Kwantumsprong van dramaturg tot digter

in onrus sit ’n oompie
mymer: “my dae verdwyn
soos kwartels in lang gras”
besin
ryg string na string
woordkrale in

Stap jy Pieter en Maletta Fourie se huis in Onrusrivier binne, trap jy ’n wydheid van stories en woorde, aardsheid en adel, kuns en eenvoud oop. Die warmte uit die blink gepoleerde koper en hout kaats Maletta se droomskilderye en Pieter se boeke verder as die onmiddellike. Hier voel ’n mens welkom waar moderne beeldhouwerke rustig insmelt by volksmeubels – ’n lewenslange passie by Pieter.

Pieter is ’n formidabele raconteur met stories wat hy ver gaan haal. Sy natuurlike aardsheid hou hom na aan die grond, gegeur met ’n nostalgie wat praat met die kamers van jou hart.

So twee jaar gelede kuier ek by Pieter en vertel hy van ’n stortvloed woorde en beelde wat as verse by hom opwel. Woordkrale wat hy inryg, string na string. Hy kon hierdie kragtige kreatiwiteitsproses nie keer nie. Dit het soos helder fonteinwater uit hom gestroom. “As ’n woord eers daar is, soek hy ’n lewensmaat. ’n Woord langs hom of ’n woord onder hom. Dit het alles net gebeur. Ek dink dit het ook te doen met die skoonheid van die taal. Die musikaliteit. En baie jammer om te sê, ook die verdwyning van sekere aspekte van die taal. Vir my alles vreemde ervaringe wat ek nooit as dramaturg geken het nie. In die vers ‘Kro’ het dit net spontaan gebeur. Woorde met ’n seker drif wat binne in jou lê, begin saam kloek. Dit het alles binne ’n minuut of twee gebeur. Woorde het mekaar gesoek en op ’n bondeltjie kom sit. En so het dit dwarsdeur die bundel geloop.”

Kro
boorman
bokwagter
draadspanner
steenmaker

withondstoker
jakkalsjagter
klipkraalpakker
karwatsvlegter
riembreier
spoorsnyer

bossiedokter
vroedvrou
pakmuilsmous
swerffotograaf
khoisan
westerling
amperbaas

het rou aarde
help tem

elk
getuie en spesialis
van kro-geskiedenis

oud
sit hy gekaap
bergie
aan niks en niemand
nagelaat

gereed
vir
boemelaarkis

tog

drie weke
elke jaar
kom die kro hom haal
vir wie hy is

skaapskeerder
man wat ken
rug van staal
bloedloos lem

En nou op 77 verskyn Pieter se digbundel Knapsekêrels by Naledi Uitgewers. ’n Kwantumsprong van dramaturg na digter en die oudste digter wat in Afrikaans debuteer. Die laaste van die manne van die 60’s. Ook die laaste van Opperman se laboriete. “Ek is so bly dat ek onder hom die woord kon leer ken,” sê Pieter oor die Letterkundige Laboratorium wat prof. D.J. Opperman in 1960 aan die Universiteit van Stellenbosch tot stand gebring het. Ander lede van hierdie laboratorium was onder andere latere digters van statuur soos Daniel Hugo, Fanie Olivier, Lina Spies, Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk en Antjie Krog.

Hierdie sprong tot digter sien Pieter nie as deel van die bokspringe van die lewe nie. “Ek sien dit eerder as ’n eerste liefde wat nooit sterf nie. ’n Ou liefde wat nooit roes nie. My eerste liefde was poësie en ek is terug daarby. Ek sal nie weer terugkeer na die skryf van dramas nie. Dis ’n geval van oumense moenie in die water mors nie, die kinders wil dit drink. Ek los dit nou vir die jonges.”

Die terugleun na ’n ouwêreldse Afrikaans is vir Pieter tweede natuur, want die taal waarin hy grootgeword het, is nog lewendig in hom. Hy gebruik daagliks nog woorde soos waenhuis. “Weet jy wat se wonderlike woord is waenhuis in vergelyking met ’n motorhuis. Alles is daarin. Velle. ’n Ou skaal. ’n Hele ou oopgevlekte wêreld. En om met hierdie ou Afrikaans te werk is vir my fantasties.”

Die laaste gedig van die bundel handel oor die dood. “Vir twee jaar het ek loop soek na ’n enkele woord. Voor Hamlet sterf sê hy: ‘Die res is stilte.’ Niemand kan dit meer gekonsentreerd, meer waar, wetenskaplik, meer kompak en meer filosofies stel nie. Maar ek wou dit hê. Ek wou die dood assosieer met stilte. Ek wou in hierdie ruimte van die dood inbeweeg van mens, blom, insek, dier, plant, enigiets, na stilte. En toe, sonder om plagiaat te pleeg, kom hierdie ou vergete woord by my op.”

allemensig
die klokhelder stilte

Dan verstaan’n mens die titel van die bundel. Knapsekêrels. Dit bly klou. Woorde, ou woorde, wat teen jou kom vashaak.

