Zuma op my stoep

Hand om die blaas met Zuma
Geskryf deur Karin Brynard

Vir grapmaker Leon Schuster noem hy “my brother”, vir troebadoer Steve Hofmeyr “die nuwe stem van die Afrikaner” en Sean Else se liedjie “De la Rey” beskryf hy as “catchy”. En as Jacob Zuma wil braaivleis hou met die Boere, is dit súlke Afrikaners wat hy nooi.

Dis vroegherfs in Johannesburg. So ‘n loom, goue middag in die lowerryke Houghton: rye-rye Plataanbome wat traag skietgee aan die afsterf van die somer en in stippels geel en oukoper uitsak in die breë, stil lanings. Van veraf dring die suising van die stadsverkeer deur, soos die branding van ‘n woedende oseaan agter die onsigbare dyke van die rykmansbuurt. En uit die rigting van Alexandra se swart krotbuurte dryf die rook van derduisende vuurtjies, kom hang skoorvoetend in die gekrulde tralies van die buurt se swaar gietysterhekke.

Agter een van hierdie swierige hekke, in die tuin van ‘n smaakvolle gastehuis, staan ‘n groepie Afrikaners drankie-in-die-hand en wag op Jacob Zuma, die afgesette adjunk-president van die land en omstrede ANC-leier. Hulle trap onseker rond, praat gedemp onder mekaar en bespiegel oor die aand wat voorlê, een oog altoos op die groot hekke vanwaar die eregas moet kom.

Dan is hy skielik daar, ‘n onopvallende figuur, verdwerg tussen ‘n tienstuks bonkige lyfwagte wat vir hom ‘n pad oopmaak deur plante wat oorlams in die leiklip-tuinpaadjie inhang. Iemand ontvang hom by sy stroewe bewakers en stel hom voor aan die wagtendes: Steve Hofmeyr, die sanger cum volksvegter, Dan Roodt, skrywer en taalbul, Kallie Kriel, leier van die wit vakbond Solidariteit en die drukgroep Afriforum, Leon Schuster, maker van films soos There’s a Zoeloe on my stoep en Mama Jack en Sean Else, medeskepper van die veelbesproke liedjie De la Rey. Die res van die geselskap bestaan uit ‘n handvol lesers van De Kat, wat die geleentheid gereël het.

Zuma groet elkeen: Breë glimlag, dawerende lag as iemand iets snaakserig sê. Meneer charisma. Jy sien vinnig hoekom noem sy volgelinge hom die “man van die mense,” die koerante hom ‘n “populis.”

Hy straal broederlike warmte uit – iemand wat jou onmag ken, jou vrees en frustrasie wil salf. Ja hy, Jacob Gedleyihlekisa Zuma, wie se pad boontoe, na die die land se presidentskap, tot onlangs nog met rose besaai was. Maar skielik, twee jaar gelede, hard na benede gedonder het toe hy summier in die pad gesteek is weens beweerde korrupsie. Daarna, toe hy aangekla is van verkragting op ‘n ou familievriend se bloedjong dogter. En vrygespreek is. Maar nie sonder dat sy embarraserende onkunde oor Vigs en bedenklike morele gedrag nie aan die ganse internasionele grootklok gehang is nie. Intussen hang die aanklagte oor korrupsie soos ‘n swaard oor sy kop.

Enige ander gewone siel sou lankal geknak het, maar nie Zuma nie. Noem hom dof. Of dapper. Maar ónder kry jy hom blykbaar nie, soos president Thabo Mbeki al deeglik agter gekom het. Met elke nuwe aantyging teen Zuma, raak sy volgelinge meer oortuig dat hy die slagoffer is van ‘n onderduimse kampanje om hom in die ANC se leierskapstryd te elimineer. Maar Zuma het sy visier vierkantig op die presidentskap – en hy baklei terug met alles wat hy het.

Hy korrel veral op die areas waar Mbeki se grootste swakhede lê – sy koue afsydigheid, intellektuele ivoortorings, ontkenning van Vigs en die misdaadkrisis in die land. En dis waar die Afrikaners seer sekerlik by die prentjie inkom: sy uitreik na hulle hou die spieël op vir Zuma: ‘vriend van die gewone man,’ sélfs die Afrikaner.

