In die nabyheid van bome word vir ‘n ATKV Media Veertjie benoem

DEKAT se boekeredakteur, Gerard Scholtz, is vir ‘n ATKV Media Veertjie in die kategorie Beste persoonlikheidsprofiel benoem.

In die nabyheid van bome

Die derde volume van Elsa Joubert (95) se outobiografie, Spertyd, het pas by Tafelberg Uitgewers verskyn. Sy sak terug na haar wortels wanneer die winde van tyd haar liggaam en gees begin skeeftrek. Sy skryf oor die vernouing wat tyd bring. Die verminderde beweeglikheid. Verstarring van die gees. Die aflê van die ou, vertroude norme. En sê sy, byna die aflê van drome. Gerard Scholtz het by haar gaan kuier.

Ek ken die woonstel in die afreeoord Berghof. Dit staan in ’n glooiing tussen Tafelberg en Seinheuwel. Omring deur bome. Vroeër het die radioregisseur, Suzanne van Wyk, daar gewoon waar ek haar byna daagliks in haar laaste jare besoek het. Dan het ons in die alkoof gesit wat oor bome, berg, stad en Seinheuwel uitkyk en het sy N.P. van Wyk Louw soveel kere in daardie bekende radiostem voorgedra as ons na die dennebome teen Seinheuwel kyk.

Blou see van denne teen die hang –
tot, op die blanke horison
die verste toppe yl word in
opaal van hoë lug en son.
’n Blou nabye heiligheid
wat tussen see en hemel staan,
waaroor die groot, mistieke dans
van vreemde stille wolke gaan.

Ek klop huiwerig aan die deur. Agter daardie deur woon Elsa Joubert, nou 95. Ek is bang vir die instap, want ek onthou Suzanne se woonstel as spartaans. Gestroop. Met net twee skilderye en die ry Artes-toekennings op ’n ou boekrak tussen saaklike meubels. Maar dis genadiglik anders. Ryker. Voller. Vriendeliker met Oosterse matte, kunswerke, boeke. Plante en blomme. En sien jy, hier woon ’n mens met ’n ruim gees.

Sy is korter as wat ek haar onthou. Nou heeltemal grys. ’n Versorger is besig met verstellings aan haar halsnoer en help haar tot by ’n tafeltjie in dieselfde alkoof. Ek skuif die pot met donker-oranje speldekussings wat tussen ons staan effens weg.

Die gedig is ’n aanknopingspunt en sy begin oor bome gesels. Sonder weifel, want sy is geseën met helder en skerp gedagtes.

“Bome is vir my soos goeie vriende,” sê sy, “Ek besit twee woonstelle hier in Berghof. My werkplekwoonstel aan die suidekant is soos in ’n woud. As ons van hier, my woonplek, uitkyk oor na Tamboerskloof en Seinheuwel is dit ook net bome. Ek sê mos my uitsig van hier is soos vier skilderye. Een vir elke seisoen. Dit is my polsslag. Daar is ’n groot spieël wat ek hier gekry het, en van daardie spieël kry ek ’n beeld van die bome met ’n ander oog. Dit word die heeltyd omgekeer, wat vir my ander perspektiewe gee. Ek kan baie lank daarna lê en kyk.

Sy is nie bang om oor die ouderdom te praat of te skryf nie. “Op ’n fisieke vlak is daar die beperkings aan beweging wat chronies foutiewe ledemate jou bring. Om ’n onbekende paadjie te stap is moedswillig. ’n Stoel in ’n vreemde se sitkamer is ’n konfrontasie. ’n Rit in ’n vreemdeling se motor is ’n drama. ’n Afdraai van die teerpad op ’n sinkplaatpad is ’n katastrofe. Self bestuur, ’n eie motor, is ’n herinnering wat al lank agter die kim weggesak het. En die siddering, die vibrasie wat die vliegtuig in versnellingsrat op jou ganse gebeente afstuur, is nie meer vir my nie. My laaste rit van Johannesburg na Kaapstad het ek heelpad staande oorleef. Dit het gevoel asof elke gewrig beskadig word. My hele gebeente het saam geruk.”

