J.H. Pierneef: ’n Voorloper

Met sy kwas skep hy ’n universele Suid-Afrikaanse kunsstyl.
ARTIKEL: Amanda Botha

’n Soeke na die essensie van die Suid-Afrikaanse landskap, is steeds ’n fokuspunt en ’n sentrale – dikwels kontensieuse – tema in ons kuns, literatuur en politiek. In al die narratiewe wat al geskryf en op die skilderdoek uitgespeel is, is daar uiteindelik hier en internasionaal net één gemene deler wat aanvaar word: die landskapuitbeeldings van J.H. Pierneef.

Pierneef is een van ons heel grootste kunstenaars en dié een wie se werk alom beskryf word as die kwintessens van Suid-Afrikaanse kuns. Wat ons in Pierneef se landskappe sien, is dié beliggaming van wat as Suid-Afrikaanse kuns verstaan en waardeer word.

Sy visie was ’n unieke Suid-Afrikaanse kunsstyl wat die gees van ons landskap adem en wat onmiddellik so herken sou word. Hy het geglo dat gehaltekuns, wat ’n Suid-Afrikaanse kunstradisie verteenwoordig, wel internasionaal erken sou word.

Terugskouend beoordeel, was Pierneef ’n baanbreker in ’n benoudende koloniale tydperk toe hy uitgesproke daarna gestreef het om ’n eie, kenmerkende Suid-Afrikaanse skilderstyl te ontwikkel. In 1942 het sy medekunstenaar Walter Battiss al gesê dat Pierneef op soek was na sekere kunsaspekte wat gewortel is in ’n inheemse, maar eg Suid-Afrikaanse konteks. Anton Hendricks, ’n ouddirekteur van die Johannesburgse Kunsmuseum, het ná Pierneef se dood geskryf dat hy “op soek was na die siel van die Suid-Afrikaanse landskap” en veral daarop ingestel was om “die Transvaalse veld van binne te ken”.

Nog ’n oudkunsdirekteur Matthys Bokhorst vergelyk Pierneef in 1958 met Paul Cézanne. Sover dit die waarneming van die landskap betref, ís hy “die Cézanne van Suid-Afrika”.

Die gerespekteerde kunshistorikus Esmé Berman sê in 1983 dat Pierneef se begrip van die uitgestrektheid van die Transvaalse bosveld en berge ooreenstem met sy sieninge van ’n “askete lewe en spiritualiteit”. Sy wys daarop dat die meeste van Pierneef se tydgenote merendeels die Britse kunstradisies gevolg het waarin hy duidelik nie tuis gevoel het nie. Hy het eerder aan “die formele argitektuur van die Hoëveld” aandag gegee en so ’n “rasionele en sigbare interpretasie van die landskap se kenmerkende ruimtelike en struktuele karakter te gee”.

Pierneef is in Die Volkstem, 3 Julie 1929, vir die eerste keer beskryf as ’n kunstenaar met ’n “eie Suid-Afrikaanse styl, wat ’n mens sonder die minste verbeeldingskrag kan vereenselwig met ons Suid-Afrikaanse natuur”. Op hierdie gebied kan hy as pionier uitgesonder word omdat hy kon bewys dat so ’n eiesoortige styl nodig is om die Suid-Afrikaanse landskap te verken.

Vandag het Pierneef ook daardie erkenning van swart landsgenote wat sy landskappe bewonder. Fred Phaswana, voorsitter van Standerd Bank, vind sy werk “inspirerend”. Hy verwoord dit so: “His work reveals our love for the South African landscape, we are passionate about the uniqueness of our country, and that passion crosses cultures and political divides.”

Pierneef was op soek na die tipiese kenmerke van die Suid-Afrikaanse landskap wat sy topografiese vorme en helder lig kon weergee. Vir hom het dit gegaan om die stemming en die essensiële karakter van die landskap te interpreteer met inagneming van die weerkaatsing van soms verblindende skerp sonlig op die vlaktes en die berge.

