Landbou, boere maak SA ’n wenland

ARTIKEL: Wilma de Bruin
FOTO: Merwelene van der Merwe

Na ver en wye draaie is Agri SA se uitvoerende direkteur, Omri van Zyl, terug by sy wortels; presies waar hy wil wees. Tussen die mense vir wie hy die grootste agting het: Suid-Afrika se boere. Danksy hul daadkrag en vasbyt, is Suid-Afrika die vasteland se voorste landbouland. Wêreldwyd word kennis geneem van alles wat ons landbouers na die tafel toe bring. Wilma de Bruin het met hom gesels.

Al as kind het hy ons boere se energie, doelgerigtheid en toewyding persoonlik ervaar, daarom staan hy bankvas agter hulle.

As opgeskote klong en tot in matriek het sy ouers hom elke skoolvakansie in Pretoria op die trein gesit sodat hy op die familieplaas, Riverton, in Kimberley se dorre bossiewêreld, onder Ouma Claudia se wakende oog, met skaap en bees kon werk. “Dít is waar my liefde vir boerdery vandaan kom. Klein, intelligent en suksesvol, ’n rolmodel soos min. Tot op 85 het sy vrou alleen en suksesvol geboer … een van die bestes wat ek geken het.”

Nadat die familieplaas verkoop is, het hy universiteitsvakansies op etlike ander plase in die land gaan werk.
Met dié baanrekord, tesame met ’n flink sakekop, sterk leierskaps-eienskappe én ‘n stewige korporatiewe agtergrond tot sy krediet, was dit net ’n kwessie van tyd voordat Agri SA hom as stuurman sou opraap. Einde verlede jaar is hy met CEO Global se prestige-prys bekroon vir sy bydrae tot landbou in Afrika, maar vir hom is die hoogste hoogtepunt die feit dat die landboubedryf dit deur verlede jaar se droogte gemaak het en dat Agri SA ‘n verskil aan 12 000 boere se lewe kon maak.

“Om uit ’n korporatiewe omgewing na georga-niseerde landbou te gaan, is nogal ’n ingrypende verandering, maar hier is soveel geleenthede, en ons werk met sulke ondernemende planmakers en toekomsgerigte denkers dat die werkomgewing uiters stimulerend is.”

Landbousektor boer vooruit

Oor waar Suid-Afrika se landbousektor hom vandag in Afrika – én in wêreldverband bevind, kan ons land en boere met reg trots wees, meen Van Zyl.

“Behalwe dat ons die beste boere in die wêreld het, in spesifieke landboubedrywe tel Suid-Afrika selfs onder die voorste spelers ter wêreld. “Ons het ’n ontsettend goeie vrugte-, wol- en wynbedryf … eintlik ál ons bedrywe staan sterk en stel ons in staat om ’n netto uitvoerder van kos te wees. Ons het ’n uiters gesofistikeerde sektor én individue in die bedryf. Ons het sterk ontwikkelde waardekettings; verreweg die beste in Afrika en enige tyd vergelykbaar met lande soos Australië en Nieu-Seeland.

“Wat betref die diepte van die kennis in ons bedrywe en die evolusie van ons bedryf, is die kurwe net opwaarts en positief. Ons werk ook daaraan om beskermingsmaatreëls te skep vir dié sektore wat swaarkry, byvoorbeeld die hoenderbedryf, wat nadelig getref is deur “dumping”. Ons werk ook aggressief daaraan om nuwe geleenthede vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte te ontsluit. Persoonlik maak dit my baie trots om byvoorbeeld in ’n supermark in Nairobi of Sainsbury’s in Londen te stap en Suid-Afrikaanse landbouprodukte op die rak te sien.”

Afrika se broodmandjie

Kyk mens na primêre landbou in Suid-Afrika, dra die landbousektor sowat 2,5% tot die bruto binnelandse produk (BBP) by. Voeg jy die sekondêre bedrywe (prosessering) by, bedra dit sowat 25% van BBP.

“Landbou is die slagaar van ‘n ontwikkelende ekonomie en sedert 1994 het ons landboubedryf uitstekend gevaar: die groeikoers was uitstekend, landbou was ‘n groot verdiener van buitelandse valuta en ons het ons uitvoermarkte sterker gegroei as enige ander land in Afrika.

“Interessant genoeg, nagenoeg 40% van ons produkte is bestem vir Afrika. As jy mooi daarna kyk, is ons op die oomblik die broodmandjie van Afrika. Oral, van Nairobi tot in Lagos, sal jy Suid-Afrikaanse landbou- en verwerkte produkte kry,” vertel hy trots.

