Victoria-waterval slaan jou asem weg

ʼn Natuur- en wildervaring op sy beste

Lank gelede, op 17 November 1855 om presies te wees, was dr. David Livingstone, die beroemde Skotse ontdekkingsreisiger en sendeling wat diep, onuitwisbare spore in Afrika getrap het, die eerste Europeër om die Victoria-waterval te aanskou. Hy het toevallig daarop afgekom tydens sy verkenning van die bolope van die Zambezi-rivier.

“Niemand kan hulle die skoonheid van dié gesig voorstel nie…maar engele moes in hulle vlug daarna gestaar het,”  het hy dié natuurskouspel, oorstelp van verwondering, besing.

Hoor, hoor, dr. Livingstone!  Dié wêreldberoemde waterval wat oor bykans 2000m strek en die breedste vallende ‘blad’ water ter wêreld is, slaan die asem behoorlik weg en verdien sy kroon dubbel en dwars as een van die sewe wonders van die wêreld en Unesco-wêreldbewaringsgebied.

n Helikopter-vlug oor die Victoria-waterval plaas die omvang van dié natuurskouspel in perspektief.

“Rook wat donder”

ʼn Hele tydjie voordat die vliegtuig by die Victoria Falls-lughawe neerstryk, vestig die vlieënier die passasiers se aandag op ’n digte bank miswolke wat die bruisende water van die valle doer ver op die gesigseinder laat bol.  Mosi-oa-Tunya, is hoe die plaaslike inwoners gepas na dié “rook wat donder” verwys.

Maar eers wanneer jy in die nadraai van ʼn goeie reënseisoen van aangesig tot aangesig kom met dié tierende watermassa, kry jy ʼn idee van die volle omvang en natuurskoon van die Zambezi-rivier, sy magtige valle en die Batoka-ravyn wat die water seewaarts wegvoer.

“Rook wat donder”

Net om jou ʼn idee te gee: Die valle is nagenoeg twee keer die hoogte van Amerika se Niagra-waterval. Wat hoogte en breedte betref, ding net die Iguazu-waterval in Suid-Amerika met die Victoria mee.

Wanneer die Zambezi in vloed is – soos tydens ons besoek einde Mei – stort die waterval meer as 500 miljoen liter water per minuut oor die rotswande sowat 92m na benede wat ’n digte reënsproei honderde meter die lug in opstuur. Wees gewaarsku: as jy jouself nie met ʼn dik reënjas pantser wanneer jy te voet langs die valle stap nie, kom jy deurdrenk en bedremmeld anderkant uit! As jy joune by die huis vergeet het of net met ʼn ylerige reisreënjas daar aangekom het, vergeet daarvan en huur liewer ʼn dikker een by die naasliggende stalletjies).

Die kronkelende staptog langs die waterval verkwik liggaam en gees en neem jou deur ʼn tropiese wonderland van digte bome, flitsende reënboë, veelkleurige blomme, ʼn magdom voëls en uitbundige apies.

By die beginpunt, aan die westekant van die waterval, pryk ʼn standbeeld van Livingstone met ʼn uitsig op die intimiderende “duiwel se katarak” waar jy die eerste keer sien hoe die bruisende water meters ver na benede tuimel.

Dr. David Livingstone se standbeeld aan die westekant van die waterval.

Die brug

Anderkant die Boaruka- en Livingstone-eilande wat die vloei van die Zambezi onderbreek, volg die langste en breedste stuk ononderbroke waterval ter wêreld – ʼn prentjie om te aanskou! Oplaas doem die beroemde Victoria Falls-brug voor jou op: ʼn droom van staatsman Cecil John Rhodes wat in 1905 bewaarheid is sodat treine in die verbygaan ook die sproeireën van die valle kon ‘vang’.

Livingstone-eiland is een van twee eilande by die waterval wat die vloei van die Zambezi onderbreek.

