Silwerroete Deel 1: Burgos tot Salamanca

deur Gerard Scholtz

(Rol af vir foto’s)

Ons tel die Silwerroete van Spanje op ’n yskoue oggend net buite Burgos op. Die Via de la Plata. Saam met al die stappers van die Camino de Compostella. Ons het hulle die vorige aand al in hordes op die pleine en strate van die ou stad gesien. Stok in die hand. Rugsak met skulp. En ‘n vasberade en soms gepynigde trek op die gesig.

Die Silwerroete is ‘n antieke roete wat Spanje se noorde met die suide verbind. Dit was alreeds in die Bronstydperk (3000BC) ‘n roete, maar dit was die Romeine wat Spanje in 218BC ingeval het wat die Via de la Plata met klip gebou het. Ons het besluit om vir hierdie reis die roete vanaf Burgos in dele te volg.

Burgos is die geboorteplek van my tienerheld El Cid, en ook daarom ‘n belangrike plek vir my om hierdie reis te begin. My jeug word herbesoek terwyl ons so oor die koue vlaktes van die Baske en Castilla y León ry. Die Saterdagmiddae se bioskoop toe stap. Die opwinding. Die 11 sente in jou sak vir ‘n kaartjie en nog so 5 sent vir lekkergoed koop. Die skeur van die kaartjie by die fluweel gordyndeur en jy wat jou plek in die donker vind na jou gunsteling sitplek. En dan El Cid, wat ek twee keer gaan kyk met Charlton Heston en die mooie Sophia Loren. Van die tonele is na 50 jaar nog net so helder in my ingebrand. Veral die laaste veldslag met El Cid op sy wit perd en die lang wit mantel. En die More wat nie wis dat hy alreeds dood is nie. Ek het elke keer so gehuil. Ek spoor toe hierdie nuwe lokprent op Youtube op, en wraggies ek onthou selfs die skok en verbystering op die gesigte van die More. En die skoonheid van Sophia Loren in haar swart gewaad. https://www.youtube.com/watch?v=BE7QDaBoo_4

Ons stap baie in Burgos, ook omdat ons reg in die middel van die stad tuisgaan. Veral in die ou gedeelte met die magtige poort; die plataanlanings wat in mekaar geënt word lyk soos jong verliefde paartjies wat inmekaar groei; die magtige katedraal wat oor alles troon. Ons gaan eet ons kaas en brood bo by die ou kasteel wat oor almal waak. Daardie aand gaan stap ons weer in die ou gedeelte van die stad met honderde mense wat kuier, ten spyte van die koue. Klim die trappe op om oor die kerkplein te kyk wat in die donker ‘n grinterige atmosfeer kry. Dit bly maar reënerig en koud.

Ons verslaap die laaste oggend in Burgos, maar vertrek om en by ons beplande tyd, in ligte reën, en voel effens skuldig as ons sien hoe die pelgrims met rugsakke en reënklere die tog aanpak. Sommiges loop net so sonder beskutting in die koue en reën. Hier en daar ene met ‘n plasstieksak met kos in die hand. Is die foltering ook deel van ‘n geestelike reis?

Die weer versleg, die dorpies is mistroostig en lyk asof hulle van modder gebou is. Ons draai telkens in om tot op die plein of die kerk te ry. Min mense in sig. Die enigste bewegig soms is die ooievaars wat nes skop op die kerktorings. Nogal baie van hulle. Ons probeer die Spaans op historiese borde te ontsyfer en voel bietjie ingeloop dat ons so min verstaan.

Die vlaktes is groen. Die paaie stil. Dit begin reën. Die koue word intenser. Ek kapituleer en sit die nuwe motorfiets son en weer-handskerms aan Silwer. Die handskoene help nie meer vir die koue nie. By ‘n staning trek ons nog dikker aan. Eet ‘n broodjie en kaas, en kyk vir die stappende pelgrims op die eindelose pad oor die groen vlaktes. Wonder wat in elkeen se gedagtes aangaan, en of hulle só verdiep is in hulle geestelike reis dat hulle nie die mistroostigheid raaksien nie.

By een van die dorpies soek ons die hitte van die kroeg op om net om ons koue hand om die warm koppie te sit. Ons verkyk ons aan die 13 oompies wat daar sit met hulle koffie en koerante. Geen vroue. Dit is asof jy in ‘n tydborrel sit. Pure 70’s dekor. Ligte hout. Plastiek. Geraamde tjoklitboks natuurtonele. Lampskerms uit ‘n ander era. En baie drank op die rakke. Een omie staan by ‘n dobbelmasjien en speel sy spel vir die dag.

Ons navigeer teen vieruur heel maklik León binne. Baie verleggings in die reën en die onopgedateerde GPS moet net kophou, en o, ons het iewers vir ‘n rukkie verkeerdelik op ‘n tolpad beland en byna ‘n dag se begroting geblaas! ‘n Finansiële terugslag.

Ons is steeds op die uitkyk vir ‘n neumaticos om Silwer se nuwe voorband te vervang, wat ‘n blaas aan die kant ontwikkel het en nou en dan die rukkings kry. Maar dis ‘n hopelose soektog. Beduie help nie in Burgos nie. Jy moet die taal kan praat.

Ons besef dat ons goeie waterdigte klere nie meer so waterdig is nie, en gaan soek in ‘n groot inkopsentrum na ‘n Intersport wat ons al uit vele verknorsigs gehelp het. Ons kry wat ons soek. Goeie waterdigte reënjasse teen ‘n astronomiese bedrag. Nog ‘n finansiële terugslag…

Ons blyplek, ‘n groot apartement net vir onsself, is naby die oustad en ons durf die paar kilometer te voet aan, met die nuwe reënjasse onder ons arms. Daar is nie veel te sien wat ons nog nie gesien het nie. Wel interessant is die baie groepe ram- en hennepartytjies. Groepe vrolike jongmense in allerhande lawwe klere of pruike wat van kroeg tot kroeg beweeg.