Maar hoekom juis dié lot? Waar’s die Max du Preez’s, die Van Zyl Slabberts, of selfs die manne van die FAK? Nee, beduie iemand van Zuma se kantoor. Hy’t bloot hierdie klompie genooi omdat dit mense is wat in die onlangse tyd met hom probeer kontak maak het. Dis al Afrikanername op sy boeke. En buitendien beskou hy hulle ook toevallig as die “gesig” van die “gewone mense” onder wit Afrikaanssprekendes.

Hy gaan poseer laggend saam met Schuster en Hofmeyr vir koerantfotograwe by die braaivleisvuur, braaitang in die hand, vertel op ernstiger noot aan joernaliste dat hy groot waardering het vir die Afrikaner: “Hulle is bietjie soos die Zoeloes, hulle draai nie doekies om nie. Die Afrikaner het ‘n besonderse geskiedenis in hierdie land. Nes die Zoeloes, het hulle teenwoordigheid hierdie land vorm gegee. Of ons nou oor die politiek of die ekonomie praat, hulle het ‘n kritieke rol gespeel. En hulle bly ‘n belangrike faktor in die geskiedenis. Selfs al wil jy hulle kruisig oor Apartheid. Want ook dáármee het hulle vorm gegee aan hierdie land soos hy is.”

Hy lag met oorgawe as ‘n joernalis hom vra of Sean Else nie maar vir hom ook ‘n liedjie moet skryf nie. “Nee, nee, nee. Julle joernaliste verstaan daai liedjie heeltemal verkeerd. Dis nie ‘n oorlogsliedjie nie. Dis ‘n gewone Afrikaanse liedjie oor dapperheid en ‘n held uit die geskiedenis. Julle wil te veel politiek daaraan knoop.”

Ken hy dan die liedjie, wil iemand weet?

“Nee, nie juis nie,” bieg hy, het het dit nog net “soort van” gehoor. Maar dit was genoeg om hom te oortuig dat daar niks kwaadwilligs of polities oproerig agter die liedjie skuil nie. Dis soos Awuleth’ Umshini Wami (bring my masjiengeweer), die strydlied wat met hom geassosieer word, merk hy later op. Gewoon net ‘n “catchy tune.”

Maar De la Rey verwoord miskien ‘n sentiment wat begin posvat by die jonger geslag, waarsku hy. “Toe ek onlangs vir Steve (Hofmeyr) ontmoet, het ek bewus geword van die groeiende gevoel van frustrasie onder Afrikaners. Mense dink dit voorspel oorlog, maar moenie glo nie. Al wat dit beteken is dat die Afrikaners nie langer terugsit en sê ons betaal maar vir die sonde van Apartheid nie. Nee. Hulle sê, kyk, hier is ons. Ons gaan nêrens nie. So kom ons definieer wie ons is.

“En dis presies hieroor dat daar meer gesprek gevoer moet word tussen ons. Mandela het destyds nog uit sy pad gegaan om sulke gesprekke aan die gang te hou. En hiermee wil ek niemand kritiseer nie. Maar ons moet weer praat.”

‘n Skraal, intense man gryp die versigtig-verdoeselde kritiek teen Mbeki aan. Hy’s ‘n sjirurg, wat as De Kat-leser die braaivleis bywoon. Wie gaan ons volgende president wees, vra hy. Ons moet weet.

Zuma lag asof dit die beste Vannermerwe-grappie is wat hy in jare gehoor het. Dan verduidelik hy breedvoerig hoe die lang, ingewikkelde verkiesingsprosesse binne die ANC werk.

Die sjirurg besluit halfpad deur die verduideliking om maar liewers iets anders te vra: die Afrikaner voel uitgesonder as slagoffer in die nuwe politieke bedeling. Wat sal u daaraan kan doen?