Die brug wat by voltooiing geloof is as ʼn mensgemaakte ingenieurswonder wat enige tyd met die indrukwekkende valle kan meeding, verbind Zimbabwe met buurland Zambië en word deur baie onthou as die plek waar grootkoppe in deftige treinwaens indringend kajuitraad gehou het in ʼn poging om politieke oplossings te vind. Deesdae lok die brug honderde avontuursoekers van heinde en ver om te kom rekspring of die ziplynbaan aan te durf – beslis nie iets vir skroomhartiges nie!

Die Victoria Falls-brug van die waterval se kant af.

Die stoep van die statige Victoria Falls Hotel aan die oorkant van die valle waar ons ʼn glas koel lafenis ná afloop van ons staptog geniet het, bied ʼn pragtige uitsig op die brug.

Uitsig op die brug, die “rook wat donder” vanaf die Victoria Falls Hotel.

Dié swierige ou dame en oudste hotel in Zimbabwe, wat, soos die valle, na die eertydse Britse koningin vernoem is, was met sy oprigting in 1904 bedoel om verblyf aan werkers van die Kaap-na-Kaïrospoorlyn te bied. Dit is sowat vyf jaar gelede van kop tot kleintoon opgeknap en is na al die jare nog steeds ʼn voorkeurbestemming vir kieskeurige toeriste wat gepamperlang wil word.

Die Victoria Falls Hotel is die verpersoonliking van elegansie en styl.

Salige rus, stilte

Suid-Afrikaners wat egter onder die rand-/dollar-wisselkoers ly en hul sente mooi moet tel, moet helaas ʼn ander heenkome soek.  In ons geval kon ons vriend sy tyddeel uitruil en was Lokuthula Lodge, geleë in die hartjie van ʼn nasionale park, ʼn gawe keuse! Aangesien die horde oorsese toeriste in die nabygeleë en veelbekroonde vyfster Victoria Falls Sarafi Lodge in dié park tuisgegaan het, was salige rus, stilte en vrede (Lokuthula beteken plek van vrede) ons beskore.

Rus, vrede jou voorland by Lokuthula Lodge.

Boonop het vlakvarke, ape en bosbokkies gereeld kom inloer asof hulle aandele in die plek het. Snags was dit ook nie vreemd om ʼn loslopende olifant se trompetgeskal of ʼn hiëna se geblaf te hoor nie.

Wil jy nie die hele tyd self voor die stoof staan of braai nie, kan jy van die geriewe van The Boma-restaurant of die Sarafi Lodge gebruik maak. In die Boma met sy grootskerm-TV kon ons ons ongesteurd verlustig aan die Meghan-en-Harry-huweliksplegtigheid en ʼn glas of twee vonkelwyn op hul toekomstige heil klink. Ons vriendelike kelner, Lovemore, het ook gesorg vir heerlike versnaperings.

Trouens, oral waar ons ook al gereis of gekuier het, is ons begroet deur vriendelike én ingeligte motor- en taxibestuurders, gidse of helpers wat ruimskoots bydra tot ʼn lewendige, informele ekonomie.

Flink en vriendelike ondernemers sorg vir ‘n lewendige informele ekonomie.

Elke aand word busse vol toeriste na The Boma aangery vir die atmosfeervolle viergang-maaltyd.  Uiteraard word geregte soos vlakvarkbiefstuk en geroosterde mopaniewurms mildelik ingesluit, wat saam met die tradisionele trom- en -dansvertoning, vir ʼn egte Afrika-ervaring sorg. Riviervaarte op die Zambezi is eweneens ʼn groot toeristetrekpleister en veral smiddags met sononder is die rivier ʼn see van plesierbote.

Etenstyd by The Boma

Smiddags en met sononder is die Zambezi-, Choberivier besaai van plesierbote vol toeriste wat hulle verlustig aan die natuurskoon en wild.

