Botrivier se wynmakers pak die bul by die horings met 2018 Barrels & Beards

‘Local’ is lekker by hierdie geliefde kos-en-wyn kuier

Hardloop vanjaar op Saterdag 21 April saam met die bulle by die Botrivier Barrels & Beards wanneer – vir die eerste maal ooit – hierdie majestueuse gedierte die kollig gaan steel by ’n Kaapse opskop soos nog nooit tevore nie.

Nee, jy gaan natuurlik nou nie regtig el-toro hardloop in die Pamploniese sin van die woord nie (hoewel die gewoontes van die vallei se berugte slaggereed wynmakers kan kwalifiseer). Hierdie hele gedoente is ’n uitnodiging om te partytjie, partytjie, partytjie; nuwe vriende te maak; fees te vier om nog ’n oordadige druiwe-oes te gedenk en boonop iets goeds te verrig.

Die bul waarna ons verwys, is die bul in die Botrivier Wynroete-logo: die skakel na Botrivier se herkoms. Onder die Khoisan is die vallei eens op ’n tyd Gouga – die plek van die beeste – genoem. Die Hollanders het die sprong na botter gemaak en dit het tot die moderne naam gelei. In hierdie sin verteenwoordig die bul vrugbaarheid, viriliteit, leierskap en krag. Maar nog belangriker, dit verbind die geskiedenis van al die streek se bewoners van heel moontlik meer as 1 000 jaar; ’n simbool van die bymekaarkom van diverse kulture en die gevoel van plek wat in elke glas Botrivier-wyn – waar dit ookal in die wêreld geniet word – ervaar word.

Vir vanjaar se Barrels & Beards (of noem dit sommer Balies & Baarde) pak die streek se wynplase die spreekwoordelike bul by die horings en inkorporeer die Taurus-tema in elke aspek van die voorbereidings. Dit is dus alles balies, baarde en bulle, as jy nou wil (ook maar goed daar is nog geen breekware-winkels in Botrivier nie).

Die vertoonplek van al hierdie skouspel is Wildekrans Wynlandgoed, die tuiste van uitstekende wyn en gasvryheid en sluit ’n sterbelaaide deelnemerslys in, van: Anysbos, bokboere met ’n swakheid vir wyn; Arcangeli, ’n wynprodusent met ’n wilde Italiaanse hart; Barton, wie se bloukraanvoël hul ekoboerdery-aanslag weerspieël; Beaumont Familie Wyne, die tuiste van die streek se oudste wynkelder; Eerste Hoop; Gabriëlskloof, die vierkant op die koppie; Genevieve MCC, unieke Botrivier borrels; Goedvertrouw Wynlandgoed, die intieme klein juweel van die energieke geheelonthouende wynmaker, Elrieda Pillmann; Luddite Wyne, kampioen vir droëland boerdery; Maremmana Landgoed, ’n vermenging van heerlike wyn en ’n idilliese plaas leefstyl; Momento; Paardenkloof Estate, die enkel-wingerd variëteit wynkelder; Rivendell Landgoed, ’n versnyding van Oostenrykse- en Suid-Afrikaanse wyntradisie; Thorne & Daughters, eenvoudige wyne met ’n moderne aanslag en Villion Familie Wyne, ’n wynprodusent “wat die noodlot met geloof uitdaag”.

Die hele gedoente draai eintlik om die veiling: die verkope van ware spesiale Botrivier wyne. Die veiling baat verskeie skoolvlak opvoedkundige projekte in die omgewing. Die maaltyd – bekend as die Botriviera aandete – is ’n fees van plaaslike heerlikhede.

Vanjaar sal gaste kan smul aan die kos van die vallei met tafels wat kreun onder plaaslike produkte en spesialiteite. Die moderne Botrivier en die Overberg was vir eeue ’n waardevolle halfwegstasie en bly in vele opsigte steeds ’n broodmandjie van die Wes-Kaap.

Die storie van die irriterende stoppels wat tradisie geword het, het – soos meeste – bloot per ongeluk gebeur. Die druiwe-oes wag vir niemand nie – wanneer die vrugte ryp is, moet dit gepluk word en na die kelder geneem word. Daar is min tyd vir vir slaap, maar dis steeds ’n feestelike tyd want Moeder Natuur onthul die beloning van die vorige seisoen se harde werk. Tydrowende aktiwiteite soos skeer moet agterweë bly, wat beteken dat baarde in die wingerde en kelders nie ongewoon vir hierdie tyd van die jaar is nie.

Agt jaar gelede het Luddite se wynmaker, Niels Verburg, ’n uitdaging aan sy kollegas gerig wat vandag bekendstaan as Die Groot Botrivier Baard Uitdaging. Dit het ’n jaarlikse tradisie geword. Nou onderneem die wynmakers van hierdie hegte wynstreek ’n selfopgelegte skeer-verbod gedurende die oes, ter voorbereiding van die jaarlikse Baarde Parade – ’n kompetisie van groot niksseggendheid en almagtige vrolikheid. Sommige (snak!) mag selfs ’n spesifieke styl vir hierdie Barrels & Beards hoogtepunt kweek.

Op ’n vasgestelde tyd word ’n paneel van ernstige, diep nadenkende beoordelaars ingeroep om aan baarde te trek, te streel en te meet. Hulle kam deur die oerwoud van lang bokbaardjies, van dykes, balbos, garibaldis, skaaptjops en imperials, om die algehele wenner van die Beste Bot-baard aan te wys.

Wanneer dit agter die rug is, is die skeer-verbod oor. Haar vandag en skoonveld mȏre, soos hulle sê.

“Ons sien uit na die Bul-tema vir vanjaar se Barrels & Beards, ’n geleentheid waar jy letterlik jou hare kan laat loshang en die wynmakers van die Botrivier-streek in een feestelike geleentheid ontmoet,” sê Melissa Nelsen, die Botrivier Wynroete koördineerder en die sprankelende persoonlikheid agter Genevieve MCC.

Botrivier is ’n skrale uur se ry op die N2 uit Kaapstad. Dis ’n heerlike plattelandse wegbreek en die streek is bekend vir sy wynpioniers en onafhanklike denkers. Daar is 13 wynplase wat meestal in familiebesit en -bestuur is, wat wêreldklas wyne produseer. Botrivier word gereeld onderskat en is ook bekend vir sy bewarings-inisiatiewe.

Die 2018 Botrivier Barrels & Beards sal op Saterdag 21 April om 5 nm by Wildekrans Wynlandgoed gehou word en kaartjies kos R450 per persoon.

Die deelnemende plase is:

1.         Anysbos

2.         Barton

3.         Beaumont

4.         Arcangeli

5.         Eerste Hoop

6.         Gabriëlskloof

7.         Luddite

8.         Genevieve

9.         Goedvertrouw

10.       Thorne & Daughters

11.       Momento

12.       Maremmana

13.       Paardenkloof

14.       Rivendell

15.       Wildekrans

 

 

Aanlyn-kaartjies is deur www.quicket.co.za beskikbaar. Kontak Ilse Henderson by Wildekrans Wynlandgoed by 074 553 6953 of epos ilze@endlessgroup.co.za vir navrae of vooraf besprekings.

 

By |2018-04-03T10:21:23+00:00April 3rd, 2018|Kos|