Gesprek om ’n tafel

Min mense het die moed of ondernemingsgees om hul topposte in die korporatiewe wêreld te verruil vir ’n sober lewe op die Griekse eiland wat al jare lank by hulle spook. Nog uitsonderliker is die idee dat mens jou liefde vir sinvolle gesprek in ’n onderneming kan omskep. Frederik de Jager en Douw Steyn het verlede jaar na die dorpie Molyvos op die eiland Lesbos verhuis en The Talking Table tot stand gebring. Theresa Papenfus het gaan aansit by die eerste amptelike tafelgesprek: ’n skryfslypskool deur die gewilde skrywer Marita van der Vyver en De Jager, die deurwinterde uitgewer.


Skoon lug, blou see, keisteenstegies en gesprekke op ’n eiland wat eeue lank met kuns en legendes ver-bind word – daarvoor het twee topbestuurders hul korporatiewe loopbane verruil. Frederik de Jager was publikasiedirekteur van onder meer Penguin Suid-Afrika. Sy lewensmaat Douw Steyn was ‘n bestuurder van drukkers- en internetmaatskappye in die buiteland. Twee dekades gelede het hulle die dorpie Molyvos op die eiland Lesbos leer ken en telkens teruggekom. Hier was onvergeetlike gesprekke met vreemdelinge uit baie dele van die wêreld. In 2016 het hulle Molyvos toe verhuis om ’n nuwe leefwyse te begin.
 
In April vanjaar het 14 deelnemers uit Suid-Afrika, Duitsland en Australië vir die eerste slypskool van The Talking Table in ’n ou herehuis by die markplein aangesit. Dit was ’n skryfslypskool, met De Jager en die skrywer Marita van der Vyver as aanbieders. Onder die deelnemers was joernaliste, ’n tydskrifredakteur en voornemende en gepubli-seerde skrywers. Ook die topskrywer Karin Brynard wou meer leer by Van der Vyver, die “good cop” wat onsekere skrywers onder-steun het en De Jager, wie se ervaring as redakteur en uitgewer hom die titel van “bad cop” besorg het. Wát is dit aan Lesbos? En waarom dié vissersdorpie met sy kliphuise, die straatjies wat opklim na die Bisantynse kasteel, die duisende olyfbome, die Egeïese See en die bloedrooi papawers in die veld?
“Die dorp maak appèl op kreatiewe, avontuurlike mense,” verduidelik De Jager en Steyn. Hulle vertel van Marc Chagall wat hier kom skilder het, van Ai Weiwei, van Leonard Cohen wat na Suzanne kom soek het en van Athol Fugard, Jan Rabie en talle ander wat deur Lesbos geïnspireer is.
Daar is iets hier wat ’n mens toor. Iets in die stegies, tussen die mense, in die gedagtes om die tafel of by die hawe, waar seekatte aan ‘n draad hang om droog te word. Dit werk met jou. Nog voor jy nog jou skryfgoed uitgepak of ’n eerste porsie imam baildi ingeskep het.
 
Die storie van De Jager en Steyn se verhuising het begin toe ’n vriendin, wat ’n huis op die eiland het, die plek aan De Jager bekendgestel het. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Omdat die plek so mooi is, natuurlik. Maar daar is iets meer. ’n Sagte iets aan Griekse mense en hul manier spreek tot De Jager en Steyn. “Daar is ’n vryheid en ’n ontspanne gees op Molyvos. Dis nie misdaadvry nie, maar veilig,” vertel De Jager. “Daar is soveel respek vir ander mense dat jy nie jou kar hoef te sluit nie. Mense in die omgewing het respek vir my. Dit gee my die geleentheid om hulle te respekteer deur nie agterdogtig te wees teenoor hulle nie.”
Tydens 2015 was Lesbos in die nuus toe honderdduisende vlugtelinge weens die Siriese oorlog na die eiland gestroom het as toegangspoort tot Europa. Die Grieke het hul harte, kombuise en huise oopgemaak om mense te verwelkom. Drie mense van Molyvos se buurdorp Skala Sykimnias is vir die Nobelprys vir vrede benoem vir die manier waarop hulle die vlugtelinge hanteer het. Die aantal vlugtelinge was later egter oorweldigend en persepsies het ekonomiese gevolge vir die toerismebedryf gehad toe baie Europese toeriste hul vakansies gekanselleer het. Die toestroming het intussen drasties afgeneem en tans word die meeste vlugtelinge wat nie deur in die gemeenskap opgeneem is nie, in Europa in kampe gehuisves.
De Jager het al van sy studietyd af aanklank by die antieke wêreld gevind. Mense het sedert die laat Bronstydperk na Lesbos toe gekom waar ‘n hoogs ontwikkelde samelewing vroeg reeds gevestig was.
“Om dit alles te sien, inspireer my ge-weldig,” sê De Jager. “Om te dink 4 000 jaar gelede het gevorderde mense presies hier gesit en dieselfde toneel bekyk. Ek voer gesprekke in my kop met die ou mense wat hier gekom en gegaan het.” Die uitbeelding van die ou Griekse seegod Poseidon met sy welige bos hare en krulbaard is die prentjie wat by mens opkom terwyl jy met De Jager op die markplein kuier.
Op Lesbos leef die lied, die woord, die legende. Sappho, wat in 580 v.C. dood is, het in die hoofstad Mytilini gewoon. Baie min het van Sappho se lirieke behoue gebly. Dis onseker wie sy was, en of sy byvoorbeeld getroud was. Wat wel seker is, is dat sy as die moeder van moderne digters beskou kan word. Sy het geskryf oor gewone mense en dinge en die liefde besing, dié veelkantige tema wat kunstenaars nooit los nie.
Lesbos (Lesvos in Grieks) word verbind met die mitologiese musikant en sanger Orpheus. Hy het onsterflike musiek gemaak en alle lewende dinge ontroer. Selfs die klippe is deur sy sang betower. Ná die dood van sy geliefde vrou, Eurydice, het Orpheus ’n reis deur die onderwêreld aangepak om haar terug te bring. Volgens die legende is hy gewelddadig om die lewe gebring. Sy liggaam is verskeur en in die Egeïese See gegooi, maar sy musiek het bly leef.
Sy kop en sy lier het al singend op die blou golwe rondgedryf en uiteindelik op Lesbos, 7 km van die Turkse kus af, uitgespoel. Die inwoners het ’n graftombe naby die stad Antissa gebou en Orpheus se oorskot begrawe. Hier het sy orakel begin profeteer. Dit het later byna so beroemd geword as die een by Delphi en is uiteindelik deur die god Apollo stilgemaak.
Lesbos lê vol spore van filosowe. Die idee van The Talking Table pas vir De Jager by die siening van die Griekse denker Epikurus. “Epikurus het ’n ruk lank op die eiland gewoon en hier skool gehou. Baie mense beskou sy filosofie oor lewensgenieting en eet en drink saam met vriende as blote hedonisme. Maar daar is ’n verskil. Epikurus het geglo mens kan die lewe net geniet as jy jou vraagstukke opgelos en jou lewe in orde gebring het. Dan het jy ’n soort verpligting om die oorvloed wat die lewe jou bied saam met vriende te ervaar. Mens moet nooit alleen eet nie, het hy gesê. Dis belangriker wie saam met jou eet as wat op jou tafel is.”
 