Op die houtdekke van die Safari Lodge Hotel met hul uitsig op ʼn groot watergat wat daagliks ʼn verskeidenheid wildsoorte lok, kan mens weer bedags rustig die vertes in staar, aan heerlike geregte smul of jou verwonder aan die groot wildsaamtrek by die watergat.

 

Die houtdekke van die Safari Lodge Hotel is ‘n gewilde kuierplek en uitkykpunt.

Makietie by aasvoël-restaurant

Selfs vir aasvoëls en ander groot geveerdes soos Indiese ooievaars, is daar daagliks om 13:00 smullekker happies by die hotel se ‘aasvoël-restaurant’. Dié aanvullende voerprogramprojek help om die oorlewing van bedreigde aasvoëlspesies soos die Swartaasvoël, Witkopaasvoël en die Monnik-aasvoël te verseker én hul getalle te moniteer, vertel kosman. Vooraf gee hy ook ʼn kort praatjie oor die ekologiese belangrikheid van aasvoëls en hul stryd om oorlewing in die land te midde van mensgemaakte probleme soos elektrokusie deur kragkabels, vergiftiging en kosskaarstes.

Nog lank voordat die ‘etensklok’ amptelik lui, vlieg die aasvoëls uit alle windrigtings na die ‘restaurant’ en sirkel doer bo geduldig in afwagting van ʼn happie.  Maar wanneer die gewer en sy koelkas vol kos arriveer, duik hulle en masse soos koeëls uit ʼn geweer grondlangs en skop hulle behoorlik ʼn stofstorm op – werklik iets om te aanskou!

Aasvoëls en ander groot geveerde spesies vir Afrika! 

Wildkykfees by Chobe

In Botswana se Chobe-natuur- en wildreservaat, sowat ʼn anderhalfuur se ry van Victoria Falls af, wag nóg ʼn wildkykfees soos min! Danksy ons taxibestuurders se vriendelike hulp, is ons met min moeite en sonder enige oponthoud woerts-warts deur die grenspos – anders as die arme swaarvragmotorbestuurders wat dae lank moet wag voordat hulle klaring kry! Dit daar gelaat.

As jy dink Suid-Afrika se wildtuine en nasionale parke het baie olifante, wag tot jy in Chobe kom! Teenoor die Kruger-wildtuin se geraamde 13 000 olifante, het Botswana glo nie minder nie as 300 000 van dié grootvoete. Boonop het ʼn klompie olifante ons tydens ons riviervaart op die Chobe-rivier (soos die Zambezi, ook nog in volle vloed) op ʼn stuitige swem-en-speelsessie getrakteer. Tientalle seekoeie het ook lustig om ons baljaar en aan die oewers lê krokodille en selfs spekvet likkewane op ʼn streep.

Heeltyd speeltyd.  

 

‘n Fees van wild in, langs Choberivier.

Op ons wildbesigtigingsrit die volgende oggend, kon ons ons ook verkyk aan ʼn trop leeus wat ongesteurd aan ʼn buffelkarkas gesmul het wat hulle, volgens ons gids, sowat twee dae tevore neergetrek het.

Koningskos!

Helikoptervlug span kroon

Terug in Victoria Falls het die helikoptervlug van bykans ʼn halfuur oor die waterval en omstreke, het die kroon gespan op ons weeklange wegbreek na Zimbabwe en Botswana. Die wyehoekbeeld wat die vlug op ʼn ongeëwenaarde natuurwonder bied, brand vas in jou geheue sodat jy dit weer en weer voor die gees kan roep.

 

Soos ʼn Australiese toeris gepas teenoor my opgemerk het: “Die ongelooflike natuurskoon van hierdie plek, die dierelewe, die gasvryheid van sy mense…dit sal my alles bybly tot die dag van my dood.” Amen.

Wilma de Bruin

 

 

By | 2018-06-25T10:00:23+00:00 June 18th, 2018|Reis|