Malligheid in Marrakesj

Obie Oberholzer

Marrakesj in Marokko is ‘n maalstroom van mense, kleure, geure en gewaarwordinge waaruit toeriste ‘n eie drama kan verweef op dié verhoog van die lewe.

As die hele wêreld ‘n verhoog is, dan sal die reisiger op soek na fassinerende plekke vind dat die medina van Marrakesj in Morokko sekerlik die middelpunt is. Dis ‘n toneelstuk wat, op ‘n manier, sy eie verhoog oorleef het. Die ou medina is die kern, die hartslag van die moderne stad wat hom omring. Dit is van hier af dat die hart warm bloed pomp; dis waar jy jou voete stukkend kan loop en jy jou hart met die vreugdevolle malligheid van die mensdom kan deurdrenk. Hier is die lewensaksie veelvlakkig en ingedruk en vasgedruk in ‘n area omring van hoë verskansings – ‘n Middeleeuse plek so groot soos 700 rugbyvelde. My goedkoop gidsboekie vertel vir my dat die Moravide-dinastie dié medina in 1070 gebou het. Ek probeer die syfers weer inneem – dit moet ‘n drukfout wees? ‘n Een en ‘n nul en ‘n sewe en ‘n nul. As ongelowige en nie-gelowige, raadpleeg ek Mohamed se Google, wat bevestig dat sommige Berberstamme, aan die beweeg verby die Atlasberge uit die suide, hierdie stad in 1070 begin bou het. Dit was om en by die tyd toe die Hottentotte, of eerder die Khoi-Sanmense, langs die kus van Suider-Afrika in strandgrotte gewoon het, skulpe en alikreukels geëet het en middens in hul vrye tyd geskep het. Nou ‘n Wêrelderfenisgebied, was die medina van Marrakesj eens die politiese, ekonomiese en kulturele setel van die westerse Moslemwêreld. Ek is nie seker nie, maar dalk haal ‘n miljoen mense hier asem? Geseënd is jy! net God sal die antwoord daarop weet. Soos hulle sê in die smal gangetjies wat deur hierdie plek kronkel – “God is groot” “Allahu Akbar”. Maar, moenie dat ek jou mislei nie, moenie dat ek jou in die skoot van die Oudheid stuur om te verdwaal nie. Wel, hier sál jy verdwaal, so seker soos wat God groot is. Al wat ek wil sê, is dat Marrakesj se medina nie vir almal is nie. Dis soos ‘n klewerige kolfblad in ‘n termiethoop, die gezoem in ‘n bedrywige byekorf. Dis die deurmekaar rondomtalie van ‘n miljoen beelde en reuke en klanke, die draai van ‘n lewende sentrifuge wat die gedagtes laat duisel en jou hele liggaam laat tril.

Dus, as ‘n najaer van die gekke en die wonderbaarlike, spring ek in waar die draaikolk op sy ergste is, waar die oordadige tol op sy felste is, by die Plein van el Fna. Dit is my loopplank wat lei na die fotografeerbare onderwêreld. Maar om eers die senuwees en ook die kamera se drange te kalmeer, gaan sit ek by die Café de Paris vir ‘n koppie tee, die land se nasionale drankie. Ek haat tee, het nog nooit daarvan gehou nie, dit herinner my aan die grys motreën van Engeland. Die kelner vertel my dat tee hierlangs Marokkaanse whisky genoem word. Ek probeer lag, maar vind it glad nie snaaks nie. Daar is twee hoof soorte tee, ‘n somertee en ‘n wintertee. Dis ‘n pragtige wintersdag in Desember, so hierdie moet die winterbrousel wees. Dit smaak regtig kak, soos gekneuse kakiebos met ‘n skeut ment. Die teekan hou drie koppies tee, dus vertrek ek met ‘n kakiebosteebedwelming wat my voete laat strompel en met my Canon wat my die labirint van gangetjies en straatjies in lei. Jy kan altyd, buiten ‘n miljoen ander dinge om raak te sien, ‘n paar toeriste opmerk wat stip na hul padkaarte kyk, totaal verdwaal. Kyk na die brawes – dié reisigers wat windmakerig voortstap deur die buik van betowering, ook verdwaal, maar sonder ‘n padkaart. Om hier te verdwaal is om die onverwagse te vind, om die lewe se kanse te omhels en om die gange van die wonderlik vreemde te ontdek. Ek beweeg deur boë wat lei tot tonnelagtige weë, met donker inhamme wat ‘n tuiste bied vir die gekerm van ou geeste. En altyd is daar die winkels op winkels wat ‘n inkomste bied vir die vele wat hier handel dryf. Manne staan geboë oor hul ambagte van yster en hout en leerwerk. Dit wil voorkom of al die goedere wat in Marokko vervaardig word, hier uitgestal word; lap, tulbande, leer, serpe en klere in so ‘n verblindende verskeidenheid van kleur dat ek in my onderbewussyn moet induik om aan iets vas te klou wat net gewoon grys is. Die stemming en lewendigheid van die plek skud my gedagtes rond.

