707 Views |  Like

Eiland in ‘n helderblou see

“Kangaroo-eiland? Nog nooit van gehoor nie.”

“Ek ook nie, maar dis hier naby, nie ver van Adelaide af nie!”

“Nou maar goed, kom ons gaan!” Lynn Oberholzer vertel meer van dié eiland met sy lang geskiedenis.

En so is ons toe op pad met die veerboot van Cape Jervis na Penneshaw op KI, soos plaaslike inwoners met deernis na Kangaroo-eiland verwys. Ons wou vir twee nagte gaan, het vir sewe gebly en sou langer gebly het as ons kon om die ongelooflike verskeidenheid van die eiland te verken. Die onverwagse plaaslandskap, Australiese gomboomwoude, steil kranse, sanderige strande en die helder blou see het ons betower en ons was in vervoering. Ons klein kampeerwa was ideaal, want daar is talle kampeerplekke, waarvan die meeste teen einde Mei leegloop. Die eiland is grotendeels ‘n beskermde reservaat, dus is wilde diere volop. Ons het ons ure lank verkyk aan die kangaroes wat vreet en hoe die pelikane hul vere glad stryk, met soveel noukeurigheid wat weer eens bevestig hoe perfek ontwerp in die natuur is.

Behalwe die asemrowende natuurskoon, het ons ook ‘n laventelplaas, ‘n bloekomdistilleerdery en heuningplaas besoek, waarvan laasgenoemde beweer dat hy die enigste plek ter wêreld is wat nog Liguriese bye het. Die eerste bye is in die vroeë 1880’s vanuit Italië ingevoer.

Die krag van die natuur is ’n oorheersende aspek van hierdie 150 km lange eiland, wat suidwes van Adelaide, 13,5 km van die kus af geleë is. Alhoewel die hoogste piek op die eiland, Mount McDonell, net 299 m bo seevlak lê, is daar geen gebrek aan uitsonderlike dinge nie. Die liggies golwende landskappe word afgewissel deur groen weivelde en wilde inheemse woude of bosveld. Dit is ‘n ekotoeris se droom met wyn-, heuning-, wol- en kaas-, vleis- en graanplase wat tot in die pragtige Suider-Oseaan strek, waar die suidelike rotskreef van die ongerepte kuslyn ontgin word.

Die eiland het sowat 4 500 inwoners oor ‘n area van 4 405 km². Kingscote op Reeves Point was Australië se eerste koloniale nedersetting en is steeds die grootste dorp op die eiland. Ander kleiner dorpies sluit in Penneshaw op die noordoostelike punt van die Dudley-skiereiland, vanwaar die veerboot vertrek; Parndana in die middel van die eiland en American River, op die noordkus tussen Kingscote en Penneshaw.

Met 540 km se kuslyn is die see ‘n groot trekpleister met pragtige strande in kontras met die golwende groen heuwels en steil, skurwe kranse. Aan die westekant van die suidkus, nadat jy myle se inheemse bossies in die Flinders Nasionale Park deurkruis het, kan die ongelooflikste rotsformasies, The Remarkables, gevind word. Hierdie enorme granietrotse wat verweer het, lê bo-op ‘n enorme koepel van lawa wat sowat 200 miljoen jaar gelede deur die aarde se kors gedruk is – wat weer eens getuig van die krag van die natuur. Die mag van die Suider-Oseaan is alom teenwoordig, 61 m daaronder. Mens kom so onverwags op die rotsformasies af, daar tussen die groen landskappe, dat mens jou maar net kan vergaap aan die groot rotstorings wat uit die rotsbodem spruit. Alhoewel ons al foto’s van die rotse gesien het, het niks ons vir hul grootte voorberei nie. Obie het sy tyd geneem en sy flitse en die aandlugstemming gebruik om die onheilspellende aard van hierdie waarlik besondere monoliete vas te vang. Ons is in die donkerte daar weg met ons dobberende koplampies wat ons die weg gewys deur die ruie en donker bossies en ons weer eens klein laat voel het teenoor die magtige natuur.

