In die arms van La Creuzette

Meer as ‘n bestemming

Die Franse platteland is nie net ‘n bestemming nie. Dis eerder ‘n gemoedstoestand. ‘n Gesindheid. Dis ongekunsteld en eg. Dis hier in die dorpie Boussac in die Limousin-streek waar die eertydse bankier Hardy Olivier en die kunstenaar en skrywer, Louis Jansen van Vuuren, ‘n ou kasteel nuwe lewe gegee het. Marliza van den Berg het hulle besoek.

As die deure van La Creuzette een maal vir jou oop geswaai het, leef jy anders. Iets van die Franse platteland bly jou by. Dit en Olivier en Jansen van Vuuren se manier van leef, steek vas in jou menswees. Jy leef rustig, respekvol en waardig. Soos die Franse. Jy besef een goeie ding is meer werd as ‘n tiental minderwaardiges. Eenvoud raak kosbaar en aansitetes, ten minste een maal ‘n dag, raak ‘n moet.

Die twee het die idilliese dorpie met die bruin dakke op die spreekwoordelike kaart gesit.

Toe die destydse eienaar van die château die 400 sleutels van haar familie se heiligdom aan die nuwe eienaars oorhandig, het sy gesê: “Dis die sleutels na die paradys.”

Die groot skuif het begin met ‘n liefde vir Frankryk. ‘n Paar betowerende reise en ‘n liefde vir kuns en kos was die eerste impulse om die land as moontlike tuiste te oorweeg. “Ons was nog altyd mal oor die hele Frankryk,” sê Jansen van Vuuren. “Van die klein dorpies bo in Normandië tot in die suide waar die Spaanse en Italiaanse invloed die Franse temperament verryk.”

In 1998 het Jansen van Vuuren vir die eerste keer ‘n Paryse kunsuitstalling gehou. Die direksie van die galery was ywerig vir ‘n tweede uitstalling. Die idee om makliker bereikbaar te wees het die saadjie geplant vir ‘n klein pied-à-terre in Frankryk.

Hulle was eintlik op soek na ‘n wegkomplekkie aan die Suid-Afrikaanse Weskus toe hulle oor ‘n etenstafel in Kaapstad hoor dat ‘n huis in die Auvergne in Frankryk goedkoper as ‘n strandhuis is. Louis het uit sy pos as dosent by die Michaelis-kunsskool aan die Universiteit van Kaapstad bedank. Frankryk was hul voorland.

In die dorpie Lapeyrouse het hulle toevallig verby ‘n plekkie gery met die à vendre-teken op. Hul aanbod is aanvaar.

Ná die koop van die Franse vakansieplek besluit Olivier om uit sy bankierspos te bedank en sy kispakke vaarwel toe te wens. Hy was lus om sy lewe in ‘n ander rigting te stuur. “Die Lapeyrouse-huisie was nie groot genoeg vir twee uitgegroeide Suid-Afrikaners nie.” En Olivier moes ‘n projek kry om hom besig te hou terwyl Jansen van Vuuren verf.

“Die meeste van die gewigtige dinge in ons lewe gebeur toevallig,” sê Jansen van Vuuren. Of dalk nie. Hulle het ‘n groter huis begin soek. Daar was baie herehuise, plaashuise, watermeulens en dorpshuise op die platteland beskikbaar. Met ‘n veeg domastrantheid en waagmoed het die twee na château’tjies begin kyk as moontlike volgende projek.

Daar is ‘n legende wat lui dat jy nooit as te nimmer ‘n château vind nie. Die château vind jou. Toe hulle in die arms van La Creuzette beland, was daar geen uitkomkans nie.

Daar was baie werk en soos hulle van die grondvloer na die tweede verdieping beweeg het, het hul moed hulle telkens begewe. “In die een kamer het ‘n volledige boom in die skeur van ‘n muur gegroei. Ons was tot ons ore toe verlief en in die skuld.”

Die restourasieproses was omvattend en vol frustrasie. Heel boaan die lys van frustrasies was kommunikasie. “Ons kon nie Frans praat nie. Ons kon skaars ‘n spyskaart volledig in Frans verstaan. Verder werk alles in Frankryk anders as in Suid-Afrika. Die vensters maak binnekant toe oop, deure sluit en draai anderkant om en alle loodgietery – en elektriese goed is anders, kleiner, groter en vreemder. Niks is standaard nie. Dan is daar ook soms werkers wat vir dae nie opdaag nie, dié wat die minste per dag doen en die wat jou ore wil aansit omdat jy in ‘n kasteel bly. Ons moes leer van nuwe materiaal en hoe die ysige winters sekeres vereis. Die vervanging van die dak was peperduur.”

Hulle het deurgedruk. Muurpapier afgetrek, badkamers ingerig en 14 bidets met toilette vervang. ‘n Paar waardevolle meubelstukke is by die vorige familie gekoop. Louis het muurskilderye geverf. Die pragtige hout sleebeddens was ongelukkig heeltemal te kort vir enige Suid-Afrikaner. Die huis is vinnig leef-en onthaalbaar gemaak en ‘n jaar en half later het hul château die eerste groep gaste se asems weggeslaan.

Met skade en skande het hulle geleer Frans praat. “Vir die eerste paar jaar het ons breindood in uitgelese Franse geselskap gevoel. Ons kon nie grappe ná ete vertel as die Franse skater nie. Uit desperaatheid het ek vir ‘n baie spesiale ete een uit my kop geleer. En kon skaars wag vir die koffie en cognac ná die maal. Ek was skoon opgewonde om uit my stomme trance te breek. Toe almal omdraai het ek my storie stadig en sorgvuldig vertel. Die treflyn is triomfantelik oorgedra, gevolg deur ‘n doodse stilte. Iemand wou van die gasheer weet wat ek kwytgeraak het. Hy het vertel dat dit ‘n kwessie van uitspraak was. Daar was ook die keer toe ek in ‘n restaurant gedink het ek vra vir ‘n tafel vir twee terwyl ek die kelner vra of ek hom mag eet. Hy het met ‘n droë glimlag geantwoord: “Miskien later.”

