Wild aan die waterkant

In ‘n wêreld van middelmatigheid is grootsheid raar. Charleen Clarke vind dit wel aan die Choberivier …

Ek staan op die punt om ‘n nuwe persoonlike rekord op te stel: vyf lande binne 24 uur. My vorige rekord was vier (Swede, Noorweë, Frankryk en Suid-Afrika). Eintlik gaan ek hierdie keer waarskynlik die vyf lande binne ongeveer vyf uur besoek. Eintlik nogal ongelooflik. So ook my beplande reis …

So verlaat ek Suid-Afrika (land nommer een, natuurlik) en vlieg met British Airways na Livingstone saam met my maat Corinna. Die vlug is iets geweldigs! Wonderlike kos, fantastiese diens en ‘n klompie baie vermaaklike medepassasiers. Hulle dring daarop aan dat hulle op pad is na Zambië om te hengel. Ek vermoed dat “hengel” heelwaarskynlik die kodewoord is vir “drink” … hulle maak ‘n behoorlike duik in British Airways se uitgebreide alkoholiese voorraad.

Met ons aankoms op Livingstonelughawe is ons baie beïndruk; dis modern, ruim en silwerskoon. Wat ‘n heerlike verrassing! Ewe genotvol is die troppe bobbejane wat toekyk terwyl ons by ons voertuig inspring. Inaggenome dat dit ‘n stomende 36 ° is, is ons ook in ons skik om te vind dat die bussie se lugverkoeling baie effektief werk.

Ons ry vir ongeveer ‘n uur tot by die Kazungulagrenspos waar ons Zambië verlaat. Ons spring op ‘n boot om die Zambezirivier oor te steek, terwyl ons die tou vragmotors wat hul beurt afwag simpatiek bekyk. Daar is slegs drie veerbote oor die rivier … sommige vragmotors wag tien dae lank vir hul beurt. Genadiglik word ‘n 923 m lange permanente spoor- en padbrug tussen Zambië en Botswana gebou. Een van die dae sal daardie nimmereindigende toue iets van die verlede wees!

Anders as die geduldige vragmotorbestuurders, wag ons net vyf minutes vir ons boot en steek die rivier vinnig oor – tot in Botswana. “Welcome to Botswana”, kondig ons volgende bestuurder aan. “Maar … ek het ‘n plan … kom ons stap eers Zimbabwe binne.”

So gemaak! Ons staan op die grens van die twee lande en daar is geen doeanekantoor nie. Dus wandel ons Zim binne. Net omdat ons kan, basies. Reg! Tot dusver is dit nou vier lande in een dag!

Die bestuur met die heerlike humorsin ry met ons die kort afstand na Kasane, waar ons weer uit Botswana “gestempel” word. Hy stel ons voor aan nóg ‘n kêrel wat ons oor die Choberivier sal neem – en in Namibië in! Land nommer vyf! Ons voel albei asof ons nou werklik in Afrika aangekom het want, soos ons die rivier oorsteek, begin ons wild te sien. Baie. En nee, die wild wat ons waarneem, het niks te doen met die uitstekende Tafel wat natuurlik in Namibië gebrou word nie. Daar is seekoeie, olifante, buffels en krokkodille rondom ons! Dis totaal magies!

Die paspoortbeheerpunt aan die Namibiese kant van die rivier is ‘n bietjie van ‘n grap. Jy moet met ‘n taamlike lang stowwerige paadjie stap waarlangs die een of ander grapjas kennisgewings geplaas het. Die heel laaste een kondig aan: “Haal diep asem! Jy is amper daar!”

Dan is dit terug boot toe. Ons bestemming is die Zambezi Queen, ‘n waarlik asemrowende huisboothotel (daar word vertel dat dit eens ‘n klub vir here was). Sy naam word afgelei van die feit dat hy eers op die Zambezirivier gevaar het. Nou vaar hy op die waters van Namibië. Dis nie sleg nie; daar word vir ons vertel dat die dierebesigtiging op die Chobe baie beter is.

Ongelukkig kan ons nie die nag op die Queen oorbly nie (hy was vol), maar ons het aan boord gegaan vir ‘n toer, ‘n yskoue glas wyn en ‘n wonderlike snoepbord. Ek en Corinna is hoogs beïndruk met die Queen wat 30 gaste in 15 kamers huisves. Dis ruim, gemaklik en besonder goed toegerus (het selfs WiFi!)