Sy gebruik van liniêre ritme, rustige horisontale en kort, sterk, vertikale lyne, die wye boog van die lug en die geometriese vorme van die berge en die kranse, het ’n uitstaande kenmerk van sy werk geword. Dit was, volgens sy eie erkenning, geïnspireer deur die treffende ge-bruik van lyn wat hy in Sankuns nageteken het. Hy was ook beïndruk deur hul gebruik van aardskleure om die dekoratiewe element te versterk.

Pierneef het ’n intense studie gemaak van die rotskuns van die San. Hy het honderde kopieë van Sanrotskuns gemaak wat nageteken is deur ’n vroeëre ontdekkingsreisiger George Stow. Pierneef was so begeesterd deur die rotskuns dat hy in sy eerste groot opdrag in 1922 ’n muurskildery, gegrond op Sanmotiewe, vir die saal van die Hoërskool Ficksburg geskep het. Kenmerkend is die vorms, kleurskemas en gebruik van lyne hier wat aan Sankuns ontleen is. (Dit word steeds bewaar en kan nog besigtig word).

Sankuns het Pierneef geïnspireer om na vorms te soek waarin hy die natuur kan uitdruk – driehoeke, sirkels, vierkante, piramides en verbindinge van lyne. Die uitdaging was om die ontsaglike grootte van die lug en die son met die topografie van die landskap te verbind. Die skerp lig maak die landskap “kleurloos” wat meebring dat dit nie die kleur is nie, maar die dekoratiewe simmetrie en die dramatiese komposisies wat berus op ritme, balans en lyne wat dadelik opval. Die basiese kleurtinte word gebruik om die spanning te verhoog.

Hy het met ’n beperkte palet gewerk – kleure soos blou, groen, bruin, rooipers en ’n mengsel wat aan goud en silwer herinner. Hierdie kleure is vernuftig gekombineer om ’n warm of koel atmosfeer te skep, dorheid en mistigheid voor te stel of om die stemminge van vroegoggend of skemer op te roep.

Die reuse-kremetartbome, die berge en die wye vlaktes, die puntige miershope en die dekoratiewe doringbome het kwalik kleur nodig om die aandag op te eis. Die geometriese komposisie is duidelik sigbaar en die natuurvorms bly altyd herkenbaar.

Die komposisie is ingestel om hierdie monumentale gevoel te verskerp. Die geometriese, liniêre en soms sterk dekoratiewe styl dra verder daartoe by. Deur van vereenvoudiging van vorme en stilering gebruik te maak verkry Pierneef ’n deurlopende geheel. Hiertoe sou al die noukeurige studies, wat as voorbereiding gemaak is, grootliks bydra.

Pierneef se benadering tot die landskap was om dit in geometriese strukture te verdeel, deur gebruik te maak van plat gelyktes, lyne en kleur om so harmonie en orde in die landskap weer te gee. Die gevolg hiervan is sy kenmerkende geformaliseerde, geordende en monumentale uitsig op die uitgestrektheid van die Suid-Afrikaanse landskap met die fokus op dramatiese lig en kleur. Sy hantering van ons sterk sonlig en die eenheid wat hy skep deur die ritme van sy lyne as kerndeel van sy komposisies te gebruik, gee aan Pierneef se werk sy karakteristieke kenmerke.

In baie komposisies word die geheel opgebou uit dele van verskillende omliggende omgewings. ’n Landskap word dikwels saamgestel uit sketse uit verskillende lokaliteite. Gewilde temas soos Bosveldtonele, die Apiesrivier in Pretoria en Rustenburgkloof is herhaalde male deur Pierneef voorgestel.

Sy intense betrokkenheid met die landskap en sy verdieping in die natuur was daarop ingestel om die essensie en die stemming van die landskap op doek vas te lê. Dit kan ook gelees word as ’n diep spirituele ervaring van die natuur.

Hy was die eerste professionele kunstenaar wat Sanmotiewe in sy werk geïnkorporeer het. Hy was die eerste wat Sanrotskuns as volwaardige kuns erken het en daarna verwys het as ’n unieke en belangrike bydrae tot Suider-Afrikaanse kuns. Walter Battiss het later vanaf 1933 ook Afrika-ikone en Santekeninge in sy werk ingesluit.

