Argiewe

Bittersoet

Hierdie artikel het oorspronklik in die Lente 2002 uitgawe van DEKAT verskyn.

KwaZulu-Natal is ’n streek wat geseën is met van die mooiste kusgebied en binnelandse gebiede in Suid-Afrika.

Dit is ’n streek waar die verskillende bevolkingsgroepe ’n komplekse sosiale matrys vorm wat reeds verskeie eeue se bittere konflik veroorsaak het. Tog lyk dit nou of alles vreedsaam is.

Dit is wel ’n beduiwelde gebied: ’n land van melk en heuning waar vele van die honger sal doodgaan, ’n land van silikoon, supersnelweë en slawe, ’n land met nie altyd sulke trotse tradisies nie en waar die MIV/vigs-pandemie sy grootste tol eis.

Dié teenstrydighede in die sosiale en geografiese samestelling van KwaZulu-Natal is nêrens so skerp soos in die suikerrietplantasies wat in groot lappe oor die provinsie strek nie. Op suikerrietplantasies is daar koloniale familiefortuine en stories van ‘n trotse en geharde boerdery.

Die geoeste heuwels, wat óf oranje óf swart gebrand is deur die son, vertel stories oor gebroke gesinne, erge armoede, alkoholisme, geweld en siekte.

Dit is op dié grond waar MIV baie sade sal plant en vigs ’n uithaler-oes sal hê.

Mzwandile Zuma (nie sy regte naam nie) bly op ’n plaas naby Gingingdlovu, noordwes van Stanger. Hy is reeds sy lewe lank ’n plaaswerker en het reeds oral oor KwaZulu-Natal suikerriet geplant, plantasies skoon gehou van vuilgoed en hulle geoes.

Sy hande, wat vol eelte en snymerke is, is weens die vlekke wat uikerriet veroorsaak, donkerder as sy sonverbrande vel. Dit is die stille getuienis van meer as 25 jaar se harde arbeid. Hy deel sy huis – ’n eenkamerhuis met ’n sinkdak, sementvloer en geen vensters nie – met sy vrou en die
laaste twee van sy agt kinders.

Zuma praat geredelik oor sy werk: “Om suikerriet te sny is baie harde werk. Daar is min geld in en die ure is baie lank. Ons kla by die boer, maar hy is nie geïnteresseerd in wat ons te sê het nie – net dat as ons ongelukkig is, ons ’n ander werk moet gaan soek.”

Oor MIV/vigs is hy net so reguit. “Daar is ’n siekte waarvan ons weet, waarvan ons gehoor het. Ons kan selfs sien hoe van die mense siek raak, maar niemand praat daaroor nie.”

Die stilte word aangevuur deur vrees – ’n vrees om siek te wees en nie in staat te wees om te werk nie. ’n Vrees vir die spot en isolasie van ’n gemeenskap wat reeds uiteenlopend en onstabiel is.

Zuma verduidelik: “As jy te siek word om te werk, verloor jy geld. Op dié plaas is nie ’n unie nie. As jy nie werk nie, word jy nie betaal nie. As jou siekte baie erg is en jy hospitaal toe moet gaan, moet jy self daar kom.”

“Die boer vat ons soms na die private dokter toe, maar hy vat R60 van jou lone vir elke besoek. As jy meer as ’n week lank siek is, is die kanse goed dat jy jou werk sal verloor. Nog ’n probleem is dat ander mense in die gemeenskap begin praat. Wanneer jy siek is, maak hulle grappe oor jou. Ek het dit self gesien. Dis hoekom die meeste mense bang is om oor die siekte te praat.”

Dié vrees is baie lewendig tussen Zuma se mede-werkers op die naburige Wynston-suikerrietplaas. Tydens ’n impromptu-vergadering by ’n lekkende watertenk heers doodse stilte wanneer die kwessie van MIV/vigs geopper word.

Vroue aan die een kant en mans aan die ander kant staar doelloos uit oor die horison. ’n Ouer vrou begin skielik praat: “Ons kan dit sien in ons kinders, selfs wanneer hulle niks sê nie.”

Die stilte is verbreek en ’n stortvloed kommentaar en vrae en mites oor MIV/vigs kom na vore.

“Waar kom vigs vandaan?” wil ’n ou man weet. “Ons het dit in die verlede nooit gesien doodmaak nie.”

