Kuns vir kanker -‘n heel ander prentjie

Kreatiwiteit. Dis die taal wat jy praat. Dis die kos wat jy kook. Dis die tafel wat jy dek. Dis die musiek waarna jy luister en die geselskap wat jy deel. En dit is juis hierdie menslike hartklop van Kuns vir Kanker wat die verbeelding van onse mense aangegryp het.

‘n Uitsonderlike projek onder die sambreel van People Living with Cancer (PLWC) wat bodem gevind het as ‘n aanbieding van alle kreatiewe elemente van feesviering deur die room van SA kunstalente bymekaar te bring in ‘n simfonie van lekkerte. Vir ‘n enorme saak.

Op ‘n vars Sondagoggend, 5 November, het hierdie samekoms vanjaar weer plaasgevind. Aangebied op die natuur se eie kunspalet, Lourensford wynlandgoed.

Spierwit tafeldoeke wat hang tot op die vloer, luilekker musiek deur Anna Davel wat harte orals steel. Vanaf die brëe voorstoep, ‘n verlangse wingerd wat wink en berge wat tot teen die bloue hemel troon, tot binne die mees asemrowende venue wat deur Petals se dekormense omtower is tot meer as net nog ‘n ander sprokie.

Waar 35 bekroonde kunstenaarswerke, meeste spesiaal geskep vir die geleentheid, uitgestal is op outentieke esels en windmakerige tafels wat eie standpunt stel. Waar gaste met gedeelde belangstellings kuns bewonder, begeer en gesels.

En by ‘n lang, Sondagmiddag feestafel saamsit en luuks bedien word met ‘n persoonlike, kulinêre spyskaart deur Annalize Buchanan wat ‘n ieder en ‘n elke palet betower, selfs verstard laat – deur haar aanbieding van eerlike, opregte en die heel lekkerste kos wat jou bybly. Vir dae daarna.

Dit is hier by Kuns vir Kanker waar mense saamkuier en omgee. Op ‘n anderster manier.

Ter ondesteuning van ‘n projek wat in gesamentlike gemoedere ‘n aar raak geboor het.

Wat meer wil ‘n mens hê?

Lize Beekman

Sirkelkuns het in my lewe opgedaag toe ekself gekonfronteer is met verlies en trauma. In die spasie wat dit my gegee het kon ek heel word en ek is oneindig dankbaar dat ek op so manier aan die hand geneem is om te kan opstaan en weer my voete te vind.  Ek staan daarmee saam in verwondering oor hoe dit verder uitgekring het en steeds uitkring na duisende mense wat ook behoefte het aan hoop en lig. Om ’n kunswerk te kan skenk vir Kuns vir Kanker is ‘n geleentheid vir my om op ’n tasbare manier te gee en die “pay it forward”-gedagte te omarm.

Flower Walker

En hierdie dekor-ghuru deel met niemand die tema van 2017 se funksie nie. Sy vertel: “Dit is ‘n verassing! Dis ‘n belangrike element van die dag. Dis een van die eerste dinge wat jy sien as jy by die saal instap en ek wil hê die gaste moet na hulle asems snak. Kuns vir Kanker lê my so na aan die hart. Dis die eerlikste uiting wat ek op my manier kan gee vir die mense wat die naaste aan my was, en wat ek verloor het op die aakligste manier. My lieflingmense; my suster en haar dogter en dan ook my dierbare vriend Ulrich Binedell. ‘n Wonderlike kunstenaar wat ons almal so aangeraak het. “

Louis Jansen van Vuuren

Die Franse meesterskilder, Henri Fantin-Latour, skilder dikwels blomme in ’n pot as eie inspirasie. Op sy beurt inspireer hy my. Om blomme te skilder, bied vreugde en bring vrede. Ek wil dus so graag hê dat my blommeskepping helend moet wees in ‘n ander se lewe. Dit sal my oneindig vervul.

Ruan Huisamen

“Ek persoonlik is geraak deur kanker en wil graag ‘n verskil maak deur te teken. Want dit is wat ek kan doen.”

Shany van den Berg

“ Ek was maar 10 jaar oud toe my geliefde pa kanker ontwikkel het. Dus loop ek my eie die pad met hierdie siekte al van kindsbeen af. Hoe dikwels het ek nie saam met hom gegaan vir behandelings in die Karl Bremmer waar almal in daardie jare nog merkings gekry het waar hul bestraal moes word nie. So het ek gesit en gesels met ander kanker pasiënte, in die breë gange van die groot hospital. Bang, dog ook gefassineerd. Daardie jaarlikse toetsings, en sy uitslag. Na 16 jaar het sekondêre kanker hom op die ouderdom van 67 geneem.

Ek lewer vanjaar graag my werk genaamd; Haar gesig. Gesigte is stil woorde.”

Annelize Buchanan

Kos is my ding. Dit is my kuns.

Kanker is so n skrikwekkende daaglikse realiteit in ons almal se lewens. Ek sal enigiets doen om te help as ek kon, om daardie verskil te maak. Met hierdie wonderlike projek het ek die gulde geleentheid om as kunstenaar in die kombuis, my bydrae op ‘n betekenisvolle manier te maak.

Clare Menck

“Ek het onlangs die treffer film ‘Freeheld’ gesien en besef hoe die lewe geheimsinnige verbintenisse tussen mense kan weef. Dog, in dieselfde asem kan hierdie lewe in ‘n oogwink geneem word. Ek maak my bydrae deur deel te neem aan Kuns vir Kanker. Dis asof die grasie wat my eie lewensondervindinge my gee, my in voeling sit met geliefdes wat my lewe so oneindig verryk.”

Roelof Rossouw

“Kanker klop aan ons almal se deur. Op ’n dag het ons familie ’n piekniek gehou by Warwicklandgoed. Dit was Oktober en die lente- kleure beeldskoon, met ‘n wit kothuis oorkant die plaasdam. Ek hoop my werk bring vanjaar vir vele vreugde. Soos daardie dag aan ons.”

Kom kuier asseblief volgende jaar weer saam. Ons skuif enige tyd op om plek te maak vir nog.

People Living with Cancer www.plwc.org.za

Kontak Unathi vir verdere inligting: 021 5650039 of e-pos haar: admin@plwc.org.za

Kuns vir Kanker fb blad: www.facebook.com/kunsvirkanker  @kunsvirkanker   @artforcancer

Marietjie Koekemoer
Janie du Plessis

Gerard Scholtz

Kunswerke




Die kunstenaars

Venue – Lourensford



Voorskou en kuier

 

Vooraf happies




Aan tafel





Fotograaf: Francois Pistorius
By | 2017-12-01T23:00:11+00:00 December 1st, 2017|Kos, Kuns|

About the Author:

Short bio on DEKAT here...

Leave A Comment