1779 Views |  Like

Die watervloed

Deur Estelle De Wet

‘n Paar weke gelede het ek hulle gewaar. Op ‘n helder somersdag vanaf my balkon. In ‘n tuimelende dans oor die gholfbaan. Dan sirkelend oor die bure se huis. Daarna die afpyl op die dak. Noodgedwonge skuins sit. Vasklou. Koppies wat soekend al in die rondte draai. As een hop, naboots die ander een. Soms hop hulle gelyktydig.

Vir ‘n paar dae was dit ‘n gesirkel, ‘n geskuinssit, ‘n onsekere gerondsit. Toe hop hulle binne die geut. Droog en vol blare na ‘n lang Somer. Stertvere het tevrede gesprei om waaiers te vorm. Vere was gepluk. Toe begin die gekoer. Die gefuif. Die samesyn.

‘n Dag later het hulle die lysie van die lugreёling onder die geut ontdek. Opgepof was vrye tyd op hulle nuwe stoep verwyl. Hier en daar was ‘n takkie in die geut afgelaai. Onkundig met die snawel rondgeskuif. Hulle nessie was gereed.

Daarna het sy meestal in die geut vertoef. Net die koppie het uitgesteek. Soms het sy afgevlieg om te eet. Hy het beskermend dig langs haar gesit. Styf teen haar. In die koeler aande bo op haar. Hulle koppies in mekaar se vlerke versteek om een te vorm.

So het ek hulle sien sit. Op soel somersaande vanaf my balkon. Warm sit. Veilig sit. Van koesterend die kleintjies versorg…..

Die dae het vinnig korter geword en die warm aande het begin afkoel. Vroeg aand het ek die wind wolke soos ‘n see van branders oor die Helderberge sien stroom. Daar was reёn oppad van Gordonsbaai se kant.

Iewers in die vroeё oggend ure het die verwoede wind al om die hoek van die huis begin huil. Soos ‘n onwelkome besoeker deur die gleufies van die vensters begin indring. Dit het in die stikdonker ‘n dakteёl opgeruk en geklop aan die luikgat in die badkamer. Toe word die wind nat. Slaan hammerend en kwaad teen my slaapkamer ruit. En ek kon die geute hoor oorloop. Oorstroom soos ‘n waterval.

Deur die opgewasemde, nat ruit was die donker nag amper onsigbaar. Maar in die effense maanlig het die weerhaan op die bure se dak in sirkels gedans. En tussen die wiegende bome het die straatligte ritmies verskyn. Goddelike ligkranse wat weerkaats op die rivier in die straat. Op klein plantjies en blomme wat versuip. Toe die weerlig slaan, het ek in die verte ‘n hond vreesbevange hoor tjank. En die geute het steeds oorspoel. Dit was Noag se Watervloed…….

‘n Rukkie gelede het ek hulle gewaar. Op ‘n dowwe wintersoggend vanaf my balkon. Verlate en grys. Net twee stil duiwe op ‘n eensame tak.

‘n Groen blaartjie hang bewend uit die een se bekkie.