Werkskepping

Die landbousektor is ook een van die primêre drywers van werkskepping.

“Te meer, Suid-Afrika is die enigste land suid van die Sahara wat voedselseker is. Dit is direk as gevolg van ons kommersiële boere wat ge-leenthede hier, asook in Afrika, kan skep. Ja, daar is baie kleinboere in die res van Afrika, maar hulle kan kwalik hul eie land se mense voed. Mensekapitaal en kennis gee ons landbousektor wêreldwyd ‘n mededingende voordeel. Dit bestaan nie in die res van Afrika nie en dit is waarom ons boere so gewild is – nie net in groot dele van Afrika nie, maar in verskeie dele van die wêreld. Mense sien die waarde van ons boere raak. Dit bied ‘n uitstekende platform wat ons moet gebruik.”

Dus, met die uitsondering van verlede jaar, toe die ergste droogte die afgelope eeu gewurg en ons uitsette met ongeveer 10% gedaal het, het landbou die afgelope kwarteeu sterk vooruit geboer en is Suid-Afrika letterlik verantwoordelik daarvoor dat hy die broodmandjie van Afrika is.

Dít ongeag dat dit vir baie boere finansieel broekskeur gegaan het én die talle uiteenlopende uitdagings waarmee ons boere daagliks gekonfronteer word. “Ek nooi mense van Suid-Amerika, Europa, Amerika om saam met my Nampo toe te gaan en te kyk wat hier aan-gaan. Dit maak my trots. Daarenteen verras dit my dat ons boere min erkenning van ons politici en leiers kry,” sê hy terloops.

Groeigeleenthede

Met die wêreld en markte wat toenemend virtueel raak, kyk Agri SA ook na die ontwikkeling van virtuele platforms. “Ons is byvoorbeeld nou besig met die ontwikkeling van ’n ‘slim rampoplossing’ (smart disaster solution), want met die droogte het ons besef ons is op onsself aangewese vir hulp. Ons het sowat R17 miljoen ingesamel, bykans R100 miljoen se waarde ontsluit en meer as 12 000 kommersiële boere en meer as 6 000 kleinboere met voer, vervoer en water gehelp.

“Dit is ’n baie goeie voorbeeld hoe ons as organisasie en mense, afgesien van kleur, regtig ’n verskil kon maak. Dít is die tipe goed waarop ons vorentoe wil fokus. Tasbare goed waaraan jy kan vát.”

Grondeise, -onteiening

Die onweerswolke wat gereeld oor die landbousektor opstapel – soos nou weer met dreigemente van en emosionele uitsprake oor grond-onteiening sonder vergoeding – bring hom nie van stryk nie. Dit spoor hom trouens aan om nog harder te veg vir konstruktiewe interaksie met die regering (en ander rolspelers) ter wille van volhoubare, ordelike grondhervorming wat die welstand van alle boere en die landbousektor kan bevorder. Op ‘n beredeneerde, besadigde en deurdagte manier.

“Ons het beleidsonsekerheid en ons het uitsprake oor grond (wat meestal ongrondwetlik is). Dit veroorsaak beleggersonsekerheid en is iets wat ons, as Suid-Afrikaners, sal moet regstel. Ons sal moet onderskei tussen politiek en die ekonomie. Dit is iets wat die ontwikkelde wêreld nogal regkry: politieke uitsprake is dikwels belyn met ekonomiese groei en beskerming, terwyl ons dikwels amper die teenoorgestelde koers inslaan.

“Maar dan is daar ook die samevloei van verskillende kulture en historiese kontekste en in hierdie opsig moet ‘n mens ‘n goue middeweg probeer vind om ‘n balans te probeer handhaaf tussen armoede en welvaart; tussen ekonomiese ontwikkeling en armoede-verligting.

“Ons uitgangspunt is baie eenvoudig: as die ekonomie nie groei nie, gaan meer mense werkloos wees; dit gaan meer druk op die fiskus plaas want jy moet meer mense onderhou; misdaad gaan toeneem … dit is uiteraard ‘n ernstige probleem. Kyk maar net na ons inflasiekoers van om en by die 6% teenoor ‘n groeikoers van kwalik 1%, wat ‘n gaping van 5% laat. As jy dit oor drie jaar vermenigvuldig is dit 15%. Vir die gemiddelde of arm persoon is dit nogal ‘n groot gaping. So ja, dit maak ons bekommerd oor wat in die land gebeur.”