Deur The Talking Table wil Steyn en De Jager mense die geleentheid bied om te beleef wat hulle ervaar het. In 2015 het Steyn ’n sakeplan uitgewerk om dié tafelgeleenthede in ’n onder-neming te omskep. Hulle het Marita van der Vyver vir ’n kuier genooi en sy het ’n skryfslypskool in die Europese lente van 2017 voorgestel. Die aankondiging op die sosiale media het soveel belangstelling uitgelok dat ’n tweede Afrikaanse skrywerstafel dadelik vir Oktober beplan is.
Kan mens in ’n week leer skryf? Daar is nie waarborge nie. Maar as jy in elk geval wil skryf, en bereid is om te werk, kan die opdragte met knap spertye jou leer om aan die gang te kom sonder om op die salige aanraking van die Muse te wag. Die kundiges wys sterk punte en leemtes uit, jy verwonder jou aan die eiesoortigheid wat elkeen na die tafel toe bring en jy besef ’n eie stem is die enigste toerusting wat enigeen kan gebruik.
 
Dít is alreeds ’n wins. ‘n Engelstalige skryfslypskool volg en net ná die eerste Talking Table het Michele Nigrini ’n slypskool in kreatiwiteit aangebied.
’n Werksessie in kommunikasie met die natuur het gevolg, en ‘n groep stappers het ook plek bespreek. Mense kan ook private groepe bespreek by die webwerf Thetalkingtable.com.
Steyn en De Jager woon in ‘n huisie naby die ou kasteel op die heuwel. ’n Tipiese dag begin met ’n uitsig op die Egeïese See, wat daagliks verander. Hulle gaan strand toe en gaan swem. Daarna begin hulle werk. Teen elfuur gaan Steyn dorp toe om voorrade te kry. Soos soveel van die 800 inwoners ry hulle op ‘n motorfiets deur die smal keisteenstrate en stegies. Dis geen eenstoptaak soos in ’n groot supermark nie, verduidelik Steyn. Mens onderneem ’n reis van die slagter af na die bakker en die groentewinkel toe. “Jy gaan koop nie tamaties sonder om terug te kom met ’n storie nie.” Vir ver ritte het hulle ’n ou kar present gekry.

Wanneer mens besluit om uit jou gemaksone te tree, moet jy vrae verwag. Het hulle nou afgetree? Op 50? Steyn en De Jager dink anders. Hulle het die “sweet spot” gevind, hier aan die einde van die Westerse wêreld. Hulle is doenig met die onderneming van lewe.
“Dis nie aftree nie,” sê Steyn. “Ons bou aan ’n loopbaan waar-mee ons wil volhou totdat ons eendag sterf.”
De Jager en Steyn skryf albei. Albei kook. “Let wel,” sê De Jager, “ons is huiskokke, nie sjefs nie.”

Koop die nuutse DEKAT September/Oktober 2017 uitgawe vir die imam baildi resep! 
By | 2017-10-20T15:51:09+00:00 October 20th, 2017|Hoofartikels, Kos, Kultuur, Reis|