Smullekker Vadersdag-wegbreek by Grande Provence

Verras jou pa op Sondag, 17 Junie met ‘n smullekker wegbreek by Grande Provence vir ‘n Vadersdag middagete, óf vir die toppunt van bederf, ‘n luukse naweek-ontvlugting in die Franschhoek-wynlande.

Uitvoerende sjef Guy Bennett het ‘n smaaklike driegang-spyskaart geskep teen R400 per persoon, wat ‘n spesiale geskenk vir pa insluit. Alle pa’s wat Grande Provence op Vadersdag besoek, sal bederf word met ‘n gratis Angels Tears Le Chocolat Pinotage en biltong-proe.

Die hele gesin kan onthou-oomblikke skep by Grande Provence se Owner’s Cottage, of ontsnap na die privaat La Provençale teen spesiale winterpryse. Dis beslis die moeite werd om gebruik te maak van hierdie nommerpas Winter Heartland pakkette wat aandete, bed en ontbyt insluit.

Koester liplekker kookkuns met ‘n keuse tussen Saldanha-oesters of biefstuk-tartare as voorgereg. Gaste kan kies en keur tussen heilsame hoofgeregte soos sjef Guy se bekende stadig geroosterde varkpens met taai lensie-ragout; óf sy geurige beeskortrib met witboontjie-cassoulet. Die verleidelike nagereg van Valrhona eclairs, heuning-crème, krakerige makadamianeute, wintervrugte en rooibos-gelato sal verseker pa se soettand bevredig.

Die spesiale Vadersdag middagete kos R400 per persoon. Voorafbetaalde bespreking is noodsaaklik om jou plek te verseker. Stuur ‘n e-pos aan events@grandeprovence.co.za of skakel Tel: 021-876 8600. Vir verdere inligting besoek www.grandeprovence.co.za.

 

By | 2018-05-22T08:42:00+00:00 May 22nd, 2018|Kos|