Plaasmoorde

Die kollektiewe skok, trauma en vrees
ARTIKEL: Marguerite van Wyk

Dit is asof plaasmoorde ons gesprekke domineer. Dit het ’n verlammende uitwerking op slagoffers en hul gesinne – en wat van die kollektiewe skok in ons land? Hoe gemaak met ons emosies?

Byna daagliks kry ons die nuus – per radio, televisie, koerante – daar was weer ’n plaasaanval. Of meer as een, selfs. Dis ’n vlaag, landwyd, die aanvalle en moorde op plase.

In Februarie vanjaar het ’n gru-aanval op die bejaarde egpaar van Dullstroom in Mpumalanga, Robert Lynn (68) en Susan Howarth (65), die land opnuut geskok. Drie rowers het al skietende deur hul slaapkamervenster by hul plaashuis ingebars. Susan is in die kop geskiet. Robert is later sowat ’n uur lank gemartel met ’n blaasvlam op sy maag en bene. Hy is ook met een van sy eie messe oor die lyf gesny. Later is ’n swart sak om sy kop gebind, en nog een is in sy vrou se keel afgedruk. Sy het hortend asemgehaal. “Ek het gedink sy is dood, maar sal daardie geluid nooit vergeet nie.” En Susan is later dood. (Rapport, 26 Februarie, 2017)

Dit is, flitsgewys, net een van vele nuusberigte wat oor dié onderwerp verskyn het. En dis ’n tema wat al hoe meer gesprekke oorheers. Kyk jy na die statistiek, is dit nie vreemd nie. Nuwe syfers van AfriForum soos deurgestuur – sedert die begin van die jaar was daar 113 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde. In 2016, volgens die Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika (TLUSA), is 70 mense in sowat 345 plaasaanvalle – amper een elke dag – vermoor. Die organisasie beskryf die aanvalle as “gesofistikeerde, militêre plundertogte (raids)”.

“Plaasaanvalle skep baie onsekerheid en vrees – tweedehandse trauma, nie net onder die betrokke families nie, maar ook hul wyer ge-meenskap en elders,” vertel dr. Tessa van Wijk, ’n traumatoloog van Lichtenburg in Noordwes. “Dié kollektiewe trauma lei tot onsekerheid, woede en vrees. Almal begin wonder: Wanneer is dit mý beurt? Dit is asof daar onderliggend ’n soort suising van angs in ons onderbewuste is.”

Dit plaasaanvalle en -moorde plaas bykomende druk op boere – hulle moet hul primêre rol vervul: om genoeg kos vir die nasie te produseer, maar terselfdertyd moet hulle aandag gee aan hul families en werkers se veiligheid. Hulle is dus ook betrokke by polisie- en gemeenskapstrukture om hul families en werkers te beveilig. “Suid-Afrikaanse boere, wat gehalte-produkte lewer en sorg dat die land se ‘spens’ vol is, dra by tot ’n gesonde ekonomie en skep werk. In wêrelddele met voedseltekorte, heers opstande en wetteloosheid,” meen Kobus Visser, hoof van korporatiewe kommunikasie van Agri SA.

Plaasmoorde tokkel ook ons emosionele snare, reken Marlize Heppell, ’n sielkundige van Klerksdorp in Noordwes. “Baie van ons het ’n diep band met oupa en ouma êrens op ’n plaas. Ons onthou hoe ons as kind op die plaas gaan vakansie hou en Kerstyd saam met nefies en niggies gespeel het. Nou ly daardie einste mense, en ons voel magteloos voor ’n stelsel wat onsimpatiek staan teenoor verdoemende hoë statistieke en sinnelose moorde op plase.”

Op sosiale media is daar baie wat nostalgies terugroep na die tye voor 1994 … hunker na ’n tyd waar daar groter veiligheid op plase en in ons huise was. Was dit werklik so veilig? Miskien is dit ’n effense fantasie. Dalk was ons vroeër net onskuldig, nie so bewus van wat om ons aangaan nie. Maar hierdie hunkering na wat ons dínk ons verloor het, dra by tot ’n soort uitgebreide posttraumatiese stressimptome (PTSS), selfs al beleef ons nie self ’n plaasaanval nie, meen Heppell.