Zuma antwoord entoesiasties, oënskynlik verlig dat die presidentskapstryd vir eers laat staan is. “Jy sien,” sê hy vaderlik, “dis presies die rede waarom ek in my hart glo dat interaksie so belangrik is. Vat nou die taalkwessie, byvoorbeeld. Die Afrikaner kom uit ‘n lang geskiedenis van stryd met die Engelse en die Engelse taal. En toe hulle die politieke mag kry, word Afrikaans met opset bevoordeel om gelyk met Engels te kom. En so was daar uiteindelik net twee amptelike tale. Al die ander tale in die land is geïgnoreer.”

Dit word ‘n lang, en by tye baie wollerige antwoord, deurgans beleefd. Maar subtiel vertel hy eintlik die man waar Dawid die wortels begrawe het. Hoe die ANC elf amptelike landstale staangemaak het. En dat die Afrikaners se gevoel dat hul taal onderdruk word, ‘n persepsie is. “Dis die tweede grootste taal in die land! So, daar’s geen manier waarop jy dit kan ondergrawe nie, daar’s eenvoudig te veel mense wat dit praat.”

Die sjirurg knik met onsekerheid in sy oë, nie seker of dit nou juis die antwoord is wat hy wou gehad het nie.

En dan is dit etenstyd en moet almal gaan opskep. Tydens die skeppery vertel Zuma dat hy as oudste kind vir sy weduwee-ma moes instaan terwyl dié huisbediendewerk gedoen het. Hy moes sy jonger broers versorg, kosgee, water aandra vir kook en bad – vrouewerk. Hy’t geen geleerdheid nie, want hy moes vroeg uit die skool uit om te help geld inbring – aanvanklik met tuinwerk vir meer gegoede mense in Cato Manor, die Indiër woonbuurt buite Durban, waar sy ma gewerk het.

Terug by die tafel vertel hy hoe sy maats het hom gespot het oor die ‘meisiewerk’ wat hy tuis moes doen. Maar in die tradisionele Zoeloe stokgevegte het hulle hom gou leer respekteer, voeg hy by. “Ek kon die houe vat. Maar ek kon ook uitdeel. Jy kry my nie maklik onder nie. En dis die soort ding wat my gevorm het tot wat ek vandag is. My (politieke) kollegas weet dit maar alte goed. Wie ookal vir my aanvat, gaan baie hard moet baklei, want dis nie maklik om my rond te stoot nie.”

Leon Schuster kom sit langs hom en Zuma raak kinderlik opgewonde. “My held, my held, my broer,” straal hy deur ‘n mond vol boerewors en pap.

Meneer Zuma, ek wil my eie politieke party stig as Mama Jack. Maar as hulle weet ek is wit, sal die mense nog steeds vir my stem?

“Hulle sal, my broer, hulle sal. Eish, Mama Jack!” Hy lag tot hy stik. “Jy moet weet, sedert my kinders klein was, het ek vir hulle jou goed gekoop.”

Ek kyk na jou ook op TV, spot Schuster terug en Zuma lê skuins van die lag. Maar u weet, die movies kry mense bymekaar. Hulle lag saam en agterna praat hulle daaroor. Ek wens daar was meer geleenthede soos daai.

“Absoluut, my broer, absoluut. Ek stem heeltemal saam,” sê Zuma gelukkig en werk ‘n stewige stuk steak weg.

Om te lag is ‘n verenigende ding, hou Schuster vol.

“Absoluut, absoluut. Ons het al jou movies gekyk in die tyd van die struggle.”

Dan Roodt kom sit sy bord langs Zuma neer en stuur die gesprek in ‘n meer sober rigting: Hoe dikwels sien u die ander senior mense in die ANC, wil hy in ‘n keurige, warm-aartappel-in-die-mond-Engels weet.

Zuma antwoord glad en gemaklik: elke week. “En een maal ‘n maand sien ek die president, die adjunk-president, die sekretaris-generaal, die tesourier.” Hy tel hulle een-een af met blink vingers. “Ons ontmoet by Luthuli House (die ANC-hoofkantoor in Johannesburg). Ek was juis vandag daar in ‘n vergadering met President Mbeki en ander amptenare.”

Nou maar is daar enige besonderse bespreking van die Afrikaner? Geniet hulle veel van die besprekingstyd?

Zuma sit diplomaties terug in sy stoel en vee sy mond en hande deeglik en tydsaam af.