’n Jonger man kla dat die “mlungu” (wit man) kondome uitdeel omdat “hy nie wil hê ons moet kinders maak nie”. ’n Ander ou man suggereer dat as hy ’n kondoom sou gebruik, hy “daardie plastiek in plekke sal sit waar dit nie hoort nie”.

’n Tienerseun het gehoor van kondome vir mans en vroue en wil weet of die manlike en vroulike kondome op dieselfde tyd gebruik kan word.

’n Jong vrou wil weet “wat gebeur met vigs wanneer ’n mens doodgaan” en of dit nie uit die dooie mens gehaal kan word om mense gesond te maak nie.

Die mense praat in meer algemene, maar bitter terme oor die armoede en siektes wat hulle aftrek.

“Ons lewe soos diere – sonder elektrisiteit in stukkende en lekkende hutte. Ons werk te hard en daar is te min kos, net stampmielies en pap, en ons moet ons eie kos koop. Hierdie boer gee ons net “amaheu” en “inqomboti” wanneer ons werk. Al drink ons dit nie, trek hy aan die einde van die maand R17 van ons lone af. Ons is dikwels siek op dié plek – jy kan sien hoe vuil dit is. Ons mae loop, daar’s malaria en ons het longprobleme. Daar’s nie geld vir hospitale en dokters nie. Ander
plekke het klinieke, maar hier het ons niks.”

Inderdaad, net 200 m oor die veld is die Amatikulusuikermeule wat deur Tongaat-Hulett Sugar besit en bestuur word. Die meule het ’n kliniek vir sy werkers en die maatskappy lei MIV/vigs-opvoeders op by sy meule by Maidstone, ’n bietjie verder suid.

Ongelukkig is kliniekgeriewe en groep-opvoeding selde beskikbaar vir die duisende landbouwerkers wat op die omliggende plase werk – hetsy dit in private- of maatskappybesit is. Dit is ondanks die feit dat dié plase die roumateriaal aan die meulens verskaf. Nog belangriker miskien is die feit dat landbouwerkers vatbaarder is vir MIV weens die haglike omstandighede waarin hulle moet leef en werk.

Die gemiddelde suikerrietsnyer oes sowat vier of vyf ton suikerriet per dag. Dit is energiegewys gelykstaande aan ’n halfmarathon per dag. Lone is taakgekoppel en word pro rata uitbetaal namate die take voltooi word.

Die wat suikerriet sny op ’n plaas wat deur Tongaat-Hulett of die ander nywerheids-reus, Illovo, besit word, kan ’n loon van sowat R40 per dag verwag.

Hulle is gewoonlik trekarbeiders wat van so ver as die Oos-Kaap en Lesotho kom en word gehuisves in enkelgeslag-hostelle, soms met tot 10 mense per feitlik geen minerale en vitamine bevat nie, is basies al wat hulle elke dag te ete kry. Vars groente en vrugte is nie op die spyskaart nie.

Vuilgoeduittrekkers, meestal vroue van die omliggende gemeenskappe, word deur die maatskappye op ’n seisoengrondslag gehuur en moet ’n gebied van 22 vk.m vir R19 per dag.

Hulle kry ’n kwart brood en tee in die oggend en “amaheu” (‘n brousel wat van gissende mieliemeel gemaak word) om hulle aan die gang te hou in die dag. Toilette, beskermende klere en water word nie verskaf nie.

Dit is maar ’n paar van die standaarde wat daargestel is deur die belangrikste suikermaatskappye wat in die 1999-boekjaar meer as ’n HALFBILJOEN rand gemaak het.

Op private plase wissel die werkers se take en kan hul lone selfs laer wees. Werkers op Wynston kry ’n maandelikse loon van R480, ongeag die taak. Hiervan kan die boer tot R200 aftrek vir kos en alkohol.

Bewyse oor die impak van MIV/vigs op besigheid in Suid-Afrika suggereer dat “die koste van die siekte sal afhang van die soort maatskappy, die vaardigheidsvlakke en die vervangbaarheid van die werkers, die afdeling waarin hulle funksioneer en die voordele wat dit verskaf”. Nywerhede wat arbeidsintensief is en op trekarbeiders steun, sal die ergste geraak word.

Volgens ’n onlangse artikel in AIDS Analysis Africa, is “werker- en afdelingproduktiwiteit direk beïnvloedbaar deur die faktore wat bydra tot MIV-oordrag en die meegaande sterftesyfer”.