Sy meen voorts die gebrek aan veiligheid en gevoelens van onseker-heid waarmee plaasgemeenskappe elke dag (en nag) leef, en die kollektiewe angs en gevoel van magteloosheid in die res van die land wat daarmee gepaardgaan, se invloed kan onbepaalbare groot en vernietigende gevolge hê. Dink maar net hieroor:

  • Verhoogde stresvlakke, wat tot verhoogde aktiwiteit lei in die amigdala – ’n deel van die brein wat inligting afkomstig van ons sintuie koppel aan emosie, en ook streshormone soos kortisol en adrenalien vrystel. Hierop volg uiteindelik swak spysvertering, chroniese hoofpyn, afname in libido, verhoogde bloeddruk en verlaagde immuniteit. Navorsing in die mediese vakjoernaal The Lancet wys dat chroniese stres meer inflammasie in die are veroorsaak, wat tot hartaanvalle en beroertes kan lei.
  • Verswakte geheue en konsentrasievermoëns weens die hoë stres-vlakke. By sommige mense lei verhoogde angsvlakke en angstigheid tot die neiging om baie intens te raak, te oorreageer en impulsief op te tree. Hulle kan ook sukkel om besluite te neem.
  • Gevoelens van moedeloosheid, hulpeloosheid, magteloosheid, asook ontwrigte slaappatrone, verhoogde aggres-sie, irritasievlakke, paranoia, major depressie en obsessiewe gedrag kan ontstaan.
  • Om die verlies van ’n geliefde in ’n plaas-moord te ervaar en hanteer is al genoeg om tot posttraumatiese stressimptome (PTSS) te lei – soveel te meer indien iemand die aanval self beleef of aanskou en oorleef het. Die simptome sluit in slapeloosheid, nagmerries, herhalende gedagtes oor die gebeure, irritasie, verhoogde aggressievlakke, angstigheid, skrikkerigheid vir die geringste geluid. Oorlewendes sukkel dikwels ook met skuldgevoelens as hulle reken hulle het nie genoeg gedoen om die oorledenes te beskerm nie – óf hulle voel dit is onregverdig dat hulle oorleef het terwyl die ander dood is. ’n Gebrek aan lewensgenieting en algehele afgestomptheid kom ook voor. Mense met PTSS se kans om major depressie te ontwikkel is drie tot vyf keer groter as dié van ander en hulle is geneig tot dwelm-afhanklikheid.
  • Kinders wat byvoorbeeld gesien het hoe ’n ouer (of oupa en ouma) vermoor is, of enige ander familie of vriende in só ’n aanval verloor het en dit moet verwerk, sukkel dikwels met bednatmaak, swak konsentrasie, aggressie en intense emosies – aanduidings van gevoelens van onveiligheid en angstigheid. Kinderdepressie is ook algemeen.

Ene Margaret Fennell, ’n 70-plus vrou van KwaZulu-Natal, het in ’n hofsaak getuig sy het vir Peter Charles Hackland, ’n boer wat in 2013 op sy Cromleigh-plaas in Ixopo in KwaZulu-Natal vermoor is, gewerk. Die moord wat sy aanskou het, was so traumaties dat sy geheueverlies opgedoen het. Sy is self aan die linkerkant van haar gesig geslaan, net voor die gesin sou aansit vir middagete. Sy het ’n oop wond aan die bokant van haar kakebeen opgedoen en reken die emosionele trauma (weens die moord op Hackland en haar eie angs), het so ’n sielkundige impak op haar gehad, dat sy daarna niks kon onthou nie. Sy het voor dié voorval nog nooit aan geheueverlies gely nie. (southafricatoday.net)
Dit is een storie. Daar is byna elke dag meer mense wat met die nagevolge van hierdie aanvalle moet leef. Kan mens – en hoe doen jy dit?

Valensia Waibale is ’n menslike hulpbronbestuurder by ’n kon-struksiemaatskappy in Johannesburg. As motiveringspreker en han-delsmerkambassadeur vir Biomedical Emporium en een van Sarie se tien Voorbladgesig-finaliste in 2016, kan sy ook getuig van die emosionele spanning wat ’n plaasmoord op haar en haar gesin gehad het. En steeds het.

Haar oorlede man, Jacob, is bietjie meer as ’n jaar gelede op die plaas vóór haar doodgeskiet. Hulle het met hul kinders, dogter Cairo (nou 7) en die kleintjie, Rhema (net oor ’n jaar) naby Vereeniging gewoon.

Sy vertel: “Ek was nét ná ete die aand in die bad. Skielik het Jacob uit die kombuis geskree ek moet die polisie bel.” Sy kon sommer dadelik aan sy stem hoor daar is iets fout. En toe sy in die kombuis kom, sien sy vyf mans storm by die deur in. “Daar het ’n skoot afgegaan – soveel goed het deur my kop gemaal.”

Maar Valensia het koelkop gebly, al het haar “sweetheart” ’n kopwond gehad. Die rampokkers het haar kamer toe gevolg, geld gevra. Sy het net gehoop en bly pleit hulle moet die kinders met rus laat. “Dankie tog die kinders het geslaap tot die ambulans gekom het.”