Pierneef het sy bewondering van Sankuns openlik uitgespreek en in talle lesings dit aan gehore blootgestel. Hy het ook ’n vroeë belangstelling gehad in Afrikahandwerk, veral pottebakkery en was ’n voorstander daarvan dat hierdie kunstradisie inherent deel van Suid-Afrikaanse kuns is. Hierdie uitsprake was lank voor 1948.

Pierneef het kontak gehad met verskeie Afrikalande – al was dit net as passasier op posbote langs die ooskus van Afrika. Hy het verskeie landskapstudies gemaak na aanleiding van die reise. Juis omdat hy meer kontak as sy tydgenote gehad het met lande buite ons grense was daar by hom ’n bewustheid dat Suid-Afrika ’n kleiner deel van ’n groter kontinent is. Midde-in kolonialisme wat in sy tyd hoogty gevier het, het sy bewustheid van ’n nasionale psige hom veral geïnspireer in sy soeke na ’n “unieke Suid-Afrikaanse styl”.

Lank voor dit mode was, het hy ’n diepe begrip gehad van die belang van inheemse kunsproduksie en dat dit deel is van die uitdrukking van die “siel” van Suid-Afrika.

In sy tyd het Pierneef die strewe van die verslane Boeregeneraals Jan Smuts en Louis Botha ná Uniewording in 1910 na ’n inklusiewe gemeenskap met ’n nuwe identiteit as “Suid-Afrikaners” gesteun. Teen hierdie agtergrond moet sy soeke na ’n “eie, unieke Suid-Afrikaanse stem” verreken word.

Anders as die meeste Afrikaners van sy tyd het Pierneef vroeg reeds uitgereik na Britse immigrante en tuis gevoel in die geselskap van Engelssprekende medekunstenaars. Hy was ’n toegewyde lid van die Engelse kunstenaarsgroep, The Individualists, wat in 1911 in Pretoria gestig is, en was ook ’n gerespekteerde lid van die Anglophile South African Society of Artists.

Hoewel The Individualists geen noemswaardige invloed op Suid-Afrikaanse kuns in die algemeen gehad het nie, kan die invloed op Pierneef se ontwikkeling as kunstenaar nie onderskat word nie. Die aanmoediging en lof wat hy op die groep se uitstallings ervaar het, het hom as kunstenaar op die voorgrond geplaas. Dit was vir hom ’n stimulerende artistieke omgewing wat ook geleenthede vorentoe geskep het vir internasionale deelname in die Statebond, wat in 1910 tot stand gekom het.

Hierdie ervaring het Pierneef se selfvertroue versterk en hom in staat gestel om op 3 Oktober 1913 sy eerste solotentoonstelling in Pretoria aan te bied wat ’n lang en vrugbare loopbaan tot gevolg gehad het met die opdrag om 32 muurpanele vir die Parkspoorwegstasie in Johannesburg te skilder as hoogtepunt. Verskillende dele van die land moes hierin voorgestel word. Agt landskapstudies van die stasiepanele het die destydse Transvaalse provinsie betrek, wat sy duidelike voorkeur vir hierdie landskappe toon. Die ander 24 tonele dek Natal, die Vrystaat, die destydse Kaapprovinsie en Suidwes-Afrika (nou Namibië).

Hy het die land deurkruis op soek na ideale tonele wat hy as verteenwoordigend beskou het. Hierdie ervaring het hom in die posisie gestel om Suid-Afrika geografies te verken en hom in staat gestel om ’n eiesoortige styl te ontwikkel wat sy – en ander – se geloofwaardigheid in ’n eie, Suid-Afrikaanse landskapstyl gevestig het. Dit maak Pierneef – in die huidige klimaat – eerder die eerste, ware Suid-Afrikaanse kunstenaar, indien nie die eerste in Afrika nie. Wat betekenisvol is, is dat hierdie visioenêre siening, wat dikwels ook misverstaan is, vandag wel internasionaal erken word.

