AGTERPLAAS MET STYL

Dis dalk die antitese van ’n winkelsentrum of ’n klap in die gesig van die verbruikerskultuur, maar VICTORIA YARDS in Johannesburg is beslis ’n unieke konsep.

AGTERPLAAS MET STYL

Photography

Dis dalk die antitese van ’n winkelsentrum of ’n klap in die gesig van die verbruikerskultuur, maar Victoria Yards in Johannesburg is beslis ’n unieke konsep.

Antieke ruïnes is ooglopend bewarenswaardig, maar dit vereis ’n spesiale oog, instelling en gesindheid om potensiaal in stedelike verval, veral in ’n jong stad soos Johannesburg, raak te sien.

Met Victoria Yards in Lorentzville, Johannesburg, het Brian Green iets gesien wat sekerlike min ander sou raaksien – ’n plek wat weer lewe kan kry, en ’n lewe en hoop kan gee aan baie arm en werklose mense wat in die omgewing bly.

Lorentzville, Bezuidenhoutvallei, Bertrams is voorstede wat vroeër huisvesting aan meestal die werkersklas gebied het. Bezvalley was veral ’n Joodse buurt en Sol Kerzner (of die Sonkoning soos hy op sy dag bekend gestaan het) het daar gewoon, daarna wat dit gewild onder Portugese – daar’s ’n Katolieke kerk en vroeër was daar ’n Katolieke kloosterskool in die omgewing.

Nou het Green Victoria Yards begin – die plek was besaai met skrootwerwe en “chop shops” en was voorheen gesoneer as ’n area vir ligte industriële bedrywe. Dit was so vervalle en vuil dat die rommel byna onmeetbare afmetings aangeneem het. Net die skoonmaaktaak was al klaar iets wat die meeste mense sou laat weghardloop, maar stap nou deur die hekke en ’n wonderwêreld gaan voor jou oop.

Dit is asof ’n mens terugstap in die verlede as jy Victoria Yards betree, die sogenaamde “high street” lê voor jou. Daar’s ‘n kuierplek, maar hulle brou hul eie Impi-bier, jy kan ’n paar jeans koop, maar dit word volgens jou mate vir jou gemaak. Daar’s ’n koffiekroeg, maar die groen koffieboontjies word daar gerooster, vermeng en gemaal, voor jy jou stomende koppie koffie kry – boonop bak hulle hul eie brood.

Daar’s nie blomme en sierstruike in die beddings voor die winkels nie, maar groente wat uit hul nate bars – yslike koopkoppe, glansende spinasie, allerhande kruie en vrugtebome wat oral begin bot – ek het ’n amandelboom, pere, perskes, appelkose, appels opgemerk.

En soos in ’n outydse dorpie is daar nou wel nie ’n smid nie, maar wel ’n glasblaser, metaalwerker en skrynwerkers.

Brian Green is ernstig oor herwinning en om wat nog bruikbaar is, te benut. Die bedekkings vir gas- en ander pype buitekant geboue is van ou, verroeste sinkplate, werkswinkels en winkels het nie plafonne of ingevoerde Italiaanse vloerteëls nie, maar sommer sement en dit lyk presies reg in dié omgewing. Green sê vir hulle is die koste per m² is sowat R1 500 teenoor die ongeveer R7 000 wat boukoste deesdae behels.

“Ek is al anti-winkelsentrum genoem, maar hulle is bietjie soos casino’s – dit trek jou in, daar is g’n siel in dié plekke nie en jy bestee geld op goed met geen waarde nie en wat jy ook nie eintlik wil hê nie. Soos die wêreld ontwikkel, is mense besig om alles stadiger te vat, en die koffie te ruik, met die besef dat daar meer is in die lewe as dié aaklige winkelsentrums, en deesdae verwag mense meer van hul interaksie met openbare ruimtes.” Victoria Yards is ’n buitenshuise winkelsentrum bevolk met mense wat regtig hou van wat hulle doen.

“Ek het dit nog nooit gesien as winkelspasie nie, vir my was dit ’n plek om goed te laat groei, waar ambagsmense werk en die ruimte verhuur kan word vir musiek of teater. Die hart en middelpunt is ’n lewensvatbare mark en ons is op pad daarheen, maar dit vereis baie kliënttevredenheid. Ons beoog ’n forum van groentekwekers in die gebied met gratis spasie vir die mense van die omgewing om hul produkte te verkoop.

“Hulle bring hul produkte in die naweek om te verkoop. Ons wil ook graag een groot verkooparea skep waar die ambagsmense in die ateljees hul werk kan verkoop.

“Nou het ons elke eerste Sondag van die maand ’n oop dag en jy kan ’n artisan bier, of jenewer geniet of ’n lekker ete by Food You Love geniet. Jy kan ronddwaal en leerbaadjies, handsakke, jeans, groete, houtwerk, juweliersware of glasware by die ateljees bekyk of koop.

“Dis vir my belangrik dat dié plek organies moet groei en sy eie voete moet vind, daar was dus nie ’n groot kontant-inspuiting nie en ons vind ons pad soos wat ons aangaan met ’n lae uitrol. Basies word die plek met baie min mense aan die gang gehou, dis Charne, my assistent, en ’n huuronwikkelaar. Baie min word neergeskryf wat betref planne en beplanning, ons gesels meer oor dinge, maar ons het rekenmeesters en professionele mense in die agtergrond indien ons hulle benodig, andersins gaan ons voort met ons eie geld.”

