Silver Route Part 2: Die Landskap van Andalusië

deur Gerard Scholtz

(Rol af vir foto’s)

Venus, morester
riemleier op ‘n pelgrimspad
baan mooi weë vandag

Na my groot skade, my voorskrifbril wat ek in die storm verloor het, besluit ek om die volgende oggend baie vroeg te gaan kyk of dit nie êrens vasgespoel het nie en begin die paar kilometer terug León toe te snuif. Op ‘n drafstap. Die stormroete. Oor die rivier. Deur parke. Op sypaadjies. Tot my bors begin brand en ek omdraai. Maar dit was ook lekker. Die bruisende rivier. Die brûe. Die stil Sondagvroegstrate en alles wat so vars is na die storm.

vroegoggendwaters
bruisend deur ‘n reënvars stad
kruispad toegespoel

Ons val in die pad na Candeleda wat so 200km ver is. Dit is koud. Nou en dan sak die reën uit. Ons is nou goed teen koue en reën gepantser. Die omgewing is ook so mooi dat ons nie omgee nie. Groen rollende heuwels en ons begin die eerste kurkbome sien wat soos groot bonsaibome lyk. Verkrom. Met takke wat in vreemde rigtings groei. En dan ook veldblomme, soms so ver as wat die oog kan sien. Ons stop kort-kort om van nader te kyk. Te ruik.

Skiet van ‘n wynprop
connoisseur lig sy glas
kurkboom verloor skil

Die dorpies is maar vaal en jy sien byna nie ‘n siel nie. ‘n Eensame gevoel as ons so deurry en alles so verlate is. Ons doen aan by die elke dorpsplein, kyk bietjie rond en weet nie wat ons eintlik soek nie. Soms is daar ‘n standbeeld van een of ander veroweraar of staatsman. In een mistroostige dorp staan Pizarro op ‘n groot plein met armoede en verwaarlosing om hom.

En verwonder ons aan al die ooievaarsneste op die kerktorings. Soms is daar op elke hoek van ‘n toring ‘n reuse nes. Ons kan sien dat ysterhouers daar geplaas is en dat die ooievaars dan die nes verder met hout gebou het. Die kuikens is al groot en daar sit hulle dag en nag en wag op kos, en beskou die gemeente se doen en late daar van bo af. Dit lyk nie asof die gelui van die klokke hulle pla nie. Wonder of hulle ook die ure tel?

die klokke beier
slaan vas teen dowe mure
boodskapper ook doof

Ons verkies om ons GPS op fietsroetes te stel. So neem dit ons op kleiner agterpaaie wat stiller is, maar ons ook deur meer interessanter plekke neem. Ons beland op een van hierdie agterpaadjies by Villafranca de la Sierra en begin dadelik aan ‘n bergpas klim wat ons deur dele neem waar dit nog nie lente is nie.

Pure winter. By die die kruin, Puerta de Chia 1663m, maak die wêreld voor ons oop. Voor ons lê die Sierra de Gredos met die pieke nog vol sneeu. Die weer lyk dreigend en ons trek nog ‘n laag klere aan. Teen hierdie tyd bibber ons van die koue.

Die afsak is stadig, want hoe meer spoed, hoe kouer kry ons. Aan die oostekant, die rigting waarheen ons mik, is die wolke swart en ons moed sak in ons skoene. Maar dit is so mooi en kort-kort is daar ‘n rivier of ‘n stroom water. Mosbegroeide bome. By die mooi klipdorpie, San Martín del Pimpollar, moet ons begin om die Sierra de Gredos oor te steek. Die reën haal ons in. Ons klim en klim tot by Puerto del Pico 1352m. Ons bibber, maar voor ons maak die wêreld effens, maar dramaties, oop deur die mis.

mosbegroeide tak
mikrokosmosbioom
jou wêreld is klein

Hier sien ons die breë geplaveide pad wat die Romeine bergaf gebou het. Indrukwekkend. Elke paar tree is daar ‘n klipwal wat spoed sou breek, of vastrapplek gee. Hoe is dit moontlik? Honderde mense sou aan die pad moes bou om dit so perfek met klip te plavei.

antieke paaie
verbindinsare van tyd
wegwysers verweerd

Ons staning is in ‘n tradisionele huis in die ou gedeelte van Candeleda. Daar is swaar gordyne voor die deure, vermoedelik om vlieë uit te hou. Ons gaan verken dadelik die dorpie. Die nou gangetjies vleg deur die ou deel. Alles skitterskoon. Blomme oral in bakke teen die mure. Ons gaan sit op die besige dorpsplein met bier en olywe, wat ons ritueel vir die volgende paar aande word.

Die plein is ‘n wriemelende, krioelende miernes van kinders. Dogtertjies wat al vroeg geïndoktrineer word met babawaentjies en poppe. Selfs tweelingwaentjies met tweelingpoppe. Die seuns speel sokker natuurlik, en die grootmense beweeg van groepie tot groepe en gesels. So vredevol. So ‘n ou tradisie. .