Daar is drie vlakke op die Queen; ons bring die meeste van ons tyd op die boonste vlak deur, wat ‘n biblioteek, restaurant, swembad en koffiekroeg huisves. Ons ontspan en hou die diere dop terwyl ons meer te wete kom oor die boot. Corinna vind dit interessant om te hoor dat hy 15 m lank, 9 m hoog en 8 m wyd is, met ‘n 870 mm boeg en hy weeg 166 ton. Ek stel meer belang om te hoor dat kinders nie toegelaat word nie; ek is vir die goed allergies (veral wanneer ek met vakansie is).

Ons loer by een van die standaardkamers in en dis regtig pragtig; dit het ‘n aparte badkamer met ‘n stort en elke gerief wat jy in ‘n hotelkamer sou verwag. Daar is ook ‘n lekker balkon met twee stoele waar jy kan sit en die diere bewonder.

Ongelukkig kan ons nie langer vertoef nie, want ons moet aanstoot na een van die Chobe Princesse. Ons voel albei bietjie afgehaal; die Queen is so lekker dat ons nie rêrig wil gaan nie …

Maar, toe ons by ons eie persoonlike Princess arriveer (daar is drie; twee met vier kajuite en een met vyf), is ons in die wolke. Die Prinsesse is kleiner en meer intiem. Hulle is presies soos die Queen – luuks en kontem-porêr. Soos die Queen het hierdie kleiner bote ‘n minimum van drie kleiner tenderbote vir gebruik vir daguitstappies van jou keuse: dis moontlik om oor die 460 voëlspesies in hierdie vleiparadys te sien, jy kan jou hand waag aan tiervishengel, of Afrika se unieke skoonheid valê op ‘n fotografiese safari. Die regtig lekker ding is dat die daguitstappies persoonlik en aanpasbaar is omdat jy die tenderbote met ‘n klein aantal gaste deel.

Ek en Corinna glimlag breed terwyl ons aan boord stap van ons Princess en rondkyk … dis ons soort plek. So spesiaal. So ongelooflik.

Maar, voor ons kan ontspan, is ons al weg op ‘n wildkykvaart.

Dis subliem. Soos om deur ‘n diertuin te dryf. Die hoogtepunt – vir my – was om hope visarende te sien. Van hulle sommer baie naby!

Dan terug na ons kamers om gou te stort en dan in die jacuzzi te duik. Ons het die naam van die boot gesteel; ons is soos twee prinsesse, ons sit daar in die water en kyk hoe olifante op die rivieroewer wei. Daardie aand geniet ons ‘n feesmaal. Twee Amerikaanse paartjies sluit by ons aan. Hulle was nuuskierig oor die hoofgang – stokvis. Ons verduidelik dat dit ‘n besonder algemene vissoort is. Maar, die vis is onverbeterlik voorberei. Dalk nog die beste stokvis wat ek al ooit geëet het. So, ek vertrou dat die Amerikaners al hul vriende sal vertel van hierdie uitsonderlike visspesie …

Die volgende oggend, ná nog ‘n uitstekende wildkykvaart en ‘n heerlike ontbyt, neem ons afskeid van die Amerikaners. Hulle sou ‘n toer van ‘n plaaslike dorpie onderneem (een van vele uitstappies wat die Queen en Princesse aanbied; ‘n ander een – wat klink soos pret – is ‘n besoek aan ‘n plaaslike drinkplek met die naam Pole Pole, wat “stadig, stadig” beteken). Ongelukkig moet ons die Princess verlaat; ‘n nuwe bestemming wink!

So, met swaar harte spring ons weer eens op ‘n ander boot en skiet weg na die Chobe Water Villas, ons volgende bestemming. Net soos toe ons die Queen verlaat het, is dit met gemengde gevoelens. Ja, dis lekker om ‘n nuwe plek te sien. Maar, die Princess was so lekker. Chobe Water Villas kan mos nie beter wees nie …

Alweer verkeerd bewys! Toe ons by die Chobe Water Villas aankom, is ons heeltemal verstom. Hierdie oord, wat in Oktober verlede jaar geopen is, is ongelooflik. Dit is totaal anders as enigiets wat ek al ooit gesien het.

Die beste is die ligging. Dis reg op die Choberivier en die villas het hul pote in die water. Die omgewing is totaal buitengewoon.

Dieselfde geld die dekor (met dank aan Jan Lewis van Design Union) … en die lekker ding is dat vele elemente ‘n storie te vertelle het.