Green vertel hy was vroeër ’n kameraman en dat hy “skaars matriek gemaak het”, dat hy nie gekwalifiseerd is vir die werk as eiendomsontwikkelaar wat hy nou doen nie. Maar dat ons as “bevoorregte Suid-Afrikaners verantwoordelikheid moet neem deur ander te help waar ons ook al kan, om mens hoop te gee veral wat onderwys betref, waarvan dié land regtig ’n gemors gemaak het.”

Hy glo dat te veel mense universiteit toe wil gaan en dokters wil word terwyl hulle byvoorbeeld wiskunde hopeloos gedop het, “terwyl geen aandag gegee word nie aan groot groepe wat skaars onderwys ontvang het, maar hulle is mense wat bronne kan wees, soos tuiniers, sweisers, hulle kan met hout werk of kunstenaars wees – hulle is nie nutteloos nie.” Die werkers by Victoria Yards word opgelei om verskeie vaardighede te bemeester – hulle begin as tuiniers, maar leer dan byvoorbeeld om te sweis, te messel, vensters in te sit.

“Die eerste keer toe ek na dié eiendom gekom het, het dit my opgeval dat die mense arm en werkloos was, en die grootte van die plek en die soort ruimte wat dit was, het my dadelik aan voedselsekerheid laat dink.” Die plan was om die grond, wat uiters arm en verwaarloos was te voed en hulle het die Bokashi-metode in werking gestel – ’n proses waardeur kombuisafval verwerk word in ’n “tee” wat ryk aan voedingstowwe vir plante is. Die hele proses word op die eiendom voltooi, met mense wat houtskool van ou planke maak en die saagsels van die skrynwerkers, en kombuisafval op die perseel wat gebruik word – herwinning weer eens. Die gevolg is uiters vrugbare grond en pragtige, gesonde groente in die tuin.

Daar lê nog baie werk voor waarvan een ’n projek is om die Juskeirivier, wat naby Ellispark ontspring en verby die Victoria Yards vloei, skoon te maak en te herwin. Hannelie Coetzee is in beheer daarvan en begin in Januarie volgende jaar om dit met wetenskaplike metodes aan te pak.

Intussen het 40 besighede hulle reeds hier gevestig, en daar’s nog baie plek vir baie meer.

Green sê hy is dol op verval en sien dadelik die moontlikhede van sulke plekke in. Hy vertel dat 44 Stanley, ’n buitelug winkelsentrum in Braamfontein Werf wat hy ook ontwikkel het, in algehele verval was toe hy dit aangepak het. Deesdae is dit ’n plek waar jy heerlik onder olyfbome kan eet en buitengewone winkels kan besoek. Volgens hom is daar nog baie werk by Victoria Yards, dit gaan nog lank vat, maar hulle is nie haastig nie, en as 44 Stanley ‘n maatstaf is, gaan die Yards in die volgende jare ’n plek word waar mense van heinde en ver gaan kom om tyd te spandeer, rond te loop en te snuffel, en miskien iets regtig besonders te koop.

Wat jy kan koop en sien

Augustine, met Justine Augustine aan die stuur, het ’n oorspronklike konsepwinkel, sy verkoop produkte met die veganmark in gedagte. Haar handsakke en beursies is van kurk, nie leer nie, sy verkoop ook baadjies van fopleer (pleather), wat volgens die koper se mate gemaak word.

Foalkes, die koffiewinkel, is ook uitsonderlike want hulle koop groen koffieboontjies wat hulle voor jou oë rooster, vermeng en maal – varser koffie sal jy beswaarlik êrens anders kry.

Young Bucks, verkoop handgemaakte notaboekies in verskeie groottes en in klein boksies van vier elk. Die papier is herwonne papier.

’n Aantal bekende kunstenaars het ateljees by Victoria Yards en sluit in Blessing Ngobeni, Ayanda Mabulu, James Delaney, Roger Ballen en Pieter Mamas. Die Daville Baillie Galery het ook van Norwood verskuif en stal werk van kontemporêr Suid-Afrikaanse kunstenaars uit sowel as van die ouer Suid-Afrikaanse kunstenaars met ook Matthew Krouse, voormalige kunsjoernalis se boekwinkel wat ‘n goeie verskeidenheid kuns- en ander boeke verkoop.

By die Impi-bierbrouery kan jy saam met ’n heerlike artisan-bier ook ’n pizza geniet

Werkswinkels van ambagsmense sluit in die meubelateljee van David Krynauw, die Smelt glasateljee, waar jy kan sien hoe glas geblaas word, maar ook lesse in glasmaak kan volg. Of Sarah Cronin Designs, ’n metaalsmid wat met koper en rooikoper werk. Haar stukke is geïnspireer deur die flora van Afrika en sy maak veral beligting en fonteintjies vir visdammetjies. Al haar werk word individueel ontwerp en gemaak en sy werk in opdrag van kliënte se vereistes. Helene Thomas, ’n Franse juwelier se ateljee Yol,  het uitsonderlike handgemaakte juweliersware. Sy noem haarself ‘’n nomadejuwelier en kombineer tradisionele Afrika-kralewerk met kontemporêre ontwerpe.

Dan is daar Tshepo The Jean Maker se ateljee waar jy wel jeans van die rak kan koop, maar ook jeans volgens jou mate kan bestel – egte Joburg-ontwerpte jeans

Coote and Wench Design Company maak meubels van industriële onderdele en spesialiseer in die herwinning en hergebruik van antieke en periodeartikels wat oorgemaak word sodat dit bruikbare gebruiksartikels en dekoratiewe stukke is. Hulle maak meestal ligte en beligting wat elkeen uniek is en die staanlampe wat hulle op ’n driepoot monteer, met ou soek- en kolligte, is uitsonderlik.