Die digterlike sy van dié kaleidoskoop van geur en kleur het ‘n antieke skerpte wat al deur die eeue geslyp is. Hierdie werkers is ‘n gemeenskap van ambagsmanne, mense van Arabiese, Berberse en nomadiese herkoms. Om handel te dryf, te verkoop, te onderhandel en te kibbel is waaroor dit gaan. Vir hulle is dit ‘n eeue oue spel, ‘n spel wat hul eintlike bestaan voed. Elke winkeleienaar wat voor sy winkel staan, besit die fyn ontwikkelde verkoopstaal om iets aan jou te verkoop wat jy nie wil hê nie. “Just lookie-lookie, no buy, just lookie-lookie” is ‘n goeie openingsbod, wat dan gevolg word deur die algemene, vriendelike ene van kennismaking: “Hello, how are you? … Where are you from?” Daar is ‘n menigte variasies hierop, party so slim en gevat, dat jy maar in jou mou moet lag. Almal is die goedkoopste in Marrakesj, nee, wag – die wêreld. Dan stap jy verby Mohamed, wat nog goedkoper is as Assad, wat eintlik goedkoper was as Sayed, en goedkoper as Omar. Wanneer jy visuele ooreenkomste begin opmerk dan besef jy dat jy maar net ‘n groot verdraaide sirkel geloop het. Inshallah, loop jy Mohamed weer raak, wat nou verbly is om jou te sien en nou selfs goedkoper is as Omar wat volgens Sayed nie goedkoper as hý is nie of selfs Le Hussein. Om verdwaal te wees in die medina, prik die malligheid in jou en bevry jou. Soos ek vantevore gesê het, beteken vryheid om nie mooi te weet waarheen jy op pad is nie. Dan drentel jy tussen die matte rond en sien jy geweefde goed wat so mooi en eenvoudig is dat dit jou hart laat sing. Ek rol my oë en sug diep, want daar is niks so mooi soos van die matte en muurbehangsels wat hier uitgestal word nie. Sommige is van so ‘n fyn gehalte dat hulle jou laat stil word, gevries in totale verwondering. Sommige hang van mure wat 900 jaar oud is. ‘n Enkel traan verdof my oë vir ‘n oomblik terwyl ek vir die man vertel dat my land se geld nie veel werd is nie. Jy wil byvoeg dat dit amper net so nikswerd is soos die president, maar jy doen dit nie. “Aa – Ja,” sê hy, “Jy kom van Afrique du Sud. Hoe gaan dit met Nelson Mandela, lewe hy nog?” Ek kyk weg, want nou is albei oë dof van die trane.

En nou, in dié sketsie wat ‘n ietsie vertel sonder ‘n reisigersgids, is dit tyd om nog ‘n laag by hierdie medina-matriks te voeg. Deur hierdie labirinte van smal strate en gangetjies beweeg duisende fietse, bromponies, driewielfietse, donkiekarre en ander vreemde mobiele voorwerpe wat teen ‘n ongelooflike spoed hul weg oopdwing deur die mense. Hier word stap ‘n vreemde beweging van syspronge, uitswaai en stop en weer begin, wat spiere in jou liggaam gebruik waarvan jy nie geweet het nie. Die gesig van honderde Arabiere, geklee in lang djellabas met gepunte kappies, het die beeld opgetower van die Middeleeue op tweeslagenjins. Die man op sy 50 cc-bromponie wat die dood tart tussendeur die skares, terwyl hy met een hand bestuur en met die ander hand op sy selfoon teks was onverbeterlik. Sy behendigheid het my getref, maar toe ek my kamera optel, was hy weg.