“Ek praat nou nog met ‘n gewigtige aksent. Hardy praat soos ‘n gebore Fransman.” Jansen van Vuuren het wel die Franse se papmond blaasgeluide vervolmaak.

Die inwoners van hul nuwe tuisdorp het hulle goed ontvang. “Ons het tot die spreekwoordelike welkomgeskenk van ons naaste bure gekry – ‘n geurige tarte au citron. Ons het ons nie eenkant gehou nie. Etes gehou en slegs Franse genooi en La Creuzette se park vir die gemeenskap oopgestel. Jaarliks kom hou ouetehuise en omliggende dorpies fees in die tuin. Daar was selfs al ‘n rockkonsert.” Die staatverteenwoordiger van die streek het hulle amptelik kom bedank en die dorp en streek erken wat hulle vir Boussac en die streek beteken.

Maar daar is meer as net hul gasvryheid en die mooi tuiste wat gaste laat terugkeer om die lewe in Frankryk te ervaar. “Ek dink dis die geleentheid om deur ons oë die streek te verken. Hulle hoef nie met die taal, geld en reëlings in ‘n vreemde land te sukkel nie. Ons hou van mense en vul mekaar aan.”

Die wisselwerking tussen hulle maak die besoek onvergeetlik. Olivier is die kulinêre connoisseur, tapisseriekenner en toergids van formaat. Jansen van Vuuren vertel stories van kos en kuns, die Franse se geskiedenis en hul maniertjies. Albei is passievol oor kos. “Ons kan saam nuwe geregte bedink, maar moet glad nie ‘n kombuis deel nie. Dis oorlog. Hardy is ‘n ontspanne kok. Hy skrik vir niks. Ek werk anders. Dit vat tyd om my gereg op die bord te kry want dit moet soos ‘n skildery lyk.” Hulle reël ook vakansies wat uniek by ‘n spesifieke groep se behoeftes pas.

Die streek bied baie. Hier is ‘n skatkis van onontginde plekke en geboue. Selfs feeste en gedenkwaardighede. Boussac was ‘n Romeinse nedersetting met vele artefakte. Van ‘n Romeinse posklip tot eietydse windturbines. Aubusson het vele skatte. Limoges het die wêreldbekende porselein en die vulkane van die Auvergne is om die draai. Daar is perdeplase, gewone plase. Ferrari-en Formule 1-wedrenbane, riviere en witwaterkerjakkery.

Die heel grootste skat is die natuur. Woude en mere en ‘n omgewing wat ongeskonde is. Dis die outentieke Frankryk. Die Franse noem dit la France profonde.

Ná soveel jare op Franse bodem bewonder Olivier en Jansen van Vuuren die Franse se vindingryke en bedagsame verhouding teenoor die natuur en ander groen sake. “Daar is nou meer bome in Frankryk as wat daar gedurende die Renaissance was. Alle plastiek is verbode en huisafval moet herbenut word. Die Franse leef stadig. Middagete is van 12 tot 2. Dan neuk jy nie met ‘n Fransman nie.”

In Suid-Afrika het mense altyd gevra: “ ‘Wat doen jy?’ As ek antwoord dat ek skilder, het hulle dikwels gevra: ‘Maar wat doen jy regtig?’ Sou ek vertel dat ek by ‘n universiteit klasgee, kon ek die verligting sien. As iemand jou hier vra wat jy doen en jy vertel dat jy skilder, is die onmiddellike vraag: ‘Wanneer kan ek jou werk sien?’

“Ons bewonder die manier waarop die Franse kos so ernstig opneem. Waar kos vandaan kom, is vir hulle belangrik. Organiese groente en vleis is hoog op die lys. Dan is daar natuurlik ook die onmiskenbare je ne sais quoi van die Franse.”

Daar is dinge wat hulle irriteer. “Die Franse vat lank om besluite te neem. Kan soms met oogklappe rondloop denkende dat Frankryk die universum is. En dan ry hulle nog aan die verkeerde kant van die pad ook!”

Die land het hul tuiste geraak, maar hulle mis Suid-Afrikaanse vriende en familie. Die Weskuswaters, die son en die somersdae. Hul seehuis by Brittaniabaai aan die Weskus met sy ooptes en fynbos is hul Suid-Afrikaanse wegbreekplek. Die afgesonderde, bykans verlate atmosfeer en ongeskonde natuur wat hulle aantrek.

Hulle het baie toekomsplanne. By La Creuzette word ‘n paar dinge omskep. Jansen van Vuuren werk aan ‘n reeks skilderye oor die blou uur. Hulle het ook ‘n ou winkel in die dorp gekoop wat hulle in ‘n galery gaan omskep en Olivier se tapisserieversameling gaan huisves.

Intussen is La Creuzette hul spesiale plek. ‘n Huis wat in ‘n klipommuurde park van meer as 2 hektaar staan met bome wat honderde jare oud is. “Ons sit soms onder in die tuin en kyk na die huis in die skemerlig en wonder of dit waar kan wees. Dis die paradys. Ons paradys.” En hulle deel dit met gaste. Onbevange, gul en stylvol.

Kontakbesonderhede

Hardy Olivier: Olivier-hardy@wanadoo.fr
Louis Jansen van Vuuren: jansen-van-vuuren@wanadoo.fr

By | 2017-07-11T21:21:29+00:00 July 9th, 2017|Bon Vivant|