Maar die volgende oomblik breek ‘n bliksem- en donderstorm los wat teen die klipmure en torings eggo. Die hemel se damwalle breek. Ons loop enkeldiep in water terug en lag. Ek laat die water so oor my gesig spoel en dink aan die droogtes tuis. Dit is ‘n gevoel van oordadigheid, van genoegdoening, van vreugde… In die proses sit ek my voorskrifdonkerbril in die nuwe reënjas se bosak. Min wetende dat dit nie ‘n bosak is nie, maar ‘n ventilasie gat. Vroeg die volgende oggend, met die ontdekking, draf ek die paar kilometer terug stad toe met die rivierpadjie, net ingeval. Maar daar is so baie debris van gebreekte blare en takkies, en dit is ‘n onmoontlike taak. Nog ‘n groter finansiële terugslag…

Die roete na Salamanca beur my gemoed op. Die son steek kop uit. Dit is ‘n lieflike vars lenteoggend van so 11C. Ek ry met my skerm oop sodat die koue my in die gesig vang. Ek dit kan asemhaal en voel.

Toe kom die klaprose. Rooi so ver as wat die oog kan sien – ‘n rooi see. Tussenin is ander blomme. Die rooi, met pers, wit, geel.

Na middagete in ‘n kroeg raak ons vaak. Ek sien hoe Anuta begin slinger en ons trek af by net buite Toro, langs die Duerorivier. Net daar in ‘n koringland raak ons dadelik aan die slaap. So veilig. So tevrede.

Die aarde bly plat en dit is nou al dae lank net koringlande. Later die middag, dit sal ek vir altyd onthou, word ek oorweldig deur die wydheid van die uitspansel. Dit voel asof ek op ‘n metafisiese vlak beweeg. Asof ek opstyg en alles om my word net groter en wyer. Die wolke witsilwer. Die koring groener as groen. En ‘n volmaakte hemel voel nader en nader. En my wens is dat hierdie reis nie mag ophou nie.

Dis toe dat ek beginne wonder. Se nou net hierdie verruking neem Blou soos ‘n vuurwa die hemele in, met my aan die stuur. En ek so nou en dan afkom aarde toe vir ‘n verskyning. Sal die mense wat my sien as heiliges verklaar word?

Wat sal ‘n mens van Salamanca sê? Die klein stadjie wat as een van die mooistes beskou word. Met een van die oudste universiteite ter wêreld. Wat met ‘n gloeiende heuningkleurige klip van die omgewing gebou is. Wat elemente van gotiese, middeleeuse en Romeinse argitektuur het. Ons kry nie genoeg nie en stap die strate op en af en heen en weer totdat ek later ‘n blaas op my een hak het. Daar is soveel verrassende elemente om elke hoek en draai en my kamera werk oortyd.

Drie dinge sal my bybly. Die laaste tyd beleef ek baie dinge as sinkronisiteit. Waar die sameloop van omstandighede nie toevallig is nie, maar van oertyd al so vir my bepaal is. Ons stap in ‘n nou straatjie af, en ek kry die heerlike reuk van leer. Ek stap die winkeltjie binne en daar is ‘n omie besig met skoene. Soos ‘n regte middeleeuse skoenmaker. Skaar 30m verder breek my sandaal se hakband se ystergespe. Terug na die middeleeuse oompie… Ek het sy hand geskud, want ek was só aangedaan.

Ons sien daar is ‘n uitstalling, El cielo de Salamanca, en wil dit graag sien. In ‘n muur is ‘n swart ingang en ons stap in. Binne slaan ons asems weg. Daar, in die pikdonkerte, is die diereriem teen ‘n koepel geskilder. Oeroud. Daar is die sterretekens. Die boogskutter, die maagd, die skerpioen, ram, … almal. Nog altyd. Want was mos so van die begin af. Dit voel asof dit ‘n heiligheid is wat betreë word. Ons verstaan net nie die dik slang nie…

Ons besluit die laaste middag om nie ons reënjasse saam te neem vir ons laaste besoek aan die oustad nie, want die son skyn so vrolik. Wel, die moeder van alle donderstorms breek skielik uit. Die lug word byna pikswartblou. Dit blits en rammel en ons hardloop tot onder ‘n gazebo langs die katerdraal waar ‘n klompie studente ook skuil. Die gazebo is van deurskynende plastiek. Alles word ‘n towerwêreld. Ons hoor die blitse wat teen die torings en mure vasslaan, die knalle, die rammelings. Alles wat eggo. En toe begin een van die ergste reënbuie uitsak wat ons nog beleef het. Die geplaveide paaie word strome, riviere. En toe begin die katedraal se gargoyles water spuit soos sluise wat oopgemaak is. Die katedraal transendeer tot honderde watervalle… Ons staan oopmond en beleef die wonderwerk. Seker vir ‘n uur daar gestaan. Nat tot teen die knieë.

Net, hoe nader ons aan die geparkeerde Silwer kom, besef ons daar is groot fout. motors staan skeef in die water. Die strate het opgedam. Die stad se verkeer het opgehoop. En Silwer? Ons loer om ‘n hoek en verwag die ergste. Maar daar staan hy, hoog en droog op ‘n sypaadjie.

 

Burgos

León

The day of the poppies

 

Salamanca

By | 2018-06-25T13:07:01+00:00 June 25th, 2018|Reis|