“Nee,” sê hy dan, “eintlik nie.”

Roodt: Ek het onlangs ‘n verslag oor grondhervorming gelees, waarin daar na die Afrikaner verwys word as ‘setlars’. En dat ons teenwoordigheid hier nie permanent is nie.

“U-huh?” is al respons op die pyngedrewe vraag.

Roodt: Ja, ons besitreg sal ophou om te bestaan.

“Dis baie vreemd,” sê Zuma met opregte onskuld op sy gesig.

Roodt: Stem u daarmee saam?

“O, nee. Ons was reg van die begin af baie duidelik daaroor dat alle grondkwessie op ordentlike wyse hanteer moet word – nie soos in sommige ander lande nie. Maar oor die woord ‘setlars’. Jy weet, ek het eintlik nog net die woord in die geskiedkundige konteks gehoor …”

Roodt: President Mbeki het self op ‘n kol na ons verwys as ‘the setlars who didn’t depart.’

Zuma lag asof Dan iets baie stuitigs kwytgeraak het. “Is dit so?” vra hy ongelowig.

Roodt: Ja, in 2 000.

“Uh-huh?”

Sean Else kom onwetend tot Zuma se redding. Hy’t die woord “setlar” gehoor en val oorgehaal in Roodt en Zuma se sop: Wat maak van mens ‘n Afrikaan? As jy hierdie land teen ‘n Westerse mag verdedig het, maak dit jou tog sekerlik ‘n Afrikaan?

“Absoluut, absoluut!”

Hoe oortuig jy dan mense daarvan dat die Afrikaner ook ‘n Afrikaan is? Die jong Afrikaners glo ten volle dat hulle hier hoort.

Zuma knik instemmend: “Die Afrikaner is anders as die ander wittes omdat hulle net een paspoort het. Die Jode kan Israel toe gaan, die Engelse na Engeland. Ek glo die Afrikaner hoort hier. Dis ‘n totale misvatting as mense anders sê. Dis net soos wanneer mense sê die liedjie De la Rey is ‘n oorlogsverklaring. Dis ‘n totale misverstand. Heeltemal. Dis net ‘n manier van sê ons hoort hier, ons het ons helde gehad, De la Rey was een van ons slim generaals. En waarom mag die Afrikaner nie trots wees op ‘n Afrikanergeneraal nie?”

Kritiek op die liedjie kom meesal van die ouer geslag Afrikaners, sê Sean Else, wat in ‘vrees leef oor wie en wat hulle is’. Hulle is al so dikwels vertel hoe verkeerd hulle in die verlede was, dat hulle polities nou oorkorrigeer. Enigiets wat effe patrioties klink, word dadelik verguis. Dit geld vir die ganse Afrikaanse media, raas hy.

Dan Roodt beaam. Nasionale Pers, vertel hy aan Zuma, is eintlik pro-Brits. Sy aanklag word egter onderbreek deur Leon Schuster, wat maak of hy ‘n koppie tee op Zuma uitstort. Zuma skrik aanvanklik lelik, gaan dan onbedaarlik aan die lag. Maar die pret is van korte duur, want Roodt vuur ‘n vraag oor regstellende aksie.

Zuma raak onmiddellik weer ernstig en Schuster drentel weg. Regstellende aksie was noodsaaklik, verduidlik hy versigtig, want apartheid was ekonomies sleg vir swartmense. Maar hy gee toe: Dalk word dit bietjie “oordoen”, dalk is daar nie “behoorlike toesig” oor die uitoefening daarvan nie. “My siening is dat daar ‘n geweldige gebrek aan kommunikasie oor probleme hiermee is.”

Iemand vra oor die kwotastelsel in besighede en Zuma sê hy glo dis baie verkeerd.

Roodt: En stem u saam met Minister Bridget Mabandla wat sê regstellende aksie gaan nooit tot ‘n end kom nie.

Zuma lag onbedaarlik, asof Roodt iets waansinnigs gesê het. “Nee, man, dit moet een of ander tyd eindig, dit moet. Anders as in die VSA, is swartes hier in die meerderheid en sal ongelykhede mettertyd natuurlikerwys verdwyn. Die beleid is dan uitgedien.”