Die kroonkandelaar in die ontvangs, byvoorbeeld, is ‘n eerbetoon aan die Afrikason. Die dak in die leessitkamer herinner aan die Afrika-lug en die veranderlike winde. Bokant die kroeg is ‘n voëlnes wat die verwikkeldheid van ‘n vinknes weerspieël wat bokant die rivier hang. Die restaurantskerms beeld die materiaal van Namibië se Himba-krygers uit. Die dak van die restaurant beeld weer die krag van ‘n Afrikastorm uit, wat dikwels in vlae kom saam met flitse helder, skerp weerlig. En dan is daar die ligte, wat beslis my gunsteling is – hulle verteenwoordig die vloei van ‘n oop vuur.

Die villas self is ewe indrukwekkend. Die fantastiese ding is dat die deure in die villa heeltemaal oopmaak sodat jy ‘n onbelemmerde 180 ° -uitsig het oor die Choberivier, die Chobe Nasionale Park en Sedudu-eiland. Elke kamer het sy eie teleskoop sodat jy ‘n bietjie kan wildkyk. Dis heel moontlik om honderde olifante op ‘n gegewe oomblik te sien!

Daar is ‘n mini-kroeg in die kamer met ‘n goeie voorraad alkoholiese en nie-alkoholiese drankies en versnaperinge. Daar is ook ‘n tee- en koffietoonbank met agt verskillende tees en ‘n Nespressomasjien. Kraanwater is drinkbaar, maar daar is ook bottels gesuiwerde water in die kamer. Ek het veral gehou van die USB-laaier wat sommer reg langs die bed is … jy kan jou foon maklik, maklik herlaai terwyl jy slaap.

Die lugversorgingseenheid is ook heel buitengewoon. Dit is in die muskietnet ingebou en dus is daar geen lelike eenheid sigbaar nie. Die lug rondom die bed word op hierdie manier afgekoel. Dis ‘n baie slim stelsel; nie so doeltreffend soos ‘n standaardlugverkoelingstelsel nie, maar ook nie so lelik nie.

Die badkamer is manjifiek. Dit bied ‘n reuse-bad, ‘n kolossale stort en twee wasbakke. Die toiletware is alles beslis van die duurste, nes die afwerkings dwarsdeur die villa.

Maar, daar’s nie tyd om ons villas te geniet nie … want middagete word bedien! Ons kies ‘n tafel wat eintlik in ‘n vlak waterpoel staan! Dis wonderlik om, met ons tone in die water,  te knibbel aan olywe, kaas en die ligste quiche …

Volgende is nog ‘n wildkykvaart. Weer eens sien ons muur tot muur diere (insluitend ‘n krokodil van onbetaamlike grootte; dis stof vir ‘n rillerfliek). En dan word ons bederf met ‘n totaal buitengewone sonsondergang – die soort sonsondergang wat mens net hier in Afrika vind. Daardie aand is die aandete ‘n gourmetgeleentheid. Dis beslis alles uit die boonste rakke. Wat ons teen dié tyd begin verwag het van Chobe Water Villas.

‘n Landsafari deur die Chobe Nasionale Park is die volgende oggend beskikbaar. Corinna gryp na die geleentheid om te sien wat beskou word as Botswana se beste park (gevestig in 1968, die park dek ongeveer 11 700 km², insluitend vloedvlaktes, moerasse en boswêreld). Ek besluit dat ek eerder sal laat slaap en in die lodge se wonderlike oorvloeiswembad sal rondlê. Corinna is onsteld: “Hoe kan jy hiernatoe kom en nie die park besoek nie?” Ek is nie apologeties nie. Ek wil by die lodge ontspan – want dis een van die uitstekendste lodges waarin ek al ooit gebly het. Ek wil dit ten volle waardeer!

So, hier teen agtuur rol ek uit die bed, geniet ‘n smaaklike ontbyt (hul omelette is legendaries), maak lyf nat in die pragtige swembad en maak seker dat ek koel en kalm is wanneer Corinna terugkeer. Sy kry warm, maar sy’s gelukkig (“Jy het dit misgeloop! Dis buitengewoon! Ons het baie, baie diere gesien! Honderde olifante. En baie voëls ook; het jy geweet dat daar meer as 460 voëlspesies opgeteken is in die park?”) nee, dit het ek nie geweet nie. Maar ek weet wel dat my yskoue jenewer en tonikum ook uitsonderlik is. Daarby het ek self baie goed wild gekyk; ek het in die swembad rondgelê (die seekoeie kan ‘n ding by my kom leer) en ‘n reuse trop buffels dopgehou. Waarskynlik om en by die 200.