Dit is toe die rowers weg is dat haar hel eers regtig begin het, want sy kon sien hoe Jacob ly. Hy het nog flouerig asemgehaal terwyl die bloed uit sy kopwond stroom toe sy saam met hom hospitaal toe is. Heelpad het sy bly bid dat hy sal leef. Vir haar en die kinders se onthalwe. “Maar my sweetheart is weg. Ek moes sterk bly vir die kinders.”
Sy het later na ’n sekerheidskompleks in Alberton getrek. Daar was te veel hartseer herinnerings op die plaas. “En ek was baie bang.”

Dit was ’n opdraande stryd om aan te gaan met die lewe. Sy het saans nagmerries gekry, baie gewig verloor. Sy kyk knaend oor haar skouer, voel altyd onrustig. Sy en haar dogtertjie het ’n terapeut besoek, maar sy het nooit antidepressante gebruik nie. “My kinders hou my op my tone, bring soveel vreugde. Ek dink nie ’n mens kom ooit regtig oor so iets nie. Jou sielsgenoot is altyd deel van jou. Jy neem dinge maar dag vir dag. Ek bid, omring my met vriende en familie. Ek besef die wêreld skuld my niks, ek is verantwoordelik vir my eie geluk. My ma, Elizabeth de Bruin, het dit vir my geleer – kleindag al. Ek besef: God gee en Hy vat weg en Hy het my die mooiste kinders gegee.”

Valensia praat baie oor wat gebeur het. Dit is hoe sy dit verwerk. Sy voel haar storie moet gehoor word. Ander vroue moet weet jy kan weer aangaan. Sy weet Suid-Afrika het sy probleme en sy is nie houtgerus oor die toekoms nie, maar is lief vir haar land. Sy wil dinge maak werk, vroue bemagtig om die beste van hul lewens te maak en vir hul kinders ook die beste kanse te gee ten spyte van swaarkry. “Wat met my gebeur het, gaan my nie bitter maak nie, eerder sterker,” sê sy.

Dr. Johan Burger van die Institute for Security Research (ISS), ’n Afrika-organisasie vir die bevordering van veiligheid om vrede en vooruitgang op die kontinent te bewerkstellig, sê die oorsaak van plaasaanvalle is geldgierigheid en gulsigheid, eerder as rassespanning. (Wikipedia)

“Hierdie aanvalle is vir seker nie ’n ‘rasseding’ nie, al is dit hoe baie mense dit sien,” beaam Bernadette Hall, ’n melkboer van die plaas Frischgewaagd tussen Potchefstroom en Vereeniging dit. Haar man, David, is op 20 Februarie 2012, vroegoggend, voor haar in die melkery doodgeskiet.

Sy onthou alles asof dit gister gebeur het. Maar sy moes aanhou leef. Vergeef ja, maar nooit vergeet nie.
“Vyf ouens het deur die mielieland aangestap gekom, met hom begin baklei en een het my vasgebind. David, my man, my geesgenoot van 28 jaar, het terugbaklei, maar later het hulle hom geskiet,” vertel sy.
Koelbloedig. En sy was by.

Terwyl sy buite nog magteloos vasgebind was, is die aanvallers die huis in, waar hulle ’n paar goed gesteel en daarna verkas het. “Gelukkig het David se getroue ou boerboel, Caesar, die toue van my voete losgewoel sodat ek in die huis kon kom om die bure te bel. Binne 20 minute was hulle en die polisie op die toneel,” vertel sy.

Sy was geskok, woedend, aggressief. “Ek was sommer kwaad vir álle swart mense, maar het besef dit is onredelik. Almal loop deur – swart en wit. Ek het besef ek kon lê of opstaan. En omdat ek soveel pligte met die boerdery gehad het, kon ek niks anders doen as om weer skouer aan die wiel te sit nie. Ek het ook gereken as ek uit vrees ophou boer en dorp toe trek, ‘wen’ die moordenaars. Boer is boonop in my bloed,” vertel sy.

Hul seuns Wesley (30) en Bradley (28) het kort ná die aanval plaas toe getrek en haar ’n ruk lank bygestaan. En agt maande later het sy weer liefde gevind. “My verloofde, André van den Berg, ’n varkboer, wat nou saam met my woon, het baie gehelp dat ek oor my hartseer kon kom.”

In 2013 het Bernadette Farmers Friends, ’n bewusmakingsorganisasie wat mense inlig oor plaasaanvalle, gestig. “Wanneer plaas-aanvalle gebeur, wil ons die slagoffers bystaan, na hulle luister en raad gee. Ná my ondervinding wou ek ’n verskil maak, ek kan immers uit ondervinding praat,” vertel sy.

