soos die volksvader wat hy was”.

Hy som dié beeld as “dinamies, baie dramaties en ’n sterk werk” op.

Met net ’n beitel en hamer het Müller stukkie vir stukkie lewe aan Kruger met sy alombekende baard uit ’n stuk pienkgrysgraniet gegee.

Hoekom het hy graniet gebruik?

“Dis een van die hardste klippe op aarde, maar jy kan dit sag maak en terselfdertyd ’n persoonlikheid daaraan gee. Dis ’n element wat nie kan vergaan nie. Dis verewig. Die graniet is ook eie aan Afrika en ’n metafoor vir die hardheid en ongenaakbaarheid van die kontinent. Hy (Kruger) was ook hard. Hy was in die oorlog al van kleins af. Daar is dus ’n simbiose tussen hom en die materiaal.”

Die nuwe grafsteen bestaan uit vier dele, waaronder die afbeelding van Kruger se kop wat op drie aparte wit marmerstukke rus.

Volgens hom vorm al die dele “’n sterk eenheid”.

“Dit simboliseer ook ’n drie-enige God of ’n sterkte van geloof. Die nuwe Kruger-monument is ’n steunpilaar, ’n hoeksteen of fondament van iets baie groot of ’n monumentale entiteit. Die dele wat uit marmer bestaan, is rou gelos, wat ’n sterk metafoor vir die gedig is, maar dui ook op ’n verpersoonliking van oom Paul se persoonlikheid,” verklaar Müller die simboliek agter sy beeld.

Om eer aan Kruger se bekende presidensiële serp te gee, het Müller slegs ’n epoulette op sy regterskouer uit die marmer gekerf. Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR)-wapen op dié serp het hy byna soos ’n watermerk subtiel op die onderste marmerklip ingraveer. In dié tyd was dié wapen ook in amptelike gebruik van die Ou Transvaal en die Hervormde Kerk.

Müller (38) het ’n nasionale diploma in beeldende kuns aan die destydse Technikon van Pretoria verwerf en hy het in beeldhou en skilderkuns gespesialiseer.

Hy put inspirasie uit die natuur, die lewe in die algemeen en die onvermydelike proses van verganklikheid. Sy skilderye en beelde “leef” in vrede saam deur die gebruik van abstrakte elemente soos kleur in sy skilderye en beide organiese en anorganiese voorwerpe in sy beelde om ’n realistiese geheelbeeld te skep. Die kortstondigheid van die lewe is duidelik sigbaar deur die kreatiewe proses om die onvermydelikheid van tyd te beklemtoon.

Müller het al beeldhou- en skilderwerk in opdrag van korporatiewe en private versamelaars gelewer. Sy werk is ingesluit in verskeie versamelings regoor Suid-Afrika, Australië, Italië en die V.S.A.

 

 

 

 

By |2018-10-10T12:15:17+00:00October 10th, 2018|Uncategorized|