1880 Views |  Like

Kleurryke Tanya O’Connor oor hoekom inkleur terapeuties is

Inkleur het inderdaad die wêreld se volwassenes na hul kryte laat gryp en nie sommer net omdat dit ‘n gier is nie. Dit is bewys om ongelooflik terapeuties te wees én is heelwat goedkoper as ‘n uur op jou terapeut se rusbank.

Tanya O’Connor het self die helende krag van inkleur ervaar, aldus die rede vir die skepping van haar reeks inkleurboeke, om ander mense te kan help. Haar eerste boek was Hallo, lewe; Kom, kleur in! gevolg deur Kom, kleur saam in!: Karnaval van drome tot haar nuutste vrystelling, Colour Brings Hope. Volgens Tanya, is “inkleur my wegloop na ‘n wêreld sonder reëls en waar ek kan doen net wat ek wil. Wanneer ek dan terug loop na die werklikheid, is dit makliker om daar te wees.” “Inkleur is nie meer net vir kinders nie, dit help mens ontspan, wakker kreatiwiteit en selfuitdrukking aan. Wanneer jy inkleur kom onderdrukte emosies na die oppervlak en jy kan dit beter hanteer,” skryf Dr ST Potgieter in haar boek, Kom, Kleur in.

As die enigste kind van ‘n depressielyer, het Tanya haar ontvlugting gevind in teken. “Kuns was my medisyne teen die hartseer, onsekerheid en pyn. Ek kon nie my ma se siekte verstaan nie, ek was skaam en verward oor my huislike omstandighede. Ek het nie geweet of my ma nog daar gaan wees as ek van die skool af kom nie…” In matriek het haar ma twee maal probeer selfmoord pleeg en daarin geslaag toe Tanya 22 jaar oud was.

Tanya het haar eerste baba op 16 weke swangerskap verloor. Haar eerste man, Tony, het in haar arms gesterf ná ‘n motorfietsongeluk. Maar vandag is Tanya gelukkig getroud met haar Ier en is hulle die trotse ouers van Rory, ‘n vierjarige woelwaterseuntjie. Ná Rory se geboorte het sy gely aan nageboortelike depressie. Sy het haar eerste tatoeëermerk, haar man en kind se name, op haar arm gekry. “My redenasie was dat ek hulle dan nie kan verlaat nie. Toe koop ek ook my eerste A4-sketsboek en begin teken. Dit was my redding.” Sy het besef dis iets wat jy enige tyd, op enige plek kan én die hele gesin kan saam inkleur. Só het Kom, kleur in ontstaan.

Vele mense vind vreugde en helende krag danksy Tanya se gewilde topverkoper inkleurboeke. Tanya is ‘n kleurvolle mens, haar hare byna elke week ‘n ander kleur, sy het 15 tatoeëermerke en is beslis allesbehalwe doodgewoon. “My kunsjuffrou het my op skool vertel dat ‘n aalwyn groen is en dat dít die kleur is wat ek hom sal verf. My antwoord was, ‘Nooit gesien nie, mý aalwyne is pienk en wynrooi met goue dorinkies.”

Tanya het ‘n ondersteunende gesin en is dankbaar vir die sukses wat sy behaal met haar immergewilde boeke. “Ek is versot op Rory en oor moederskap in jou middeljare. Ek het alles gedoen wat ek wou doen en nou geniet ek my kind.”

Met haar boeke wat nou tentoongestel word op die Frankfurt boekeskou, wag daar nog vele kleurvolle sketse uit dié kunstenaar se hand. “Ek put inspirasie uit elke dag se gebeure; ek woon teen die berg, kyk uit oor die see, Jack Daniels, my Montblanc, geliefdes, dit wat verby is…”

Kyk uit vir Tanya se nuutste vrystelling, My Koebaai Stres Joernaal, wat eersdaags op die rakke verskyn.