801 Views |  Like

Franschhoek bied ‘n Sjampanjefees aan

Eindig jou jaar af op ’n hoë noot met Franschhoek se jaarlikse Cap Classique- en Sjampanjefees, ook bekend as The Magic of Bubbles. Die fees, wat oor die naweek van 5 en 6 Desember by die ikoniese Hugenote-museum gehou word, word in samewerking met MasterCard aangebied. Vanjaar se tema is “Swart en Wit met so ’n titsel bling”!

Ontspan in die markiestent op die grasperk by die museum en skuur skouer met wynmakers terwyl hulle sommige van Suid-Afrika se beste Cap Classiques (MCC) en Frankryk se beste sjampanjes aanbied. Hierdie keur van sjampanjes sal gekomplementeer word deur fynproewer-eetgoed uit plaaslike restaurante wat grootliks daartoe bygedra het dat Franschhoek vandag bekend is as een van die wêreld se vernaamste kulinêre bestemmings.

“Franschhoek se Cap Classique- en Sjampanjefees stel besoekers in staat om uitmuntende, plaaslike disse en sjampanjes te geniet in die natuurlike skoonheid van die dorp en sy omgewing,” verduidelik Nadine Mouton, Vise-President van Bemarking, MasterCard SA. “MasterCard is weer eens verheug om hierdie uitsonderlike ervaring na kos- en wynliefhebbers te kan bring, mense wat ’n waardering het vir die land se beste aanbiedings.”

Onder die bekende plaaslike produsente van sjampanje (bekend as Cap Classique of MCC in Suid-Afrika) wat ’n vonkel na hierdie sosiale hoogtepunt sal bring, is Pierre Jourdan, Morena, Môreson, La Motte, Boschendal, Colmant, Leopard’s Leap, Noble Hill, Plaisir de Merle, Anthonij Rupert Wyne, JC le Roux, Pongracz, Simonsig, Steenberg en Villiera. Nuwelinge by die fees sluit in Maison Wine Estate, Grande Provence en Le Lude.  Sommige van Frankryk se beste sjampanjes sal verteenwoordig word deur handelsmerke soos Piper Heidsieck, Champagne Guy Charbaut en Veuve Clicquot.

Die besgeklede paartjie sal elke dag aangewys word en hulle sal ’n geskenkbewys van MasterCard ter waarde van R5 000 ontvang. Sorg dus dat jy gepas geklee kom om ’n kans te staan om hierdie prys te wen. Jy kan sommer die wengeld gebruik om jou voorraad sjampanje aan te vul of om een van die wynplase op die fees te besoek.

Kaartjies kos R200 per persoon en sluit toegang tot die fees, elke dag oop tussen 12nm en 5nm, ’n komplimentêre proeglas en proekoepons in. Bykomende koepons kan op die dag gekoop word. Gratis vir kinders onder 18.

Bespreek direk by www.webtickets.co.za. Gebruik jou MasterCard om te betaal en ontvang 10 persent afslag op jou kaartjie, asook 10 persent afslag op alle aankope by die fees. Kaartjies is beperk.

Facebooktwitter