Heuwels met oë

Obie Oberholzer

Een van die beste aspekte van reis is die seldsame kruising van vreemde gebeure en situasies wat jou van rigting laat verander.

Partykeer, wanneer jy op die pad is en dit gebeur, is daar iets spookagtig en surrealisties wat jou langs jou ongewone pad oorval. Ek en my vrou, Lynn, reis in die algemene rigting van Ouarzazate in Marokko met ’n goedkoop, verkreukelde Arabiese kaart op die agterste sitplek en die gidsboekie tuis vergete. Baie dieselfde het ’n gesin met vakansie oorgekom in die 1977 gruwelrolprent The Hills Have Eyes, toe hulle in die woestyn van Nieu-Mexiko verdwaal het. Die Amerikaanse regering het in hierdie gebied veelvuldige atoomtoetse uitgevoer en in die rolprent kontamineer en muteer radioaktiewe neerslag alle lewende dinge in die gebied. Hulle hou stil by ’n afgesonderde vulstasie om aanwysings te vra en – wel, uit die koppies hou oud-myners, wat gemuteer het in monsteragtige mutante, hulle dop. Wat hierop volg, is nie Julie Andrews wat oor die groen heuwels van Oostenryk hardloop in The Sound of Music nie.

Die landskap rondom ons is wyd en kaal en het sekere ooreenkomste met ons eie Karoo en Nieu-Mexiko. In die verte is die sneeubedekte pieke van die Atlasgebergtes, ’n reeks wat oor Noord-Afrika strek. Vorentoe sien ek ’n vulstasie omring van ou motors en vreemde koddighede. ’n Advertensiebord kondig aan, Cold Beer en Last fuel before the desert. Ek hou stil en neem die toneel in, stap rond tussen verlate brandstofpompe en ’n werkswinkel met ’n outydse werkbank. Iets skarrel weg in ’n donker hoekie; in die winkel beweeg verstrengelde blindings net effentjies, ’n stukkende gloeilamp hang van die plafon. Glasklokkies bo die toonbank rinkel in die stil lug en ek voel ’n aardigheid oor my vel kruip. Ek voel asof ek ’n ou rolprentstel betree het. ’n Man in ’n djallaba-rok met ’n kappie staan nader, en, in geradbraakte Frans, vertel hy dat vir ’n paar dirhams, ek foto’s van hierdie plek mag neem – die stel wat in die 1977-gruwelrolprent The Hills Have Eyes gebruik is. Al wat ek kon dink, was: The further you go, the less you know en al wat ek kon sien, was dat die opsigter van die vulstasie se gesig pokmerke gehad het.

So, dit was ons bekendstelling aan een van die bekendste rolprent-terreine in die wêreld, die massiewe Atlas-rolprentateljees, net ’n paar kilometers buite die rustige dorp, Ouarzazate. Die Atlas-ateljees wat deur hoë vestingmure omsingel word, dek ’n gebied van 30 000 m² woestyn en Hollywoodagtige, nagemaakte Egiptiese figure hou wag oor die ingang. Die agtergrond, ’n asemrowende gesig, is die sneeubedekte Atlasgebergtes. Met hierdie enorme oppervlakte is die ateljee een van die grootstes ter wêreld. Hierdie wonderwêreld van illusie en sprokies is in 1983 gebou, toe die Marokkaanse entrepreneur Mohamed Belghmi die behoefte aan ’n permanente ateljee in die gebied raakgesien het. Die Britse regisseur David Lean het hierdie ligging buite Ouarzazate reeds in 1962 gebruik in die produksie van een van die beste flieks wat tot nog toe gemaak is, Lawrence of Arabia. Lean het geweet dat hierdie landskappe ’n outentieke agtergrond sou bied vir enige woestyngebasseerde ver-haal. Lawrence of Arabia het sewe Oscars gewen. Ek het bevoorreg gevoel terwyl ek met my klein gehuurde motortjie ry in die rigting van die ingang tot hierdie plek van grootse rolprentprag. Ek was slegs ’n tiener toe hierdie monumentale fliek gemaak is en, net vir ’n oomblik, galop ek saam met die rebelse ruiter Peter O’Toole deur die stof van die tyd, met die geeste van befaamde akteurs soos Alec Guinness, Anthony Quinn, Jack Hawkins en Omar Sharif wat om my sweef. By die parkeerterrein begroet ’n visioen van Suid-Afrikaanse normaliteit my – ’n karwag met ’n verwelkomende glimlag. Net om die vreemdheid van hierdie plek gelyk te stel, speel twee slangbesweerders op hul fluite vir die koppe van twee vlegtende Egiptiese kobras.