Fassinasie met die visuele het my in ‘n aantal onderdak-soeks of markte geneem, die meeste van hulle met ‘n oorvloedige voorraad vars produkte uit die omliggende platteland. Wat ‘n plesier vir die oog om te kyk na die vrugte, groente, kruie en speserye in sulke kleurvolle menigte. Weer eens, moet ek noem dat die vis- en vleissoeks nie vir die sensitiewes is nie. Ek het ‘n foto geneem van vier bokkoppe op ‘n slagter se tafel, hul dowwe oë wat verlangend terugstaar na die weivelde van gister.

Ná elk van die vyf dae op soek na die vreemde en wonderbaarlike, in ‘n waas van pikturale uitbundigheid, sou ek terugkeer na my klein woonstelletjie, uitgeput, maar met groot bevrediging. Die woonstelletjie, geleë ‘n paar verstrengelde strate agter die Groot Plein van el Fna, was ‘n smal, viervlakkige plek, met steil trappe wat uiteindelik die dakpatio bereik. Van hier af het al die medina-malligheid die klanke van die lewe daar onder in die lug laat opklink. Net hier kon ek dié lewensvreugde en oorvloedigheid voel. Ja – die ruheid en weemoed ook. In dié tyd het ek na die beroemde Koetoebija-moskee, die vestingmure, die Baâdian-graftombes en die Bahia-paleis gaan soek. ‘n Ander toneel wat my visuele waarnemings verbreed het, was die Joodse begraafplaas. Die ou Joodse buurt van Marrakesj is in die middel 16de eeu gevestig en naby die Mellah gebou. In daardie jare het 35 000 Jode hier gewoon met 40 gevestigde sinagoges. Duisende eenvoudige, wit grafte, versprei oor ‘n gebied van 52 hektaar, verwar die oog se perspektief soos hulle met herhalende helderheid die verte in strek. In een gedeelte gee klein wit grafte die hartseer van die 7 000 kinders wat aan tifus gesterf het, weer.

Ek stap verder die hart van die medina binne en kom by die ingang van die leerlooiery. Ek word ‘n bossie mentblare gegee om stukkend te druk en onder my neus te hou om die skerp reuke wat opstyg van die velle wat in baddens ammoniakmengsel gelooi word, teen te werk. Dit was ‘n onaardse landskap van trôe en lae geboue met mans wat werk en allerhande vorms en groottes diervelle opstapel. Die oorgevoeliges sal sekerlik hier terugdeins, dink ek by myself, terwyl ek my mentgegeurde neusgate agter my kamera wegsteek. En dan, soos dikwels die geval in Afrika, ontvou ‘n toneel van grootse teenstrydigheid op die verhoog. Dit het in die oggend begin toe soldate stelling ingeneem het al langs die strate wat vanaf die buitestad na die Plein van el Fna en die medina lei. ‘n Stadige stuwende menigte het begin vergader terwyl ‘n konstante gety van mense stadig ingedryf het van oral oor. Rooi baniere het verskyn, van vele winkels gedrapeer, en Marokkaanse vlae het afwagtend gewapper. Ek het geweet, nog voordat ek iets gesien het, dat iets groots op die punt gestaan het om te gebeur. Toe, om die kroon te span, het Marokko se geliefde monarg, sy majesteit koning Mohamed VI, laat daardie middag die medina binnegery vir ‘n besoek. Sirenes het geloei, perde gerunnik, bromponies gejaag, skares gejuig en die kobras het opgekyk van hul wagters se fluite. In ‘n wasige oomblik sien ek ‘n koning waai. Die foto wat ek geneem het, was wasig, maar die ondervinding ongelooflik. Marrakesj se malligheid kon nie beter as dít nie.

By | 2017-06-30T00:34:43+00:00 June 30th, 2017|Fotografie|