Klein maar getrein

DEKAT het die Suzuki Celerio toetsbestuur, en kan, wat waarde vir geld betref, nie beter aanbeveel nie.


Suzuki Suid-Afrika het die afgelope jaar vriend en vyand verras en met verskeie toekennings is hulle beslis ‘n vervaardiger om van kennis te neem.

Nie net het verbruikers in 2017 gestem dat Suzuki die beste handelsmerkvoertuig van die jaar is nie, maar hulle het ook weggeloop met die louere vir die beste bekostigbare voertuig (Celerio 1.0 GL), sowel as beste kompakte gesinsvoertuig (Vitara 1.6 GL+) van die jaar op Cars.co.za se verbruikerstoekennings wat in Maart vanjaar gehou is.

Die klein buksie spog met ’n groot persoonlikheid. Sy unieke ontwerpelemente binne en buite maak van hom ’n lus vir die oog. Dit is beslis ’n voertuig wat jy elke dag sal wil bestuur in enige verkeer. Die Celerio spog met ’n brandstofdoeltreffendheid van 4,6 liter/100 km, en selfs in die hewige Gautengse snelwegverkeer of op kort ritte, het ek gesukkel om die petrolnaald te sien val. Ek moet sê dat ek bekommerd was oor die krag van die klein voertuig, en alhoewel net ’n 1.0 liter-enjin, het sy reaksie op die aanraking van die petrolpedaal my voorwaar verras. Dit is beslis ’n bereidwillige voertuig wat tevrede sal stel ten opsigte van rygenot, sowel as brandstofekonomie.

Die vyf sitplek Suzuki is gemaklik en ruim en spog met die grootste spasie in sy klas. Selfs die kattebakspasie (235 liter) is voldoende vir ’n naweekplesiertjie. Die voertuig is ook toegerus om aan al jou gemaksvereistes te voldoen, met elektroniese vensters, ’n sentrale sluitstelsel wat gestel kan word om net die bestuurder se deur oop te sluit, lugversorging, maklike Bluetooth-aanskakeling wat op die stuurwiel gemonteer is, sowel as ander funksies soos om die musiek harder, sagter of op stil te stel, en natuurlik al die nuttige inligting soos gemiddelde petrolverbruik; digitale horlosie en oorblywende kilometers op die 35 liter petroltenk.

Die Celerio is ook toegerus met misligte en bykomende laag gemonteerde ligte wat die padoppervlak direk voor jou motor verlig. Die GL-model spog ook met lugsakke voor in die motor om die impak tydens ’n botsing op die bestuurder en passasier te verminder.

Ander luukses en veiligheidsaspekte:

Die ABS met EBD-remstelsel maak voorsiening vir veiliger rem- en stuurbeheer.

Die klein buksie is beskikbaar in ’n handratkasmodel of AMT-model (Automated Manual Transmission).

Suzuki se nuut ontwikkelde Auto Gear Shift-handratkas het Intelligent Shift Control Actuator, wat al die harde werk vir die koppelaar doen. Dit verbeter nie net die Celerio se brandstofverbruik nie, maar behou ook die funksie-eienskappe van ’n handratkas. Dit sluit in kruipfunksie vir wanneer jy in swaar verkeer ry.

’n Heeltemal nuwe vyfspoedhandratkas is gebruik vir die Celerio, wat die brandstofverbruik so verbeter.

Wringkragverlies is met 40% verminder wat ligte en gladde ratoorskakeling moontlik maak. Die verbeteringe dra by tot die vermindering van geraas en vibrasie terwyl die motor stilstaan.

Nuwe K10B-enjin

Die Celerio se 1.0 liter-petrol K10B-enjin verskaf net daardie iets ekstra wat dinamiese prestasie betref. Deur die aantal komponente in die enjineenheid tot die minimum te beperk is die gewig verlaag, wat minder wrywing en meer veerkrag beteken.

Maksimum uitset: 50/6 000 kW/rpm  •   Maksimum wringkrag: 90/3 500 Nm/rpm

Waarborg

Alle Suzuki-modelle word gedek deur ’n omvattende vervaardigerswaarborg teen enige afwykings vir ’n tydperk van drie jaar of 100 000 km. Dit word ondersteun deur ’n ses jaar bakwerkverweer-waarborg onderhewig aan die bepalings en voorwaardes.

Diensplan

Die Suzuki Celerio GL spog met ’n diensplan van 2/30 000 km. Hierdie plan sluit in die vervanging van olie, die oliefilter, brandstoffilter, remhulp, lugfilter en bykomstige bande, maar sluit bande, remme en ander slytasie-items uit.

Padbystand

Elke nuwe Celerio kom met ’n padbystandsplan. Die volgende is ingeluit by hierdie omvattende pakket: battery- en slotmaker-uitroepdienste, meganiese en elektriese sleepafbreek (ongeluk sleep is opsioneel), nood-/mediese hulpdienste, voertuigherstel en ’n padbystand- gewapende reaksie veiligheidsdiens.

By | 2017-10-25T09:00:43+00:00 October 25th, 2017|Motors|