Kobus Geldenhuys – Derde Akademieprys in vier jaar.

Met ’n waaier sterresproei – DEKAT Desember 2017

‘n Man wat sy woord kan doen, is Kobus Geldenhuys. ’n Meestervertaler wat altyd die regte woord vir sy regte plek vind. Gerard Scholtz het ’n hele paar woorde met om gewissel.

Foto: Johann Crous

Die kelners by die bistro waar ek en Kobus Geldenhuys kuier is van iewers uit Afrika. Hulle ken hom en die gesigte helder op toe ons instap. Daar word eers in Frans gegroet en ’n geselsie volg. Dit kon net sowel in Engels, Duits, Italiaans, Nederlands of Xhosa wees, want dié man met sy kontinentale elegansie is wel ter tale.

“Toe ek klein was, het my ouers soms Kaap toe gekom. By die Sanlamsentrum in Parow kon ek ’n bietjie alleen rondstap as hulle by die Wimpy sit. Dan ry ek op en af op die roltrappe en verbeel my ek is Engels, en ek keer mense voor en vra:

‘How late is it?’ Tot ek die dag agterkom dis nie Engels nie. Ek was mortified. Ek dink die vertalingding het daar ingeskop.”

Kobus begin lag. Vou byna dubbel. Knyp oë toe van lekkerkry. Ons eie Peter Pan van die Afrikaanse jeugboekwêreld wat ’n ewige jeugdigheid en die ligtheid van sterresproei om hom dra.

Hierdie klein seuntjie van Cradock wat op ’n winderige Sondag gebore is, leef van vroeg in ’n eie verbeeldingswêreld en droom hy van verre lande en vreemde tale wat vir hom ’n paspoort na ander wêrelde kon word. Allitererende rympies en versies hoor hy by sy pa en oupa. Kaartjies aan Kobus se ma en suster was altyd in rymvorm en briewe is met ’n rympie afgesluit. “Ek is van kleins af gevang deur hierdie rympies en sêgoed wat iets alledaags vir ons was. Gesondheid in die rondheid, steek jou hand indie sak en haal ’n pond uit. Aan die brand, sê die predikant. Dié soort versies.” En sy pa as taalpuris, soos Kobus hom noem, het die mooiste Afrikaans gepraat wat iets in hom wakker gemaak het en dit skerp by hom die gebruik van keurige taal en die juiste woord in. “Tog het ek my pa uitgedaag en my tale gemeng omdat ek in die Engelse klas was. Dan sê hy, Kobus, ’n mens radbraak nie jou taal so nie. Vandag is dit vir my kosbaar en kan ek van daardie ouwêreldse woorde in, byvoorbeeld, die drakeboeke terugbring. My liefde vir alliterasies kom ook van daardie tyd af.”

Meneer Stink het gestink. Hy was die ene stank. Sy stank was so
erg dat dit jou asem weggeslaan het. Hy was die stinkste
superstankstinker wat nog ooit gelewe het.
’n Superstank is die ergste soort reuk.
’n Superstank is erger as
’n stank. En ’n stank is erger as ’n stankie. En
’n stankie is erger as ’n klankie. Maar ’n klankie is al genoeg om
’n mens jou neus te laat optrek.

Uit: Meneer Stink
(David Walliams)

Daar was in sy skooldae twee flieks op Cradock. “My ouers het op Woensdae en Saterdae gaan tennis speel en in plaas van om langs die tennisbaan te sit het ek gaan fliek. Dan leef ek van Woensdag af in daardie storie en die karakters tot Saterdag. En van Saterdag was dit weer ’n nuwe storie en nuwe mense wat ek leer ken het. My huiswerk het ek so met Springbokradio se stories saam gedoen. Radiodramas saans. En die spookstories van die Engelse sender.”

Hierdie teater van die verbeelding, sy liefde en aanvoeling vir die gebruik van tale, klanke, ritmes en woorde het alles bygedra dat hy naas ander toekennings ook die gesogte Elsabe Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans in 2015 ontvang vir sy vertaling van Cressida Cowell se How to Speak Dragonese. Die ernstige literatore van die Letterkundekommissie het glo telkens uitgebars van die lag oor die skunnighede van die vertaalde drake. Die kommissie het waardering vir die uiters kreatiewe wyse waarop Kobus naamgewing hanteer het: Harwarrus

Horribalus Heldehelm die Derde en sy ongevaarlike drakie, Tandloos, en Harwarrus se vriend, Visbene, met syplanktonbrein, moes byvoorbeeld kragte meet met die harige Hierjy-horde van Barbek die Braker en sy leerjonge Snotbol Ghwelpel.

