Klipwerk wat vloei

ARTIKEL: Carolien Greyling
FOTO’S: Merwelene van der Merwe

2017 is die derde jaar dat PPC Imaginarium-pryse toegeken word as toonvenster vir Suid-Afrika se talentvolste opkomende ontwerpers, argitekte, juweliers, modeontwerpers, rolprentmakers en skone kunstenaars.

Die Imaginarium spog met altesame R55 000 prysgeld, wat een van Suid-Afrika se grootste en mees toegewyde verbintenisse tot die kunste verteenwoordig. Die pryse neem toe in gewildheid; 2016/2017 se toekennings het ’n ongelooflike 884 inskrywings gelok byna 300 meer as die vorige jaar.

Die wenners ontvang nie net kontantpryse nie, maar moontlik aanlokliker is die blootstelling wat PPC bied. Wenners stal hul werk in Johannesburg, Kaapstad en Durban uit. In 2016 het 87 000 besoekers die PPC Imaginarium-uitstallings oor die hele land besoek wat dit die reisende uitstalling met die meeste besoekers in die land gemaak het. Naas dié blootstelling, word Imaginarium-wenners ook wyd bevorder op digitale platforms. Terwyl uitstallings beperk is tot stedelike kunskykers, gee die digitale platforms aan geesdriftiges oor die hele land die geleentheid om die nuwe werk op die Imaginarium-pryse se digitale galery te besoek.

Die Imaginarium-span het ook ’n aanlyn platform geskep waar inskrywers en wenners kan kommunikeer en meer kan leer oor gevestigde name in die kreatiewe wêreld – Steven Hobbs en die meubelhandelsmerk Dokter and Misses is enkele van diegene betrokke by die mentorprogramme. Die digitale mentorprogramme gee die kompetisie die geleentheid om meer inklusief te wees, omdat sommige van die inskrywers moontlik nie dieselfde gehalte onderwys en onderrig ontvang het as hul stedelike eweknieë nie wat top-universiteite bygewoon het. Sodoende het Imgaginarium die tradisionele grense van ’n kunskompetisie oorgesteek en poog eerder om ’n steun- en mentornetwerk vir jong, opkomende kreatiewe mense te wees.

Die kompetisie vereis van inskrywers om aan nuwe en oorspronklike maniere te dink om die medium van beton in hul ontwerpe te verken – van ’n beton-Weber tot sementmateriaal was sommige van die nuutskeppings. Sement is ’n materiaal wat maklik bekombaar is, maklik om aan te maak en redelik goedkoop, wat daarvan ’n fantastiese medium maak. Danie van der Merwe, die brein agter die kompetisie verduidelik: “Die werk wat vir my uitstaan, is waar mense met ’n oorspronklike konsep vorendag kom, waar die konsep sosiaal-ekonomiese kommentaar lewer en waar die eindproduk ’n unieke nuwe komponent het wat betref hoe dit gebruik word. Dit moet funksioneel en pragtig wees en dit moet ’n bydrae lewer tot die samelewing.”

Verlede jaar se wenner was Mignon Daubermann wat deur die hand se anatomie geïnspireer is om twee ringe te ontwerp wat die kontoere van die hand volg. Die konsep is afgelei van die idee dat bene en beton dieselfde eienskappe deel: albei is sterk, maar ook bros en albei dien as fondament – beton vir ’n gebou en bene vir ’n liggaam.

Van der Merwe voeg by dat vanjaar se 53 finaliste van uitsonderlike kaliber is en dat hulle hom hoop vir die toekoms van kuns in die land gee. Dit is belangrik dat korporatiewe organisasies die kunste steun omdat daar ’n skaarste aan finansiering uit die openbare sfeer is. ’n Loopbaan in die kunste word deur baie as ’n doodloopstraat beskou. Maar dit is nie die geval nie; Van der Merwe verduidelik: “kapitaliste begin besef dat dié soort inisiatiewe belangrik is om gemeenskappe te onderhou. Deur kuns, ontwerp en vernuwing te steun, steun ons indirek groei in die ekonomie, ons ondersteun gemeenskappe en ons steun ’n meer kreatiewe Suid-Afrika.”

Die jaarlikse paneel van beoordelaars is ’n bewys van die krag van kreatiwiteit in Suid-Afrika. Beoordelaars dien as rolmodelle en verteenwoordigers van hul ambag en werk. Vanjaar se paneel sluit in: Allana Finley, Wessel van Huyssteen, Rethabile Molatela, Ndikhumbule Ngqinambi, Igsaan Martin, Pfunzo Sidogi, Adelheid von Maltitz, Thami Jali en Zanele Mashumi.

DEKAT gooi ’n ogie oor sommige van dié jaar se juwelierswarefinaliste:


Sonja Zytkow

Haar werk getitel All Squares is ’n verklaring en kontrasteer die swaar en robuuste aard van beton met die dunheid en liggewig samestelling van papier. Die halssnoer is gemaak van dun lagies beton-vierkante en ander materiaal soos bladsilwer en aluminium wat in vierkante gesny is. As ’n verdere verwysing na die halssnoer se titel, All Squares, wissel vierkantige silwerkrale op verskeie plekke die betonplaatjies af om die tussenspasie te vul. Dié materiale verskaf nie net ’n gevoel van lig en weerkaatsing nie, maar verskaf ook ’n ligter halssnoer wat baie gedra kan word.