Rakende grondeise en -onteiening is daar ’n hele klomp probleme, vervolg Van Zyl. “Ten eerste, kan die staat dit nie bekostig nie. Die tweede probleem is 93% van grondeisers wil die geld hê, nie die grond nie. Dus wil net 7% die grond hê. Derdens: die hele grondher-vormingsproses oor die afgelope 22 jaar het nie gewerk nie, want die private individu besit nie die grond nie; die staat besit dit.

“Met ander woorde, as daardie boer of gemeenskap nie geld by die staat kry nie, kan hulle nie funksioneer nie. Die staat se gebrek aan finansiering of ondersteuningsdienste is welbekend, dus vou daardie boere die een na die ander. Ek sou sê 90% van hulle is onsuksesvol, met net 10% wat dit dalk sal maak.

Eienaarskap

“Die enigste manier hoe ’n landbouseketor kan oorleef, is deur private eienaarskap en die kollateralisering van die grond (jy leen by die bank met die grond as sekuriteit). Op hierdie vasteland is dit nie moontlik om dit op ’n ander manier te doen nie. Dit is buite die kwessie dat die konsep van kommunale staatsbesit kan werk. Vir eers gaan geen bank vir jou geld leen én jy kan nie jou grond/plaas verseker nie. ’n Mens moet lesse daaruit leer. Ek het wyd gekonsulteer in Afrika en met my eie oë gesien wat gebeur …

“Mense is geneig om te dink ‘n plaas is ‘n plaas. Dis nie waar nie! ‘n Plaas is ‘n ekonomiese eenheid; ‘n boer ‘n entrepreneur. Hy bestuur ‘n onderneming. Dan het jy ook verskillende dimensies in die verskillende sektore en bedrywe. ‘n Graanboer se bekommernis is byvoorbeeld, heeltemal anders as ‘n bees- of vrugteboer s’n.

“Die feit dat jy grond het, beteken nie dat jy gaan of kan boer nie. Die feit dat jy grond het, beteken nie dat jy gaan geld kry om mee te boer nie. Baie van ons boere in Suid-Afrika kom oor baie generasies heen, dus was daar ’n vaardigheidsoordrag tussen verskillende geslagte. Jy het mense gehad wat wéét wat hulle doen, wat mense opgelei het wat weet wat hulle doen. Daardie voortgesette oordrag is ontsettend belangrik.”

Terselfdertyd is dit uiters belangrik dat meer swart kommersiële boere in Suid-Afrika gevestig word.

“Ons het ’n finansieringsmodel uitgewerk en beskik oor finansierings-dienste om onder meer die graan-, wol- en rooivleisprodusente-organi-sasies wat werklik baie goeie werk doen te help om opkomende boere by te staan en met die nodige vaardighede toe te rus. Ons het genoeg swart boere; ons moet net vir hulle grond kry wat hulle besit.

Agri SA het onlangs ook ’n transformasienodus op die been gebring met die oog op die opleiding, ontwikkeling en finansiering van opkomende boere. “Binne die groter organisasie is daar trouens ’n hele klomp soortgelyke inisiatiewe. Talle boere doen baie goeie werk in hul gemeenskappe: hulle bou plaasskole en klinieke, boereverenigings hou inligtingsdae om opkomende boere te help en veeveilings om die gemeenskap op te hef.

“Dít is die stories wat mens nie altyd sien of hoor nie en dít is wat ons toenemend deur ons mediakanale wil vertel. Daar is ongelooflike goeie goed wat oor die lengte en breedte van die land gebeur – die landbousektor hou die platteland aan die lewe. Ons uitdaging is om finansiering te ontsluit en dít wat ons reeds baie goed doen, net groter en wyer toe te pas.”

Zimbabwe

En wat as die Zimbabwiese roete gevolg word en boere eenvoudig van hul plase afgesit word?

“Kyk, ons het ’n Grondwet. Ons het die opper-gesag van die reg. Die oomblik as dít sou val, sink die land. Myns insiens is dit nie op die oomblik ’n realiteit nie. Ek weet die EFF maak sulke geluide en dit is wat mense bang maak. Die feit is, Suid-Afrika is een van die grootste ekonomiese moonthede in Afrika. Ons móét ’n sin van verantwoordelikheid aanvaar vir ons land en sy mense. As ons Zimbabwe se roete sou volg en ons vou, sal die wêreld Afrika afskryf. Die Chinese sal inbeweeg en munt slaan uit die geleenthede.”

Plaasmoorde

Plaasmoorde is tereg op almal te lippe en byna daagliks in die nuus. Dit raak derduisende mense in Suid-Afrika. “Die feit dat daar plaasmoorde in Suid-Afrika plaasvind, is vir ons onaanvaarbaar. Die groot vlaag moorde net in Februarie was veral teen ouer mense gerig wat hulself nie kan verdedig nie en die wreedheid daarvan is heeltemal onaanvaarbaar.”

