Adriaan Boshoff-museum

Teen die hange van die Magaliesberg, in die welige Francolin-Bewaria, het die werk van Suid-Afrikaanse impressionis Afdriaan Boshoff ’n permanente ere-tuiste gekry. In die rustigheid van die Krokodilriviervallei waarvoor hy ’n groot liefde gehad en sy laaste jare verwyl het, hang 140 van sy werke in etlike elegante vertrekke—die Adriaan Boshoff Museum.

Die  swaar deure van die eerste voltooide vleuel van die Francolin-museumkompleks is Vrydag 15 en Saterdag 16 Maart geopen. Die eienaar van die befaamde Orient Hotel en Mosaic-restaurant in hierdie bewaria, Cobus du Plessis, het die rooi lint saam met sy lewensmaat, Marie Dartnall en die seun van die kunstenaar, Adriaan Boshoff Jnr gesny.

Cobus, Marie en haar dogter Chantel (wêreldbekroonde chef en ’n bekende gesig op DEKATv) is geesdriftige kunsliefhebbers en -versamelaars en jare lank al bekend met Boshoff, sy werk en sy familie. “Adriaan Boshoff was eintlik ’n storieverteller,” sê Cobus,wat altesame 500 werke van Boshoff het.

Sy skilderye verbeeld stories van gekoesterde kinders, die nostalgie van landskappe, die emosie van ’n vol snoekboot, ’n kudde beeste of ’n touleier, die eenvoudige genot van ’n bos blomme, ’n eier of ’n boksie vuurhoutjies.

“My pa het ’n swaar kinderlewe gehad — dié dat hy die donker daarvan altyd wou wegverf,” sê Adriaan Boshoff Jnr. “Hy was uiters nederig, total onmaterialisties en eintlik nomadies. Die roerende laaste skildery waarmee hy tydens sy dood (op 72) in 2007 besig was, “Strate van my Jeug” het nog van die donker ondertone waarvan sy seun praat. Adriaan Jnr sê sy ma Anita (’n nooi Barnard)was altyd besig om hom aan te moedig om te skilder, al was verf met tye eintlik te duur om te koop. Vandag behaal die skilderye hoë pryse op veilings.

Die omlysting en kader van hierdie museum spreek wyd van elegansie. As ’n mens deur die vensters na buite kyk, kan jy jou verbeel dit is ’n oase in Marrakesh of die Alhambra in Granada self. En om dit te kroon, is Franse sjampanje bedien met delikate amuses bouches soos wat net Chantel dit kan bedink en skep.

In die gronde is daar reeds ’n indrukwekkende museum ter ere van die beeldhouer Tienie Pritchard. En op die boonste vlak van die nuwe museumkompleks, sal besoekers ook ter tyd die werke van ander  Suid-Afrikaanse impressioniste soos Alexander Rose-Innes,Gregoire, Hennie Meyer, Hugo Naudé, Tito Fasciotti, William Timlin, Gwelo Goodman en Terence McCaw kan waardeer.

Renée Rautenbach Conradie

By |2019-03-20T16:23:09+02:00March 20th, 2019|Uncategorized|