Dié faktore sluit aspekte in soos die rotasie van seisoensarbeid, ‘n gebrek aan gemeenskapseenheid, geslagsverhoudings, kultuur- en oorlewingstrategieë, ’n gebrek aan opvoeding- en ontspanningsgeriewe
en ’n gebrek aan toegang tot die behandeling van seksueel oordraagbare siektes.

‘n Ander artikel oor MIV/vigs en ontwikkeling wat deur UNAIDS gepubliseer is, haal ’n suikerplantasie-woordvoerder iewers in Afrika aan. Hulle kwantifiseer die gevolge van MIV-besmetting soos volg: “8 000 werkerdae gaan oor vier jaar verlore; 50% vermindering in die produksie van suiker; ’n vyfvoudige toename in begrafnisse die afgelope agt jaar; ’n tienvoudige toename in die koste van gesondheid en ’n driekwart van alle siektes kan teruggevoer word na MIV-besmetting”.

Die korporatiewe reuse van die Suid-Afrikaanse suikerbedryf het wel ag geslaan op dié statistieke.

Tongaat-Hulett en Illovo het elk ‘n MIV/vigsbeleid en -riglyne wat tred hou met die Arbeidswet. Die maatskappye het loodsprojekte oor MIV/vigs by Maidstone en Umfolozi gehad. Die programme bereik volgens die bestuurs- en mediese personeel van albei maatskappye werkers by suikermeulens regoor KwaZulu-Natal.

Kondoomverspreiding en opvoeding by Illovo se Umfolozi-meule het tot gevolg gehad dat die getal seksueel oordraagbare siektes afgeneem het van 40 in 1998 tot net vyf vanjaar, sê dr. Shaun Cheevers. Hy sê die meule- en landbouwerkers by Illovo het toegang tot gratis mediese behandeling, berading en vrywillige toetsing vir MIV en basiese behandeling.

Vrae oor die voorwaardes vir indiensneming en lewenstyl van die laer-strata-werkers en die impak van dié faktore op die voorkoms van MIV word eenkant toe gevee deur Cheevers.

“Daar is geen wetenskaplike bewyse wat die argument bevestig dat verbeterde toestande die epidemie sal stop nie,” sê hy.

Ondanks bewerings van die Illovo-werkers en vakbondleiers dat daar min inligting oor MIV/vigs en feitlik geen toegang is tot die maatskappy se klinieke vir die landbouwerkers nie, prys Cheevers Illovo se MIV/vigs-program as “progressief binne die bedryf”. Hy voeg by dat “dit hartseer is as dit nie die opvatting van die werkers en vakbond is nie”.

Vreemd genoeg is die progressiewe MIV/vigs-program by Umfolozi nie oop vir openbare ondersoek nie. ’n Speletjie van groen- en rooilig begin wanneer toestemming gevra word om die geriewe te besigtig. Uiteindelik word toestemming geweier omdat dié wat toestemming kan gee, nie in die land is nie.

’n Soortgelyke gebrek aan vertroue ontstaan by Tongaat-Hulett. Die bestuurder: nywerheidsverhoudings vir die suikerafdeling, Alan Fuggle, meen ’n slegte verhouding met die sakepers is die rede waarom toestemming nie gegee kan word om die MIV/vigs-program se geriewe by die Maidstone-meule te besigtig nie. Nie eens die mediese personeel wat die program bestuur, is bereid om sonder die toestemming van die uitvoerende hoof te praat nie.

Ondanks die kat-en-muis-speletjie meen Fuggle die maatskappy is deeglik bewus daarvan dat vigs “’n menslike tragedie is”.Hy voeg by dat dit hul werk is om te verseker dat die werknemers, van nywerheid- en landboukant, die beste inligting en voorkomingsmaatreëls vir MIV/vigs gebied word.

Hy vra die vraag oor waar die verantwoordelikheid van die bedryf begin en eindig en sê hy het geen geloof in die staat om die pandemie aan te pak nie. So ondeurdag en chaoties soos die regering se inmenging rondom MIV/vigs-kwessies was, is dit duidelik dat Fuggle se poging om die blaam te verskuif, pateties is.

In ’n land waar die staat probeer om met beperkte arbeidskragte miljoene te bereik, is dit juis nodig dat ’n groot verantwoordelikheid op die skouers van sake rus, veral grotes. Dit is hul taak om empaties teenoor die pandemie te wees.