Daar’s eintlik ’n nuwe soort kyk en belewenis. Dronk in die kop, doof in die ore, swak in die oë, kruppel in die bene, kom jy swaarder êrens, en jy moet by motors in- en uitgehelp word. Jy moet leer toegee, met grasie, om gehelp te word. Soms word dit moeilik om te besef jy staan nie meer in die hoofstroom nie. Jy het jou kans gehad. Dis verby.

Spertyd is nie net outobiografiese vertellings nie. Dit is ’n handboek oor die prosesse van oudword. Die objektiewe eerlikheid waarmee Elsa Joubert skryf en vertel is skreiend en vol ironie. Die aftakeling van die fisieke in alle vorme is soos ’n verspreidende aar wat oral inkruip. Vrese vir dinge wat vroeër maklik was, word diep, donker en onbekende klowe wat sy moet deur. En soos by bejaarde mense word sy ook gekonfronteer met herinneringe en die onthou van ou vergete dinge. Soms is dit roerend en vol nostalgie. Maar ander kere word sy gekonfronteer met sake wat nog nie afgehandel is nie, want oudword is ook vir haar die tyd van afrekening. Ek vra haar uit oor hierdie terugkeer van herinneringe.

“Jou brein het ’n dun onsigbare vliesie wat jou geheue bymekaar hou en jou in staat stel om op die hede te bly fokus,” vertel sy. “Maar soos dit begin deurskif, en emosies laat dit maklik gebeur, begin herinneringe deur die dradige openinge vloei. Stadig en in groot detail, langsaam kom dit. Ek vra myself hoekom sekere herinneringe aanmekaar na my terugkeer, tot ek besef ek word met iets gekonfronteer waar daar nog nie selfheling is nie.”

Herinnering wat diep in my hart verborge was, kom nou so sterk na my terug, ander beelde dring tot my deur, bruin kinders wat op die rante van die stuk strand waar ons teken, kom loer, mekaar begin aanpor om nader te kom, maar hulle word weggeja. Onthou ek dit of verbeel ek my dit, en is my verbeelding uit ’n perspektief wat ek later eers gekry het, is my herinnering nou soos ’n kraaines verstrengel met wensgedagtes?

Voor my sit ’n oop en eerlike mens wat nooit die goue middeweg gevolg het nie. Wat nog altyd, van kleintyd af, in opstand gekom het teenoor onreg en verdrukking. “My pa het altoos vir my gesê ek moet onthou wat die Grieke gesê het: Volg die goue middeweg. Maar ek kon nie. Ek het die woorde in marmer uitgekap gesien by die ruïne van die tempel by Delphi, bokant ’n ingang wat nou plat tussen die klippe lê.”

Ek vra haar oor die angste wat ouderdom en die onafwendbare dood bring. Vir haar gaan dit oor die onsekerheid oor wat wag en wanneer die dood kom. Die dood self is nie vir haar ’n aktuele of ’n onmiddellike angs nie. “Dit word ’n spertyd, ’n verbode tyd waarin jy nie toegelaat word om alles verder te sien en te beleef nie, want die dood lê nog voor, natuurlik. Aan die ander kant is dit my tyd van afrekening. Jy moet nou ’n harde afrekening met jouself doen. So leer jy jouself ken op maniere waarop jy jouself nog nooit geken het nie. Maar die dood word nie meer ’n plek gegun nie. Ou mense moet oefeninge doen en handevol pille sluk om ’n paar jaar langer ’n soort skynlewe te lei.”

Ons gesels dwaal na emosies. Die emosies van die ouer mens. In Spertyd skryf sy:

Miskien is ek nou op hierdie ouderdom makliker prooi vir emosie. Selfs vir die armsalige palmboom in die tuin huil ek, want onder, naby die grond, trek die skubbe van sy bas los en die onkruid stoot daarin op en wriemel hulle in tussen sy stam en sy bas en die swamme begin daar tier en vasklou, al hoe opper teen die boom kruip, dit sal hom doodmaak, dit weet ek.