Ander pryse en toekennings bly nie agterweë nie. In dieselfde jaar wen hy die Safta vir beste TV-drama met Fluit-Fluit en in 2016 wéér ’n Akademieprys vir die vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het. Hy vertaal ook Morpurgo se hartroerende War Horse as Krygsperd.

“As vertaler mag ek nie ’n eie stem hê nie. Ek moet die stem van die skrywer weerspieël. Ek moet getrou bly aan die bronteks. Geen vertaling is maklik nie. Selfs nie ’n klein kinderboeke nie. Daar was keuses van woorde wat jy moet respekteer.

En dan moet jy ook dink aan die persoon wat dit gaan lees of voorlees. Daar is klanke, frasering, ritme …”

Die twee onwaarskynlike helde hardloop langs hierdie doodskis op wiele en
tel soveel spoed as moontlik op.
Dis asof die kis ’n kaskar is. ’n Kaskar vir kaskenades. Kiskenades.

Uit: Oupa ontsnap
(David Walliams)

Maar Kobus is nie net ’n vertaler van jeugboeke nie. “Ek het Coelho se Die Alchemis onlangs vertaal en werk aan sy
Die Spioen. Ek dien ook ander gode. Ek is vryskut en móét werk. Destyds was my brood en botter oorklanking waar ek byvoorbeeld die Derrick-reeks uit Duits vertaal en oorgeklank het. Tans is ek ook teksredakteur van die sepie
Suidooster waar ek jong skrywers lei. Iets wat ek vreeslik geniet, want by jongmense leer ’n mens so baie. Verder redigeer ek manuskripte, en so nou en dan is daar ’n radiodrama.”

 Om soos ’n jongleer al die balle in die lug te hou vereis ysere selfdissipline. Dít en ook goeie maniere, respek en lojaliteit kom van sy ouers af. “Hulle was sulke ordentlike mense, wónderlik-móói, ordéntlike mense. Hulle was ook ontsaglike liefdevolle mense. Hulle was so ondersteunend in alles wat jy ook al doen. Baie keer sê mense ek het sulke mooi maniere. Dit kom alles van húlle af. My pa het ook altyd gesê ek gee nie om wat jy doen nie, maar doen dit net goed. Dit alles het my gedissiplineerd gemaak, miskien té gedissiplineerd. Maar nouja … Dit help alles.”

Kobus lag weer. Sy groen oë blink.

“Ek lag so baie. ’n Mens mag mos giggel ook. Jy weet, dit is hoekom ek die kindergoed verkies. Dit is lig. Die humor is só geskakeerd.”

Peter Pan sal hy bly. Die effek van sy sprankelende vertalings verryk Afrikaans, dit sjarmeer, en sorg dat jong lesers getrou aan die taal sal bly. Wie anders kan woordeskat soos hy uitdink soos eet wat njamma-njamma in Drakonees is, ’n dom-woef en soen beteken ruila jiggie-lipsap. Geen wonder sy vertalings het al klassieke status verwerf nie.

Hy sien homself as ’n majeurmens in gesprek met drake, vlieënde perde, towenaars, elwe en hekse. Maar daar is ook ander bestaansruimtes. “Mense glo my nie, maar tog is ek baie beskimmeld. Om vir 12 jaar enigste kind te wees voor my suster se geboorte, het vir my die ruimte gegee om in my eie wêreld te lewe. Ek kon in my eie kamer terugtrek. Dis myne. Dan gaan ek skool toe en dis ha-ha-ha, en dan kom ek terug na my eie veilige plek waarin ek kon terugtrek en my eie wêreld skep. Hierdie dualiteit was maar altyd daar.”

Van kleins af wou hy akteur word en skryf hy in as ’n student van Babs Laker by die Akademie vir Dramakuns in Stellenbosch en later in Kaapstad.

“Afgesien van vertolking en interpretasie, dramas, karakterisering, poësie, en die skoonheid en musikaliteit van die woord wat sy vir ’n mens ontsluit het, was sy ’n ankerpersoon in my lewe. Sy het vir my ongelooflike selfvertrou gegee.

En warmte. Sy het vir my wêrelde en deure in my kop en hart oopgemaak. ’n Lewensmentor. Ook in my private lewe. En ek hoop dat ek deur my werk aan jong skrywers ook kan terugploeg wat ek by haar geleer het.”

Kobus vind aanklank by die eenvoud van Tao Boeddhisme.

