613 Views |  Like

Eikendal stel nuwe pizza en wyn parings bekend

Bellissima! Stellenbosch wynlandgoed Eikendal, die trots van die Saager familie van Switzerland, begroet die koms van die somer met ‘n liplekker Pizza & Wyn proe-ervaring wat sal sorg vir watertandaksie in sy proelokaal.

Vanaf 1 November kan entoesiaste koers kies na hierdie gewilde wynlandbestemming – gerieflik geleë tussen Stellenbosch en Somerset-Wes – om weg te lê aan drie happie-grootte pizzas, wat elk meesterlik met ‘n gepaste landgoedwyn gepaar sal word. Eikendal is bekend vir elegante wyne wat beïndruk met vrug suiwerheid en kultivaregtheid.

Die pizza trio kom vars uit die oond van Cucina di Giovanni, ‘n restaurant wat bekend is vir hulle egte Italiaanse disse met ‘n kraakvars kinkel, en wek behoorlik die aptyt, hetsy dit in ‘n vleis – of vegetariese gewaad saam met die wyne gepaar word.

Vleisliefhebbers se proe-ervaring skop af met ‘n geurige Hoender & Pynappel kombinasie wat saam met die pas vrygestelde Eikendal Sauvignon Blanc 2015 sal sorg vir eksotiese smake in die mond. Die tropiese nuanses van die Sauvignon Blanc vul die soet-suur smake van die pizza besonders goed aan.

Volgende steel ‘n Ham & Sampioen pizza die kollig met die landgoed se ongehoute Chardonnay, Janina 2014, wat die umami ondertone van die pizza met finesse na vore bring.

Laaste maar nie die minste nie, maak die veelsydige Eikendal Merlot Rosé 2015 met sy vars en vrugtige smaakprofiel, sy verskyning met ‘n interessante Brie & Rooibosbessie pizza om die proe-ervaring op ‘n hoë noot te eindig.

Vir vegetariërs wag daar ‘n Soetrissie & Pynappel pizza wat die verfrissende Eikendal Sauvignon Blanc 2015 soos ‘n handskoen pas, met die pynappel wat die tropiese note en die soetrissie die groen varsheid van die wyn uitlig.

Die ongehoute Chardonnay, Janina 2014, komplementeer dan die geure van ‘n Sampioen & Olyf pizza met ‘n volronde sjarme van aromatiese ondertone waarna die proe dan ook afsluit met die vars, vrug-gedrewe Eikendal Merlot Rosé 2015 en die eiesoortige Brie en Rooibosbessie duo.

Die Eikendal Pizza & Wyn Parings is beskikbaar vanaf Dinsdae tot Sondae tussen 12h00 en 16h00 en kos R40 per persoon. Die Druiwesap Proe kos R20. Voorafbesprekings is uiters belangrik siende die pizzas-en-wynproeë daagliks beperk word. Daar is ook ‘n 20 minute wagperiode omdat al die pizzas vars voorberei word.

Om te bespreek skakel Eikendal by Tel: 021 855 1422 of stuur ‘n epos na counter@eikendal.co.za. Cucina di Giovanni @ Eikendal is oop vir middag- en aandete vanaf Dinsdae tot Saterdae en slegs vir middagete op Sondae. Skakel Tel: 021 855 5033 of epos warren@giovannicapetown.co.za vir restaurant besprekings.

 

Facebooktwitter