Kallie Kriel het intussen nadergeskuif en vra hoekom die ANC se leiers nie meer daarin belangstel om met minderheidsgroepe soos die Afrikaners ‘gemeenskaplike gronde’ te vind nie. As ons oor kwessies soos geweld of die verandering van dorpe se name wil praat, word ons vir rassiste uitgekryt.

Zuma glimlag ondeund vir Kallie, wat vertel van die frustrasie wat hy beleef met Pallo Jordan, die Minister van Kuns en Kultuur, oor die naamsveranderingkwessie. Hy begin ‘n tandestokkie tussen sy tande inwerk. En wanneer hy klaar is, antwoord hy besadigd:

“Julle moet probeer verstaan. In die verlede was daar Verwoerd, die man wat Apartheid ingevoer het. John Vorster was een van sy ministers. En vir ons was hy ‘n monster. ‘n Monster!” Hy gaan af met die ry van premiers ná Vorster en noem die monsters op, tot by De Klerk wat hy as koud en verkramp beskryf tydens sy ministerskap. En dan lei hy die geselskap om na Pallo Jordan en verduidelik dat die man meer van ‘n akademikus is as ‘n politikus, dat hy vir Mbeki al vantevore probleme veroorsaak het met tradisionele leiers in die Oos-Kaap.

“Sy werk is om, indien daar mense is wat ongelukkig is, die saak na die Kabinet terug te vat. Eerder as om te sê dit kan hom nie skeel nie. Ek het in my gesprek met Steve besef daar’s ‘n gevoel dat Afrikaners uitgesonder word vir sekere aksies – dat dorpe met Engelse name byvoorbeeld uitgelos word.”

Kallie Kriel: Ek het daardie einste punt met Jordan geopper, maar hy sê die meeste naamsveranderings is aan swart dorpe. Maar voeg nie by dat dit bloot regstellings is van spelfoute in die swart name nie.

Zuma lag onbedaarlik. “Maar jy sien,” sê hy na ‘n ruk, “omdat die kwessie emosioneel is, sou ek, as ek die minister was, na my kollegas in die kabinet teruggaan en sê die burgers is ongelukkig.”

Kallie Kriel: As u president word, moet u ‘n ander minister van Kuns en Kultuur aanstel.

Zuma is weer hulpeloos van die lag. Daarna gaan hy in ‘n lang monoloog oor diversiteit en sensitiewe kwessies en die regte mense in die regte werk. Sy sinne is lank en vol versigtige, byna niksseggende frases. En dan kom hy skielik by sy punt: “Dis soos wanneer jy krieket speel en die vraag ontstaan wie moet vleuel (sic!) wees. Sou die ANC se lede my president maak, en ek dit aanvaar, een van die dinge waaraan ek natuurlik glo, is goeie verhoudings met mense. Ek sal besonder aandag skenk aan die verhoudings tussen verskillende groepe in SA, om te weet hoe mense voel, waar die raakpunte is. Ek sou nie daarvan hou as daar burgers is wat ongelukkig is nie. En dit verskil van groep tot groep: Daar’s die Kleurlinge in die Wes-Kaap, of die Jode of die Indiërs of die Vendas. Maar as die Zoeloes ongelukkig raak sal ek, as regering, regop sit en aandag gee. Want die Zoeloes is die Zoeloes. Dieselfde geld die Afrikaners. Daar’s ‘n geskiedenis van hierdie twee groeperings in hierdie land. Ek sal sê, kom ons praat – en nie net met die Afrikaner sake-elite nie.

Kallie Kriel: Mbeki praat net met die Afrikaner sake-elite. En hulle buig agteroor om te sorg dat hulle neste geveer bly.

Dan Roodt: Afrikaners voel uitgestoot, asof al die ander groepe in die land saamstaan teen hulle, insluitende die Zoeloes en die Indiërs. Ons staan buite in die koue. Dink u daar is ‘n toekoms waar ons weer deel kan raak van ‘n alliansie met ander, ons kundigheid kan deel, die ekonomie kan help bestuur, oorsese ambassades help beman?