“Ek is nie ’n Boeddhis nie, maar ek het wonderlike lewenslesse ook by hulle geleer. Meditasie, of gebed, gaan nie oor die ervarings of kicks wat jy daaruit kry nie. Jy sit en kyk na wat ís…en wat ís … en wat ís. Dan kom jou emosies, waarvan ek baie het, soos wolke in die lug verby. En dan kom die vryheid. Mense gaan op groot spirituele paaie, maar ek soek eenvoud. Soos wat Christus gesê het: Kyk na die lelies van die veld, hulle arbei nie, en hulle spin nie. Daardie soort eenvoud. Dit skakel alles so mooi in by alle gelowe en denkrigtings.”

Die natuur bly ook vir hom belangrik. Hy onthou die stapelwolke en reuk van veld van die Oos-Kaap van sy kinderjare. Berge en die see het ’n uitwerking op hom. Hy vertel hoe hy twee dae lank in Europa geryloop het om by die see uit te kom omdat hy na branders verlang het. “En toe is dit ’n dam. En daar is nie sand nie, net klippertjies-op-die-strand.” Spel hy dit uit. Hy het verder ’n soort van ’n panteïstiese houding teenoor die natuur wat hy baie as kind ervaar het.

“Daardie ego-goeters. Wanneer ek suur was oor iets, was daar ’n donderstorm … En dan op die Karooplase, die bloekombosse. In die winter, daai blare wat vrot. Daai reuk in die dorheid. En my fassinasie met verrotting wat so deel is van die menslike bestaan.”

Vandag vind hy vervulling in sy seun Daniël én die meer voor hom en Louise, sy lewensmaat, se blyplek. Hy verkyk hom aan die besige flaminke en op winderige dae is daar golfies op die water. Springbokkies wei voor sy voordeur. Die see is net om die draai. Hy doen ook pottebakkery waar dit nie herskeppings van ander se werk is nie. “Wielwerk, groot goed. Ek voel die klei tussen my vingers, soos speel op ’n rivierwal. Met swaartekrag wat jou pot-opfok-as jy-probeer-jaag. Goeie lewenslessie vir my, altyd.”

Vrye tyd is daar verder min, maar hy oefen gereeld in die gim en gun hy homself die tyd om te probeer afskakel.

Maar swem hy, oefen hy sy Xhosa-kliekklanke onder die water. Vra jy hom of daar drake in sy binneste is, antwoord hy met ’n heerlike lang lag. “Ek kan vreeslik uitfreak. Ek ís ’n bietjie volatile in baie opsigte. Maar dit is weer waar die Boeddhisme-opleiding inkom. Daardie vryheid om dit te herken. Ek dink so baie aan mense wat Edith Piaf se je ne regrette rien aanhaal. Ek is nie spyt oor my geskiedenis nie. Ek is nie skaam daaroor nie, want dit is wat my maak, wie en wat ek is. My drake is aanvaarbaar en tembaar. Ek herken my drake en sê vir hulle, kom, ek vat jou vir ’n ride …”

Die kelners begin opruim. Dit is sluitingstyd. Ons groet en hy stap weg. Oor ons almal sak ’n waaier sterresproei neer, nes in Neverland.

Daniël, oor sy pa:

Amper alles van waarde wat ek in my lewe geleer het, kan teruggevoer word na hom toe. Hy lei op die heel beste manier: deur sy voorbeeld. Ek is lief daarvoor om met hom te spog – om name soos Potter en Dahl te noem, en om aanspraak te maak dat hy hierdie en ander werke meesterlik vertaal het. Hy gee onbaatsugtig, en sy onweifelende vertroue in my is heel moontlik die grootse geskenk.

Anita van Zyl, ’n kollega en Kobus se klankbord:

Ek het Kobus in die tagtigerjare leer ken. Ek was taalreviseur by die SABC se oorklanking, hy vertaler, en is steeds goeie vriende en taal-buddies. Hy is die mees gedissiplineerde en hardwerkende mens wat ek ken – hy haal nie keerdatums nie, hy is lank voor die tyd klaar. Vir my pluk hy daagliks taalhase uit die hoed – as ek sukkel om ‘n woord in ‘n jaarverslag te vertaal, of om ‘n kop vir ‘n trekkeradvertensie uit te dink, bel ek net vir Kobus. Hy is ruimhartig en vrygewig – ongelooflik lojaal aan sy vriende en sal enigiets vir hulle doen. Hy loop met sy kop in die wolke, maar kan ook prakties wees – hy het Daniël as kind nie probeer dwing om groente te eet nie, maar hom bloot vitamienpille gevoer.

Foto: Johann Crous

 

By | 2018-04-18T04:58:23+00:00 April 16th, 2018|Boeke, Kultuur, Profiel, Skrywers, Uncategorized|