Soos wat ’n mens vir Pieter ken, is daar baie meer verskuil agter die titel as bloot die saad van ’n onkruid wat bly kleef. “Dit is iets onaangenaams wat jy in jou lewe ervaar. Dit steek, klou aan jou, dit wil jou nie los nie. Maar in hierdie bundel is dit nie net oor irritasies nie, nie oor dinge wat seermaak nie, nie rou wonde wat oopskaaf nie. Dit is ook vir plesier. Dit is ook wonderlike oomblikke wat soos ’n knapsekêrel aan jou kom sit en jy vir die res van jou lewe wil onthou. Dit gaan ook wyer. Na die samelewing waarin ons leef. Wat hier en nou gebeur, lê deurspek van knapsekêrels.”

Pieter se aanvoeling vir humor, patos, ironie en die metafisiese kom sterk na vore met hierdie verse wat praat oor droogtes, seepkook, ’n bokwagter, wingerdgriep, voorbodes, afskeid … Hy mymer, neem waar, profeteer, twyfel, verlang en vertel. En dan kom die stilte na die uittogfluit wat soos ’n knapsekêrel in jou kom sit.


Vir sy dramas en komedies is Pieter Fourie seker die mees bekroonde Afrikaanse dramaturg in die geskiedenis van die Afrikaanse teater. Verering vir sy bydrae as akteur, regisseur, vervaardiger, artistieke direkteur vir die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Kruik) en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Verering kom van die Oudtshoorn Sakekamer (2003) en in dieselfde jaar van Stellenbosch Universiteit. In 2006 word ’n Fleur du Cap aan hom toegeken vir sy bydrae as Voortreflike Veelsydige Teaterpraktisyn as toneelbestuurder, kultuurfeesorganiseerder, speler, regisseur en dramaturg. In 2003 ontvang Fourie die Hertzogprys vir sy hele drama-oeuvre, wat pryswennerstukke soos Die joiner (1976), Ek, Anna van Wyk (1986) en Die koggelaar (1988) insluit. In 2011 bekroon die Universiteit van die Vrystaat Fourie met ’n eredoktorsgraad, (D.Litt.) honoris causa in drama. Maar vir sy bydraes as dramaturg kan Fourie eintlik beskou word as gerekende informele geskiedenisskrywer van die Afrikaner psige oor etlike dekades.

Uit Luckhoff in die Vrystaat sou die vroeë skoolverlater op 16 eers poswerker in Bloemfontein word. Later posmeester in Wolwehoek, telegrafis in Sasolburg and dan posklerk in Koffiefontein waar hy sit en prentjies teken en gediggies krabbel op sigaretpakkies se rugkante. ’n Waardige, ou swart man spreek hom aan omdat Fourie hom ’n “boy” durf noem. Hierdie Damaskus-ervaring verander sy politieke en lewensiening ingrypend. Herbesinning oor respek vir die menswaardigheid van alle mense, ongeag ras, kultuurgroep, ouderdom, geslag of sosiale en finansiële stand sou as leitmotief in al sy volksdramas en latere grensverskuiwende dramas dien.

Nico Luwes


Dis lank sedert daar ’n digter met soveel onverdrote ywer met die volkstaal omgegaan het. Ons ken die hardnekkige knapsekêrels wat aan mens se klere of kouse vassit. By Pieter Fourie is dit die taal self wat so hardnekkig bly klou. Gaandeweg ontplooi die digter ook ander betekenisse, ander maniere waarop die titel gelees of verstaan moet word. Knapsekêrels is ’n stimulerende, uitdagende teks. Die taalregister wat betrek word, is wyd – en so ook die emosionele register. Selfs net op taalvlak is die verse loutere plesier.

Johann de Lange


Pieter Fourie het ’n idee dat hierdie verse met die moderne stadsmens sal werk. As hulle die woorde goljaartjie, goggatik of treusel lees, is daar ’n glossarium wat dit ondervang en waar hulle dit kan naslaan. Hier is ’n paar van die ou Afrikaanse woorde met verklarings:

aaptwak dagga
betjoeks befoeterd, beduiweld
blikslaertjie klein tipe brulpaddatjie
bo-praat donderstorm
dikvoetgatsaag breëbandfiets
goljaartjie vrolikheid, bokjol, joligheid
goggatik dansparty, spontane huispartytjie, opskop
jakkalspis behoort aan niemand nie; optelgoed
juts paslik, fatsoenlik, netjies, trots
siekrit “secret”; geheim
swartmaraai polisievangwa
treusel stadig werk, talm, lyfwegsteek
withondstoker witblitsstoker
besinksel sediment in ’n glas rooiwyn of byvoorbeeld moer in ’n leë koffiebeker
kompatertjie oënskynlik onskuldige woordjie vir ’n skunnige kalant in ’n bekende volkspeleliedjie
smoelneukerhek bekslaner, konsertinahek, volgens die HAT:
swingel aan ’n hekpaal, waarmee ’n draadhek toegemaak word
GESKRYF DEUR
Gerard het ‘n paar liefdes in sy lewe. Reis, boeke, skryf en sy vrou Anuta. Elke jaar reis hulle vir drie maande op hulle geliefde skoeters, Silwer en Blou in Europa. En dít is die stories wat Gerard die graagste vertel en waaroor hy blog. Die bome wat oor hulle pad val, die ontberings, maar ook die verwondering. Gerard is DEKAT se boekeredakteur en ook die Kaapse aanlyn-vervaardiger en aanbieder van DEKATv.
By | 2017-07-31T23:29:09+00:00 June 29th, 2017|Boeke|