Eers deur die hoofhek pak tonele amper te bisar om te glo my fotografiese wese beet. Die draaideur van die vier-ster Oscar-hotel lei jou na skilderye en beelde van rolprentlegendes. Daar, lewensgroot, staan James Dean, sy baadjie se kraag opgeslaan vir nog ’n windverwaaide spoedrit met die pad af in sy nuutste Porsche 550 Spyder. Geraamde plakkate kom tot lewe in die sagte beligting van die sitkamer, van rolprente soos Alexander the Great, Kingdom of Heaven, Babel, The Mummy en Ridley Scott se epiese Gladiator met Russell Crowe. Ek het ’n foto geneem van ’n wêreldikoon, die koelste neuriesanger, ’n borsbeeld van Frank Sinatra. Hy het op ’n kaggelrak gestaan langs ’n plakkaat van Jewel of the Nile, ’n ruwe, aksiefliek van 1984 met Michael Douglas, Kathleen Turner en Danny de Vito wat avontuurlike toertjies in Kaïro uitvoer. ’n Gids sonder ’n enkele pokmerk of letsel oor sy wang, net met eurotekens wat in sy oë glinster, lei ons die ateljeegebied binne. Hy wys na Ben Hur se strydwa, Cleopatra se Nylboot, ’n Russiese MiG-vegvliegtuig en ’n paar Willys-jeeps wat in die 1997 prent, The Legionnaire, met Jean-Claude Van Damme gebruik is. Ons vriendelike gids, met euro’s wat in sy oë glinster, maak die opmerking dat dit nie so lank gelede is dat Ouarzazate – die kruispad van die woestyn – ’n Franse Vreemde Legioen-pos was wat die karavaanroetes beskerm het wat eens slawe en goud oor die Sahara gebring het na Marrakesj.

Ek was in vervoering, oorval deur die gedagte dat deur die jare van die grootste name in die rolprentbedryf geloop en gespeel het op die stel waar ons gestaan het. Ek was omring deur enorme stelle van ’n wêreldse verhoog, wat alles vanaf Tibet en die Bybelse Jerusalem tot Egipte en die soeks van Arabië verteenwoordig het. Plaaslike vakmanne het hout, veselglas, ogiesdraad, gips en ander goedkoop boumateriale gebruik om lewensgetroue replikas te skep van ’n Tibettaanse tempel wat in Martin Scorsese se Kundun gebruik is en Cleopatra se massiewe paleis vir die duurste Franse rolprent wat tot dusver gemaak is; Asterix and Obelix: Mission Cleopatra. Ons is begelei deur ’n antieke dorpie wat selfs ouer lyk as van die regtes wat nog klou aan die kante van die Atlas-gebergtes. “Moses het hier geloop,” wys die gids in die rigting van lae gangetjies met antieke deure en smal skrefievensters. Ons oë het geknipper, effens verwilderd. Strale Bybelse lig het deur stukkende plafonne geval wat ’n surrealistiese atmosfeer aan die plek verleen het. “Ja,” voeg hy veelseggend by, “Ben Kingsley het Moses hier gespeel, in 1995. Hy het sy mense uit slawerny gelei.” “Jesus,” het ek verbaas uitgeroep. “Inshallah,” sluit hy af, dit is God se wil. Ek klop aan ’n houtdeur, dit klink hol – van geverfde polistireen gemaak. Ons groep, klein in die nie-toeristiese winterseisoen in Marokko, bestaan uit vier Italianers, twee Russe en, natuurlik, ek en Lynn vanaf die Koninkryk van die Blink Kop. Vele van ons uit hierdie piesangrepubliek wens dat ons groot leier nie in die toordrankie geval het toe hy ’n jong Zoeloeseuntjie was nie. Vir ’n oomblik oorval ’n hartseer droefgeestigheid my en aan die een kant kom ek in die versoeking om my kop deur die dik vestingmure, gemaak van maasstof, te slaan. Hoe wens ek nie dat Getafix uit ’n dorpie in Gallië suidwaarts moet kom om ons nood te verlig nie, net so – met die klap van ’n rolprentklapbord. Maar, nou, terwyl ons stadig stap na die stel van The Mummy en The Mummy Returns (1999, 2001 met ons eie Arnold Vosloo) vrees ek dat nie al die stelbouers, takelaars, bouers van polistireenmure, toneelskilders, gipsgieters en polistireenbeeldhouers ons eie Hompie Kedompie sal kan laat val nie.