Dan kom middagete – en die sjef Gareth Davies het ‘n kulinêre en smaaksensasie berei. Ons eet mossels (Corinna sê sy het nog nooit beter geëet nie en sy is ‘n gerekende kosfundi), ‘n wonderlike biefslaai en ‘n uitstekende vegetariese pastadis van die varsste en plompste tamaties. Dis heerlik.

Daardie middag besluit ons om net te ontspan. Geen toere of vaarte nie. Ons hang uit langs die swembad en ontspan. Ek kan nie onthou wanneer ek ooit ‘n lekkerder middag deurgebring het nie. Daar is ‘n pragtige vuurgeselsput … as ek ooit in die winter terugkeer (oe, en ek wil so graag), sal ek die middag daar deurbring.

Ongeveer om 16:00 word ‘n skouspelagtige high tea bedien, insluitende die beste rooifluweelkoek ooit (So word ek vertel, ek is nog versadig ná die middagete).

Daardie aand wag nog ‘n gourmetfees op ons. Ons spring weg met lavash (uitsonderlik moet die resep in die hande kry!) gevolg deur Franse gebakte camembertkaas (bedien met rooiuiemarmalade, gekruide olie en balsamiese reduksie), babagapermossels oor tee gestoom (met roket, pynappelsalsa, soja-infusie en kappersaad), geroosterde klapperkoekiesorbet (meer soos roomys, maar heerlik), kolegeroosterde beesfilet au gratin, hoender-ballantine en amandelsjokolademousse. Ek weet dit klink na baie. Dit was. Maar ons het al die disse gedeel (ons moes net alles toets omdat dit so buitengewoon was).

Ná daardie maaltyd het ek ongelooflik goed geslaap. Tot 4:00. Ek is wawydwakker. Gewoonlik sou dit my knorrig maak. Eintlik baie knorrig.

Nie hierdie keer nie. Dis omdat ek deur seekoeie wakker gemaak is. Hulle baljaar in die water hier onder my. Hulle het soveel pret, al steunend van plesier. Ek lê in my bed en grinnik vir die muskietnet soos ‘n malkop – en wonder of daar nog só ‘n plek op aarde is wat ewe spesiaal is. My gevolgtrekking? Waarskynlik nie.


Praktiese besonderhede

Hoe om daar te kom

Jy kan met British Airways Comair vlieg tot in Livingstone of met Airlink na Kasane. Ons het laasgenoemde gekies omdat dit heelwat goedkoper was. Ons was besonder beïndruk met British Airways se diens en die Livingstone-lughawe is regtig skitterend; dis sowel modern as skoon. Dan ook is die rit van die lughawe af tot by Chobe groot pret; dis ‘n wonderlike manier om Afrika eerstehands te ervaar!

Tydens jou verblyf

Daar is ‘n baie goeie hospitaal op Kasane. Daar is ook ‘n waterambulans indien jy dit sou benodig.

Tariewe

Tariewe vir die Zambezi Queen vanaf R9 900 vir twee nagte in ‘n standaardsuite. Tariewe vir die Chobe Princesse vanaf R3 700 per persoon per nag. Tariewe op die bote sluit in alle maaltye, koeldranke, mineraalwater, koffie, tee, bier en wyn, wild- en voëlkyk op kleiner “tender”bote, ‘n oorland-kultuurtoer van ‘n plaaslike dorpie en tiervis- en kurperhengel in seisoen.

Tariewe vir SADC-inwoners by Chobe Water Villas vanaf N$3207 per persoon wat ‘n luukse watervilla deel, alles inge-sluit. Voorwaardes en bepalings geld. Vervoer oor die rivier en twee aktiwiteite per dag is ingesluit, asook alle maaltye, plaaslike drankies en wildkykaktiwiteite.

Wil jy bespreek?

Maak kontak met Outlook Afrika by info@outlookafrica.co.za of 083 228 7182. Hulle sal jou graag bystaan en raad gee.

WRITTEN BY
DEKAT motoring editor Charleen Clarke is one of the most well-known automotive writers in the country. A former South African Guild of Motoring Journalists president and Motoring Journalist of the Year winner, Charleen writes about cars and trucks for a host of South African magazines and websites. Furthermore, she is the South African judge for the Women’s World Car of the Year and she is also an associate member of the World Truck of the Year jury. She is the only journalist on the African continent to have achieved this honour.
By | 2017-07-31T23:26:19+00:00 June 30th, 2017|Reis|