Die suikerbedryf, wat die plantasies en meulenaars insluit, verteenwoordig een van die grootste werkgewers vir die ongeskoolde en semi-geskoolde werkers in KwaZulu-Natal. Ongeag bewerings van krimpende winste, oornames en so meer, is die bedryf beslis nie op pad om skielik dood neer te slaan nie. Vir die tweede jaar ná mekaar word ’n groot oes verwag en die suikerprys het verstewig.

Fuggle meen MIV/vigs het tot nog toe ’n onbeduidende invloed op die suikerbedryf gehad – dit selfs in lande soos Zimbabwe waar die pandemie verder ontwikkel het. Dit is waarskynlik omdat dit nie ’n gevorderde bedryf is nie en werkers maklik vervangbaar is.

Landbou geniet ook nie ’n hoë prioriteit as onderneming nie. Tongaat-Hulett verkoop nou die meeste van hul suikerplantasies aan opkomende swart entrepreneurs en diversifiseer sy belange. Illovo volg dié tendens. Fuggle benadruk gou dat dit nie ’n aanduiding is dat Tongaat-Hulett nie omgee vir die menslike tragedie wat wag om te gebeur nie.

Tog is die onderliggende boodskap duidelik: totdat MIV/vigs nie ‘n negatiewe impak op wins het nie, bestaan dit nie vir sake nie.

Op die suikerrietplase het ’n ander bekommernis kop begin uitsteek. Volgens Roger Steward, ’n vierdegenerasie suikerrietplanter en huidige voorsitter van die Suikerrietkwekersvereniging, is MIV/vigs nie die belangrikste item op boere se agenda nie. Boere is nou baie meer bekommerd oor die landmyne wat in die nuwe arbeidswetgewing verskuil is.

Ná ’n oorsig van die MIV/vigs-opvoedingsprogram in 1994 het Sasa (South African Sugar Association), wat die meulens én die planters verteenwoordig, besluit die fokus op die epidemie moet skuif weens die herstrukturering van meulens en planters. Laasgenoemde twee partye is nou self verantwoordelik vir MIV/vigs-opvoeding en voorkomingsprogramme.

Dit is duidelik dat hulle traag was om die uitdaging te aanvaar. Steward, ’n model – grootskaalse boer wat heelwat meegevoel het met die leeftoestande van sy 400 werkers, doen baie min wat betref MIV/vigs. Kondome word uitgedeel, maar nie hy of die personeelbeampte, Sihle Nkomo, kan ’n aanduiding gee van presies hoeveel reeds uitgedeel is nie.

Hulle is ook vaag oor die tipe siektes wat die plaaswerkers kry. Nkomo stel voor dat die “snuffels” ’n algemene toestand is en Steward gee toe dat TB sommige kan affekteer.

“TB doen al jare lank die ronde.”

Een MIV/vigs-werksessie van die Departement van Gesondheid is ná werkure op die plaas gehou. Nkomo sê dit was nie suksesvol nie, want die werkers is nog vasgevang in ’n kultuur van ontkenning. MIV/vigs is nie deel van die plaasskool se kurrikulum nie.

“Dit,” sê Steward, “is die verantwoordelikheid van die Departement
van Gesondheid.”

Steward stem uiteindelik in om “issue burnout” en die kommerwekkende gebrek aan rigting van die regering se kant af die skuld te gee waarom hy so min doen. Hy kan ook nie iets sê oor wat die ander boere doen nie.

Die Suikerrietkwekersvereniging kan ook nie.

As Steward se plaas ’n modelplaas is en sy antwoorde ten opsigte van MIV/vigs die beste is wat ’n mens kan kry, is die toekoms van die landbouwerkers in die suikerbedryf in KwaZulu-Natal allesbehalwe
rooskleurig.

 

About author

Articles

Short bio on DEKAT here...
Related posts
Argiewe

Dooie duikers deel nie

Hierdie artikel her oorspronklik in die 2002 Lente uitgawe van DEKAT verskyn. Met ’n gegrom kom…
Read more
ArgieweKuns

Art on the move

Artist and lecturer Gordon Froud spent a month at the Ebenezer Estate in Plettenberg Bay as an…
Read more
Argiewe

Chris in colour

July/August 2013 issue. Apart from being a music prodigy, the endlessly creative Chris Chameleon…
Read more
Newsletter
Become a Trendsetter

Sign up for DEKAT's newsletter and get the best of DEKAT, tailored for you.