Ek kyk af in ‘n put in ’n Middeleeuse piazza, om my emmer visuele lekkernye weer vol te skep en haal dan ons toergroep weer in.

Onder al die bekende intriges wat in hierdie magtige area al uitgespeel het, vind ek dat ’n klein intrige onder ons eie groepie aan die ontwikkel is. Aan die kant van die Italianers, roep Giuseppe aanmekaar uit “Moses” met elke nuwe rolprentstel wat ons visueel uitdaag. ’n Jong signorina Misteriosa van Rome, met haar fotograafkêrel, Casanova, het aanmekaar reuse-rotse opgetel wat nie bedoel is vir toeriste nie, maar vir Spartacus se slawe wat dit in klein stukkies moes kap om die pad vir die Romeinse legioene te plavei soos hulle gemarsjeer het om teen die drinkers van toordrankies, die Galliërs, te veg. In kompetisie met signorina Misteriosa, as die vrou van James Bond se nemesis, Georgi Kospov (uit die 1986 rolprent, The Living Daylights, met Timothy Dalton), was die Russiese toeris wat aanmekaar as Cleopatra geposeer het in elke stel wat net vaagweg Egipties gelyk het.

Een van die indrukwekkendste stelle is die laning van krokodilagtige sfinkse weerskante van die pad wat lei na die trappies van ’n groot Egiptiese tempel. En dan, om uit die rolprent aan te haal: “Emperor Caesar is informed of the Gauls’ presence in the great temple near the great pyramid. But, Asterix and Obelix each drink a vial of magic potion and fend off the Roman legions.”

Moses lei sy mense na die beloofde land, Bond wen teen sy bose KGB-vyand en uit Kundun, sluit die fliek af met twee reëls teen die skerm: “The Dalai Lama has not yet returned to Tibet. He hopes one day to make the journey.” Aan die einde van ons rolprentuitstappie, vergoed Moses, signorina Misteriosa, Casanova en Cleopatra ons gids ruim terwyl ons ’n rukkie agter Ben Hur se strydwa skuil om sy baksjeesj glinsterende oë te vermy en dan vinnig wegskarrel na ons parkeerwag vir wie ons ’n fooitjie betaal omdat hy nie die kobras toegelaat het om onder ons karretjie in te seil nie. Soos in alle goeie flieks lê die finale intrige nog voor. En hoe briljant geregisseer sou dit nie wees nie. Vroeg die volgende dag ry ons noord van Ouarzazate na die bekende modderdorpie van Aït Benhaddou, ’n Unesco Wêrelderfenisgebied van mitiese skoonheid en grootsheid. Amper soos ’n rolprentregisseur met beroemde sterre en ’n carte blanche-begroting, het ek sy kasbah-vestings, vestingmure en doolhof van modderhuise en gangetjies met my oë verslind. Weggebêre teen ’n koppie, is hierdie goed bewaarde vesting van modder, mure en torings sekerlik een van die mees dramatiese agtergronde vir enige fliek. En so was dit ook. Dele van die 2008 fliek, Body of Lies, met Leonardo DiCaprio en Russell Crowe is hier verfilm. So ook Peter Weir se The Way Back met Colin Farrell en Ed Harris. Ek het dieper asem gehaal toe ek lees dat Nicole Kidman deur hierdie nou stegies gestap het tydens die verfilming van Queen of the Desert in 2014. in hierdie rolprent het sy Gertrude Bell gespeel – ontdekkingsreisiger, kartograaf en argeoloog vir Brittanje. Die son het die woestyn se skadu’s begin rek terwyl ons stadig terug gery het na Ouarzazate toe. Ek het my oë toegelaat om alles te vind wat hulle kon in die hoekige koppies en sneeubedekte Atlas-pieke. Daar was geen radioaktiewe mutante, geen ontsnaptes uit die goelag en geen KGB-agente, lede van die Vreemde Legioen of Moses wat sy stam uit slawerny uitlei nie.

Die landstreek was so skoon, op een almagtige skerm, so sprankelend afgeëts dat geen kamera sy klaarheid kon vasvat nie. Terwyl die son agter die heuwels met oë wegsak, het ek my vrou ’n drukkie gegee asof ons in ’n fliek speel en, soos ’n akteur met ’n rasperstem, gesê: “Darling, it’s only the end of a day, not the end of the way.”

By | 2017-07-01T15:32:39+00:00 June 29th, 2017|Fotografie, Reis|