‘n Kreatiewe korporatiewe ruimte

ARTIKEL: Melanie Tait
FOTO: Nadine de Beer

Absa se kunsversameling is een van die grootste korporatiewe kunsversamelings ter wêreld en DEKAT was op ‘n private toer om in verwondering te staan en kyk.

‘n Groot muurskildery van Karel Nel begroet jou wanneer jy Absa se noordelike toring binnestap. Die titel is Place of Nurture. Vanweë die monumentale skaal (22 m x 7 m), is Nel se werk gekonstrueer as ‘n groot legkaartstelsel van vlak houtrame, wat die kunstenaar in staat gestel het om in sy ateljee te werk en dan die elemente na die perseel te vervoer vir installasie. Die werk is in 1999 in opdrag van Absa geskep. Die tekening is in gedeeltes gebou, ‘n 50/50 mengsel van papierpulp en gips is in elk gegiet en met industriële pigment gekleur.

Die beeld is gegrond op sy vroeër Table and House-reeks en ‘n kaart van Robbeneiland dryf as sentrale beeld in die reuse-legkaart.

Op die roltrappe staan jy verstom voor Norman Catherine se ses enorme tapisseriebanniere, wat deur plattelandse mans geweef is, met 42 unieke vierkantige gesigte op elk. ‘n Draadbeeld, 11 m hoog, deur Walter Oltmann, staan in die hoek van die reuse-foyer.

Die Absa Towers North-gebou in die sentrale sakedeel van Johannes-burg huisves ‘n skouspelagtige versameling oorspronklike kunswerke. Daar is ‘n kunsgalery in die gebou wat ‘n platform skep vir jong en ontwikkelende kunstenaars van oor die kontinent om hul ryke talent uit te stal, maar die meeste van die kunswerke wat deel uitmaak van die Absa-versameling is in kantore en ontvangsareas. Dis ‘n wonderlike ruimte om die kunswerke uit te stal, en toe opdrag gegee is vir die gebou in 1999, is die opdrag vir die hoofkunswerke terselfdertyd gegee,wat dit moontlik gemaak het vir die argi-tekte en kunstenaars om saam te werk om te verseker dat die gebou die kunswerke volmaak geakkommodeer het.

‘n Interessante kunswerk is Mobile City, deur Lewis Levin, Paul Cawood en Susan Woolf geskep. Dit is ‘n beeld van die ou en die nuwe Johan-nesburg wat met ‘n spoor langs beweeg en 20 minute neem om ‘n siklus te voltooi. Dit illustreer die balans tussen die ou en nuwe Johannesburg.

Absa se kunskurator, dr. Paul Bayliss, sê Absa besit ongeveer 18 000 kunswerke en dit word as die negende grootste korporatiewe kunsver-sameling ter wêreld beskou.

Die versameling bestaan hoofsaaklik uit Suid-Afrikaanse kunstenaars. Barclays Africa se voetspoor lê oor die kontinent en die versameling het begin om werke in te sluit van vooruitstrewende kunstenaars van die verskeie Afrikalande waar Barclays Africa ‘n teenwoordigheid gevestig het. Die versameling bestaan uit sowel ou Suid-Afrikaanse meesters as meer onlangse, kontemporêre werke wat deur die L’Atelierkunskompetisie gekom het.

Voordat ons in die kunsgalery gaan gesels, neem Bayliss my op ‘n private toer van die kunswerke se indrukwekkende pakhuis. Gange en gange geraamde werke, spesiaal toegedraai en verpak in unieke stoorgeriewe. ‘n Biblioteek van kuns. Helen Sebidi, Irma Stern, Speelman Mahlangu, Walter Battiss, Gregoire Boonzaier, Alexis Preller, Leonard Matsoso.

L’Atelier-toekennings

Absa, tesame met sy medewerkers Sanava (Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging vir die Visuele Kunste), was deel van Suid-Afrika se trotse visuele herkoms, as beskermheer van plaaslike kunstenaars sowel as ‘n broeikas vir die kunste, wat die groei en ontwikkeling van die land se jong kunstalent identifiseer en bevorder. “Ons is sinoniem met die L’Atelier-toekennings. Baie van die ontvangers van die L’Atelier- en die Gerard Sekoto-toekenning wat die Alliance Française en die Franse Instituut in Suid-Afrika borg, is plaaslik en internasionaal gevierde kunstenaars wat ‘n gevolg ontwikkel het en wie se werke nou hoogs gesog is,” sê Bayliss. “Ons is passievol daaroor om jong talent te identiseer en te bevorder en geleenthede te skep. Elk van die ontvangers het ‘n unieke plek vir hulself uitgekerf op die kunslandskap, en dit is bevredigend om te sien hoe hierdie jong talent volwasse geword het, en waar hulle vandag staan as kunstenaars.” Hierdie jaar is die 32ste jaar van die L’Atelier met kunstenaars van Suid-Afrika, Ghana, Kenia, Uganda, Tanzanië, Mauritius, die Seychelle, Zambië, Botswana en Mosambiek wat genooi is om deel te neem.

Stad midde ‘n stad

Die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar Marco Cianfanelli is die taak opgelê om ‘n reuse-sonskerm in ‘n kunswerk te verander vir Absa se korporatiewe kunsversameling. Die idee was om die uitsig deur die 33 m x 17 m venster op ‘n vlekvrye staaldoek in die gebou in te bring. Cianfanelli se idee was om ‘n pixelagtige beeld te skep deur gate van verskillende groottes met laser te sny – omtrent 235 000 van hulle. Dit het toe Steven Roger-Lund se taak geword om ‘n “vlekvrye staal foto” te skep. Besoek Absa se West Tower om hierdie meesterstuk te ervaar.

Kuns as ‘n belegging?

Soos met enige belegging, is kunsversameling ‘n langtermynbelegging en moet dit nie gedoen word met korttermyndoelstellings in gedagte nie. “Die goue reël is om navorsing te doen – weet wat jy koop. Koop waarvan jy hou, moenie koop met die doel om geld te maak nie. Verstaan dat wat jy ook al aanskaf, jy vir jare vorentoe daarmee moet saamleef,” sê Bayliss.

Voordat jy koop, moet jy soveel galerye moontlik besoek. “Wat ‘n kunswerk goed maak, is vorm en inhoud. Wat vorm betref, is dit die medium; die vlak van die gebruik van die medium; kleur; komposisie; en grafiese omvang en kleurwaardes. Wat die belegger ook in gedagte moet hou, is: die gehalte, medium, mode, voorsienigheid, uniekheid van die werk en die kunstenaar se handelsmerk. Wanneer jy kyk na die kunstenaar, kyk na sy of haar prestasies van die verlede. Het die kunstenaar plaaslik en internasionaal uitgestal? Watter werke is uitgestal en watter het verkoop? Maar, die belangrikste is: koop dit wat jou aangryp. Groot kuns laat ‘n blywende indruk,” sluit hy af.

By | 2017-07-01T15:09:11+00:00 July 1st, 2017|Kuns|