1783 Views |  Like

Toerisme Maleisië rol die rooi tapyt uit

Om 152 mediaverteenwoordigers en reisagente van 17 lande na Maleisië te nooi, in kleur en geur in te lig oor dié land se groot verskeidenheid aantreklike toerismeprodukte en ʼn week lank in vyfster-weelde te trakteer, wil gedoen wees.

Dít is presies wat Maleisië se ministerie van toerisme en kultuur, deur middel van sy agentskap Toerisme Maleisië, vroeër dié maand stylvol en swierig gedoen het – en waarvoor die organiseerders ʼn stewige klop op die skouer verdien!

Sommer met die intrapslag is die rooi tapyt uitgerol! Op haar pos om ons gul op die lughawe van Kuala Lumpur te verwelkom, was ons gids vir die eerste dag, me. Maizatul Sharom, oftewel Wawa, soos sy verkies het dat ons haar kortweg noem. Soos Safri Ali, ons gids vir die res van die week, het die vriendelike en behulpsame Wawa diep in ons harte gekruip.

Ná ons eerste hap op Maleisiese bodem, het ons minibus koers gekies na Putrajaya (sowat 25 km vanaf Kuala Lumpur) waar ons onder meer die internasionale konferensiesentrum en die indrukwekkende Putra-moskee besoek het.

P1180518

P1180530

Die Putra-moskee in Putrajaya, wat oop is vir alle besoekers.

Wat mens dadelik opval van dié federale administratiewe hoofstad van Maleisië, wat sedert 1999 ook die land se regeringsetel is, is sy netheid en groot aantal moderne geboue, behuisingskomplekse en brûe. Om elke hoek en draai word ook daar skoongemaak, gevee of gesnoei, wat sorg vir ʼn keurige en aantreklike omgewing.

P1180555

Een van talle moderne brûe in Putrajaya, wat sedert 1999 die land se regering huisves.

Aan moderne mega-winkelsentrums in Maleisië is daar beslis geen tekort nie en dié middag het ons by twee – IOI Mall en Mitsui – besoek afgelê. As dié sentrums met hulle rye op rye handelsnaam-winkels en keurige eetplekke nie jou kooplus prikkel nie, weet ek nie so mooi nie…

Met ʼn laataand-vlug is ons vervolgens Alor Setar in Kedah toe waar ons die volgende dag op ʼn daglange ‘bestemmingseminaar’ breedvoerig ingelig is oor al die toerisme-produkte en -aantreklikhede in die provinsies Kedah en Perlis, asook sertifikate van deelname aan dié mega-inligtingsweek’ ontvang het. ʼn Spoggerige dinee met Indië as tema het die dag se verrigtinge op ʼn hoë noot afgesluit.

DSC06812

Die groep Suid-Afrikaanse joernaliste en reisagente by die opening van die toerisme-inligtingseminaar (Mega Familiarisation Programme) in die Grand Alora Hotel, Alor Setar, Kedah Darul Aman.

Vroeg die volgende oggend het ons weer in die pad geval en eerstehands enkele van Kedah – wat een van oudste beskawings in Suidoos-Asië gehuisves het – se toerisme-aantreklikhede ervaar. Veral interessant was die Sungai Batu-beskawingskompleks en argeologiese terrein, Sg. Petani, wat al talle interessante strukture en gebruiksartikels uit dié tydvak opgelewer en waar opgrawings onverpoosd voortgaan.

Helaas het swaar reën ons boomtop-staptog by Sg. Sedim in Kulim waarna ons baie uitgesien het, in die wiele gery, maar ʼn heerlike vroeë aandete by die Sg. Sedim-natuurpark het ruimskoots vergoed. Die hoogtepunt van die dag was die ‘Open House’ Deepavali-viering by Padang Awam Kulim in Kulim, Kedah, waar vanjaar se toerisme-slagspreuk – Year of Festivals – Endless Celebrations – kleurvol gestalte gekry het.

Deepavali, oftewel die Fees van Ligte, word deur Hindoes gevier met gebede, gesinsbyeenkomste en feestelikhede en by die Kulim-viering is die gebied se inwoners nie net op gratis kos getrakteer nie, maar ook op puik vermaak.

DSC06909

DSC06910

DSC06916

Indiese dansers in kleurvolle volksdrag het vir puik vermaak gesorg op die Deepavali -ope dag in Kulim, Kedah.

Benewens verskeie ander ministers en adjunk-ministers wat dié geleentheid bygewoon het, het Maleisië se premier, YB Dato’ Sri Mohd Najib bin Tun Haji Abdul Razak, die groot skare toegespreek en ʼn beroep op die mense gedoen om nie sensitiewe rasse-opmerkings te maak wat mense kan seermaak nie. “Ons moet die gevoelens van elke nasie in hierdie land in ag neem en dit vermy om woorde te gebruik net om hulle te na te kom,” het hy beklemtoon – ʼn boodskap wat ook baie toepaslik is vir alle Suid-Afrikaners.