Hy verwys na sy voorlegging oor plaasmoorde verlede jaar op die Wêreld-boerdery-organisasie se jaarvergadering. Boere wat dit bygewoon het, was geskok oor die omstandighede waaronder ons hier moet funksioneer. “Uit ‘n beleidsperspektief het hulle hul daarteen uitgespreek en kry ons hul ondersteuning. Maar aan die einde van die dag kan jy die ding soveel as wat jy wil met drukgroepe probeer oplos, jy kan praat met wie jy wil: die institusionele regering moet werk.”

Wat doen Agri SA aan die probleem?

Agri SA se trustfonds, Agri Securitasfonds, help boere met skenkings wat ontvang is om hulself te beveilig. “Ons probeer ook om op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak saam met die polisie te werk. Maar oplaas is dit die polisie se werk om die land te beveilig. Ons doen wat ons kan, en met groter finansiële ondersteuning sal ons méér kan doen.”

Daar is drie fases in die proses van die hantering van plaasaanvalle: voorkoming, naspeuring, en vervolging en vonnisoplegging en die gevolge daarvan. “In die hele waardeketting het ons gebreke ge-vind. Van Agri SA se kant af probeer ons die klem op beveiliging plaas: ons lig boere in oor hoe hulle hul moet beveilig en organiseer boereverenigings, ook in reaksie-eenhede, wat hulself mobiliseer as iets gebeur en wat plaasgebiede saam met die polisie patrolleer.

“Ons raadpleeg ook die SAPD. Ons het verlede jaar ‘n diagnose gedoen van die polisiediens en aangebied om te help om van die gebreke uit die weg te ruim. Dit help nie om almal in hoekies in te verf en die heel tyd tamaties na mekaar toe te gooi nie. Dit gaan nie die probleem oplos nie. ‘n Misdadiger vra nie watter kant van die draad jy staan nie.”

Diefstal

Nog ‘n yslike kopsorg is diefstal: van veediefstal tot die diefstal van pekanneute, lemoene, druiwe, visse, noem maar op. “Dis endemies! ‘n Boer moet begroot vir die gevolge van diefstal. Ander lande het nie dié probleme nie – en dan moet ons internasionaal meeding.”

Die sosiaal-maatskaplike probleme op die platteland is nogal omvattend, dus is daar ‘n redelik akute verstedeliking – ‘n wêreldwye tendens, vervolg hy. Ook in Afrika, waar jy superstede kry soos Luanda, Lagos, Johannesburg, Kaapstad en Durban stroom mense in hul duisende na die stede op soek na werk wat op sigself weer ander uitdagings bring.
Is daar hoop dat die misdaad- en moordgety kan draai?

“As ons leer om 1) intern saam te werk, 2) hulpbronne te ontsluit en 3) ordentlike vennootskappe met die polisie, private sektor en internasionale organisasies aan te gaan, kan ons beslis iets aan die probleem doen,” beklemtoon Van Zyl.

Klimaat

Suid-Afrika gaan gebuk onder uiterste weersomstandighede wat in sommige jare hard tref, beaam hy.

Kyk mens na die feite, sien jy El Niño (droogte) en La Niña (oorvloedige reën) kom in siklusse en tref ons so al om die 20 jaar. Droogte en oorstromings is en bly deel van ’n boer se lewe. En jy leer om daarmee saam te leef. Jy glo en jy vertrou.

“In ‘n droë land soos Suid-Afrika leer jy die waarde van reën, jou afhanklikheid van die natuur en van jou Skepper. Geen mens in sy regte denke gaan R20 miljoen se insetkostes aangaan sonder om te glo dit gaan reën nie. Geloof is ’n hoeksteen van ’n boer se lewe.”

Dan is daar ook die peste en plae. “Vanjaar sit ons, byvoorbeeld, met die herfskommandowurm in die mielies. Maar so ook het die veebedryf sy probleme met roofdierbeheer waaronder jakkalse, honde en rooikatte.
Wat hiertoe bydra, is dat vroegtydige waarskuwingstelsels buite ons landsgrense nie goed genoeg beheer word nie en die spreekwoordelike klok nie vroeg genoeg lui ten einde die nodige voorkomingsmaatreëls in te stel nie. Plaaslike navorsingsorganisasies wat kan help, trek finansieel ook maar noustrop.

