Spieëlbeeld deur Franz Marx

BOEKE uittreksel

Spieëlbeeld is ’n meesleurende spanningsverhaal wat teen die skunnige agtergrond van Johannesburg se ontkleeklubs en die geordende administratiewe kantore van internasionale sakeondernemings afspeel. Die storie is onderbou in ’n skêrknipstyl wat die tragiese verloop van twee uitsonderlike karakters se noodlot tot op die uiteindelike en onafwendbare huurmoord uitbeeld. Spieëlbeeld, geskryf deur die veelbekroonde TV-skrywer/veraardiger Franz Marx, is tegelykertyd ’n speurtog, karakterstudie en ironiese soeklig op hedendaagse Afrikaansheid.

Isolasieglas keer dat hy die vrolike, opruiende en uitlokkende raasklanke vanuit die tent onder in die tuin hoor. Hand in die broeksak staan hy in sy studeerkamer by die venster en uitkyk.

Onder hom in helderwit sonlig drentel kleurryke gaste twee-twee of in groepies met die paadjies af na die tent toe. Gekoester in sy studeerkamer word hy meegevoer deur die ryk modulasies van ’n Mozart-klavierkonsert. En dis ’n hartsvreugde, dink hy. Sy voet tik-tik vanself op die diepblou mat op die ritme van die vrolike eerste beweging.

“Jy’t my laat roep?” steur Elaine hom met ’n klop aan die deur.

Maar hy nooi haar nie in nie. “’n Driekwartier gelede al,” draai hy gesteurd die volume af.

“Dit gaan so dol, maar hulle is darem al klaar met Belinda se foto’s,” maak sy gespanne verskoning. “Sy’s so te sê reg om af te gaan tent toe. Die mense vra na jou. Wanneer kom jy af?”

“Ek wag die goddelike oggend vir Du Pisanie om my te kom sien,” ignoreer hy haar vraag. “Ek bel ondertoe en los boodskap op boodskap. Hy moes kamma goed vir die foto’s loop haal, maar is sekerlik eeue gelede al terug.”

“Hy moet help in die tent,” sê sy versigtig.
“Maar ek soek hom,” sê hy ergerlik.
“Ons is kort aan hulp, want Joe Minnie het nog nie opgedaag nie. Asseblief laat Louis net eers met die gaste help,” pleit sy. “Ek belowe jou ek sal self sorg dat hy jou kom sien. En onthou, jy sal moet praat. Daar is ook mense van Afrikaans Eerste. Tarina Welgemoed vra aanmekaar waar jy is. Almal vra na jou. Karen Scheepers ook.”

Hy wens hy was klaar in die Gulfstream hoog êrens bo Afrika op pad Engeland en Europa toe. Enige plek toe. Hy’t nie ’n toespraak voorberei nie. Hy’t nie daaraan gedink nie.

“Kom roep my voor julle die kos bedien. Ek sal dink aan iets om te sê. En jy sorg dat Du Pisanie by my uitkom. Dis belangrik. Ek wil nie verder agter hom aanloop nie.”

“Onmiddellik ná jy klaar gepraat het. Ek sal sorg.”

Sy verdwyn geluidloos op die dik tapyt die gang af.
Hy trek ’n vel papier nader om sy deurmekaar gedagtes te orden en agtermekaar neer te stip. Waar het Mozart inspirasie en tyd gekry om in sy kort lewe soveel melodieë, soveel ritmiese opeenvolging van klank só neer te pen dat die verloop van die musiek so noodwendig, so vooruit bestem is soos ’n mens se lewe self, wonder hy terloops. Konsentreer, Dolf. Konsentreer.

Hy sal die res van die dag na Mozart kan luister. Hy’t dit lanklaas gedoen. Dis sy verjaardag; hy behoort te kan doen wat hy wil. Hy maak die musiek weer harder.

Orden jou gedagtes, Dolf.

Hy droom oor ’n geluksalige toekoms met Estelle. En sy twee meisiekinders.

Onthou. Punt vir punt, Dolf.
Hou dit punt vir punt gesellig en lig.
Presies vyftig jaar gelede was hy iemand se baba, lag hy meteens; ’n baba met ’n hele lewe, nes die musiek, van noodwendige opeenvolgende gebeure en onverwagte modulasies wat op hom gewag het. Hy maak die volume nog harder. Miskien, huiwer hy met sy regte outydse Sheaffer-vulpen bo die skoon wit papier voor hom, is die lewe ná alles tog ’n spreekwoordelike lied en word ’n mens se misstappe altyd uitgewis en vergewe soos die dae verbygaan.

Jy het drie punte om aan te voer as jy iets moet sê op jou verjaardagonthaal, Dolf. Dalk, bly die pen skryfloos bo die papier huiwer, is die lewe meer as die belaglikheid van daaglikse bestaan en tog iets om voor te baklei en iets om opgewonde oor te raak. Hy skroef die vulpen toe en sit dit ongebruik op die wit papier neer.

Spieëlbeeld
, Protea Boekhuis, 2017, R250

By | 2017-12-08T16:51:05+00:00 December 8th, 2017|Boeke|