563 Views |  Like

XTN Vyefees – ʼn groot gesinsviering om die draai

 

Die XTN Vyefees is ’n eerste van sy soort van hierdie wonderlike vrug in Suid-Afrika. Dié fees vir die hele gesin vind die naweek van 1 en 2 April 2017 op die Eksteen-familieplaas, Uitkijk, Voor-Paardeberg, Noord van die Paarl plaas. (GPS: 35*22.80S 18*52’48.76O)

Besoekers kan uitsien na ’n lekker ontspanne tyd op hierdie tradisionele, werkende plaas. Die kleinspan gaan hulle eie speelarea hê met ’n springkasteel of twee, en het die geleentheid om ’n paar twee- en viervoetige plaasdiere van nader te leer ken. Dit sluit onder meer skape, bokke, eende en selfs alpakkas in. Vir die minder avontuurlustige kleintjies is daar ’n aantal gesigverfopsies. Daar sal eet- en drinkgoed vir almal beskikbaar wees.

Die hele gesin kan agterop die sleepwa klim en per trekker na die vyeboord ry waar die vyeplukproses aan hul verduidelik sal word. Hiervandaan kan almal dan inspring om as gesin saam vye te pluk en die addisionele boksie vol te maak.

Vir die meer aktiewe volwassenes en tieners is daar Saterdag ’n Run the Vines-plaaswedloop oor ’n afstand van 5km, 10km of 17km (eerste wegspring om 08:00, besprekings by www.runthevines.co.za). En vir die kranige bergfietsryers is daar die Sondagoggend ’n Ride the Vines-bergfietsren oor onderskeidelik 12km, 23km of 42km (eerste wegspring om 08:00, besprekings by www.ridethevines.co.za).

’n Hele aantal gemeenskapstalletjies sal heerlike varsgemaakte produkte te koop aanbied en feesgangers kan uitsien na onder andere vyekonfyt, vyeblatjang, gedroogde vye en selfs vyegegeurde sout. Seisoenale vrugte en groente uit die kontrei sal ook beskikbaar wees. Heerlike hamburgers, gemaak van vyegegeurde vleisflappies (patties) en vars boereworsrolle gemaak van vyegegeurde peperboerewors en kaas-en-vyegegeurde varkwors, sal die hongerpyne stil. Ander kosse wat beskikbaar sal wees, sluit in heerlike skyfies, pizzas en selfs Indonesiese disse. ’n Behoorlike vyeproe van verskillende soorte vye sal ook aangebied word.

Die hoogtepunt vir bierliefhebbers – en slegs te kry by die fees – is dat hul Suid-Afrika se eerste amptelike Vyebier sal kan geniet. Vir diegene wat verkies om hul pallet met wyn te bederf, is daar wyne van die landgoed self asook heerlike wyne vanuit die Perdeberg-distrik.

Al hierdie wonderlike eet- en drinkgoed kan in ’n groot tent geniet word terwyl daar geluister word na van Suid-Afrika se beste kunstenaars. Saterdag kan feesgangers uitsien na die musiek van Chris Rain, Oh Jack!, die duo Twee en die vierstukgroep Newton & Co, en Sondag is Chris Rain, Gerry Liberty, Oh Jack! en Bottomless Coffee aan die beurt.

Slegs ’n beperkte aantal kaartjies teen R150 per persoon (R50 toegang vir kinders ouderdom 6 – 18 jaar) is beskikbaar by www.computicket.com. Die kaartjieprys sluit ’n wynglas en ’n boksie vye in. Feestye: 10:30 – 18:00 daagliks. Alkohol nie te koop aan persone onder 18 nie.

Die wins van hierdie familiegeleentheid sal gebruik word vir die oprigting van ’n jeug- en gemeenskapsontwikkelingsentrum op die plaas, vir gebruik deur die XTN Stigting.

Facebooktwitter