Brutaal mooi of Brute skoonheid

Brutalisme, wat letterlik verwys na die brute, eerlike gebruik van boumateriaal in ’n gebou, was ’n omstrede beweging in die argitektuur van die middel 20ste eeu en is wyd gekritiseer oral waar sulke geboue verrys het. Dit het ook in Suid-Afrika geland waar dit neerslag in verskeie jong argitekte se werk gevind het, maar ook hier is dit nie met ope arms ontvang nie, soos PIETER MATHEWS verduidelik.

Brutaal mooi of Brute skoonheid

Photography

 

Brutalisme, wat letterlik verwys na die brute, eerlike gebruik van boumateriaal in ’n gebou, was ’n omstrede beweging in die argitektuur van die middel 20ste eeu en is wyd gekritiseer oral waar sulke geboue verrys het. Dit het ook in Suid-Afrika geland waar dit neerslag in verskeie jong argitekte se werk gevind het, maar ook hier is dit nie met ope arms ontvang nie, soos PIETER MATHEWS verduidelik.

Brutalisme, wat letterlik verwys na die brute, eerlike gebruik van boumateriaal in ’n gebou, was ’n omstrede beweging in die argitektuur van die middel 20ste eeu en is wyd gekritiseer oral waar sulke geboue verrys het. Dit het ook in Suid-Afrika geland waar dit neerslag in verskeie jong argitekte se werk gevind het, maar ook hier is dit nie met ope arms ontvang nie, soos Pieter Mathews verduidelik.

In die vroeë sestigs is die NG Gemeente Welkom-Wes op pad om te skeur. Die kwessie wat gemeentelede so verontwaardig het, het niks met geloofsideologie te doen nie, maar die ontwerp van die nuwe kerkgebou deur die jong en relatief onbekende argitek Roelof Uytenbogaardt. Uytenbogaardt was ’n goeie vriend van die nuwe jong dominee, wat saam met ’n klein groepie raadslede besluit het op die ontwerp, ten spyte van ontsettende teenstand vanaf  ’n groot deel die gemeente en raad.

Uytenbogaardt was ’n besonder talentvolle argitektuurstudent, wat in 1961 onder David Crane in Pennsilvanië studeer het. Hy het ook in hierdie tyd meestersklasse van Louis Kahn bygewoon. Crane het in ’n brief aan Uytenbogaardt se pa geskryf: “Everyone on the Faculty of the School of Fine Arts has recognized that Roelof is perhaps the most talented designer we have ever graduated out of this school.” (Uittreksel uit ’n brief wat prof. David Crane van die Universiteit van Pennsilvanië aan Uytenbogaardt se pa in Kaapstad geskryf het en aangehaal is in Architect and Builder July 1961:32)

Indien die gemeentelede van Welkom-Wes bewus was van Uytenbogaardt se talent, het hulle nie omgegee nie – hulle wou nie die kaal en lelike dik muurkerk hê wat hy ontwerp het nie. In 1964, na menige vertragings en ver oor begroting, word die nuwe kerkgebou vir die NG Gemeente Welkom-Wes weldra voltooi en ingewy.

Volgens my is hierdie kerk die enigste ware brutalistiese religieuse gebou in ons land. Van die preekstoel tot die doopvont is deur Uytenboogaardt ontwerp en uit beton gegiet. Net soos die brutalistiese ontwerp van hierdie kerkgebou die NG gemeentelede byna tot ’n koeksisteroorlog gedryf het, is brutalistiese argitektuur nog altyd ’n baie verdelende argitektuurtaal, veral in Suid-Afrika.

So wat op aarde is brutalisme? Hoe herken mens die eienskappe van so ’n gebou, en hoekom is dit so kontroversieel? Brutalisme verwys na die (letterlik “brute”) eerlike gebruik van boumateriaal in ’n gebou. So word beton byvoorbeeld gegiet en net so gelaat. Estetika word dus bepaal deur die metode van konstruksie, in die geval van beton: vormwerk en “furule holes” (gaatjies in beton).

Die kern van die estetika word uitgedruk deur die metode van konstruksie. Elke materiaal word in rou en brute vorm gebruik. Reyner Banham skryf: “The aesthetic for which they strove was the uncompromising ruthlessness, intellectual clarity and honest presentation of structure and materials.” Eenvoudige en platoniese vorms en ook geometrie vorm ’n belangrike deel hiervan. 

Brutalisme het in Suid-Afrika hoogty gevier vanaf die middel sestigs tot middel /einde sewentigs – hoë apartheid, wat natuurlik baie mense se assosiasie met die styl is. Dit is ook in hierdie tydperk dat verskeie Afrikaanse universiteite soos byvoorbeeld die Randse Afrikaanse Universiteit gebou is en mens kan op hierdie kampus vandag nog uitstekende brutalisme beleef. 

Die gerekende wêreldleier van brutalisme was die argitek Louis Isadore Kahn, ’n Amerikaanse argitek gesetel in Philadelphia waar hy sy eie ateljee in 1935 gestig het en ook klas gegee het in Pennsilvanië. (Waar ons vriend Uytenbogaardt ook gewerk het) (Wikipedia) Een van Kahn se bekendste aanhalings was “even a brick wants to be something”. 

Daar loop ’n goue draad vanaf Kahn in Pennsilvanië in Amerika reg deur tot ons eie argitektoniese erfenis in Suid-Afrika. Heelwat van ons gerekende argitekte het meesterklasse van hom bygewoon of is regstreeks deur hom en sy tydgenote beïnvloed. 