My aanname is dat Pierneef ’n Suid-Afrikaanse strewe gehad het om hom met die identiteit van ons landskappe te vereenselwig. Dit het hy wel deeglik gedoen, veral nadat hy opdrag gehad het om die Johannesburgse stasiepanele te skilder wat die verskillende uithoeke van die land en Namibië ingesluit het. Juis oor sy groter blootstelling aan die groter Afrikalandskappe, meen ek, dat Pierneef – in die huidige klimaat – eerder as ’n Afrikaan gesien kan word.

Wat ook verreken moet word, is die soort mens wat Pierneef was. Hy was individualisties van aard en nie alte tuis in groepe nie. Hy het ’n bepaalde aanvoeling gehad dat kunsbeoefening vra dat brûe tussen mense gebou moes word en dat kunsuiting ’n kollektiewe begrip is wat verskillend gedeel kon word. Hy kón daardie brûe kruis.

’n Laaste “bewys” van Pierneef se bewondering van inheemse Afrikakuns, was toe hy in 1939 ’n kleinhoewe oos van Pretoria gekoop het en daar ’n unieke huis en ateljee ontwerp het. Dit is gebou met klippe en ’n grasdak is opgerig met klippe en gras van sy hoewe. Hy het na sy tuiste verwys as “ ’n kraal” en sy rotskuns-natekening van ’n rustende eland is deur sy vriend, die beeldhouer Coert Steynberg, in reliëf in sy deur gekerf. Sy tuiste het hy Elangeni genoem – in Zoeloe: in die son.

Pierneef het hom visioenêr vereenselwig met ’n “nuwe” Suid-Afrika én Afrika. Sy versiend-heid het hom ’n wêreldburger gemaak. Hy wás sy tyd vooruit.

Die La Motte Wynlandgoed

Die La Motte Museum op die La Motte Wynlandgoed in Franschhoek bied ’n spesiale tentoonstelling: ’n Huldeblyk aan die lewe en werk van Jacob Hendrik Pierneef (1886-1957).

Meer as 100 kunswerke word ten toon gestel en die sorgsame seleksie van werke en inligting uit sowel openbare as private versamelings vergesel en kontekstualiseer La Motte se kern- kultuur-historiese versameling. Die tentoon-stelling identifiseer sleutelaspekte en periodes wat J.H. Pierneef – die mens, die kunstenaar en die erfenis – bekendstel. Elke aspek word beklemtoon deur kunswerke en memorabilia wat vereenselwig kan word met diegene wat ‘n invloed gehad het op sy kuns, mentors, vriende en versamelaars van Pierneef.

Die jaar 2017 is van spesiale betekenis vir die La Motte Museum, dit gedenk die 60ste jaar ná die afsterwe van die gevierde Suid-Afrikaanse kunstenaar asook die 90ste verjaardagviering van sy dogter, Marita, ’n vriendin van La Motte en die oorsprong van die museum se permanente Pierneefversameling.

Die tentoonstelling duur vir die hele 2017 tot en met 3 Januarie 2018. Die La Motte Museum is oop van Dinsdag tot Sondag van 9:00 – 17:00.

Die Pierneef-ervaring is ’n wonderlike en persoonlike inleiding tot die La Motte Museum se spesiale tentoonstelling, dit bied besoekers ’n per-soonlike begeleide toer aangebied deur die uitstalling se kurator, terwyl dit insig bied tot die landgoed se uitgebreide Pierneefhandelsmerkassosiasies – die internasionaal erkende versameling van Pierneefwyne en die bekende Pierneef à La Motte Restaurant.

Die begeleide toer word gevolg deur ’n proe van die Pierneefwyne en ’n spesiale Pierneef-geïnspireerde kaasbord. Diegene wat die skone kunste, wyn en kookkuns waardeer, word genooi om te bespreek vir die uitsonderlike weeklikse geleentheid, aangebied op Dinsdagoggende van 10:30 –12:30. Koste R250 p.p. en besprekings is noodsaaklik.

Vir meer inligting besoek la-motte.com of kontak +27(0)21 876 8850 of museum@la-motte.co.za

By | 2017-07-01T14:02:32+00:00 July 1st, 2017|Kuns|