DSC06919

Die premier van Maleisië, YB Dato’ Sri Mohd Najib bin Tun Haji Abdul Razak, spreek die groot gehoor toe.

In Penang, waar ons eers na middernag gearriveer het, het die groep mediaverteenwoordigers en reisagente die volgende dag die amptelike bekendstelling van die 1 Maleisië jaareind-uitverkopings en Maleisië se ‘inkopie-roetekaarte’ (shopping maps) in die luukse G-Hotel bygewoon. Weer eens was dié geleentheid ʼn viering van formaat!

Grootskeepse promosieveldtogte deur die departement van toerisme om die land as voorkeur inkopie-bestemming te bevorder, werp ruimskoots vrugte af. Die 27.4 miljoen toerisme-aankomste in 2014 is bykans 7 persent meer as in 2013 en het vir bykans 10% meer aan inkopies as in 2013 gesorg. Naas akkommodasie bestee toeriste die meeste aan inkopies.

Vanjaar se toerismeprogram gaan na verwagting sowat 29.4 miljoen toeriste-aankomste oplewer, en 36 miljoen teen 2020.

P1180684

Modelle wat ʼn voorskou gebied het van modes op die modenaweek in Kuala Lumpur, saam met organiseerders van die bekendstellingsgeleentheid van die 1Maleisië jaareind-uitverkopings (tot 3 Januarie 2016) en inkopie-roetekaarte, en die adjunk-direkteur-generaal (strategies en binnelands) van die Toerisme Maleisië, me. Chong Yoke Har (in rooi uitrusting, voor, sewende van links).

Toerismebemarking is ingevolge die regering se ekonomiese tranformasieplan van 2011 waarin toerisme as een van 12 nasionale sleutel-ekonomiese areas geoormerk is, het die adjunk-direkteur-generaal van Toerisme Maleisië, me. Chong Yoke Har, onder meer in haar toespraak gesê. By dié geleentheid het top-modelle ook ʼn voorskou gegee van die pragtige uitrustings wat op die komende modenaweek in Kuala Lumpur te sien was.

Ons voorlaaste bestemming in Maleisië was die reuse-reënwoud (vier maal die grootte van Singapoer!) en die Belum Rainforest-oord. Bykans ʼn hele dag lank kon ons ons aan dié natuurskoon verwonder terwyl ons die woud ingevaar het, die Temenggor-meer per boot deurkruis het, asook ook Kampong Chuweh, die outentieke Orange Alsi-dorpie, besoek en pakke lekkergoed onder die kinders uitgedeel het.

P1180821

Die natuurskoon van die Royal Belum-reënwoud is ʼn fees vir die oog.

P1180802

Twee kleuters van Kampong Chuweh kry pakkies lekkergoed.

Die hoofstad Kuala Lumpur was gepas ons finale bestemming waar ons onder meer die indrukwekkende Batu-grotte, ʼn batikfabriek, ʼn winkelkompleks met allerlei inheemse handwerk, Chinese winkels en uiteraard die twee Petronas-torings besoek het.

P1180934

Die goue standbeeld van die Hindoe-god Muruga hou wag oor die 272 trappe na die ingang van Batu-grotte in Kuala Lumpur.

Met tientalle moderne toring- en historiese geboue, uitgebreide padnetwerk en grasgroen heuwels aan die gesigseinder, is die uitsig oor die stad vanuit een van dié torings absoluut asemrowend. Die aand is ons op ʼn kleurvolle kulturele dansvertoning getrakteer, weer eens met ʼn ete van verskeidenheid smulgeregte.

P1190300

Die Petronas-tweelingtorings in Kuala Lumpur wat 451.9m die lug intoring.

P1190099

Die uitsig oor Kuala Lumpur vanuit die uitkykpunt op die 86ste verdieping.

Ná ʼn loslitdag by die Sunray Lagoon-temapark op ons laaste dag in Kuala Lumpur (waar nog ʼn dawerende donderstorm losgebars het) was dit helaas huistoegaantyd. Op die lughawe, oor ʼn laaste koppie heerlike ‘wit koffie’ kenmerkend aan die land, was ons groep se uitspraak eenparig: met sy ryk kultuurverskeidenheid, magdom unieke besienswaardighede, pragtige natuurskoon en hutspot kosse en smake, is Maleisië ʼn droom-vakansiebestemming wat op elke emmerskoplys hoort.

 

Facebooktwitter