Alhoewel mens aanvanklik dalk vir die kaal en ongenaakbare aansig van ’n brutalistiese gebou wil terugdeins, is dit moontlik om hierdie unieke boustyl wel te waardeer as mens vir ’n oomblik ’n argitektuurbril opsit, en in Suid-Afrika is daar baie sulke geboue om te waardeer. Hierdie geboue is ontwerp deur ’n groep uitmuntende argitekte van die tyd. ’n Paar name wat dadelik opduik is Willie Meyer, Bannie Britz, Roelof Uytenbogaardt, Hans Hallen, Karel Jooste en Jan van Wijk.

Willie Meyer van Meyer en Pienaar argitekte is op 31-jarige ouderdom aangestel as die hoof ontwerpargitek vir die destydse Randse Afrikaanse Universiteit(nou die Universiteit van Johannesburg). Die aanstelling volg sommer ná ’n telefoonoproep van die eerste rektor dr. Gerrit Viljoen. Hierdie aanstelling was waarskynlik een van die grootste openbare projekte sedert die Uniegebou meer as ’n half eeu van tevore, en so kry brutalisme ’n houvas op Suid- Afrika, kort op die hakke van die wêreld.

Jan van Wijk se argiteksfirma het vir Meyer en Pienaar met die enorme taak van RAU bygestaan, en Bannie Britz was ’n assistent in die kantoor. In Jan van Wijk se kantoor het Britz ook aan die Taalmonument en die Universiteitsoordkerk gewerk 

In vennootskap met Meyer ontwerp Bannie Britz later ses geboue op die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroomkampus (voorheen PU vir CHO) Pukke. Die brutalisme is duidelik sigbaar in die studentesentrum in groot sirkelvormige openinge in ’n steenmuur, asook die gebruik van beton en hout.

Hans Hallen beskryf RAU ook as een van die kragtigste voorbeelde van ’n moderne wêreldklas universiteit in die tydsgees. Van hom is gesê: “He believes that architecture is an art, and that to have universal validity the work must have its roots in the particular.” (Artefacts.co.za; Hallen, Hans Heyerdahl)

Hallen wen op sy beurt ’n kompetisie vir ’n tweede Voortrekkermonument (ja, ons het twee Voortrekkermonumente, glo dit of nie!). Die monument is beslis een van ons land se crescendo’s van die brutalisme, ’n beton silo met oordrewe detaillering soos spuiers, meesterlik gegiet uit beton. Dit staan op die Winburg ABO-konsentrasiekampterrein.

Die silotipologie is so gepas vir die Vrystaatse landskap dat jy dit dalk nooit eers in die verbygaan opgelet het nie. So as jy self wil gaan kyk en die pad tussen die Kaap en Gauteng wil onderbreek met iets anders as die normale russtop vir brandstof, gaan kyk gerus en staan ’n rukkie stil buite hierdie Voortrekkermonument. Indien die hek gesluit is, druk net jou toeter en Moeketi sal uit die Noord-Ooste aangehardloop kom met die hek se sleutel. (Ek weet nie van toegangsgeld nie, maar ek het hom maar ’n ietsie gegee vir die hardloop). 

Indien jy die brutalisme eerstehands en tasbaar weer van nader in Pretoria wil ervaar, kan jy gerus gaan uiteet by die Franse restaurant Brasserie de Paris. Hierdie woonhuis deur Karel Jooste is omskep in ’n bistro sonder om inbreuk te maak op die oorspronklike argitektuurtaal. Dit is sensitief omskep – let mooi op na die betonbruggie, die deure, balustrades, detaillering, teëls, skakelaars en die komplementerende en eerlike materiaalgebruik deurgaans.

Ons firma het plaaslik in Pretoria met die ontwerp van die Javett – UP Kunsgalery in Lynnwoodweg ’n abstrakte en brutalistiese “berg” uit beton ontwerp. Ons het op ’n plaaslike bekistingsfirma besluit in plaas van ’n duur Europese sisteem. Nie net het dit baie geld gespaar nie, dit het ook kapitaal in die land gehou en werkgeleenthede geskep. Die resultaat is ’n berg met rowwe fasette wat handgemaaktheid vier. Dit vereer die brutalistiese gees en eerlikheid van konstruksiemetodes. Die natuurlike gedrag van beton kan gesien word in hierdie “lewendige” tekstuur en die berg gaan op natuurlike wyse verouder.  

Ek sluit af met woorde van die kunstenaar en Bauhaus-argitek Jean Welz (Stephan Welz se vader): “Jy sien nie wat jy sien nie, jy sien wat jy weet en as jy meer weet sal jy ook meer sien.” Hopelik deur meer te weet van die beweging in ons argitektuurgeskiedenis sal jy beter en opnuut kyk na die geboue in jou omgewing. 

My pleidooi is dat ons ons brutalistiese argitektuurskatte bewaar deur dit te hergebruik soos die Brasserie de Paris in Karel Jooste se ou huis. Gaan kyk ook gerus die dokumentêre rolprent vervaardig deur Kahn se seun Nataniel, My Father the Architect. Dit sal jou baie beslis meer laat “sien”, so brutaal mooi.

Bronne

www.artefacts.co.za

https://www.yatzer.com/even-brick-wants-be-something-louis-kahn

Banham, R. 1963. ‘Brutalism’ in Hatje,G (ed). Encyclopaedia of modern architecture. London: Thames and Hudson