Zuma kry nie kans om te antwoord nie, want Sean Else gryp Roodt spreekwoordelik aan die strot oor sy opvattings oor die Afrikaner. Jong Afrikaners, kap hy, het geen slagoffermentaliteit nie. Hulle kom uit ‘n entrepreneurs- en feeskultuur, bou hul eie besighede en leef hul taal uit op kutluurfeeste. En nog nooit het die Afrikaner dit finansieel beter gehad nie. Daar’s ‘n misdaadprobleem, ja, maar dis nie net Afrikaners se probleem nie. Almal ly daaronder.

Die twee raak hewiglik aan die stry oor slagoffers, verarmde Afrikaners, buitestaanders, misdaad.

“’n Slagoffermentaliteit is pateties,” hou Else vol.

“Ja,” sê Roodt en raak rooi in sy nek, “soos die 300 plaasmoord-slagoffers per jaar. Ons boere is die grootste slagoffers van almal in hierdie land. En almal weet: In die politiek is dit baie belangrik om ‘n slagoffer te wees. Dis die enigste manier om iewers te kom. Die enigste rede waarom die swartes vandag so magtig is, is omdat hulle hulself aan die res van die wêreld as slagoffers uitgewys het. Die Afrikaner moet leer om ‘n slagoffer te word.”

Kallie Kriel: “Hoe leer mens om ‘n slagoffer te word?” Hulle ignoreer hom.

Zuma sit die spulletjie geduldig en dophou, roer ingedagte sy rooibostee. In ‘n stadium kyk hy hoopvol in die rigting van Schuster, maar dié sit en praat oor movies maak met iemand anders. Oplaas gooi hy sy hande in die lug, die koppie tee wat gevaarlik kantel. “Hei!” roep hy die klomp laggend tot orde, “maar óns is eintlik die grootste slagoffers hier. Ek dink nie mens kan vergelyk, dit wat ek gevoel het as jongman, toe ek die eerste keer gearresteer is oor ek die aanklokreël saam met my girlfriend oortree het nie. Ek praat van wáre slagoffers. Vandag is daar geen enkelte wet wat enigiemand viktimiseer nie. Almal is gelyk voor die gereg. Daar mag regstellende aksie wees, maar dis ‘n poging om die onreg van die verlede reg te stel. En dit mag verkeerd geïmplimenteer word, en daaroor kan ons praat. Maar ek dink nie ons kan regtig sê die Afrikaners is slagoffers nie. As ons dit bespreek, mag ons ontdek dis glad nie so nie. Ons kan praat oor naamsverandering, maar histories is name verander en daar was nooit eens ‘n bespreking nie!”

So daar, eggo dit in die stilte na hy die klomp op hulle plek gesit het.

Dan wend hy hom tot Dan Roodt: “Jy vra of die Afrikaners geakkommodeer sal word? (Inkatha Freedom Party-leier Mangusuthu) Buthelezi vra dieselfde oor die Zoeloes. Want hy voel dat die Xhosas die Zoeloes domineer op senior politieke vlak. Daar sal altyd rassespanning wees tussen groepe. Ek is oortuig dat ek, as ‘n Zoeloe wat in die ANC-meerderheid sit, die gevoelens verstaan van mense wat voel dat daar nie vir hulle omgegee word nie. Die ANC behoort eintlik baie sensitief te wees vir die kleiner nuanse binne die Afrikanergemeenskap. Daar moet iemand aangestel word uit die Afrikanergemeenskap wat die regering kan sensitiseer oor Afrikanerbelange – iemand wat wye geloofwaardigheid geniet.”

Sean Else: Maar ons gaan nie as slagoffers nie.

Zuma: “Niemand mag slagoffers word nie. Ek, leier in die ANC, sal nie toelaat dat die Zoeloes geviktimiseer word nie. Ek sal namens hulle opstaan.”

Dan Roodt: Die Afrikaanse media sal geen publisiteit gee aan ‘n verteenwoordiging deur ons nie. Hulle politieke korrektheid sal hulle nie toelaat nie.