Net oos van die Remarkables en op die klein skiereiland, Cape Couadic, is die Admiral’s Arch geleë. Hierdie reuse-boog wat ‘n natuurlike rotsformasie is en ‘n brug skep, druip van die stalaktiete en is ‘n ontsagwekkende venster na die see daar onder, wat van die Nieu-Seelandse pelsrobbe wemel. Admiral’s Arch is een van 27 geologiese monumente op die eiland.

Die Flinders Chase Nasionale Park beskerm ‘n verskeidenheid wild, van die skaam Echidna, buidelrotte, koalas en kangaroes tot die uitbundige seeleeus by Hansom-baai. Dit strek oor 75 000 hektaar en is een van die grootste beskermde gebiede op die eiland. Ons het ‘n onrustige nag beleef toe ons in die park oornag het. Ons het die gewoonte om met die deur van ons kampeerwa oop te slaap en het wakker geskrik toe ‘n honger buidelrot oor Obie se gesig gehardloop het, op soek na kos.

In 1802 het die Engelse ontdekkingsreisiger, Matthew Flinders, KI sy naam gegee omdat daar ‘n oorvloed van kangaroes op die eiland was. Hierdie kangaroes is eiesoortig: hulle is kleiner, stewiger en stadiger as die kangaroes op die vasteland. Ek was gelukkig om ‘n “skopbokswedstryd” tussen twee groot mannetjies te sien. Dit het my verbaas om te sien hoe hulle op hul sterte balanseer, wat hulle in staat stel om met hul agterpote te skop en met hul voorpote te boks. Dit was ‘n magiese oomblik, wat ek ongelukkig nie kon deel nie omdat Obie te ver van my af was om nader te roep.

Die Franse ontdekkingsreisiger Nicolas Baudin was op Flinders se spoor en is die eerste Europeër wat om die eiland gereis het. Die eerste setlaars van 1802 – 1836 was veral rob- en walvisjagters; ‘n rowwe klompie met ‘n geskiedenis van onder meer die ontvoering van vroue van Australiese inboorlinge vir hul eie doen en late. In 1836 is Suid-Australië amptelik met KI gekoloniseer en die land is vir landbou gebruik.

Die Australiërs is terdeë bewus van hul geskiedenis en die grafte spreek vanself. In die dae toe vuurtorings nog ligwagters benodig het, het laasgenoemde en hul families lewenslank op die eiland vertoef. Hul name is op hul grafstene verewig.

Die geskiedenis van KI se Australiëse inboorlinge strek oor meer as 10 000 jaar. Die eiland het as “Karta”-eiland van die dooies bekendgestaan. Gereedskap van steen gemaak en ashope getuig van inboorlinge op die eiland meer as 16 000 jaar voor ons tyd. In daai dae was dit moontlik om van Tasmanië na KI te stap. Droomtyd-stories vertel van ‘n kwaai man wat sy twee vroue agterna gejaag het oor ’n gebied wat nou as “Backstairs Passage” bekendstaan. Nie in staat om hulle te vang nie, beveel hy die water om te styg en hulle te laat verdrink, wat die skiereiland in ‘n eiland omskep het. Stamme van die inboorlinge het al meer as 2 000 jaar gelede van die eiland verdwyn.

Al is kampeer die maklikste opsie, veral buite die hoogseisoen, bied die ou dorpies se hotelle ‘n sjarmante alternatief wat ons sou kon terug lok vir ‘n andersoortige eilandbelewenis. Omdat hierdie eiland sy natuurlike bronne op prys stel en vir toekomstige generasies beskerm, sal KI nog vir ‘n lang tyd ‘n ekobestemming bly vir diegene wat ruwwe, ver plekke wil opsoek.

Facebooktwitter