Die weer bly sleg en ons ons doen dagritte na naburige bergdorpies, kerkies, en verder. Sak in die ritme van die omgewing van mere, eikewoude, vergete dorpies en bergstroompies. Ons verkyk ons aan die velde vol Spaanse laventelbosse in volle blom, nog meer ooievaars wat wei, kos nes toe aandra en die kuikens wat gulsig sit en wag, of luister na hulle geraas as ‘n valk verbyvlieg. Of ons kyk op, op na die aasvoëls, die geiers, wat bokant klowe draai. Ons hou stil by Romeinse ruïnes, of ry verby. Kyk na weerkaatsings van vestings in water. Of die eenselwige rooi van klaprose.

is dit klaprose
of die kleur van oorloë?
landskap bloei in rooi

En dan die olyfboorde. Stokou bome met wriemelende stamme. Jonges wat nog moet bot. So ver as wat die oog kan sien.

olyfboordheuwels
volgebukkende bome
dra swaar aan vrede

Saans stap ons deur die nou gangetjies van ons dorpie, groet die oumense wat voor hulle deure sit, staan stil voor die potte en potte vol rooi malvas teen die mure, en gaan terug na die besige plein vir ‘n bier, om na die mense te kyk, en nog dieper in die ritme in te sak.

sweefstokartieste
berggeiers in sirkelvlug
my voete struikel

Die Guadelupe-klooster staan soos ‘n uitvouprentjie in ‘n boek. Van die hoogtes waarmee ons inkom lyk dit asof die teëldakgeboue rondom die klooster miniatuur geboutjies is. Ons probleer die klooster binnegaan, maar daar is net Spaanse begeleiers en ons blaas die aftog en gaan sit op die plein en drink liewer koffie. Met die uitgaan verloor ons mekaar en en vleg deur die nou gangetjies op en af. Soos altyd vind ons mekaar weer.

karmelietnonne
dra stom aan kerk se vloek
eindlose stilte

In een van die dorpies hou ek stil om foto’s van ‘n huis en rose te neem. Ek sien nie dat Silwer se been op ‘n verkrummelde klip staan nie en daar begin hy oorhel. Ek klou vir lewe en dood, maar hy is te swaar en ek laat dit saggies en met respek gaan lê. In die proses ‘n spier in my rug seergemaak.

Trujillo is ‘n baie groot onbeplande verrassing. Ons ry soos ridders deur die nou gangetjies en klipstrate tot op die groot plein wat as een van die mooistes in Europa beskou word. Groot, oop, en dan die imposante standbeeld van Pizarro. Sy teenwoordigheid is die fokuspunt en oorheers die hele plein. Ons sit lank op die plein en drink weer koffie en probeer die grootsheid in te neem.

Die landskap is mooi. Die groen nou vervang met rypgeel. Kon net sowel in die Noordelike Provinsie wees. Grasveld en spikkels bome. Dis beeswêreld. Die wolke is magtig en ons stop kort-kort om na die grootse landskap te kyk. In dorpies staan ons stil as die klokke beier.

angelusklokke
lui oor heuwel en vallei
‘n landskapsritme

Besef net weer dat mens moeg word van groen. Groen is groen. Groen bly groen. Geel het soveel skakerings. Goudgeel. Bruingeel. Rooigeel. Dit is wat hierdie landskap nou verfrissend maak. Al die gele. Al die rypheid.

Dit was ‘n lang dag en ons is moeg. Kom laat by die blyplek aan, maar na die uitpak gaan stap ons eers deur die oustad van Cáceres. Die strate is vol netjiese mense wat drentel en die Saterdagaand geniet. Ons is honger en eet heerlike tapas in ‘n buitelugkroeg. Tot dit donker word en die lug inkblou. Met die sterre.

die orde van die nag
vang jou telkens onverhoeds
solank sterre skyn

Andalusië kruip onder ons velle in. Dit word nou vir ons die Spanje wat ons voorheen nie kon vind nie. Die pretensieloosheid. Onopgesmukte dorpies met ‘n eerlike aardsheid. Eenvoud. Warmte.

Andalusiëlig
ryp koringlande
digtersink is goud

Some of the photos are without captions. It seems as if there is a technical problem with WordPress at the moment. I will add captions later when the isssue is resolved.

20180529-IMG_1643

Cork trees – an oak species.

 

20180529-IMG_1646

20180529-IMG_1647

20180529-IMG_1649

 

20180529-IMG_1655

 

20180529-IMG_1659

Pizarro on an obscure square

20180529-IMG_1667

What a place to have a picnic – an old water mill.

20180529-IMG_1669

20180529-IMG_1671

Though it was already mid-May, in some of the high valleys there were still trees without leaves.

20180529-IMG_1673

We climbed and climbed in the cold, and then we reached the summit of a mountain range at 1600m+.

20180529-IMG_1676

We enjoy descents. Then we switch off the engines and glide and glide ..

20180529-IMG_1678

Ancient bridges

20180529-IMG_1680

Enter a caption

20180529-IMG_1682

20180529-IMG_1686

Scary on high roads in the rain an

20180529-IMG_169520180529-IMG_169820180530-IMG_170320180530-IMG_170520180530-IMG_171020180530-IMG_171320180530-IMG_171520180530-IMG_1716

20180601-IMG_185420180601-IMG_186120180601-IMG_186420180601-IMG_186620180601-IMG_186820180601-IMG_187020180601-IMG_187120180601-IMG_187520180601-IMG_187620180601-IMG_188220180601-IMG_188520180601-IMG_188920180601-IMG_189120180601-IMG_1894

By | 2018-06-25T13:22:36+00:00 June 25th, 2018|Reis|