Dit is baie belangrik om so gou as moontlik ná trauma ’n traumato-loog of sielkundige wat in trauma gespesialiseer het, te besoek om dit te verwerk, meen Van Wijk. “ ’n Professionele persoon móét jou deur die proses lei. As jy jou woede, vrees en angs onderdruk, kan jy dalk uiting daaraan gee op die pad (padwoede), of in ’n supermark of teenoor jou gesin. Onthou, dié simptome het ’n manier om kop uit te steek in situasies waaraan jy nie eens gedink het nie. Mense is geneig om vir jou te sê ‘Jy sal oorleef, byt net vas.’ Maar kort ná die trauma, weet jy nie hoe nie. Jy weet nie eens waar om te begin nie.”

Sy verduidelik: “Verlies is baie soos daardie gevoel wanneer iemand jou beursie gesteel het of jy in jou huis inloop en daar is ingebreek. Jy is verslae, geskok, magteloos – dan skop woede in. Dit kan tog nie waar wees nie, het dit werklik gebeur, vra jy. Dan raak jy hartseer. Ons het al almal iets verloor. Soms as jy verlies ervaar, is die emosionele pyn amper oorweldigend. Dit is asof die verlies ’n wond veroorsaak en asof jou hele lewe stop. Jy moet besef verlies gaan jou verander. Dit neem jou na plekke binne-in jouself wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Plekke wat jy dalk nog nooit voorheen kans gesien het om te besoek nie. ’n Nuwe lewe wag nou op jou. ’n Lewe sónder dit wat jy verloor het, so daar is ’n gaping in jou lewe. En dít is waar ’n terapeut van onskatbare waarde is. Om jou te help met dié proses,” meen Van Wijk.

Maar jy kan die trauma behandeling nie soos “antibiotika” gebruik nie, maan sy. “Dit is nie ’n geval van drie pilletjies drink nie … jy moet die reeks voltooi. Trauma verwerking is ’n proses. Anders is die ‘griep’ geneig om terug te keer.”

Elke ou verwerk verlies op sy eie tyd, maar daar is altyd hoop, meen Van Wijk. “Trauma bring dikwels ook baie ander, ou emosionele bagasie na die oppervlak, en dan moet jy dít ook hanteer om totale genesing te ervaar,” meen sy.

Kan mense hulself emosioneel toerus in dié onveilige wêreld waarin ons onsself bevind? Heppell sê jy kan proaktief optree deur alle moontlike veiligheidsmaatreëls daar te stel en bedag te wees daarop om die “regte” goed te doen: om byvoorbeeld nie saans laat terug te keer plaas toe nie, om nie hekke oop te laat nie. Wanneer trauma reeds plaasgevind het, is ’n kombinasie van psigoterapie en medikasie dikwels die oplos-sing om die kort- en langtermyngevolge van PTS-steurnis te verlig. Anders kan dit ’n mens lamlê.”

In ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wat in Oktober 2015 uitgereik is, is verskeie aanbevelings gedoen oor die beveiliging van plaasgemeenskappe. Dit is ’n komplekse probleem met ’n lang aanloop. Reeds in 1998 het Madiba al gesê: “Benewens die onmiddellike menslike lyding, ontwrig ’n gebrek aan sekuriteit en stabiliteit in ons landelike plaasgemeenskap die ekonomie ernstig.”

“Miskien is dit tyd – ook vir ons emosionele heil – dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se aanbevelings geïmplementeer word,” sê Heppell.

WENKE – BLY SO VEILIG

  • Wees betrokke in jou gemeenskap, stig ’n aksiegroep met ’n veiligheidsplan en oefen dit sowat een keer per maand. Probeer om verskillende tipes aksieplanne te hê, sodat jy dit kan afwissel.
  • Hou klein keffertjies in en om die huis aan om jou te waarsku as oortreders op die erf is.
  • Groot honde (geskei van mekaar deur byvoorbeeld ’n heining of hek) aan die voor- en agterkante van die erf, is ook ’n goeie idee.
  • Die erf moet saans helder verlig wees (besluit self wat is strategiese plekke).
  • Sluit alles toe.
  • Belê in die beste veiligheidstelsels.
  • Wees altyd waaksaam.
  • As jy iets eienaardigs hoor, moet nie dadelik uitstorm om te gaan kyk wat skort nie. Bel jou buurman of die gemeenskapaksiegroep om te kom ondersoek instel.

INLIGTING: Bernadette Hall, stigter en woordvoerder van Farmers Friends

By | 2017-07-01T14:20:52+00:00 July 1st, 2017|Hoofartikels|