Cordoba, die wit stad

deur Gerard Scholtz

(Rol af vir foto’s)

Ons het afgewyk van die Silwer Roete om ook Cordoba en Granada in te sluit. Kom so op die Saterdagmiddag Cordoba ingery. Vind ons blyplek maklik.

Maar ons gasvrou is nie daar om ons woonstel oop te sluit nie. En ons reis mos nie met roaming op ons selfone nie. Ek hol die strate op en af om wi-fi te soek, maar niemand verstaan my nie. Intussen het ons al afgepak en al die bagasie staan voor die deur. Die buurtante kon nie haar nuuskierigheid inhou nie en kom was die sypaadjie met ‘n mop en slopemmer en loer met wantroue so onderlangs na ons. Later groet ek haar. En daar trek sy los in Spaans. En gesels land en sand met baie beduie. Sy wys haar casa se blanco marmervloere, sy gaan ons nie innooi nie. Ons sal die vloere vuil trap. Sy wys haar geswelde voete. Ek wys vir haar my geswelde been en enkel. Ons verstaan mekaar.

Intussen keer ons meer mense voor om vir ons die oproep na die gasvrou te maak. Niemand verstaan nie. Die weer begin vinnig verander en blitse slaan en donderweer rammel. Die eerste druppels spat, en ons staan op straat.

Om die hoek kom ‘n netjiese jong swart man. Ek keer hom voor. Do you speak English? Yes I do.Ons word broers. Hy heet Benedict. Kom van Ghana en vertel sy hartseer verhaal. Hy skakel die gasvrou, misverstand, sy is binne 10 minute daar om oop te sluit.

Ons is moeg, effens gesteurd, voel stowwerig en doen eers ‘n groot wasgoedwas voordat ons in die buurt gaan rondstap en tapas eet.

Die volgende oggend is ons vroeg op en besluit om die paar kilometer na die ommuurde oustad toe te stap. Eers oor die rivier met die baie mooi ou Romeinse brug met sy torings. Dit is ‘n Sondag en ons sluit aan by ‘n begeleide groep wat ons binne ‘n paar uur ‘n goeie oorsig oor die stad gee.

Dit is noodsaaklik om die verloop van die geskiedenis te ken, en al die invloede, om die stad en sy argitektuur te verstaan.

Dit het maar ‘n bloederige en lang geskiedenis. Die Neanderthalman het 35 000 VC al hier rondgedwaal. In 206VC verslaan die Romeine kleiner groepe en die stad Cordoba word gestig. In 711NC word dit deur die Arabiere ingeneem en staan dit onder die heerskappy van die Almoed Khalifaat van Damaskus. Christene en Jode leef saam met die Arabiere (Berbers) in vrede en Cordoba word uitgebou as een van die belangrikste stede in Europa. Meer as een miljoen mense woon in die stad – daarom die nou gangetjies en huisies op mekaar. Dit spog met die grootste biblioteek naas Alexandria en ook een van die eerste universiteite ontstaan hier. Die Groot Moskee dateer uit daardie goue era. In 1236, as deel van die Spaanse Reconquista onder Ferdinand III, word die Iberiese skiereiland deur die katolieke kerk oorgeneem en regeer. Cordoba word die setel van die verskriklike inkwisisie.

Ongelukkig het die Christene die eenvoud en balans van die Almoehad Khalifaat versteur, hulle geometrie, die begrip en gebruik van ruimtes, aanpassings by die klimaat, simboliek, afwesigheid van menslike afbeeldings, die gebruik van natuurlike boumateriale. Dit byna tot niet gemaak. In die plek daarvan het hulle byvoorbeeld die Groot Moskee (Mezquita) plek-plek gaan versies met barok prul en blaargoud. Vet cherubs en aanbiddingsbeelde. Die verskillende boustyle, godsdienste, se nalatenskap is in een gebou ingebou, wat nogal die verbeelding aangryp. Ek gaan klim die kloktoring uit wat bo-oor die Mezquita se toring gebou is, waarvan die mooi en kleurvolle teëls nog te sien is.

Later die Sondag vlug ons. Daar is een of ander heilige fees en die mense vertrap mekaar. Op Maandagoggend staan ons vroeg op om in die strate en nou gangetjies te wees voor die hordes kom. Vreemd om die stad toe so stil en leeg te beleef.

Binnehowe met spuitfonteine is ‘n belangrike ding wat die Berbers ingebring het, om die huise koel te hou. Ons loer by baie van die geboue in en bewonder die binnehowe. Ons dwaal van stegie tot gangetjie. Op en af, heen en weer. Daar is ook die Serfardiese Joodse buurt met sy nou stegies en soveel meer atmosfeer as die res. Een van drie oorblywende sinagoges in Spanje staan daar, in 1315 gebou.

Later die middag, en die aand, gaan skoeter ons deur die stad. Die nou straatjies van die ouer buurte, al langs die rivier. Later die buitewyke. Ons voel so vry en losgemaak van alles en is diep in die geskiedenis en die kultuur ingesink.

Ja, Cordoba was verfrissend met sy wit mure. Die blou blompotte, die binnehowe.

 

Roman

20180603-IMG_196520180603-IMG_196720180604-IMG_208620180604-IMG_2089

Mezquita

20180604-IMG_201620180604-IMG_202020180604-IMG_202520180604-IMG_203020180604-IMG_203220180604-IMG_206720180604-IMG_209320180604-IMG_209720180604-IMG_210020180604-IMG_210220180604-IMG_210420180604-IMG_210520180604-IMG_210820180604-IMG_210920180604-IMG_211120180604-IMG_211420180604-IMG_211620180604-IMG_212120180604-IMG_2124
20180604-IMG_212820180604-IMG_212920180604-IMG_213120180604-IMG_213220180604-IMG_213320180604-IMG_213420180604-IMG_213620180604-IMG_213720180604-IMG_214120180604-IMG_214620180604-IMG_214920180604-IMG_215120180604-IMG_2152

20180604-IMG_203820180604-IMG_203520180604-IMG_203420180604-IMG_200820180604-IMG_200020180604-IMG_199020180604-IMG_198820180603-IMG_1987

20180604-IMG_207820180604-IMG_207520180604-IMG_207120180604-IMG_205020180604-IMG_200420180604-IMG_1995
20180604-IMG_1993

20180604-IMG_205220180604-IMG_205420180604-IMG_2057

20180604-IMG_207320180604-IMG_207920180604-IMG_2068

20180604-IMG_2177

 

By |2018-06-25T13:51:59+00:00June 25th, 2018|Reis|