Manuel Mpho Helepi

Ring Eternity is geskep uit beton, silwer, koper, kubieke sirkonia en ondeursigtige ongefasetteerde kwarts. Die ontwerp is gegrond op die volgende teks uit die Ou Testament en spesifiek met betrekking tot die voete van die beeld: “En die tone van die voete deels van yster en deels van klei is – ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het – hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aan mekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie. Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die groot God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”



Geraldine Fenn

Die stuk juweliersware met die ironiese titel Untitled is ’n kontemporêre weergawe van die klassieke pêrelhalssnoer met ’n kameehanger. Die halssnoer behou die kosbaarheid en delikaatheid van antieke juweliersware, maar met ’n kontemporêre skerpte deur die gebruik van sement. Die ingewikkelde halssnoer is uit sement, hars, silwer, 9 kar. geelgoud, granaat, pêrelgruis, perlemoen en sydraad gemaak.



Rela Venter

Die stuk se titel is Strength of a Woman en is geïnspireer deur ’n vrou se innerlike krag tydens onrus en haar vermoë om op haar uiterlike skoonheid en elegansie te steun vir statigheid en kalmte. Beton, wat die halssnoer se hoof medium is, vertoon dié krag sonder om die vermoë prys te gee om elegansie, weerloosheid en skoonheid te weerspieël. Sterling silwer omhul die hanger wat die vorm van ’n vrou se liggaam aanneem, en die vloeiendheid en elegansie van die vroulike vorm vertoon. Strength of a Woman is gemaak van beton, sterling silwer en labradoriet.



Tshegofatso Makgatho

Dié stuk juweliersware is getitel Modern Parametrics en is geïnspireer deur parametriese argitektonies ontwerpe en vloeiende vroulike lyne. Die handgemaakte ring kommunikeer die idee van parametriese ont-werp, ’n ontluikende konsep in argitektuur waar parameters onderling verbind as ’n stelsel. Die ontwerpproses skep sistematiese, aanpasbare variasie, voortdurende differensiasie en dinamiese figurasie van die verstedelike skaal tot die argitektoniese skaal. Modern Parametrics is uit sterling silwer en wit sement gemaak.



Nkosinathi Mhlongo

Die Pyramid Ring is ’n eerbetoon aan Egiptiese argitektuur en weerspieël die krag en skoonheid van beton as medium. Die groot piramide by Giza herinner aan die amptelike Sewe Wonders van die Wêreld as bewys dat ons nog verstom staan oor die reuse-strukture wat die antieke Egiptenare geskep het. Die ring bestaan uit drie verskillende, vierkantige vorms wat elk ’n piramide verteenwoordig. Dié piramides is in lae op mekaar geset, wat ’n groter piramide skep. Die ring bestaan uit sterling silwer gekontrasteer met bruin sementblokke. Hulle mimiek die gebeitelde bruin blokke waaruit Egiptiese piramides gebou is en verteenwoordig dié tekstuur. Pyramid Ring weerspieël die pragtige resultaat wat verkry word as ’n sterk materiaal soos beton gekombineer word met die elegansie van ’n materiaal soos sterling silwer.



Thato Radebe

Die Perseve-RING is bedoel as ’n beeldhouwerk wanneer dit nie gedra word nie. Die stuk juweliersware verteenwoordig die idee van dubbele identiteit, die een as juweliersware, die ander as ’n artefak met ’n outonome karakter. Perseve-RING bestaan uit ’n geweefde skag wat by twee sementsfere ontmoet. Die kunstenaar se keuse om ’n geweefde konfigurasie te gebruik totdat dit die twee sementskywe ontmoet, is geïnspireer deur die idee van volharding – as vasberadenheid en harde werk resultate lewer, sal een iets solieds tot gevolg hê. Perseve-RING is uit beton en sterling silwer gemaak.



Handre de la Rey

Die moontlikheid om ’n ultra dun sonbril te skep wat die grense van sement gegronde produkte verskuif word met dié inskrywing verken. Die stuk kan afgebreek word in kleiner dele wat aangepas kan word by die gebruiker se spesifieke vereistes. Twee betonsirkels hang aan ’n 3D-gedrukte brug wat die hoofkomponent vorm en dit kan gekoppel word aan oorstukke wat omgeruil kan word. Die inspirasie vir dié stuk kom van die Japanse argitek Tadao Ando. Sy gebruik van sterk geometrie, skoon proporsies en natuurlike materiale lig die ontwerpproses in.


Die wenner van elke kategorie ontvang ’n kontantprys van R50 000 en naaswenners ontvang R15 000. Die algehele PPC Imaginarium-pryswenner ontvang die grootprys van R100 000.
Die kategoriewenners en die algehele kompetisiewenner word op 18 Mei 2017 by die UJ Kunsgalery by die Universiteit van Johannesburg aankondiging.

[/fusion_text][/fusion_builder_column][/fusion_builder_row][/fusion_builder_container]
By | 2017-06-27T22:56:26+00:00 June 27th, 2017|Ontwerp|