Desondanks bly Van Zyl immer positief oor Suid-Afrika se vermoë as landbouland. “Ek is positief oor die groeipotensiaal. Die wêreld – en veral Afrika se bevolking neem toe; mense moet eet. En die ouens wat die voedsel kan produseer, is ons. Om ’n boer in die volgende 20, 30, 40 jaar te wees, gaan ’n goeie loopbaankeuse wees. Ten opsigte van makro-tendense in die wêreld, plaas ons landbouvermoë ons in ’n baie sterk posisie.

“Vir die landbousektor is die mensgemaakte probleme veel groter as die natuur se probleme. Op ’n kol sal ons as nasie moet leer om konstruktief saam te werk, al verskil ons van mekaar. Hulle sê: If it’s too painful to remain the same, you will change. Ek glo ons is besig om deur ’n fase van evolusie te gaan. Dit gaan gepaard met ’n klomp pyn, maar hopelik bring dit groter begrip en beter samewerking. Wedersyds.”

Ver paaie

Voor Omri van Zyl hom sowat twee jaar gelede by Agri SA aangesluit het, het hy sy stempel, eers as prokureur en later in die korporatiewe sektor, afgedruk. By Deloitte het hy die landbou-sakeenheid vir Afrika (Deloitte Agri Africa Business Unit) op die been gebring en later uitsluitlik daarin gespesialiseer.

“Dit was ongelooflik stimulerend om met Afrika-tendense te werk, strategieë te ontwikkel en verkrygings en oornames in die sektor te doen.”

Ná matriek aan Pretoria se Afrikaanse Hoër Seunskool het ’n jaar van weermagdiens – in Bloemfontein se valskermbataljon – gevolg, waarna hy in die regte (BA regte) aan Stellenbosch gaan studeer het en daarna ’n LLB (met onderskeiding) aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het. ’n MBA het later gevolg. Met die nodige kwalifikasies in sy sak, is hy Londen toe waar hy ’n jaar lank konsultasiegewerk gedoen en gereis het. “Ge-backpack, die hele wêreld vol.”

’n Knaende wanderlust het hom al as student beetgepak, en in die negentigerjare was hy een van 19 koshuismaats op Stellenbosch wat Afrika vir 2½ maande met ’n “trok” op die Wilgenhof-Trans-Afrika-toer deurkruis het. “Daai tyd was ons baie naïef … jy beplan en doen iets sonder om aan enige risiko’s te dink.

“Ons is hier op in Afrika … op, op, op tot by die oorsprong van die Nyl in Uganda,” wys hy op sy kaart in sy fotoboek. “Toe weer die hele pad af … deur Namibië. Daar het ons trok vasgesit, hier’s ons by die Vic-valle, en hier’s almal in Adamsgewaad in Etosha …” Hy klap die album toe met ’n glimlag oor die herinneringe, veral die lekkerte van sy eerste skubaduik in die Malawimeer, die samesyn en kameraderie.

Nog ’n magdom reise het gevolg: Brasilië, Indië, Peru, Viëtnam, om net enkele hoogtepunte te noem. “Ek het ’n paar doelwitte gehad, onder meer om die drie antieke stede in die wêreld te sien: Angkor Wat in Kambodja, Machu Picchu in Peru en Petra in Jordanië.

Een van die lekkerste reisondervindings was in Thailand toe hy die hangmatroete gedoen het. “Ek is van eiland na eiland … vir ‘n maand lank net ‘n beach bum. Geswem, geduik, in die son gelê.” Vanjaar is Thailand weer in sy en sy narkotiseur-vrou, Annelize, (Sondagaand op kykNET in Slank te sien) se visier.

“Ek het ook ‘n liefde vir woestyne en soek hulle sover moontlik op: die Namib, Kalahari, Sahara, Arabiese woestyn, Sinai, Atacama (Peru), Thar (Indië). Van almal bly die Kalahari my gunstelingplek … niks oortref die plek se oopheid en ongekunsteldheid nie.”

Suid-Afrika is en bly sy gunstelingland, sy bly-land. “Ek’s maar ‘n Boere-outjie: hou van jag, braai, visvang, gholf (8 voorgee) … en is hier om te bly. Wat ek die graagste van alles sal wil sien en waaraan ek graag ‘n aandeel wil hê, is ‘n volhoubare Suid-Afrika waar mense hul verskille opsy sit en konstruktief saamwerk aan die sukses van hierdie land. Sodat my kinders ook hier kan groot word.

“Dit is nou alles of niks, ons moet dit eenvoudig net laat werk!”

By | 2017-06-27T23:14:40+00:00 June 27th, 2017|Sake|