Bome bly ’n terugkerende motief in haar werk. Daar is die misterieuse woude van Afrika, die ou palmbome van Berghof met goudgeel dadels in trosse wat tussen die skerp blare deur hang. In Reisiger, die tweede volume van Elsa Joubert se outobiografieë, bly die slotparagrawe my ná jare steeds by:

Deur die kwaai winter het die wind om die gebou gewoed en plate reent is teen die mure en vensters geslinger. En teen die takke geslinger en die takke het woes gewaai en ek het gehoor hoe een afgeskeur word van sy moederstam. Maar hy het bly hang, later het selfs blaartjies uit sy stam begin stoot. Ek sien elke dag uit my venster die wonderlike geweld van ’n stukkie groen wat deur die dik bas stoot, onverhoeds hom oopvou en onhoorbare flapgeluide in die wind maak. Soms is daar ’n ry manteltjies wat oopgaan; direk uit die deurweekte donker bas dring die fyn, sagte puntjies deur, op hulle fynste, mooiste as hulle oopvou en die son in die klein aartjies opvang.

Elsa Joubert se lewe is een van waagmoed, konfrontasies, rusteloosheid, en teenstrydighede, maar ook ’n lewe vol liefde en liefdes. Vandag ondersteun haar kinders en kleinkinders haar en skryf sy met teerheid oor hulle. Van haar vriendinne bly nog net ’n paar oor en hulle is vir haar kosbaar. Anders as haar verwagting was dit vir haar moeilik om nuwe vriende in die aftreeoord te maak.

“Teen die tyd dat die mense hulle hier by ons plek aanmeld, is hulle lewens al agter hulle, soos ’n pakkie in bruinpapier toegevou en met tou vasgemaak. Hulle verledes is voltooi. Hulle kom nie verder lewe nie. Hulle kom afwen. Soos die veer van ’n destydse horlosie. Tot ruste kom. Iets is vir altyd verby. Jy sal dit nooit terugkry nie. Jy het jou kans gehad, dit kom nie weer nie.”

Ons is die oorblyfsels van die Ancien Régime. Ons is die blare wat van die boom geval het en byeen gevee moet word om verbrand te word. Miskien sal die tuin skoner wees as al die blare eers geval en deur die tuinier weggevee is. Miskien sal dit ’n verligting wees vir die bome en struike wat moet voortgaan as die ou oes eers verwyder is.

Ons gesels oor haar ontslape man, Klaas Steytler, wat sy as ’n beter skrywer as syself beskou. “Ek het pas weer een van sy boeke gelees. Dit is so goed en stilisties so fyn. Dit is jammer dat hy nooit die erkenning gekry het wat hy verdien het nie.”

Die gesprek dwaal ook na ’n ander groot liefde in haar lewe, Mahmoed, die jong Indiër wat sy in die oerwoude van Afrika as jong meisie ontmoet het. Daaroor het sy ’n teer beskrywing in Reisiger geskryf, een van die mooistes in Afrikaans.

Rus eers sê hy. Ons bad en trek sagter klere aan. Die skemer is vlugtig verby; hy steek kerse aan wat op die grond staan, ons sit in ’n kring van kerslig. Sy gesig en ons gesigte kry nuwe vlakke, die oë glans donkerder in die spieëls met goue randjies. Oral is klein spieëls met goue randjies. Ek ruik wierook wat smeul. Ek sien sy hoë wangbene in die spieël, sy swart hare, in ’n ander spieël sy oë, ek sien my eie oë, maar hulle lyk vir my na ’n vreemdeling se oë. Sy naam is Mahmoed … Ek pluk vreemde blomme in sy tuin, ek rus my kop teen ’n vreemde bors …

 

Elsa Joubert, die groot reisiger, reis nie meer nie. Selfs nie meer met StomJapie, haar loopraam op wiele nie. (“Hy het sy eie loop begin loop en my laat val.”) Sy skryf in groot detail oor die laaste reise met die taxibestuurder, David Klein met die rooi hare en sproete, na die Tuinesentrum vir inkopies. En die reis na Seepunt waar sy vir ’n uur langs die promenade wou gaan stap het en waar angste haar oorval het. Die laaste reis na Onrus vir die begrafnis van haar skoonsuster Maxi was vir haar te veel toe hulle met die terugkeer in ’n storm beland het. Selfs die oorsteek van Hofstraat na die hospitaal in ’n rolstoel voel vir haar asof sy haar lewe waag.

In die tagtigerjare loer ek een dag by haar in waar sy en Klaas in Belvederestraat woon. Ons sit in haar oorvol en besige studeerkamer. Van iewers uit die huis kom dralende bruin vrouestemme. In diepe ootmoed. Koortjies en halleluja’s. Ek moes verras gelyk het. “Dit is die biduurgroep, hier in ons eetkamer.” Ek vra haar om my weer te vertel.