‘n Nuwe meningsverskil breek onder die gaste uit oor Nasionale Pers se “komplot” teen Dan Roodt, teen sogenaamde gatvol Afrikaners en die De la Rey-liedjie. Dit skuif naderhand na musiekradiostasies wat weier om Afrikaanse musiek te speel.

Dit raak laat, byna elfuur, en Zuma begin rondkyk vir sy assistent wat namens hom die partytjie moet kom opbreek. Maar sy hang iewers, eenkant, aan Leon Schuster se lippe. Dan vang hy haar oog en sy staan nader om te sê die aand is verby. Zuma ontdek dat hy nog nie na De la Rey geluister het nie en ‘n geskarrel ontstaan om ‘n CD te vind om vir hom te speel.

Kallie Kriel gryp die gaping en sê Marthinus van Schalkwyk, die laaste leier van die NP voor dié party deur die ANC ingesluk is, verteenwoordig nie die Afrikaner nie.

“Ja,” beaam Zuma grootmoedig, “dis dalk waar. Miskien het die NP dit nooit reggekry om die Afrikaner aan boord te kry tydens die onderhandelings nie. Hulle het te polities en subjektief geraak (die NP). En daar’s weggehardloop, stilgebly, skuldgevoelens. Maar nou staan die jong Afrikaners op en sê hulle voel ongelukkig. Ons moet daardie proses betrek. Miskien het ons in die verlede na die verkeerde mense geluister. Dalk het die koerante ons verkeerd ingelig.”

Nog iemand vra of die ANC ‘n plan het om die duisende Afrikaners wat geëmigreer het, terug te kry. Zuma skud sy kop, nee, maar sê hy glo namate daar gepraat word en wanpersepsies opgeklaar word, sal die mense begin terugkom.

En intussen het die De la Rey-liedjie gekom en gegaan sonder dat enigiemand geluister het en het die bonkige manne met die strak gesigte weer vir Zuma kom haal en met hom deur die plantegroei verdwyn.

En die Afrikaners kyk vir mekaar en vra hulself af of die aand nou juis iets beteken het. Hulle het in die loop van die aand baie griewe kon lug – misdaad, regstellende aksie, die dorpsnaamkwessie, emigrasie. Maar het hulle iets in ruil gekry? Dalk die vae voorstel van ‘n ‘legitieme Afrikanerleier’ wat die regering moet ‘sensitiseer’.

Vir Zuma lyk die prentjie dalk anders, want die volgende dag is hy op Beeld se voorblad saam met Steve Hofmeyr en Leon Schuster, braaitang in die hand. En hy’s in die Sowetan,The Star, Die Burger en vele meer. Hy voer ‘n onderhoud met verskeie radiostasies, trek maksimale publisiteit uit die geleentheid. Hy’t homself weer suksesvol laat sien as die ‘leier vir die gewone mense’, die man wat almal wat verdruk en verstoot voel, na hom toe wil laat kom. Die ‘vriend’ wat omgee vir die slagoffers van die land. Selfs die gewaande slagoffers. Selfs die Afrikaners.

Deur ontmoetings soos hierdie kry hy sy boodskap by die éintlike teiken: die ontevrede swart faksies in ANC-geledere, in Cosatu en die ANC Jeugliga, diegene wat hulself ontmagtig en gefrustreerd voel met die huidige leierskap.

Tien uit tien vir Zuma.

En die Afrikaners? Steve Hofmeyr sê reguit daar’s baie goed waaroor hy lynreg met Zuma verskil – soos Zuma se hardvogtigheid teenoor gays, sy behandeling van vroue en nog meer.

Dan Roodt het dit in sy afskeidswoorde aan Zuma dalk die beste opgesom: “Ons het vanaand miskien niks bereik of verander nie, en as ons hier uitstap gaan ons dalk nog presies dieselfde woede en frustrasie voel. Maar minstens het iemand na my kon luister. En miskien, wie weet, bring dit ons iewers in die toekoms ‘n stappie verder – sodat ek nie my tasse hoef te pak nie.”

Dis te sê as Jacob Zuma uit die tronk uit kan bly.

 

 

 

By | 2018-02-15T13:26:39+00:00 February 15th, 2018|Hoofartikels, Uncategorized|