“Die bediendes van Oranjezicht het weekliks in die pastorie se motorhuis bymekaar gekom om te bid. Dit was skrynend; vroue wat bedags in die kerk se ledemate se huise werk, maar nie in een van hul huise kan bid nie. Ek en Klaas bly toe alleen in die groot huis. Toe gee ons ons eetkamer vir hulle. Vir 25 jaar het hulle elke week daar bymekaar gekom tot ek Berghof toe moes skuif. Ek het die tee, suiker en melk verskaf. Klaas dra nog stoele in. Met Klaas se dood, die Dinsdagaand, kom die soet gesang van die biduurgangers na ons. Hulle staan in ’n groep in die gang en hulle sang is hemels. Al die ou liedere. Klaas het met ’n glimlag geluister. Trane het by my gesig afgeloop. Toe is hulle stil weg.

Wanneer ek op my eensaamste is, is wanneer die wind so loei deur ons gebou. Dan lê die wolke dik oor Tafelberg, hulle val oor soos swaar matte. As daar êrens iets op ’n kiertjie oop is, loei die wind daardeur. Agter die hysbak op die vyfde vloer, as die vensters nie goed toegemaak is nie, sommige trek skeef, huil die wind soos ’n doodsbode deur die gebou.

Uittreksel uit Spertyd:

Op ’n aand terwyl ek blindings ooptrek, kyk ek deur die venster. Hoewel die aand helder is, het ek van vroeg al opgemerk dat die wolkemis van Seepunt se kant af oor Seinheuwel, die befaamde rug van die leeu, aan die opstoot is. ’n Digte laag mis. Nou het dit ook by Kloofnek opgestapel en val stadig oor na ons kant toe.

Maar wat my ontsenu, is ’n donker massa wat bo-op die wit gestapelde mis dryf. So het ek dit nog nooit gesien nie. Is die donker massa ’n stuk van die hemelruim wat ons gaan tref?

Ek wil meer sien. Ek wil alles sien. As daar net iemand was om saam met my te gaan, ’n familielid, selfs ’n kleinkind. ’n Inwoner kan ek nie bysleep nie, hulle slaap lankal, dis oral op die vloere al donker. Van die balkon op die vyfde vloer sal ek baie beter kan sien. Iets dwing my daarheen. Maar dis amper twaalfuur. Om alleen die drie vloere op te gaan …

Toe sien ek vir StomJapie. Hy staan soos elke aand langs my bed, belaai met ’n ekstra kussing en my winterkamerjas. Ek gooi die kussing af, trek die kamerjas aan, draai ’n serp om my nek, trek StomJapie nader, draai hom om, druk sy remme los en daar gaan ons gemaklik, vreesloos, gangaf, in die hysbak op. Vyfde vloer, uit is ons. Dis nogal moeilik om die buitedeur oop te maak; ek word ’n bietjie duiselig, maar StomJapie hou my orent. Ek klou vas aan hom. Die deur se slotmeganisme gee mee. Ek staan op die balkon teen die pypreling, StomJapie styf teen my.

Hiervandaan lyk die massiewe swart gevaarte wat op die wolke dryf éérs skrikwekkend. Ons kyk, gefassineerd, gemesmeraais, bang.

En skielik swem die volmaan agter ons oor die dak van die gebou, en gooi sy silwerwit lig op die gevaarte; die gevaarte blink, lyk na ’n ruimtetuig wat wil land, ’n boodskapper uit die verste, donkerblou hoek van die uitspansel. Nee, dit is nie.

Die wit lig omraam en gee diepte aan die skitterende vorm. Dis ou Leeukop, net die boonste helfte, die onderste helfte is toe onder die mis.

“Dis ou Leeukop wat daar uitsteek,” sê ek vir StomJapie, “sien jy, ons eie ou Leeukop.” So pragtig, sy silwer kop. Dit het losgekom, dit swem op die mis. Die volmaan.

Uitgewer: Tafelberg

By | 2018-04-17T08:07:58+00:00 April 16th, 2018|Boeke, Kultuur, Profiel, Skrywers|